Toe ek my eerste oggendkoffie op die kant van my selfoon op die nagtafeltjie neersit, dit kantel en ‘n dam koffie binne sekondes my foon én tydskrif-hopie deurdrenk was ek seker: Dit was Maandag. Daar was moeilikheid.
Met die intrapslag loer sy oor haar bril. “Ons moet praat.” Ek probeer nog. “Lekker naweek gehou?” Sy loer weer. “Ons moet praat. Nou.”
Daardie frons. As jy jou eie baas is, is daar min dinge wat jou so kan ontstig soos ‘n frons. ‘n Frons spel onheil, onsekerheid, ongelukkigheid en soms, net soms, onkunde. ‘n Gevaarlike kombinasie. Een wat my los met ‘n ander on . . . onderstebo.
Ek sal jou die detail spaar. Dalk net dit: die kliënt is altyd reg. Altyd. Al is sy verkeerd.
Want dinge het nie uitgewerk soos sy gedink het dit moet nie. Al het jy haar gesê. Weke lank al die prentjie geskets, die werk gelewer. Maandag besluit sy, nee. Dis nie hoe sy dit sien nie. Verander sus na so-en-so-en-so-en-so. Dadelik. Al is die spertyd môre. Al werk jy weke lank al aan hierdie. Al het sy al die pad instemmend geknik en jou planne goedgekeur. Al . . .
Die kliënt is altyd reg. Al is sy verkeerd.
Daardie middag lui my sel. “Was jy in jou kar toe dit gestamp is?” Ek hoor my man frons. Maar ek sit op ‘n vliegtuig, Johannesburg toe. “Nee.” Dis al wat ek uitkry. Laataand kom die storie. James (ja, James) is my motorbestuurder vir die tyd wat ek my op krukke en in ‘n rolstoel bevind. James se Maandag was ook vol moeilikheid. Hy’t in ons oprit met my kar in sy eie vasgery. Dis my beurt om te frons. “Sê hy moet dit uitsorteer. Nou.”
Sien James, die kliënt is altyd reg. Al is sy verkeerd.
My kliënt se frons pla my steeds. Ek sukkel om te slaap. Twyfel eers, maar stuur tog later ‘n e-pos. “Ons moet praat. Hierdie ding pla my.” Die risiko? Sy vererg haar en besluit om ‘n ander diensverskaffer te gebruik. Ek pak die frons kaalvuis. Kyk haar in die oë. “Ek stem nie met jou saam nie.”
Stilte.
“Jy’s reg. Ek’s jammer.” Die frons verdwyn nie, word net sagter. “Solank ons almal hieruit leer. Jy doen uitstekende werk.”
Die kliënt is . . . jy ken nou al die refrein.
En James? “Ek wou vir jou verduidelik. Maar jy was te gestress. Ek het besluit om later vir jou te vertel.” Hy’s reg. “Solank ons almal hieruit leer. Jy doen uitstekende werk,” hoor ek myself sê.
Met Maandag se moeilikheid nog in my kop staan ek Woensdagaand sukkel-sukkel van die tafel af op, karring met die krukke. “Ek wil my lewe terughê,” sug ek.” My agtjarige frons, dáárdie frons. “Mamma, hierdie is jou lewe. Met sy moeilikheid.”
Vat so, Katvis. Dís die moeilikheid van moeilikheid.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za