kategorieë: OuerskapJou lewe

Die kwaai kalante: Raad vir ouers met aggressiewe kinders

Die kwaai kalante: Raad vir ouers met aggressiewe kinders. Deur Anys Rossouw. Hooffoto: Alexander Dummer vir Pexels

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die kwaai kalante: Raad vir ouers met aggressiewe kinders

Báie ouers weet nie waarheen nie, hul geduld en hoop is ook opgevreet. Al wat oorgebly het, is frustrasie, magteloosheid en skuldgevoelens.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Jare lank is geglo dat woedende, aggressiewe kinders die resultaat van ontoereikende ouerskap en swak dissipline is. Maar so baie kinders wat as stout en moedswillig bestempel word, het eintlik ’n probleem waarvan hulle en ander nie bewus is nie. Dikwels verstaan die kind net so min soos sy ouers en onderwysers waarom hy so optree, of hoe om dit te hanteer.

Onthou, kinders doen wat van hulle verwag word, ás hulle kan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Verskil tussen woede en aggressie

Woede is ’n emosie en aggressie is ’n daad of optrede in reaksie op woede. Om kwaad te word, is ’n natuurlike reaksie en nie as sodanig boos of verkeerd nie. Hoe die emosie hanteer en uitgedruk word, is gewoonlik die probleem. Woede is ’n sekondêre emosie. Die wortels van woede is gewoonlik ’n primêre emosie soos vrees of pyn. Dis moeilik om woede te hanteer as dit nie erken, verstaan en hanteer word nie.

Woede is aansteeklik en word maklik van mens tot mens en situasie tot situasie oorgedra. Soms keer mense hul woede na buite, ander kere na binne. Na buite vermink en vernietig dit verhoudings en ander mense. Na binne vermink en vernietig dit jouself en depressie is dikwels die resultaat daarvan.

Eienskappe van die woedende kind

’n Kind wat hom dalk maar net gou wip, moenie met die tipiese woedende kind verwar word nie.

Die sielkundige Norman Wright, beskryf die woedende kind só:

  • Sy lontjie is kort en hy reageer woedend en aggressief op situasies wat ander in die verbygaan hanteer.
  • Hy ontlok woede by ander en beïnvloed mense se houding en gedrag teenoor hom negatief.
  • Hy skep geskilpunte en sien probleme in onskuldige situasies.
  • Hy blameer altyd iemand anders vir die probleem of vir sy optrede, en het nie insig in sy eie aandeel nie. Hy besef nie sy optrede skep en vererger probleme nie.
  • Hy onthou selektief. Hy vergeet hoe hy opgetree het en fokus net op wat die ander gesê en gedoen het.
  • Die reaksies op ander emosies soos vrees, seerkry of frustrasie is ook woede.
  • Hy verstaan nie sy eie emosies nie, en het daarom ook nie begrip of empatie vir ander s’n nie.
  • Hy val mense aan, eerder as om probleme op te los.
  • Hy wil mag en beheer hê en gebruik woede en aggressie om dit te kry.
  • Hy beskou enigiemand wat hom teëgaan as vyandig.
  • Sy optrede en woorde teenoor ander is destruktief en wreed.
  • Sy innerlike selfpraat is net so vernietigend. Na buite kommunikeer hy dat net hy reg is en ander hom nie wil verstaan nie.
  • Daar kan talle ander kenmerke wees, soos intense gemoedstoestande en gemoedskommelinge, diefstal, brandstigting, intimidasie, fisieke wreedheid teenoor mense en diere. Dit hou verband met spesifieke diagnoses van toestande waarna later verwys word.

Mense hanteer woede meestal op drie maniere:

  • Jy ontken dat jy kwaad is. Dit gebeur dikwels onbewus.
  • Die woede word onderdruk. Jy is bewus daarvan, maar kies om dit nie te wys nie. In sekere situasies kan dit verstandig wees, tog is dit nodig dat woede erken en op ’n gesonde manier gedreineer word, anders tap die onderdrukking daarvan jou energie.
  • Jy gee uiting daaraan – dit beteken nie om dit te laat ontplof nie.

Wat is die wortels van aggressie en woede?

Daar is verskillende verklarings vir aggressie en woede by kinders. Die tradisionele verduidelikings soos ontoereikende ouerskap, swak motivering, aandag soek of ’n gebrek aan respek en waardering, is dikwels nie die enigste rede en ’n akkurate verduideliking nie. Té dikwels gebeur dit met kinders van liefdevolle, geduldige en toegewyde ouers.

1 Ontoereikende ouerskappraktyke

  • Aggressiewe kinders het dikwels ’n aggressiewe ouer wat hulle met aggressie en woede hanteer. Kinders boots dié gedrag na en tree op soos waaraan hulle gewoond is. As dié optrede nie vir die kind toelaatbaar is nie, skaad dit die geloofwaardigheid van die ouer.
  • Party ouers probeer álles wat hul kinders doen, sê of dink, beheer en polisieër. Hulle het soveel reëls en strawwe dat die kind min ruimte het om self besluite en verantwoordelikheid te neem. Dit frustreer hulle sodat hulle van al die beperkinge wil wegbreek.
  • Dikwels wil ouers wat self onder ongenaakbare ouers deurgeloop het, nie dieselfde aan hul kinders doen nie en stel dan nie duidelike grense nie. Omdat hulle nie soos hul ouers wil wees nie, vermy hulle konflik en aanvaar soms onaanvaarbare gedrag.
  • Party ouers is inkonsekwent en hul optrede hang van hul eie buie af. As hulle kwaad of moeg is, baklei hulle en wil geen verduidelikings hoor nie. Later voel hulle skuldig en is dan weer té toegeeflik sodat die kind met moord wegkom.
  • Soms wag geduldige ouers tot hulle genoeg gehad het en tree dan op. Dit beteken dieselfde gedrag word soms gestraf en ander kere nie. Sulke onvoorspelbaarheid laat die kind onseker en onveilig voel en sy eie emosies en reaksies is dikwels ook onvoorspelbaar.
  • Sommige ouers tree afkeurend en verwerpend op en ignoreer die kind se gevoelens. Hy leer so dat sy gevoelens verkeerd en ongeldig is, en dat iets met hom verkeerd is. Later sukkel hulle om gevoelens te erken en te hanteer. Soms kry kinders kritiek op amper alles wat hulle doen en hulle word ouerdoof: of ouers raas of nie, hy steur hom nie daaraan nie. Aggressie word dan dikwels kinders se manier om probleme te hanteer en om hul sin of aandag te kry.

2 Sielkundige of mediese oorsake

Woede en aggressie kan ’n simptoom van ’n verskeidenheid diagnoseerbare en behandelbare sielkundige probleme wees. Maar ’n diagnose mag nie op grond van een simptoom gemaak word nie. Die volle prentjie moet in ag geneem en verstaan word, soos die ernstigheid, duur, oorsaak, kenmerke van die simptoom, ouderdom en huislike, sosiale en omgewingsomstandighede.

Sielkundige of mediese oorsake sluit in kinders met aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit, biplolêre versteurings, depressie, gedragsversteurings, Tourette-sindroom, Asperger-sindroom en kinders met ’n sekere tipe temperament, wat óf dominant aktief óf hipersensitief en intens kan wees. Temporale lob of frontale lob epilepsie kan ook ’n oorsaak van woede en aggressiwiteit wees.

Laasgenoemde is moontlik die geval as ’n kind se uitbarsting uit die bloute is. Dié probleme is dikwels ongediagnoseer en die kinders word bloot as stout, ongeskik en moedswillig geëtiketteer.
Medikasie kan dikwels ’n groot bydrae lewer om dié kinders en hul gesinne se lewe te verander en te normaliseer.

3 Ontwikkelingsagterstande

Diagnoses van psigodinamiese én ontwikkelingsagterstande moet versigtig en met inagneming van die geheelbeeld van die kind en sy omstandighede gemaak word. Daar mag nie sommer net ’n etiket om ’n kind se nek gehang word nie.

Kinders se optrede en vaardighede moet gemeet word teen wat normaal vir hul ouderdom is. Hulle het onder meer intellektuele, perseptuele, sosiale en emosionele vaardig-hede nodig. As hulle nie die vaardighede het om te voldoen aan die eise wat aan hulle gestel word, nie, kan dit tot ernstige frustrasie, moedeloosheid en magteloosheid lei. Die kind kan hieraan uiting gee in woede en aggressie. Konflik met ouers en onderwysers volg, wat die frustrasie en die probleem vererger.

As kinders nie die vaardighede het om toepaslik op te tree nie, help tradisionele ouerskap en dissiplinetegnieke nie. Nie straf of belonings leer kinders hierdie vaardighede nie.

Wat doen ek as my kind met aggressie sukkel?

  • Die hantering van die probleem hang van die aard van die kind se probleem af. Dit kan medikasie, ’n tuisprogram, ouerleiding, individuele of groepterapie of selfs opname in ’n inrigting insluit.
  • Probeer die wortels van die kind se aggressie bepaal. Kry professionele hulp: ’n volledige mediese ondersoek en ’n evaluering deur ’n opvoedkundige sielkundige wat na die kind se hele menswees en ontwikkeling sal kyk.
  • Wees eerlik oor jou aandeel in die ontploffings. Woede ontlok woede.
  • Hanteer jou woedende kind met empatie. Probeer die kind en die probleem verstaan; kyk deur sy oë.
  • Tree vriendelik maar ferm en konsekwent op.
  • Probeer om jou eie reaksie uit te stel, en nie onmiddellik te reageer nie.
  • Sulke kinders het baie minder reëls, maar sterker reëls nodig.
  • Maak vooraf planne hoe jy/julle sekere situasies gaan hanteer. Wat gebeur, moet vir die kind voorspelbaar wees. Verwag jou kind se ontplof-fing en laat ruimte daarvoor. Maar stel ook duidelike grense.
  • Fokus op oplossings vir probleme met ’n positiewe verwagting.
  • Erken en beloon vordering.

Samewerkende probleemoplossing

As tradisionele verduidelikings dat die kind net stout is en behoorlik gedissiplineer moet word, nie akkuraat is nie, is tradisionele ouerskappraktyke as oplossing ook nie die antwoord nie. Sulke ouers bevestig dat hulle al alles probeer het – sonder sukses. Of hulle streng, ongenaakbaar, sag of toegeeflik is – die uiteinde is dieselfde: Die kind leer nie uit vorige ervarings nie.

Die bekende Amerikaanse kindersielkundige Ross Greene beveel samewerkende probleemoplossing (SPO) aan. Volgens hom is ’n vriendelike atmosfeer en begrip vir die kind se probleme ’n voorvereiste. Die betrokkenes moet besef hy sukkel om hom te beheer en dat sy gedrag meestal nie opsetlik is nie. Sy ouers moet tydelik van hul verwagtinge laat vaar – hy het reeds gewys hy kan nie daaraan voldoen nie. Dit beteken nie jy moet al jou waardes, reëls en verwagtinge oorboord gooi nie. Maar wel dat jy so goed moontlik speel met die hand wat vir jou uitgedeel is. Ouers moet dan begin rekord hou van situasies wat die kind frustreer en laat ontplof. Die meeste ontploffings is eintlik – as jy dit begin ontleed – voorspelbaar. Daar is gewoonlik vyf tot tien basiese lonte wat die kruitvat laat ontplof: om betyds op te staan vir skool, huiswerk, honger voor die kos klaar is, wat om wanneer te eet, om saans in die bed te kom, as jy “nee” sê, verveling, planne wat skielik verander … Al dié dinge kan vooraf ontlont word. Bespreek en werk saam ’n plan uit om die probleem wat die woede en aggressie ontlok, op te los. Die doel is om die probleem voorkomend op te los. Soms kan dit ook ’n noodplan wees. Die plan het drie stappe:

  • Empatie: Maak seker jy hoor wat sy kwessie, kwelling of probleem is. “Wat pla?” “Jy voel te moeg om jou huiswerk te doen?” Dit maak hom rustig en laat hom voel jy luister en verstaan hom. Verseker hom jy is nie besig om jou wil aan hom op te dwing nie.
  • Definieer die probleem: Nou stel elkeen – ouer en kind hul kwelling of probleem – nie hul oplossing nie. Net die probleem, en waarom dit ’n probleem is. Indien die ouer die oplossing gee, is hy besig om sy wil te laat geld en as die kind die oplossing gee, kry hy sy sin.
  • Uitnodiging: Kom ons maak ’n plan wat albei se kwessies hanteer. Die plan moet saam uitgewerk word, realisties wees en albei tevrede stel. Dit kan weer verander.
    Ou patrone is moeilik om te breek, daarom is dit belangrik om die nuwe patrone in te oefen en nie onmiddellik wonderwerke te verwag nie. Dis belangrik om in die regte rigting te beweeg en op die vordering te fokus en nie op die probleme wat steeds bestaan nie. Die prys van woede is net te hoog – ons kan nie toelaat dat dit verhoudings vermink en vernietig nie. Nie terwyl daar hoop is nie.

Lees nog: Raad om jou kind te motiveer

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

16 hours Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

16 hours Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

16 hours Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

16 hours Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

17 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

18 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.