Dis die begin van ’n sonderlinge liefdesverhaal toe die netjiese, gladgeskeerde “young Mister Murray” op ’n Kaapse winterdag in 1855 in Groenpunt deur die hek met sy groot wit pilare ry en voor ’n elegante gewelhuis met ’n rietdak stilhou. Saam met Andrew is sy oom en doktor Philip van die Londense Sendinggenootskap. Hulle kom besoek die Rutherfoord-familie, deel van die crème de la crème van Kaapse sosiale kringe.
Toe die aanvallige jong dogter van die huis inkom om tee uit ’n silwerteepot in fraai porseleinkoppies te skink, helder die wintersdag vir die geleerde jong man op. Die 19-jarige Emma steek haar hand na hom toe uit, iets wat ’n ietwat oorblufte Murray laat reageer met ’n opregte: “I am extremely privileged to meet you, Miss Rutherfoord … ”
Emma is ’n jong vrou met ’n ondersoekende gees, die produk van ’n tipies Victoriaanse opvoeding vir die hoër stand. Haar ma en later goewernantes en leermeesters het haar geskool, sy speel klavier, teken, borduur, het ’n goeie kennis van Shakespeare, Bunyan en John Donne en praat ’n vingerhoedjie vol Duits en Frans. Trou is in hierdie stadium nie hoog op haar lys nie; sy voel sterk daaroor dat die lewe uit meer as rose borduur, bestaan. Met haar liefde vir die buitelug en die veldblomme teen die berg se hange kom daar ’n effens meer ongetemde sy na vore wanneer sy na hartelus perdry en bergklim. Bo-op Tafelberg wil sy net nog en nog sien. Bedaar, kind, sê die grootmense. Jy sal jou ooreis …
Die Rutherfoords se landgoed strek van die see tot by Seinheuwel. Howson Rutherfoord is ’n bedrewe sakeman, politikus en filantroop, ’n ingeligte man wat The Commercial Advertiser, The Illustrated London News en die Cape Argus lees. Hy geniet intelligente gesprekvoering en hulle ontvang dikwels belangrike besoekers.
Toe die gesin ná ’n jaar in Londen na Kaapstad terugkeer, is Howson verkies tot lid van die wetgewende vergadering (Hoërhuis) van die Kaapse parlement wat vir die eerste keer in 1854 vergader het. Geloof is die stil middelpunt van die Rutherfoord-gesinslewe. Hul deur staan oop vir sendelinge van alle denominasies. Hulle is dus bewus van die skrander seun van ’n Skotse sendelingpredikant uit die Karoo.
Andrew besef onmiddellik Emma is die kans van ’n leeftyd. In die week wat hy op vervoer na die noorde moet wag, lê hy daagliks besoek af in Groenpunt. Mr Rutherfoord is meer as ingenome. “What an extraordinary talented young man this young Murray is.”
Die tyd is min en Andrew ’n man wat nie gras onder sy voete laat groei nie. Skaars drie dae nadat hy haar die eerste keer gesien het, kry Emma ’n brief van hom waarin hy haar vra om te trou. “Hoewel my werk in Bloemfontein bevredigend en uitdagend is, is ek soms baie alleen en verlang ek na iemand wat vir my ’n lewenslange metgesel kan wees; “a companion which I believe the Lord will grant me in due time”.
Hy gaan voort om te sê hy het dadelik aangetrokke tot haar gevoel, “een van daardie vreemde misteries van die lewe. Dit gaan vir my baie swaar wees om binne ’n paar dae weer van jou afskeid te neem. Jy is geseën met spesiale talente wat myne kan aanvul en my lewe sal verryk.”
Die vurige jong intellektueel se oorhaastigheid skok haar verfynde siel. Die huweliksaansoek is volgens haar heeltemal te halsoorkop … Sy het darem gedink hy het beter aanvoeling as om nie eens tyd te maak vir ’n hofmakery waartydens hulle mekaar beter kan leer ken nie
Andrew is slaggereed om die bal aan die rol te sit en “this serious matter of great consequence for both of us” met haar pa te bespreek. Maar hy misgis hom met Emma. Dit klink soos iets uit ’n Jane Austen-roman. Hy laat haar hart ook vinniger klop maar die vurige jong intellektueel se oorhaastigheid skok haar verfynde siel. Die huweliksaansoek is volgens haar heeltemal te halsoorkop en sy reken hy laat dit soos ’n saketransaksie klink. Sy het darem gedink hy het beter aanvoeling as om nie eens tyd te maak vir ’n hofmakery waartydens hulle mekaar beter kan leer ken nie. Dit laat haar ewe impulsief besluit om summier alle kontak met hom te verbreek.
Haar brief aan hom is koue water op die vuur. “It seemed to me that there could be no mutual sympathy, and no clear knowledge of character necessary for so close, so holy a relationship.”
Voor sy vertrek kom Andrew groet. Hy erken teenoor haar pa dat haar reaksie geregverdig was en dat hy onder druk gevoel het van sy gemeente wat dringend op sy terugkeer wag. Dis ’n erg bekaf vryer wat die lang reis terug na sy pioniersbestaan aanpak. Emma se familie maak intussen geen geheim daarvan dat hul simpatie meer by die jong predikant lê as by haar nie. Haar suster Mary is so ontstig dat sy amper ’n week lank nie met Emma praat nie.
Andrew vermy voorlopig die Kaap en woon nie eens die volgende sinodesitting by nie. Maar hy gee darem ook nie heeltemal moed op nie. Emma kry hom ook nie uit haar kop of hart nie. Toe hy met haar begin korrespondeer, reageer sy aan die begin steeds effens kil. Maar die man wat in hul latere huwelik van 48 jaar 250 boeke sou publiseer, weet hoe om te skryf. Emma leer ken hom oor ’n tydperk van ’n jaar in hul briefwisseling en sy gedagtes en verlangens staan haar aan. Toe hy weer vra, sê sy ja sonder dat sy hom intussen weer gesien het.
Daar word vertel dat die jong predikant die reis van Bloemfontein na Kaapstad, wat destyds gewoonlik drie weke geduur het, binne 13 dae afgelê het.
Hulle trou op 2 Julie 1856 in die Dutch Reformed Church in Wynberg, Emma ’n prentjie in wit moeselien en kant, Andrew in strikdas en manel. Daar is skaars tyd om ’n bruidsuitset bymekaar te kry voor hulle noorde toe vertrek. Die jong bruidegom voldoen met groot sorg en moeite aan sy vrou se versoek dat haar klavier moet saam op die wittebroodsreis, ’n groot kampeer-avontuur vir die jonggetroudes.
Haar liefde vir die hardwerkende, begeesterde man met die oop, eerlike gesig oorbrug al die aanpassings
Die klavier raak haar naelstring met die lewe wat sy agterlaat. Sy skryf: “Dear Mama, what a joy it is, playing the piano. Most of the time I play for my Andrew.” Dit raak ’n gewoonte dat sy vir hom sing en lees as hulle lang afstande in die kapkar aflê om mense op afgeleë plekke te gaan besoek.
Eenvoudige, goedhartige boeremense oorlaai hulle met groente, eiers, hoenders en eende, selfs ’n skaap. Dit ontroer haar. En sy geniet die konstante verandering in die landskap en veral die kosbare alleentyd met haar man wanneer hulle reis.
Emma se nuwe bestaan is ver verwyder van haar jongmeisie-drome om haar in ’n gesofistikeerde Londen te gaan vestig. By geleentheid mis sy wel sekere dinge. “Liewe Mamma, kan jy dalk vir my skoene aanstuur? Ek het tog so ’n swak vir Franse leerstewels.”
Maar haar liefde vir die hardwerkende, begeesterde man met die oop, eerlike gesig oorbrug al die aanpassings in ’n oorwegend waterlose stad met sy losse versameling van sowat 45 grasdakhuise wat langs die Bloemspruit gestrooi lê. “Dear Mama, I certainly never knew before I could be so bound to anyone or love anyone so much.”
Sy is voortdurend besorg daaroor dat Andrew se gesondheid ’n knou kan kry weens sy veelvuldige pligte. Waar sy kan, vergesel sy hom op sy togte omdat sy weet hy kan dan nie heeltemal so hard werk nie omdat hy haar in ag moet neem. Haar eie atletiese, fikse liggaam is ’n groot bate. Sy het elf kinders in die wêreld gebring.
Andrew Murray word in 1871 na Wellington beroep waar Emma hom tot met haar dood in 1905 bystaan. Hul reis saam kan vergelyk word met haar beskrywing van ’n klim tot bo-op Tafelberg: “so wild, so free, so majestic, so worth the trouble and fatigue.”
Die Skotse Murrays
Die standbeeld van die sittende figuur van die dinamiese predikant, mistikus en skrywer Andrew Murray voor die Moederkerk in Kerkstraat, Wellington, is ’n bekende gesig. ’n Rugbesering het hom in sy latere lewe genoodsaak om dikwels te sit en preek. Op 9 Mei, sy verjaardag, word steeds elke jaar kranse gelê by sy graf, ’n klipgooi van die standbeeld af.
Murray se predikant-pa, ook Andrew, het as jong man uit Skotland na Suid-Afrika gekom. Andrew jnr. word op Graaff-Reinet groot tot hy as tienjarige Skotland toe gaan om daar skool te gaan. Ná sy teologiese studie in Holland word hy in 1848 as predikant in Den Haag georden. Met sy terugkeer na Suid-Afrika kry hy opdrag van die NG Kerk om die Afrikaners in die binneland te gaan bedien en ’n versoenende rol te speel tussen die Kaapse regering en die Boere in die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier.
In die elf jaar van sy bediening in Bloemfontein was hy onder meer die stigter van Grey Kollege.
Emma speel waarskynlik ’n belangrike rol in sy ywer om ook beter opvoedings-geleenthede vir jong vroue te help skep. Hy stig later in sy bediening op Wellington die Seminary for Girls.
Hierdie artikel het in die Februarie 2017-uitgawe van rooi rose verskyn.