Anna-Mart van der Merwe
Anna-Mart se bekendheid is nie net toe te skryf aan haar uitmuntende vertolking van televisie- en rolprentkarakters nie (of selfs die “Lekker man, lekker”-skets nie).
Dié liefling van Suid-Afrikaanse gehore is natuurlik ook ’n teateraktrise met wie jy rekening moet hou. Sy is binnekort weer te sien in macbeth.slapeloos, regisseur-ontwerper Marthinus Basson se verwerking van Macbeth. Haar kennismaking met die verhoog was in 1987. Sy was ’n lid van die Griekse koor in Dieter Reible se produksie van The Women of Troy. “Dit was vir my baie spesiaal, veral omdat Babs Laker, by wie ek klas geloop het, die rol van Hecuba vertolk het. Babs het my met ’n intense liefde en respek vir die teater geïnspireer.”
Dis 27 jaar later en steeds fassineer die verhoog haar. “Die onmiddellikheid van teater is magies. Ek kry elke aand kans om my storie weer te vertel en my karakter te herontdek. Met rolprente en televisie is dit heel anders. Daar word in gedeeltes gewerk en daar is nie kontinuïteit nie. Op die ou end vertel die regisseur en vervaardiger die finale storie.” Elke karakter wat sy vertolk, of die rol nou lig en laf of uitdagend is, het ’n eie bekoring, maar party stel hoë eise … “My rol as Abbie in Begeerte was een van die uitdagendste van my loopbaan. Ek het die verhoog met Marius Weyers en Jan Ellis gedeel. Die tema van kindermoord, gebrek aan selfwaarde en ontrouheid het my na ’n baie donker plek geneem.”Met Anna-Mart se rol as Vrou Macbeth in macbeth.slapeloos, het die regisseur Marthinus Basson die dwarslat ook hoog gestel.“Die rol van Vrou Macbeth is ’n reuse-uitdaging en voorreg. Shakespeare se karakters is groot leermeesters. Marthinus se verwerking van hierdie stuk is geniaal. Ek speel die karakter van ’n vrou wat deur haar man lewe. ’n Bonus is die kans om weer saam met Dawid Minnaar die verhoog te deel. Hy is formidabel as Macbeth.” Maar alles op die verhoog is nie net donker en pyn en uitdagings nie. Daar is ligter oomblikke ook, en wat op manier soms báie van ’n akteur verg.
“Een aand met die opvoering van Doodsnikke, het ’n skoen die verkeerde akteur getref. Gys de Villiers, wat my man gespeel het, was glad nie voorbereid op die skoen wat hom met ’n spoed getref het nie. Ondanks ’n uitroep van pyn uit Gys se hoek, moes ons maar op ons tande byt en aanhou speel asof niks verkeerd is nie!”Sy bestempel Jaco Bouwer en Saartjie Botha se Altyd Jonker as een van haar gunstelingproduksies, maar breek ook ’n lansie vir Marthinus Basson. “Ek sonder elke produksie van Marthinus uit as geniaal. Hy stel ’n hoë standaard vir ons teaterlandskap. Of iemand van al sy werk hou, of nie, hy sal nie sy siel verkoop nie.”Anna-Mart dra haar karakters soos ’n jas – gesny uit toewyding, passie en suiwer talent – van Maryna tot Vrou Macbeth …
Jana Cilliers
Jana is volksbesit. Sy lewer al immers vier dekades lank kragtoer na kragtoer op die verhoog en het aan soveel onvergeetlike karakters gestalte gegee. So sal haar rol as Maria Callas in Terrence McNally se Master Class teatergangers lank bybly. Jana bestempel hierdie karakter as haar uitdagendste rol.
“Dit is so ’n slim toneelstuk. Soveel inligting word deur middel van ’n meestersklas aan die gehoor deurgegee. Mense het my ná die tyd gekomplimenteer omdat die karakter so lewendig en teenwoordig was. Ek het bloot op ’n besondere goeie teks gereageer. Om iemand so geliefd en legendaries te vertolk, was intimiderend, om die minste te sê. Tog sal ek daardie vyf maande saam met die regisseur Mark Graham vir niks verruil nie. Ons het uiteindelik ook Opdrag: Ingrid Jonker, saam aangepak. Hierdie produksie het met verdere speelvlakke soveel gegroei.” Behalwe dié twee lywige karakters, het sy die rol van Pous Johanna II baie geniet. Hierdie stuk van Esther Vilar het groot gehore getrek.
“Ek het die produksie deur die jare vier keer gedoen. Daar was Afrikaanse en Engelse weergawes en korter en langer tekste. Ek het die eensaamheid van ’n langafstandatleet ervaar. Dit was net ek en die verhoog. Die ryk teks het geseëvier en uitdagings het oorwinnings geword – keer op keer.”
Maar soms is die rolle darem geruil en sit Jana in die gehoor. A long Day’s Journey into Night, wat sy in Berlyn gesien het, bly haar gunstelingproduksie. “Die spel was merkwaardig – gestroop van sensasie en skouspelagtigheid. Die meelewing van die gehoor was tasbaar. Aan die einde van die stuk is die akteurs lank en opreg toegejuig – en hulle het nederig hul buiging gemaak. Gedeelde dankbaarheid na albei kante. Dit was ’n hoendervleis-oomblik wat ek nooit sal vergeet nie.”Deur die jare op die verhoog het Jana se pad met die room van Suid-Afrikaanse akteurs en aktrises gekruis.“Ek het ’n besondere sagte plek vir Cobus Rossouw. Ek hou van sy manier van dink en sy vermoë om mense met woorde weg te voer. ’n Man met geniale akteurstalent, sou Cobus die beste opsom. Bill Flynn, my oorlede man, was ook geniaal – uniek en legendaries.
My mede-akteurs in macbeth.slapeloos is ook ’n poel van ongelooflike talent en ondervinding. Buitendien ken hulle my geite en ek hulle s’n!“Ek dink Marthinus se aanslag is skreiend maar opwindend mooi. My karakter as Karakter A bly ’n uitdaging. Ek moet verskillende karakters se sienings sinvol integreer in die eeu oue stryd tussen goed en kwaad. “Ek is geweldig dankbaar dat ons uiteindelik hierdie tragedie by die Baxter in Kaapstad kan aanbied. Tog sou dit vir my persoonlik my afskop as jong aktrise in ’n volle sirkel gebring het as ons hierdie robuuste Afrikaanse Macbeth in die Markteater in Johannesburg kon aanbied. Veral met talentvolle Kaapse akteurs soos Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellerman, Dawid Minnaar, Stian Bam en Charlton George.
“As dit vir rugbyspelers moontlik is om so tussen provinsies te speel, hoekom nie vir ons nie? Die kunste lewer ’n fundamentele bydrae tot ons land. Ja, ek praat hier van geld … ”
Antoinette Kellerman
Hierdie bekroonde silwerkopaktrise wou reeds van skooldae af verhoog toe.
“Toe ek in graad sewe was, het ek iemand sien mimiek doen. Die mense het geskater en ek het net daar en dan besluit dit is wat ek ook wil doen – mense laat lag. Later, in graad nege, is my vermoede bevestig. Ek wou verhoog toe. My ouers het my ten volle ondersteun. Ek was ’n gelukkige meisie.”Antoinette het nie net ’n graad in drama nie, maar het drie jaar gelede haar meestersgraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy is ook ’n dosent by die dramadepartement. Sy het voor die dae van televisie haar toetrede tot die vermaaklikheidsbedryf gemaak. “Die toneelstuk Twee Dosyn Rooi Rose, was my vuurdoop in 1975. Ek was in ’n groep saam met Johan en Lida Botha en ’n geselskap van drie spelers. Ons het Namibië plat getoer!”Antoinette is verlief op die magiese element van die verhoog.“Dis ’n wêreld waarin ek as speler in die vel van iemand anders kan klim en transformeer binne die veilige ruimte van iemand anders se lewe. Ek kan dit na hartelus ontgin en eksperimenteer. Al my fantasieë kry vlerke, en as ek gelukkig is vlieg ek, en neem die gehoor saam met my.“Die verhoog en rolprente het albei ’n eie bekoring. Televisie is ’n wonderlike medium en omdat ek eintlik baie min ervaring voor die kamera het, bly dit vir my opwindend en leersaam.“Die onmiddellikheid van verhoogwerk en die adrenalien en gepaard-gaande spanning is vir my net so bevredigend en opwindend. Natuurlik ook omdat jy weet jy kan binne ’n speelvak verder groei en aan ’n vertolking skaaf.”In ’n koekstruif van karakters waaraan sy al gestalte gegee het, kan sy nie ’n gunsteling aanwys nie.
“Elke karakter bring sy eie uitdagings en uiteindelike bevre-diging – tesame met die vrees en pyn.
“Dieselfde geld die mees opdraande rolle van my loopbaan. Ek vergeet soms die geveg wat ek met ’n rol gehad het. By nabetragting, romantiseer ek dikwels die produksies en my bydrae daartoe. Elke rol bied ’n andersoortige uitdaging. Aangesien Bloed en Rose so vlak in my geheue lê, was die rolle wat ek moes vertolk sekerlik een van my grootste uitdagings.”Antoinette sonder Wilna Snyman as rolmodel en formidabele teaterlegende uit. “Haar lang loopbaan getuig van uithouvermoë, durf, deursettingsvermoë, ongelooflike hartstog en respek vir haar beroep en vir ander. Boonop is sy ’n menslike siel wat die lewe met albei arms omvou.”Antoinette is binnekort in twee toneelstukke te sien. Samsa en macbeth.slapeloos. “In Samsa vertolk ek die rol van ’n huisvrou en ma wat weens haar omstan-dighede by haar dogter en skoonseun moet intrek. In die proses moet sy die agteruitgang van haar man, fisiek en geestelik, probeer verwerk en probeer aanpas by ’n byna onaanpasbare situasie. Dis ’n universele tema wat deesdae aan baie van ons se deure kom klop. “Ek vertolk twee rolle in macbeth.slapeloos. Hier deel ek die verhoog met die room van ons teateroes. Hulle werksetiek is ’n inspirasie en hul vrygewigheid op die verhoog spoor my net tot groter hoogtes aan.”