Wat my eerste opval, is dié man se lewensblyheid. Niks oordrewe of aangeplak nie, eerder ’n diep vreugde wat soos ’n gesellige vuurtjie brand. Vir ’n gesogte Amerikaanse skrywer en motiveringspreker, nogal een van die hand vol ghoeroes wat in die trefferdokumentêr The Secret opgetree het, lyk Mike Dooley bra gewoon waar hy in ’n hotelsitkamer met my sit en gesels. Boonop het hy ’n lugweginfeksie. Die meester van manifestasie word sowaar ook siek.
Hoewel The Secret (die boek) 146 weke op die New York Times se topverkoperlys was en saam met die fliek reeds in 2009 ’n rekordbedrag van $300 miljoen ingebring het, het dit heelwat kritiek ontlok. Baie mense het gevoel die boodskap dat jy kan kry wat jy wil hê bloot deur jou gedagtes en emosies anders te rig, is ’n growwe oorvereenvoudiging, om nie te praat van die moontlike bevordering van selfgerigtheid en materialisme nie.
Daarom was dit vir my verfrissend om Mike met sy werkwinkel, Playing the Matrix, in Johannesburg destyds in aksie te sien. Hy is plat op die aarde, werklik nederig en het die aard van die werklikheid oopkop nagevors en deel sy bevindinge met ’n eiesoortige sin vir humor. Sy wysheid is nie goedkoop nie; hy ken swaarkry.
Vir my het die “aha“ in sy uiteensetting van die fynere kunsies van manifestasie gelê. Soos hy verduidelik het, is The Secret (die fliek) bloot ’n kykie van 92 minute na die sogenaamde Law of Attraction vanuit verskeie oogpunte. Dis ’n inleiding tot ’n onuitputlike onderwerp; allermins omvattend.
Dit vra verdere ondersoek.
Dié perspektief, saam met Mike se aanbieding, het my voorbehoude oor The Secret die nek ingeslaan. In hierdie artikel wil ek van sy belangrikste insigte weergee, maar wat ek kan inpas, is kwalik ’n skeppie water uit ’n grote oseaan!
Die manifestasieproses
Wat is manifestasie nou eintlik? Vir my kom dit daarop neer dat ons medeskeppers is van die lewe wat ons lei. Dis algemeen bekend dat alles in die heelal uit energie bestaan. Kwantumfisici het reeds dekades gelede bevind dat die ingesteldheid van die waarnemer tydens ’n eksperiment help bepaal of elektrone as deeltjies of golwe manifesteer. Mike stel dit so: “Thoughts become things.” Ons kan lank hieroor redeneer, maar dis die aanname waarop die manifestasie-teorie berus.
“If thoughts become things,“ vervolg Mike, “choose the good ones!” Beteken dit as jy op siekte fokus, gaan jy kanker kry, en as jy verbete op ’n rooi sportmotor konsentreer, gaan daar binnekort een in jou motorhuis staan? Ons voel almal aan die lewe is ingewikkelder as dit. Die mate waarin ons ons werklikheid (bewustelik) skep, is ’n moeilike vraag. Maar dit kan pret wees om die redenasies vir eers te systap en dié beginsels as ’n proefneming toe te pas. Jy het min om te verloor, en ’n newe-effek van “choosing the good thoughts” is dat jou gemoedstoestand verbeter elke keer wanneer jy jou fokus in die rigting van dankbaarheid, die goeie dinge in die lewe, en positiewe verwagting swaai.
Die manifestasieproses, volgens Mike, lyk so:
• Definieer jou begeerte in die vorm van die eindresultaat
• Hou dit algemeen
• Gaan oor tot aksie
• Wees geduldig
Begin by die einde
Weens ons logiese linkerbreinopvoeding glo die meeste van ons as jy ’n droom het, moet jy die stappe wat tot die verwesenliking daarvan sal lei, vooraf kan uitstippel. Kan jy nie, is dit – of liewer, jy – onrealisties.
Aikôna, sê Mike. Sy aanbeveling is: “Definieer jou begeerte in terme van die eindresultaat.” Met ander woorde, kry ’n duidelike beeld van daardie nuwe huis wat jy al so lank begeer.
Visualisering (ja, die dagdromery waarvoor sommige van ons kleintyd gestraf is) is ’n belangrike instrument in die manifestasieproses. Maar Mike het ’n paar voorbehoude. Visualisering en die skep van “vision boards” – borde waarop jy prente vasspeld wat jou begeertes verteenwoordig – is beslis kragtige hulpmiddels, veral as jy al jou sintuie inspan wanneer jy dit voor jou geestesoog oproep. Die doel daarvan is egter om jou opgewonde te kry oor die vervulling van jou droom, nie om by jou die verwagting te skep dat dit presies so gaan manifesteer nie. Jy kan ’n collage maak van hoe jou droomhuis gaan lyk, sê Mike, “maar stel jou ook oop vir ander moontlikhede – dalk iets beters! Hou altyd ’n veel groter prentjie in gedagte.”
Dit help om te onthou dat dit waarna ons hunker, ten diepste ’n toestand is. Die persoon of situasie waaraan ons ons hart hang, glo ons, sal ons gelukkiger maak. Dis daardie geluk waarna ons smag. Visualisering werk dus die doeltreffendste wanneer jy besef dat die gevoel wat jy (wil) ervaar eintlik die geheime bestanddeel is.
Jou uitkoms, glo Mike, moet intellektueel sin maak én goed voel. Dit moenie ’n voorwaarde wees vir ander drome nie, en dit moet algemeen wees.
Met “algemeen“ bedoel Mike dat jou eindresultaat nie afhanklik moet wees van spesifieke mense, besonderhede, opeenvolging van gebeure, of tydlyne nie. Om hierdie punt te illustreer, gebruik
hy ’n visuele voorstelling van sy “matrix“. Ek kan dit ongelukkig nie hier weergee nie, maar kom dit daarop neer dat elkeen van ons verlangens ’n plek het op ’n kontinuum wat van algemeen na spesifiek loop.
Ons algemeenste behoefte is geluk. Dan volg breë begeertes soos lewensonderhoud, oorvloed (abundance), gesondheid, verhoudings en voorkoms. Op elk van hierdie gebiede raak ons oogmerke meer spesifiek. Lewensonderhoud word jou loopbaan, en verfyn dan tot ’n spesifieke posisie, werkgewer en maandelikse inkomste. Verhoudings loop byvoorbeeld van ’n begeerte na romanse na ’n spesifieke persoon wat jy in die oog het. Voorkoms – om goed te voel oor hoe jou liggaam funksioneer en hoe jy lyk – kan so spesifiek word soos ’n sekere teikengewig.
Dis maklik om te sien dat die kans om gedetailleerde begeertes vervul te kry, baie skraler is as om omvattender doelstellings te bereik. “Ek wil gelief voel” kan op baie meer maniere realiseer as “Tom Cruise moet so lief wees vir my dat hy sy lewe vir my sal gee”. Selfs al vervang jy Tom Cruise deur jou buurman, kan dit wees dat hy nie beskikbaar is nie of gewoon nie belang stel nie. Mike beklemtoon dit dat ons ander nie kan verander of dwing om by ons verwagtinge in te pas nie.
“Hoe meer spesifiek dit is wat jy vra, hoe meer beperk jy die hulp wat jy van die lewe kan kry,” som Mike dit op.
“Do not insist upon the path, the players, or the details, but upon the overall change you wish to experience, which will summon the path, players and details for you.”
Mike voeg by dat spesifieke mense of situasies selde noodsaaklik is vir die wonderlike lewe wat ons graag wil lei, al moet die meeste van ons ’n aansienlike kopskuif maak om dit te glo. “En as dinge presies gebeur soos wat jy verlang, gaan dit nie noodwendig jou welsyn verseker nie. As ons spesifieke dinge wil hê, gebeur dit so: soms werk dit, soms werk dit nie, en soms wens ons dit het nie gewerk nie!“
Anders gestel: “The best way to find ‘love’- which, incidentally, is just as true for finding money, is to focus less on these ‘by-products’ of a life well lived and more on a life well lived.”
’n Goeie wenk is om byvoorbeeld wat werk betref, nie te fokus op wát jy wil doen nie, maar op hoe jy wil voel wanneer jy dit doen; nie op gesondheid as sodanig nie, maar op alles wat gesondheid vir jou moontlik kan maak; rakende verhoudings nie op wié nie, maar op die uitkoms van ’n nuwe of verbeterde verhouding; ten opsigte van voorkoms nie op diëte, gewig of tydlyne nie, maar op die tevredenheid wat jy (sal) ervaar as jy goed voel oor jouself.
Begin dus by die einde. Definieer jou eindresultaat so algemeen moontlik, en vertrou dat die besonderhede vir hulself sal sorg.
“Details should be seen as consequences of larger dreams coming true rather than ‘how’ to make them come true.”
Gaaf, nou weet jy waarvoor om te wens. Beteken dit jy kan nou salig terugsit? Allermins.
Gaan oor tot aksie
Die indruk dat al wat jy hoef te doen om ’n rooi sportmotor te kry, is om daagliks na die foto van een te staar, kan nie verder wees van Mike se uitkyk nie. “I teach responsibility,” sê hy. Dit sluit in dat ons volle verantwoordelikheid neem vir wat ons dink, sê en doen, ook vir ons eie geluk. In hierdie trant beveel Mike aan dat jy “aan elke deur sal klop en elke klip sal omkeer om te kry wat jy wil hê.”
Die (beduidende) verskil is dat ons grootgemaak is om te glo dat ons manifestasies teweeg gebring word deur dit wat ons beplan en uitvoer. Uit Mike en soortgelyke denkers se oogpunt is ons slegs médeskeppers van ons werklikheid. Ons hoef nie al die wysheid in pag te hê of alles self te doen nie.
“Wát jy doen, is lank nie so belangrik as dát jy dit doen nie,” sê Mike. “Wanneer ons tot optrede oorgaan, trek dit magieserwys die regte mense en hulpbronne aan. As jy elke moontlike pad volg, navigeer jy boonop rondom jou eie beperkende oortuigings. Hou aan hulp vra, hou aan om nuwe rigtings uit te toets, hou aan om positief op omstandighede te reageer, hou aan om te innoveer.
Moet net nooit die dak oor jou kop op die spel plaas nie. Gee 110%, maar onthou dat jou manifestasie nie van spesifieke omstandighede of besonderhede afhanklik is nie. Die ‘hoe’ kan jou heeltemal verras.”
Een van Mike se praktiese wenke is dat jy jou eindresultaat omskryf binne die konteks van een van die algemene velde – lewensonderhoud, oorvloed, gesondheid, verhoudings en voorkoms – en dat jy dan vyf “deure“ lys waar jy in dié verband kan aanklop. Lys nog vyf aktiwiteite vir elke “deur”.
As jou eindresultaat kreatiewe, vervullende werk is, binne die konteks van lewensonderhoud, is een van jou “deure” dalk om te skryf. Vyf moontlike aktiwiteite is om jou eie webwerf te begin, ’n boek te skryf, by ’n skryfkring aan te sluit, ’n boekeskou by te woon, en elke dag 15 minute se skryfwerk te doen. Sorg dat jy werk maak van dié idees.
Geduld, o geduld
As jy op pad is na ’n bestemming waar jy nog nooit voorheen was nie en dis drie uur se ry, lyk die roete die eerste twee uur en 59 minute maar vreemd, sê Mike. Jy moet noodgedwonge vertrou jy is op die regte pad.
“Verwág terugslae en teëspoed. Moenie te veel daaroor tob nie. Doen eerder wat jou hand vind om te doen, en hou moed. My ervaring is dat vrees en negatiwiteit ons nie kan terughou nie, solank ons op die eindresultaat bly fokus. Ons is bestem om suksesvol te wees – al kom daardie sukses in ’n gans ander vorm as wat ons verwag.”
Tydens die manifestasieproses het ons boonop meestal nie die geringste idee hoe lank dit gaan neem nie. Wat ons binne weke verwag, kan letterlik jare neem. Vir Mike vorm tydlyne deel van wat hy “the cursed hows” noem – die aandrang op spesifieke besonderhede waarmee ons ons eie manifestasies saboteer.
Moet sover moontlik nooit vir die lewe ’n spertyd gee nie, beklemtoon hy. Eers met die terugkyk, sal jy agterkom hoe alles in plek geval het. “When do you know it was all spot on? At the end.”
Ons tipies Westerse fokus op môre moet gesien word vir wat dit is, en aangepas word. “Die beste deel van die reis is die reis self. Sorg dat jy dit vandág geniet!”
Lees hier: 10 goed wat jy kan doen om slegte gewoontes hok te slaan