Vandat ek kan onthou waak hy oor ons. Die groot, bruin buffet in die voorhuis. In Ma en Pa se huis. Ons huis. In die boonste laai bêre Ma jare lank al haar beste messegoed en grootste opskeplepels. In die tweede laai kry jy ’n skêr, geskenkpapier, plastiek en sellotape. Links en regs is die beste borde en bakke, vir kuier op Sondae, Pase en Kersfees. In sy maag plek vir presente wegsteek, mooigoed, ougoed.
Een, twee keer ’n jaar pak Ma die kas af en uit. Dan olie sy die hout tot die vlamme teen die deure begin lek en die koperhandvatsels gloei. Sy doen dit stil, praat niks. Ek wonder wat sy dink.
As oudste kind en enigste dogter het ek kleintyd al en skaamteloos getrou aan my aard my broers gemaan: eendag, eendag as Ma en Pa nie meer daar is nie is daardie kas myne. Maak ek hom in my voorhuis staan. Eendag . . .
“Dis tyd dat jy die kas kom haal,” sê Ma. Uit die bloute, op ’n Saterdagaand. Sy staan in my voorhuis die mure en bekyk. Maak in haar kop plek vir die kas. Ek protesteer. “Jy moet jou kas kom haal,” sê sy weer. Ek wonder hardop wat my broers sal sê. “Hulle het al gekry. Jy moet jou kas kom haal.”
’n Derde keer.
Eendag, Mamma, eendag. Dis nog nie eendag nie. Want iewers in my vroeë veertigs het ek besef mens praat al minder oor eendag. Vandag, ja. Eendag, nee. “Dis tyd dat julle die kas geniet. Dink net hoe mooi gaan hy lyk. So, wanneer gaan jy jou kas kom haal?”
Ek stel uit om die vervoermaatskappy te bel. Is gelukkig besig, maar weet ek moet dit doen. “Ek het die kas leeggemaak . . .” Ja, Ma. Dankie, Ma.
Dis net ’n kas, sê sy in my kop. Dis soveel meer as net ’n kas, praat my ander, harder stem. Want sien, daardie kas het ’n spieël. Nog sy oorspronklike spieël, ’n spieël van meer as honderd jaar oud. Die spieël waarin ek en my broers as tieners ons haarstyle bekyk het as die voordeurklok lui, die spieël waarin Ma haar kuif gekam het voor Pa smiddae huis toe kom, die spieël waarin ek mik-mik my eerste lipstick aangesit het, die spieël wat elk van die groot oomblikke in ons huis kon sien.
Die spieël wat vandag gewys het soos dit is en nie oor eendag gewonder het nie. Vir meer as honderd jaar lank al.
Ek sal die kas gaan haal. Ek sal my kas gaan haal. Dié week nog. Een, twee keer per jaar sal ek die kas af- en uitpak. Die hout olie tot die vlamme teen die deure begin lek en die koperhandvatsels gloei. In stilte. Omdat ek nou weet wat Ma dink, wat die spieël sien.
Eendag is vandag.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za