“Here, gee hom net asseblief vir my terug. Dit maak nie saak in watter toestand hy is nie. Selfs al moet sy bene geamputeer word.” Dit was Bets (54) se gebed nadat haar geliefde wat as ’n veiligheidswag in Irak gaan werk het so ernstig in ’n selfmoordbomaanval beseer is dat niemand gedink het hy gaan dit oorleef nie.
Niks kon haar voorberei op dit wat sy gesien het toe sy hom in die hospitaal in Duitsland besoek nie. Hy is ná die aanval vir behandeling Duitsland toe gestuur.
“Hy was onherkenbaar. Sy kop en bors was oop, sy oog was toegeswel en sy liggaam was vol skrapnel. Daar was oral masjiene. Sy arm en groottoon moes geamputeer word.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Jare later gesels ons in die egpaar se gerieflike huis in Pretoria-Noord oor die lewe vóór en ná Irak en oor hul sonderlinge liefde. Bets is nou eers gereed om hieroor te praat.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Sy kyk ver terug as sy vertel dat dit gewis nie liefde met die eerste oogopslag was toe sy Deon (nou 52) 13 jaar gelede vir die eerste keer by haar broer se huis ontmoet het nie. Sy was pas geskei en glad nie gereed vir ’n verhouding nie. Hy was ook in daardie stadium reeds geskei.
“Deon was destyds in die sekerheidsbedryf en dit was sy lewe; ’n werk wat hy van kleins af wou doen.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Ek het niks van hom gehou nie, want hy het lang hare en ’n oorbel gehad,” vertel Bets sommer voor hom en albei lag. Hy was vasbeslote om haar uit te neem, maar sy wou niks weet nie.
“Elke keer as iemand aan my deur geklop het, was dit Deon,” vertel sy van die man wat verseg het om tou op te gooi. Naderhand kon sy nie meer verskonings uitdink nie en is wel saam met hom uit.
Geleidelik het haar weerstand begin verkrummel.
“Ek het besef hoe liefdevol hy is, en hy het soveel klein dingetjies vir my gedoen. Hy vertel natuurlik dat hy gedink het ek is ’n ryk vrou omdat ek so baie juwele dra,” lag Bets.
Deon onderbreek die gesprek en vertel dat Bets vir hom aantreklik was en dat hy van haar houding gehou het: sy weet wat sy wil hê.
Die liefde het sy eie pad gekies en vandag is hulle ná 13 jaar steeds bymekaar waarvan hulle vyf jaar getroud is. Tussen hulle het hulle vyf kinders. Haar kinders en kleinkinders is gek na Deon en noem hom “Oupa”.
Deon het in ’n stadium besef daar is nie vir hom bevorderingsmoontlikhede in sy werk nie. Ontnugter het hy bedank. Hulle het besluit om ’n gastehuis op Stanger aan die Natalse suidkus te bedryf. Vir Deon was hierdie lewe ná sy adrenalienbelaaide jare net te stil. En hy moes nog leer Engels praat ook, spot hy.
“Dit was nie juis opwindend om die gaste se tasse na hul kamers aan te dra nie, maar hy het dit vir my gedoen. Hy sou enige iets doen om my gelukkig te hou,” vertel Bets.
Die inkomste uit die gastehuis was seisoengebonde en al het hulle wonderlike tye saam in die natuur deurgebring, moes hulle die huis uiteindelik verkoop en is terug Pretoria toe.
“Deon het een aand saam met ’n vriend in ’n kroeg gekuier en daar is die gedagte om Irak toe te gaan in sy kop geplant. Hy was onder die eerste groep Suid-Afrikaners wat Irak toe vertrek het.
“Ek was salig onbewus van wat in Irak aangaan. Deon het my ook niks vertel nie, want hy het geweet ek sal dit nie goedkeur nie.”
Haar vriendin Melinda het haar op ’n dag ingelig dat die twee mans, haar man Francois en Deon, hulle vir ’n naweek wou wegneem en dat sy solank moes pak. Dit was ’n onvergeetlike naweek. Later sou sy besef die uitstappie was ’n soort afskeid, want almal behalwe sy, Bets, het geweet die mans gaan Irak toe.
“Enkele dae later vra Melinda my uit die bloute of ek dan nie vir Deon help pak nie. Help pak? Ek wis van geen sout of water nie,” vertel Bets.
Toe kom sy tot haar skok agter dat die mans twee dae later Irak toe sou vlieg om daar as BBP’s se lyfwagte te werk. “Ek was woedend. Ek was smoorkwaad vir Francois en het huilend by Deon gepleit om asseblief te bly. Toe sê hy vir my hy gaan net vir ’n maand lank Irak toe. Intussen sou hulle vir tydperke van drie maande in Irak werk en dan vir ’n maand huis toe kom. Hulle sou salarisse van $8 000 per maand (toe R50 000) in ons geld verdien. Dis nie die soort inkomste wat hy in sy werk in Suid-Afrika sou kon verdien nie.
“Francois moes geweet het hy gaan in Irak sterf,” voeg Bets peinsend by. “Hy het voor die tyd met almal vrede gemaak. Dinge uitgepraat wat hom gepla het.”
Nadat die mans op 8 Januarie 2004 vertrek het, het soveel dinge skeefgeloop, vertel Bets. Haar motor is gesteel en haar wasmasjien het gebreek.
“Dit was asof my hele wêreld ineengestort het. Om alles te kroon was die kommunikasie skraps en die mans was nie baie bedrewe met e-pos nie.”
Toe ontvang sy ’n e-pos wat per abuis van iemand anders se rekenaar gestuur is met ’n foto van soldate met sakke vol bloedbesmeerde geld.
“Ek was buite myself. Francois het boonop vir Melinda vertel dat ’n missiel hul hotel getref het. Ek het nie eens geweet wat ’n missiel is nie. Ons het net gehoor hulle is in Bagdad en dat ons later meer inligting sou kry.”
Sy onthou wel dat sy daardie oggend van die selfmoordbomaanval, skaars twintig dae nadat hulle in Irak aangekom het, na die program Morning Live op televisie gekyk het toe sy iets van Irak en Suid-Afrika hoor.
Een man is dood en een is beseer. Dis nie wat sy wou hoor nie.
“Ek het die TV afgeskakel en gaan stort. Toe lui die telefoon en dis Melinda wat vir my vra of ek van die gebeure oor die nuus gehoor het. Ek het vir haar gesê dat ons ons nie aan die nuus moet steur nie, want niks gaan daar aan nie.” So het sy haarself wysgemaak.
Maar toe neem sy haar skoonma later daardie dag na ’n oogarts in Sinoville, Pretoria. Sy en Deon het vooraf afgespreek dat hy haar daardie oggend om elfuur sou bel. Maar pleks van Deon se bekende stem vra iemand met ’n swaar Amerikaanse aksent vir haar of sy Bets Bouwer is. Stom van skok moes sy hoor: “There was a bomb.”
Al wat sy verder kon onthou, was dat Deon baie seergekry het en dat ’n breinoperasie gaan volg. En dat Francois gesterf het. Die man het onderneem om later weer te bel.
Later is beweer dat 285 kg plofstof glo in die bomaanval gebruik is. Deon het later onthou dat hy ná die ontploffing so verdwaas was dat hy met ’n AK-47 en met sy arm wat aan flarde hang, wild en wakker begin skiet het. Al wat hy van die hospitaal in Irak onthou voor hy sy bewussyn verloor het, was bloed, vlieë en menslike vullis.
Bets vertel dat sy met die aanhoor van die tyding so groot geskrik het dat sy haar skoonma net daar by die oogarts gelos het. Haar lewe was flenters.
“Ek wou dadelik Irak toe om by Deon te wees maar is meegedeel dat ek glad nie die land mag binnegaan nie. Ek is toe gevra om vir hom ’n briefie te e-pos wat hulle ná sy breinoperasie aan hom sou voorlees sodat hulle kon vasstel hoe hy reageer.”
Die volgende wat sy hoor, is dat Deon ná sy breinoperasie van Irak af na Stuttgart en Homburg in Duitsland geneem is. Sy het ook gehoor dat eers sy een vinger en toe ’n tweede vinger geamputeer is.
Dit maak nie saak nie, het sy gedink. Ek wil net by hom wees, selfs al amputeer hulle sy bene. Net meer as ’n week later is Deon se arm geamputeer omdat niks geheg kon word nie.
Bets het die Duitse ambassade besoek en so vreeslik gehuil dat hulle haar dadelik gehelp het.
Vliegkaartjies is daarna vir haar en Riana, Deon se suster bespreek. Die Amerikaanse regering het vir Bets se vliegkaartjie betaal. Binne ’n ommesientjie het goedhartige vriende sommer R11 000 vir Bets se uitgawes ingesamel. ’n Hotel is vir hulle bespreek en hulle het in die dorpie Homburg tuisgegaan.
“Ek wou hom dadelik sien maar die hospitaalowerheid wou dit nie toelaat nie. Hulle wou my eers voorberei op dit wat ek sou sien omdat dit nie baie mooi was nie.”
Haar hart het geruk toe sy Deon sien. Hy was nie dieselfde mens wat sy geken het nie. ’n Gedeelte van sy kakebeen was weg en hy kon sy mond nie behoorlik oopmaak nie. Hy het nie lippe gehad nie. Sy oog was beskadig en sy retina geskeur. Sy gesig was geskend van die brandwonde. Sy arm was weg. Oral was gapende wonde en sy liggaam was deurtrek van skrapnel wat agt jaar later steeds verwyder moet word. Hy het 26 kg verloor en 72 kg geweeg.
“Ek het my byna doodgehuil. Drie maande lank is Deon in die hospitaal behandel. Ek het elke dag twaalf uur lank langs sy hospitaalbed gesit. Ek was by hom toe hy uit sy geïnduseerde koma wakker geword het.”
Bets het elke dag met ’n bus na die hospitaal toe gery maar Sondae moes sy ses kilometer ver deur wind en soms ysige weer stap. Maar sy was dáár. Aan haar geliefde se sy.
Toe hy bykom, het Bets vir Deon gevra wie sy is, en toe antwoord hy: “Bets man.” Hy het in sy beneweling gedink ek gaan hom uittrap omdat hy in ’n kroeggeveg betrokke was. Hy het nog ewe gevra waar sy rooi Fer-rari is – dit terwyl hy ’n rooi bakkie gehad het.”
Omdat haar geld min geword het, wou Bets later na huisvesting by die hospitaal trek, maar die eienares van die hotel het vir haar gesê daar is nie ’n manier waarop sy uit die hotel trek nie. Hulle sal later oor die rekening praat.
“Die Duitsers lyk maar so stug en hulle glimlag min, maar my ervaring is dat hulle wonderlike mense is.”
Die pad na herstel was lank.
“Hy het ná drie maande huis toe gekom hoewel hy veronderstel was om langer in die hospitaal te bly.
Amerika het toe laat weet dat sou hy vroeër ontslaan wil word, hy dan op sy eie is.”
Maklik was dit nie.
“Deon sukkel met sy sig. Hy het net 10% sig in sy linkeroog en dit veroorsaak dat alles vir hom vertikaal lyk.”
Hy is ook die eerste Suid-Afrikaner wat ’n bioniese arm gekry het. Die arm kos R895 000 en om die arm te diens kos R45 000.
As Bets vertel dat haar hele lewe verander het, kla sy nie. Sy bly heeltyds tuis om na Deon om te sien. Sy help hom met alles – van aantrek tot om hom badkamer toe te neem.
“Ek was onlangs vir ’n paar dae weg om vir my dogter te gaan kuier, maar ek sal my man nooit weer alleen los nie. As ek hom nie sien nie bekommer ek my heeltyd.”
Ja, sy persoonlikheid het verander ná die voorval in Irak. Hy het in ’n stadium met depressie gesukkel en ook kwaai begin drink. Voor die voorval was hy baie selfversekerd en meer sosiaal. Maar hulle het deur die probleme gewerk.
“Ons is die rustigste paartjie denkbaar. Ons is so eenders en ons baklei nooit nie. Ek weet ek is die spil waarom sy lewe draai. Toe ek ná ’n paar dae van my dogter terugkom, het hy vir my gesê ‘Bokkie, jy sal dit nooit weer doen nie.’ Ons is baie geheg aan mekaar.”
Ná die voorval in Irak wou Deon nie meer met haar trou nie, maar toe vra sy hóm die jawoord.
“Deon is my lewe. Ons sal saam oud word. My grootste vrees is om hom te verloor. Daar was nie hoop vir hom nie en niemand het gedink hy sal ooit uit daardie hospitaalbed opstaan nie. Toe hy die dag by die saal uitstap, was almal in trane. Tot die professor het gesê hy het nooit gedink daardie dag sou aanbreek nie.
“Hy is ’n lewende wonderwerk. Hy bly altyd positief.”
Sy dink diep na en sê: “Vroue wie se mans Afganistan of Irak toe gaan, moet besef hul lewe kan in ’n oogwink verander. Ek sak steeds elke dag op my knieë om dankie te sê dat Deon nog by my is.”
Deon is drie maande lank in ’n hospitaal in Homburg, Duitsland, behandel nadat hy in Irak in ’n bomaanval beseer is.
** Deon is intussen oorlede. Ons gebede gaan uit na Bets en haar familie.
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.