Jessica Carinus (toe 46) van Fourways vertel hoe die leë nes haar aan flarde gehad het:
“Ons oudste dogter, Sandra, het uit die huis studeer en toe die tweede een drie jaar later besluit om in Stellenbosch te gaan swot, was ek saam met haar opgewonde. Ek het geweet ek sou Cindy mis, maar ek was gelukkig getroud en baie besig as bestuurder van ons lodge en het ook aan verskeie sportsoorte deelgeneem.
“Niks het my voorberei op die ongelooflike gevoel van verlies toe sy uit die huis is nie. Ek is in trane uit Stellenbosch weg en daarna het dit net haar naam, of ’n verwysing na haar gekos om my van vooraf in trane te hê. My emosies was heeltemal buite beheer.
“Die ergste was as Cindy my gebel het en ek in trane uitgebars het. Dít nadat ek myself keer op keer voorgeneem het dat ek nie wéér gaan huil nie. Ná elke oproep moes ek maar weer ’n boodskap stuur om te sê hoe jammer ek is dat ek so emosioneel is. My huilery het haar vreeslik ontstel. Sy was so bekommerd oor my dat sy haar pa gereeld gebel het om te hoor hoe dit met my gaan.
“As ek verby haar kamerdeur gestap het, was ek in trane, as ek drie borde gedek het en nie die gewone vier nie, was ek in trane. En hoe meer ek myself vertel het hoe pateties dit was, hoe minder kon ek dit beheer.
“Die ergste was dat ek soos die kind in die verhouding gevoel het. Ek het geweet my reaksie was onrealisties, want my vriendinne wat in dieselfde bootjie was, het dit oënskynlik maklik hanteer. Boonop was Cindy sielsgelukkig in Stellenbosch.
“Dit het ’n groot verantwoordelikheid op Cindy geplaas. Sy moes die volwassene in die verhouding wees en my troos en moed inpraat. Ek het skuldig gevoel. Ook oor my ander dogter wat vir my sê ‘Maar ma, ek is dan nog hier.’ En dit was allermins ’n geval dat een ’n gunsteling was. Ek was om die waarheid te sê meer beskermend teenoor Sandra omdat sy sagter is.
“By die huis het niemand oor Cindy gepraat nie. Dit was ’n verbode onderwerp. My man, wat nie die praterige soort is nie en nie met sy emosies te koop loop nie, het nie geweet hoe om my te ondersteun nie. Ek was ook te verleë om dit met my vriende te bespreek.
“Ek onthou hoe ek kort ná Cindy vertrek het by ’n vriendin se verjaardagpartytjie was en toe een my na haar vra, het ek oudergewoonte in trane uitgebars. Haar reaksie van ‘Ag, foeitog, nou hoekom huil jy dan?’ het my so simpel laat voel dat ek opgestaan en uitgeloop het.
“Ek was die een wat altyd vir ander planne gemaak het om ’n krisis te hanteer en voorheen gewonder het hoekom mense hulle nie kan regruk nie. Nou was ek soos ’n kind wat heeltyd gehuil het. As ek nou terugdink, kon ek ’n berader gaan spreek het, maar ek het laf gevoel om aan myself te erken dat ek nie daaroor kon kom nie. Boonop was een van ons vriendinne ernstig siek en het dit my probleem so kinderagtig laat lyk.
“Dit het soos ’n depressie gevoel, hierdie swaar ding wat oor my gehang het. Ek het ook heeldag aan haar gedink. Soms het ek snags wakker geword en in trane uitgebars. Ek het vir ’n driekamp geoefen en lang trane gehuil in die swembad, op my fiets en as ek hardloop.
“Dit was vir my ’n verleentheid. Ek het gereelde gaste wat by die lodge oorbly, en dit was net natuurlik dat hulle sou vra hoe dit met Cindy gaan. Ek het klokslag in trane uitgebars. Ek het onvolwasse en flaky gevoel. My fisio het my later raad gegee wat ’n bietjie gehelp het: As jy jou tong teen jou verhemelte druk, keer dit dat jy in trane uitbars. Dit het gewerk, maar dan kan jy ook nie juis praat nie!
“Eers ses tot agt maande later het ek een oggend wakker geword en gevoel asof die wolk oor my gelig het. Dis nou drie jaar later en ek mis haar steeds, maar dis ’n rasionele gevoel soos enige ma maar haar kinders mis wat elders is. ’n Jaar later het Sandra uit die huis getrek en hoewel ek haar gemis het, was dit ’n normale reaksie en nie soos met Cindy nie.”
Ek en my man het soveel pret
Ansie Bruwer (53) van Durbanville sê toe haar seun op 25 aankondig dat hy sy eie blyplek gekry het, was sy verbaas oor die golf emosie wat skielik oor haar gespoel het.
“Albei die kinders het uit die huis studeer en dit was vir almal lekker om saam te wees. Ons het heerlik as ’n span saamgewerk en mekaar se geselskap geniet. Hy sou net om die draai van ons bly, maar die intensiteit van die emosie het my onkant betrap. Dit was net vir ’n oomblik, maar toe was ek saam met hom opgewonde oor die nuwe avontuur. Toe my dogter die volgende jaar vir nagraadse studie Johannesburg toe is, het ek geweet ek sou haar ondanks my voltydse beroep en groot vriendekring baie mis, want ons het soveel dinge saamgedoen.
“Toe ons daardie dag van die lughawe terugry ná ons haar afgelaai het, het ek vir my man, wat baie vir werk reis, gesê ons twee sal meer tyd vir mekaar moet maak en op mekaar fokus. Hy het ingestem om Vrydagaande halfses, eerder as die gewone sewe-uur, tuis te wees sodat ons ’n spesiale voorgereg en ’n lekker glas wyn op die stoep of voor die vuur kon geniet.
“Dit was ’n wonderlike begin vir ’n naweek en het ons sommer dadelik in ’n ander bui geplaas. Hoewel ons albei ook met ons eie dinge besig was, het ons altyd iets lekkers vir die naweek beplan soos om te gaan uiteet, of iewers heen te ry. Skielik was ons weer ‘maats’ soos voor die kinders daar was!
“Hy het my verras met reise na interessante bestemmings en hoewel ons gelukkig getroud was, het hierdie nuwe fokus ons beslis nader aan mekaar gebring. Ons het ook vir ons fietse gekoop en saam begin ry. Hy het later te besig geword om saam met my te ry en ek het by ’n fietsryklub aangesluit en geniet nou hierdie nuwe avontuur. Ek het sedertdien verskeie lang wedrenne, onder meer drie Argus-wedrenne gedoen en is mal daaroor. Ek sou nooit kon droom dat ek ná vyftig ’n fietsryer sou word nie. Hoewel dit vir my lekker was toe die kinders by die huis was, is my leë nes baie snoesig met net ons tweetjies daar. En boonop vir my tyd gegee om nuwe, opwindende dinge te doen.”
Kry hulp
“Vandag se ouers is toeskietliker met die jongmense onder hul dak en skep vir hulle meer geleenthede en dus bly kinders graag langer in die huis,” verduidelik Erika Hitge, ’n berader van Johannesburg. “Gedeelde belangstellings maak ook dat die generasiegaping krimp en dat ouers en kinders groot maats is en baie dinge saam doen.
“Dit maak die gemis baie groter wanneer hulle die huis verlaat. Mense met aktiwiteite buite hul gesinsverband pas gewoonlik makliker aan omdat hulle nou meer tyd het om die nuwe lewenstyl te geniet. As kinders op hul eie bene staan, het ouers ook meer geld om dalk prettige dinge saam te doen. Tog kan mense soms diagnoseerbare siektes soos angs ontwikkel as hul lewe en fokus rondom die kinders gewentel het. Dit kom ook meer voor by mense wat daarvan hou as dinge dieselfde bly. Dit bied hulle sekuriteit.
“Emosies is nie rasioneel nie, en as jy boonop die menopouse se hormoonskommelings daarby klits, het jy ’n dodelike kombinasie.”
“Sommige vroue beleef hul kinders baie intens en leef elke tree saam met hulle,” verduidelik Lesley-Ann Pedler, ’n sielkundige en berader van Greenside. “Dit is vir hulle baie bevredigend, maar kan ’n geweldige leemte laat wanneer ’n kind die huis verlaat. Veral as die verhouding met haar man tekort skiet en kommunikasie gebrekkig is. Dan trek die verhouding skeef as die kind nie daar is om dit aan te vul nie.
“Soms was die kinders die gom wat die huwelik aanmekaargehou het. Of dalk lê hulle afwesigheid ’n swak plek in ’n huwelik bloot. Dit kan ook wees dat die huwelik gelukkig is, maar dat elkeen, die kinders inkluis, ’n rol het wat die eenheid as ’n geheel laat werk. Die kind is dalk die grapjas of lewenslustige een. As die kind weg is, funksioneer die eenheid nie meer soos voorheen nie en voel dit heeltyd of iets skort.”
’n Berader kan help
“Gewoonlik help dit om die situasie met jou man, vriendinne of jou dominee te bespreek, maar as jy steeds ontredderd voel, of niemand het met wie jy dit kan bespreek nie, gaan vir berading,” sê Lesley. Moenie bekommerd wees dat die berader jou kinderjare gaan oopvlek en ’n oorsaak gaan soek vir jou gevoel nie. Dit gaan bloot oor metodes wat jou kan help om die verlies beter te verwerk.
Soms is dit makliker om jou emosies met ’n vreemdeling te deel omdat jy nie voel jy word beoordeel of gekritiseer nie.
’n Berader se wenke
• Ek sal eerstens vir ’n ma toestemming gee om droewig te voel, maar met reëls. Sy kan byvoorbeeld elke oggend tot agtuur droewig wees en trane stort, maar dan is dit verby vir die dag.
• Dan sorg ek dat sy maniere kry om haar emosies te verbaliseer sodat as sy voor mense in trane uitbars, sy die woorde het om vir iemand te verduidelik dat sy deur ’n effense moeilike tyd gaan omdat haar kind uit die huis is. As sy dit reg kan verwoord, sal sy ook nie elke keer soos ’n slagoffer voel nie. Dis makliker as om dit heeltyd te probeer wegsteek.
Lees ook: Tieners op tiermelk: Wat ouers moet weet