Cameron van der Burgh
Die swemmer Cameron van der Burgh het in 2010 by die Statebondspele Suid-Afrikaners se harte aangegryp. Nie net oor die twee goue medaljes wat hy in die 50 m- en 100 m-borsslag losgeswem het nie, maar ook oor die woorde “Ke nako” wat met ’n swart pen op sy handpalms geskryf was. Toe hy sy medalje op die podium ontvang, het hy sy hande triomfantelik gelig met die woorde duidelik sigbaar: “Die tyd is hier!”
Cameron was op skool ’n veelsydige sportman wat in atletiek, krieket en sokker uitgeblink het en hom eers op 16 werklik op swem toegelê het. Hy is ook die eerste Suid-Afrikaanse swemmer wat plaaslik afgerig is en daarin kon slaag om ’n wêreldrekord op te stel – dit boonop op ’n jeugdige twintig jaar. Vir hom was Ryk Neethling ’n rolmodel, en hy waardeer die ambassadeurswerk wat mense soos Ryk en Roland Schoeman vir Suid-Afrikaanse swem gedoen het. Danksy die groep swemmers was daar skielik meer borgskappe vir swemmers beskikbaar.
Die 2012 Olimpiese Spele was die tweede waaraan Cameron deelgeneem het. Ons kyk terug na sy voorbereiding vir daai Spele:
“Ek dink hierdie gaan die Spele van my lewe wees en dis waar die kaf van die koring geskei word. Al was ek teleurgesteld met my vertoning in Beijing, was dit ’n wonderlike ondervinding en Londen gaan anders wees. Hierdie keer weet ek presies wat om te verwag. Ek is op die oomblik baie gelukkig met my prestasie in die swembad, ek dink al die harde werk wat ons die afgelope paar jaar gedoen het, is besig om vrugte af te werp. Ek dink die swemmer wat dit gaan regkry om koel en kalm te bly, en op die presiese oomblik die regte ding te doen, is die een wat met die medalje sal huis toe gaan.”
Cameron het baie waardering vir sy mense wat hom al die jare ondersteun het. Veral sy ma, Beverley, wat al die rondrywerk moes doen, verdien beslis ’n groot dankie, sê hy. Sy was ook die een wat altyd nagelees het en seker gemaak het hy kry die regte voeding.
Hy sê swem verg baie harde werk, toewyding, vasbyt en ure alleen in die swembad. Maar, sê hy laggend, dit is nie so ’n slegte plek om te wees nie. Hy is ook ’n finansiële beplanner, maar vanjaar het hy so ’n bietjie afgevat en net op sy swemloopbaan gekonsentreer. Ná die Spele sal hy kyk hoe hy in die swembad gevaar het, en dan sal hy oor die toekoms besluit.
“’n Mens leer gewoonlik net uit jou foute, jy leer nie wanneer jy alles regkry nie.”
Wanneer ek misluk, besluit ek altyd ek sal die mense verkeerd bewys. Dan pas ek aan en sorg dat dit nie weer gebeur nie. Dit is daardie veggees wat ’n mens motiveer om harder te werk en so te keer dat jy weer dieselfde foute begaan.”
“’n Olimpiese medalje is elke jong sportster se droom. Sonder daardie droom sal jy nooit iets bereik nie, want dit motiveer jou om hard te werk. Sommige mense se drome word waar, ander s’n nie. Ek is gelukkig dat my droom om aan die Olimpiese Spele deel te neem waar geword het.”
*Cameron het by die 2012 Olimpiese Spele in Londen die wêreldrekord in die 100 m-vryslag gebreek in ’n tyd van 58.46 sekondes.
Khotso Mokoena
In 2008 het die verspringer Khotso Mokoena ons hele land trots gemaak toe hy met die enigste Suid-Afrikaanse Olimpiese medalje van Beijing teruggekeer het.
Khotso se verhaal is ’n merkwaardige een. Hy het op Heidelberg, Gauteng, grootgeword en het sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Shalimar Ridge in Ratanda, die township buite Heidelberg, voltooi. Hy het kleintyd aan verskeie sportsoorte deelgeneem: gimnastiek, basketbal, landloop, 1000 m, hoogspring en verspring. Hy was selfs ’n kranige baldanser. In sy hoërskooldae aan Nigel High, het Elna de Beer sy verspringtalent raakgesien en hom intensief vir die item, asook die driesprong, afgerig.
Alle oë was op Khotso toe hy in 2004 die wêreld se junior driesprongkampioen geword het. By dié kampioenskap het hy ook ’n silwer medalje vir verspring gewen. Hy het in 2004 in Athene aan die Olimpiese Spele deelgeneem, maar was nog jonk en onervare. Ná die Olimpiese Spele in 2008 het hy in Julie 2009 ’n nuwe Afrika-rekord opgestel met ’n sprong van 8,50 m op ’n byeenkoms in Madrid.
Khotso sê hy het reeds op 17 besluit hy wil eendag sy land op die Olimpiese Spele verteenwoordig.
“Dis seker maar baie jongmense se kleintyddroom, maar ek het nie opgehou om die droom na te jaag totdat dit werklikheid geword het nie. Wanneer ’n mens die geleentheid kry om aan hierdie prestigeryke kompetisie deel te neem, weet jy alles was die moeite werd. Baie mense besef nie dit verg jare se toewyding en harde werk om uiteindelik daar deel te neem nie. Net om lid van die span te wees is reeds ’n groot prestasie.”
Vir Khotso is die silwermedalje wat hy in Beijing verower het, iets om op trots te wees. Hy sê dit was vir hom die regmerkie om te weet dat ’n mens maar vir jouself doelwitte kan stel. Indien jy reg voorberei, en hard werk, gaan daar ’n tyd kom dat jou droom bewaarheid word.
Vir hom is dit belangrik om nederig te bly. Hy sê baie mense raak verlore in hul eie sukses. Sommige atlete bou hulself op, maar breek hulself weer af deur hoogmoedig te word, of grootkop te kry.
“Ek is dankbaar teenoor God dat ek my gedagtes reg kon hou. Ek fokus op dit wat ek moet doen en niks anders nie.”
Khotso sê sy ma, Sonto, was deur al die jare vir hom ’n steunpilaar. Khotso is ook dankbaar vir die manier waarop sy familie hom bystaan. “God het my geseën met ’n wonderlike familie wat my nog altyd in my loopbaan bygestaan het. Hulle het van die begin af verstaan wat my drome is en watter visie ek het. Om daardie begrip van jou familie te kry is ’n groot seën. Ander jongmense se ouers sou dalk wou hê hulle moet gaan studeer, maar ek het ’n ander pad gekies en my familie het my bygestaan.”
Een ding waaroor hy soms spyt is, is dat atletiek in Suid-Afrika nie soveel erkenning soos sokker, krieket en rugby kry nie. Uiteindelik is dit moeiliker om met individuele deelname sukses te behaal. Wanneer jy aan ’n spansport deelneem, het jy immers jou spanmaats wat kan instaan wanneer jy ’n slegte dag beleef. Maar atlete wat droogmaak, moet maar druipstert huis toe gaan.
“Kleintyd het ek altyd gekyk na atlete wat die voorreg het om op die podium te staan terwyl die landsvlag gehys word. Ek het lank daaroor gedroom. Toe dit uiteindelik met my gebeur, was dit ’n oorweldigende oomblik. Meteens besef jy al die jare se harde werk was nie tevergeefs nie.”