Ek en die kroos plof soos pakdonkies met rakette en skooltasse en kossakkies en kruidenierssakke deur die motorhuis- en kombuisdeur ná die gebruiklike twintig minute rit huis toe deur die skoolverkeer.
Dis 34 grade Celsius oor die middaguur en ook nét omdat ’n stormsterkte wind vandag die ou winddorp van ons met ’n handvol grade afkoel.
Ek is warm. Ek is windverwaaid. Ek is geïrriteerd. Die kinders is warm. Hulle is windverwaaid. Hulle is geïrriteerd.
Hulle kibbel en kerm. Ek skel en kners op my tande.
Dis die middel van die week en ons is nou sopas eers deur die agterdeur. En ek is reeds kéélvol vir die middag wat voorlê.
Die voordeel van ons twintig minute rit huis toe, is dat die kinders darem hulle gekosblikte middagetes verorber het teen die tyd dat ons in die motorhuis stop. So, dan is dit net speelklere aantrek, tasse uitpak, en minstens twee wat op mekaar gil oor wie eerste die grondverdieping se badkamer moet/wil/kan/mag gebruik.
Dan kom sit Ouboet aan by die kombuistoonbank vir sy graad 3-huiswerk. En Kleinsus neem stelling in by die kombuistafel vir graad 1-opdragte.
Ek probeer nog onderskei tussen belangrike skoolbriefies en watter boeke oorgetrek moet word vir wie en waarmee, dan kom Kleinsus se “KLAAR!” reeds effens ongeduldig vanwaar sy die datum in haar huiswerkboek geskribbel het en sy nou japsnoeterig vir my wag om die eerste huiswerkopdrag te gee.
Dit is dán dat ek weer besef hoe bederf ek verlede jaar was met ’n graad tweetjie wat heeltemal op sy eie aangaan met huiswerk wat ek net na die tyd moet merk. Nou is dit alweer graad een van vooraf.
En, hier het ek skielik met ’n vroulike harrekwas-geen te make wat volgens verlangse familie (my ouers) niemand behoort te verstom nie.
Uit die hoek van my oog sien ek hoe Ouboet weer opvlieg van die kombuistoonbank af en sy skooltas oopflerts. Vakkie vir vakkie gaan hy deur die tas terwyl hy in ’n benoude stemmetjie mompel. Ek maak eers of ek nie sien of hoor nie en vra Sussie haar leeswoorde.
Die gemompel zoem naderhand só hard dat ek my noodgedwonge losskeur van die graad een-boeke.
“Wát soek jy?” vra ek – al wéét ek.
“Ek kán nié verstáán nié,” seg die agtjarige driftig en afgemete. “Ek hét my huiswerkboek nét hiér ingepak. Hiér langs my flipfile! Iemand móés dit gevát het,” klim sy stem ’n paar toonhoogtes.
My bloeddruk styg ook ’n paar toonhoogtes. Hierdie is nié die eerste keer nie. Hierdie is óók nié die tweede keer nie.
Die eerste kwartaal is maar ’n paar weke lank en hierdie verhaal van die Agtergeblewe Huiswerkboek het al ’n paar episodes té veel gehad.
Ek haal diep asem terwyl ek poëties-vererg waarneem dat daar ’n krokodiltraan oor sy ooglid biggel.
Ek neem my voor om kalm te bly en nie weer woorde los te laat wat sy kindergemoed tot by volwasse terapie sal kwets nie.
“Mammaaaaaa! EK. SÊ. EK. IS. KLAAR!” kom dit skielik van hier agter my waar ek nog die Futiele Soektog na die Agtergeblewe Huiswerkboek staan en gade slaan.
Meteens tref ’n besem my teen die kop en oombliklik verander ek in háár: Die Huiswerkheks.
“Wat de joos besiel jou?! Kan jy sien ek is besig om met Boetie te praat? Kan jy WAG?!” blits weerligstrale uit my huiswerkheksbek.
“En JYYY!” tier ek onverpoosd voort. “Hoeveelste keer is dit dat JY JOU HUISWERKBOEK BY DIE SKOOL LOS…? Hóé óúd ís JY?”
Die traan het intussen van krokodil na egte verander. “Máár, Mamma…!” gooi die knaap ewe braaf die gewraakte terugpraatwoorde.
Daar daal skielik ’n kalmte oor my neer. Dis bes moontlik die versterkingspan (S.W.O.T.Grondslagfase.Engele) wat my kroos se beskermingengele ingeroep het.
Afgemete kom dit uit die éffens-minder-histeriese heks se mond: “Jy het jou huiswerkboek alwéér by die skool gelos. So, dit is jóú probleem om uit te werk vir watter een van jou maatjies se mammas JY gaan bel om te vra of hulle asseblief die huiswerkbladsy sal afneem en vir jou mamma sal whatsapp.”
En ek draai teatraal op my hekshakke om en marsjeer terug na die graad een-tafel.
Kleinsus sit nou buite-karakter bedeesd en wag dat ek die volgende opdrag aan haar verduidelik. Sonder om te kibbel voltooi sy opdrag na opdrag terwyl ek weer uit die hoek van my oog sien hoe die graad drie net verwese sit en staar na die spasie waar sy huiswerkboek nou eintlik moes lê.
My bloed begin weer borrel. Die klein wetter. Hy is duidelik gewoond daaraan dat sy mamma sy kastaiings uit die vuur krap. Maar nie dié keer nie, néé-é. Een of ander tyd moet hy ’n les leer.
Intussen piep my foon met ’n boodskap van ’n besorgde wat wil weet hoekom ek so stil is. Dis Hiroshima Huiswerkuur hier, antwoord ek amper.
Maar, in sulke gevalle moet mens liewer niks op skrif erken nie. Dit kan later as bewyse deur die welsyn gebruik word.
Ek whatsapp gou ’n parate mede-graad 3-mamma om te vra of sy asseblief vir my die huiswerkblad sal afneem en stuur. Maar, ek sê niks vir die knaap wat sit en sug en sweet oor ons al ’n halfuur in sy huiswerktyd is en hy nog nie ’n woord geskrywe het nie.
Nadat Sussie se huiswerk voltooi is, gaan maak ek ’n uitdruk van die huiswerkfoto wat goedgunstelik vir my aangestuur is en plak dit koel en kalm (en oordramaties) neer voor die vergeetagtige.
Hy kyk my stomverbaas aan. “Mamma is die béste!” sug hy dankbaar en val met ’n vlytige HB-potlood weg met sy huiswerk.
Mamma draai om om die skoongewasde skoolklere te gaan ophang, en wonder, soos altyd, heimlik by haarself of sy hom nou nóg ’n bietjie verder die afgrond in gehelp het om sy “seuntjies is maar só”-vergeetagtigheid te buffer en die gevolge van vergete huiswerkboeke te ontlont.