Die lekkerste, dikste lensiesop met parmesaandoopstokkies
Die lekkerste, dikste lensiesop met parmesaandoopstokkies
Ingredients
30 ml (2 e) olyfolie
1 kg bees-sopvleis, soos borsstuk (brisket) of skenkels
2 uie, fyn gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
3 wortels, geskil en ruweg gekap
2 selderystingels, fyn gekap
2 preie, gewas en in ringe gesny
1 klein botterskorsie, geskil en in blokke gesny (of ’n koppie klaar gesnydes)
2 x 410 g-blikke heel tamaties in sap
2 liter water
500 g bruinlensies
’n lourierblaar
sout
’n hand vol pietersielie, gekap
Parmesaandoopstokkies
Genoeg vir 12-15 stokkies
2 x 400 g-rolleklaarbereide blaardeeg (ons koop Woolworths s’n)
1 eier, liggies geklits
250 ml (1 k) gerasperde parmesaan of pecorino
’n knypie swartpeper
5 ml (1 t) paprika
30 ml (2 e) Maldon-sout
Instructions
1 Verhit die olie in ’n groot sopkastrol en braai die vleis daarin tot goudbruin. 2 Voeg die ui, knoffel, wortel, seldery, prei en botterskorsie by en braai vir 5 min. 3 Voeg die heel tamatie, water en lensies by. Die groente en vleis moet bedek wees met water, so afhangende van die grootte van jou kastrol, sal jy dalk nog water moet byvoeg. 4 Geur met die lourierblaar, ? bietjie sout en kook vir 15 min. Verlaag die hitte en laat prut vir 2 uur tot die lensies gaar is. 5 Strooi die pietersielie oor, roer een keer deur en sit met die parmesaan-doopstokkies voor.
Parmesaandoopstokkies
Voorverhit die oond tot 220 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit. 1 Rol 1 rol blaardeeg liggies op ’n skoon, meelbestrooide werkvlak uit. 2 Verf liggies met eier, sprinkel die parmesaan oor en geur met paprika, swartpeper en sout. 3 Rol die ander rol blaardeeg op die meelbestrooide werkvlak uit. Verf liggies met eier en sit op die ander vel blaardeeg. Rol weer liggies uit. 4 Sny die deeg in ? netjiese reghoek. Sny in 2 cm-stroke en draai ’n paar kinkels in elke strook. Sit op die bakplaat en verf met die res van die eier, en strooi nog sout oor. 5 Bak vir 8-10 min. tot goudbruin. Haal uit en laat afkoel. Sit met die lensiesop voor.