Groepsdruk is nie net ’n negatiewe kinderding nie. Dit kom in alle gemeenskappe voor, by oud en jonk, ryk en arm. Maar ’n mens moet onthou dat die invloed van ’n groep ook positief kan wees en mense kan motiveer om te oefen, reg te eet, hard te werk, vir ander om te gee, tyd aan hul kinders of huwelik te bestee, en die regte dinge te doen.
Dié soort druk kan ongelukkig ook ’n verrottende invloed wees wat mense beïnvloed om verkeerde keuses te maak. Mense, en veral kinders, ontken meestal hewig dat hulle sekere dinge weens groepsdruk doen. Tog hoor jy gereeld: “Almal doen dit!”
In groepsdruk gaan dit baie oor aansien. Kinders gee meestal toe aan groepsdruk omdat hulle in en deel van die groep wil wees. Hulle doen dit sodat ander hulle sal aanvaar en van hulle sal hou. Kinders is baie bewus van die sosiale hiërargie van wie waar inpas. Elke skool het definitiewe groepe of klieks: die pliggies, die nerds, die atlete, die jocks (die rugbyouens) cool girls (wat net party en met ouer ouens uithang) die drinkers, druggies …
In groepsdruk gaan dit baie oor aansien. Kinders gee meestal toe aan groepsdruk omdat hulle in en deel van die groep wil wees.
Kinders is pynlik bewus van wie deel van watter groep is. Hulle vrees uitsluiting en om nêrens in te pas nie en ’n alleenloper of loser te wees. Dié vrees is dikwels sterker as hul waardes. Hulle sal liewer deel van enige groep raak, solank hulle net nie uitgesluit is nie.
Jana*, ’n student, sê jou vriende bepaal die aard van die groepsdruk. “As jy goeie vriende het, is hul invloed positief. Ons nooi mekaar saam kerk toe, of moedig mekaar aan om saam te gaan draf of fietsry. Soos hulle, leer ek ook wanneer ek moet sodat ek nie akademies afsteek nie. Wanneer jy vriende met ander waardes het, sal jy dalk graag spog oor hoeveel klasse jy bunk, hoe warm julle gevry het, hoe lekker julle boom rook, of hoeveel biere jy kan drink.”
Volgens navorsingsbevindings het tieners wie se vriende rook, drink of dwelms gebruik ’n baie groter kans om dit ook te doen. Hulle is geneig om hul vriende te probeer oorreed om dit ook te doen, of vriende te kies wat dit doen.
• 19% tieners sê hulle sal ophou om ’n selfoon te gebruik terwyl hulle bestuur as hul vriende dit ook doen (volgens die Teen Driver Source).
• 23% meisies voel hulle het seks weens groepsdruk (The Body: The Complete HIV/Vigs Resource).
• 33% seuns tussen 15 en 17 voel daar is groepsdruk om seks te hê (The Body: The Complete HIV/Vigs Resource).
• 55% van tieners gebruik vir die eerste keer dwelms onder druk van maats (Foundation for a Drug-free world).
• 70% van tieners wat rook, sê hulle het begin rook omdat hul vriende rook en het druk ervaar om dit ook te doen (Canadian Lung Association).
Volgens navorsingsbevindings het tieners wie se vriende rook, drink of dwelms gebruik ’n baie groter kans om dit ook te doen
Soorte groepsdruk
Positiewe groepsdruk
Mense gaan om met mense wie se waardes tot hul ontwikkeling en welstand bydra. Maats motiveer en oortuig mekaar om dinge te doen wat vir hulle goed is. Hulle wil akademies presteer en aan sport of kultuuraktiwiteite deelneem.
Direkte groepsdruk
Dié soort groepsdruk maak dit vir ’n kind baie moeilik om nee te sê: “Kom nou man, ons gaan almal vandag skool bunk. Jy gaan die enigste sissie wees as jy bly!” “Vat ’n bier, of is jy nog ’n mammaseuntjie?”
Indirekte groepsdruk
Dis wanneer die meeste lede van die groep wat vir jou belangrik is, iets doen, op ’n sekere manier optree, sekere besittings het, op sekere vakansies gaan, na sekere musiek luister of sekere klere dra. Niemand sê jy moet dit ook doen nie, maar jy voel jy is uit as jy nie hierby inval nie. Moontlik hoor jy hoe lekker of wonderlik iets gaan wees en dit verlei jou om dit ook te doen of te kies, al kan jy dit nie bekostig nie, of bots dit met jou waardes.
Boeliedruk
Dié soort groepsdruk dreig iemand om iets te doen wat hy nie eintlik wil doen nie. “As jy nie saamgaan nie, is dit die einde van ons vriendskap.” “As jy nie … sal ek seker maak dat niemand iets met jou te doen wil hê nie.”
Groepsdruk in lewensfases
Kleuters
Groepsdruk het selfs op kleuters ’n uitwerking. Aanvanklik is dit meer nabootsing, soos ’n eenjarige wat met sy vingertjie oor die skerm van ’n selfoon vee, of die foon teen sy oor druk. Eenjariges wil reeds doen wat ander doen: uit ’n glas drink, met ’n selfoon speel, die televisie se beheerkontrole hanteer … Op twee begin hulle al dinge doen omdat ander dit doen, of vir hulle vra om dit te doen.
Voorskoolse kinders
Hulle begin eise aan hul ouers stel oor dinge wat hulle sien ander doen. Hulle wil later gaan slaap; lekkergoed of speelgoed hê wat hul maats het; sekere televisieprogramme kyk. Maar dit kan ook ’n positiewe uitwerking hê. Hulle sal groente eet as iemand wat hulle bewonder daarvan hou, of sal gaan bad as die maatjie gaan bad.
Laerskoolkinders
Hoe ouer kinders word, hoe meer tyd bring hulle saam met hul vriende deur en al hoe minder tyd saam met hul gesin. Reeds op ses is maatjies se aanvaarding en goedkeuring belangrik en wil hulle graag hul maats tevrede stel. Kinders wat deel is van positiewe groepe word gemotiveer om aan goed soos sport en kultuuraktiwiteite deel te neem en akademies te presteer en ontwikkel ook sosiale en emosionele vaardighede. Die teendeel is ook waar. Kinders reageer negatief en heftig as ouers hulle verbied om met sekere maats kontak te hê. In hierdie fase is skoene, klere met spesifieke handelsmerke, sekere speletjies soos Lego, en elektroniese speletjies statussimbole.
Adolessente meng en vereenselwig hulle meestal meer met hul vriende as met hul ouers. Die verhouding tussen ouers en kinders raak fisiek en emosioneel meer verwyderd. Die sosiale groep neem dikwels grootliks die rol by ouers oor as bron van raad, sosiale interaksie en ontspanning. Dit, tesame met tieners se hormoonveranderinge, fisieke, emosionele en sosiale verandering, maak kinders meer vatbaar vir groepsdruk. Hulle begin hul ouers se oordeel, optrede en lewe bevraagteken. Hulle ervaar dat hul vriende hulle beter verstaan en heg meer waarde aan vriende se oordeel, raad, leiding en emosionele ondersteuning. Hulle wil hulle losmaak van ouerlike beheer. Op dié ouderdom is die grootste statussimbool om deel van die “in”-groep te wees, jou elektronika soos ’n selfoon en iPad en jou voorkoms en haarstyl.
Lees ook: 10 dinge wat jy nooit vir jou tiener moet sê nie
Die sosiale groep neem dikwels grootliks die rol by ouers oor as bron van raad, sosiale interaksie en ontspanning
Baie tieners is deel van verskeie groepe met ’n verskeidenheid kulture, waardes en norme. Kinders uit bestendige huise, met ’n goeie selfbeeld en ’n goeie verhouding met hul ouers, kies meestal maats volgens die waardes waarmee hulle grootgeword het.
Kinders met probleme, soos kinders uit gebroke gesinne, verwaarloosde kinders, of kinders wat met skolastiese, emosionele en sosiale vaardighede sukkel, is in ’n groter mate aan groepsdruk blootgestel.
Dis vir mense die moeilikste om grense te stel en nee te sê vir naby-vriende; vir jou meisie of kêrel; vir ouer kinders of mense; vir gewilde lede van die “in”-groep; of vir iemand in ’n magsposisie. Mense en kinders wat onder groepsdruk swig, ly altyd daaronder. Dit laat hulle dinge doen en optree op ’n manier wat hulle skuldig laat voel, of hulle voel misbruik en dit verlaag hul grense en gevoel van selfgeldendheid en beheer. Op lang termyn ly hul selfbeeld, selfvertroue en identiteit daaronder, om nie eens te praat van die negatiewe uitwerking wat dit op mense se finansiële toestand, gesondheid, reputasie en verhoudings kan hê nie.
Gevaartekens
• Gedragsveranderinge, veral in die teenwoordigheid van sekere kinders of mense. Hulle praat anders, doen ander dinge, of trek anders aan.
• Skolastiese prestasie gaan skielik agteruit.
• Verloor belangstelling in sport of ander aktiwiteite wat hulle nog altyd gedoen het.
• Voorkomsveranderinge en ’n obsessie met hul voorkoms (wat wel dikwels deel van enige tiener se ontwikkeling is). Hul hare moet nou op ’n sekere manier gesny of gekleur word, en hulle moet sekere handelname of ontwerpersklere dra.
• Eksperimenteer met gewoontes wat nie by hul ouderdom pas nie: rook, drank, dwelms, pornografie en seksuele aktiwiteite.
• Doen verkeerde dinge en verontskuldig hulle dan deur te sê ander het hulle dit láát doen.
• Vergelyk hulle voortdurend met ander; wat hulle mag doen en kry. Hulle voel hul lewe of voorkoms voldoen nie aan die standaarde van hul vriende nie.
• Is heeltyd in konflik met hul ouers oor hul maats.
• Is verslaaf aan sosiale media en moet voortdurend en dadelik eers daaraan aandag gee.
• Voel hulle pas nie in nie, en moet veranderinge aan hul lewe aanbring, anders sal hulle nie aanvaarbaar wees nie.
Ouers wil te dikwels hul kinders beheer en bestuur, soos wie hulle mag sien en wat hulle mag doen. Baie ouers glo beheer, dissipline en reëls is die antwoord, en talle kinders raak opstandig hieroor en voel dat hulle net begrip by hul maats kry. Dit maak kinders juis meer weerloos vir die gevare van negatiewe groepsdruk en lei tot bittere konflik tussen ouers en kinders.
Die gehalte van ouers se verhouding met hul kinders is gelyk aan hul invloed op hul kinders. Ouers se beste belegging om hul kinders teen die bose invloede van die wêreld te beskerm is ’n naby, oop en eerlike vertrouensverhouding met jou kind. Sulke verhoudings vra alleentyd met elke kind – tyd om saam dinge te doen, te praat en te deel. Nie kinders of volwassenes deel hul emosies, of vra persoonlike vrae in groepe nie. Dis nie net die kind wat met die ouer moet praat en deel nie, ook die ouer met die kind, anders leer kinders nie om dit te doen nie. Dan is hul vriende die enigste met wie hulle dit kan doen.
Die gehalte van ouers se verhouding met hul kinders is gelyk aan hul invloed op hul kinders
Elke mens moet weet hulle kan die wêreld ’n beter plek maak. Soos een ster ’n skip op see koers gee, kan een mens se positiewe woorde en geloof in ’n kind hom in homself laat glo en hom laat opstaan vir sy waardes. ’n Kind met ’n goeie selfbeeld wat in homself glo en geliefd en aanvaar voel, kies mense en groepe wat tot sy positiewe ontwikkeling bydra.
Maak hulle weerbaar
• Bou ’n oop, eerlike en liefdevolle vertrouensverhouding met jou kind.
• Jou huis moet jou kind se tuiste wees, waar sy geborge, aanvaar, welkom en tuis voel.
• Ondersteun en wees werklik betrokke in jou kind se lewe.
• Leer ken en aanvaar hul vriende. Onthou, as jy nie jou kind se maats, meisie of outjie aanvaar nie, aanvaar jy iets fundamenteels van hom of haar nie. As jy kritiek lewer, lewer jy kritiek op sy vermoë om te kies, of dit wat vir hom belangrik is.
• Maak jou huis ’n plek waar jou kinders se vriende welkom is en welkom voel.
• Moenie dit persoonlik opneem wanneer hulle liewer saam met hul vriende wil kuier nie.
• Probeer om hul behoeftes en perspektief te verstaan. Luister en moenie oordeel en veroordeel nie.
• Verseker oop, eerlike kommunikasie. Ouers moet daarteen waak dat gesprekke nie grootliks uit kruisverhoor of preeksessies bestaan nie. Dit het min waarde.
• Moenie te veel baklei of jou bekommer oor kleredrag en hare nie, dis die minder belangrike en onskadelike dinge van verbygaande aard waarmee kinders in hul storm-en-drang-jare kan eksperimenteer en rebelleer. As kinders ervaar dat hul ontluikende identiteit verwerp word en hul ouers krities op alles is, reageer hulle soortgelyk. Hulle verwerp die ouers se waardestelsel. Dan word die kind spreekwoordelik met die badwater weggegooi. Kies jou gevegte met wysheid.
Kies jou gevegte met wysheid
• Praat met hulle oor waardes in besluitneming en keuses. Bespreek voorbeelde uit jou lewe, uit die media en land. Vra hul mening, wat hulle dink die gevolge gaan wees, hoe hulle daaroor oordeel.
• Stel vir kinders gesonde grense en duidelike verwagtinge.
• Vertrou jou kind.
• Verwag verantwoordelikheid, samewerking en respek vir mense, diere en die omgewing. Tree as ouer ook volgens die verwagtinge op.
• Laat jou kind toe om ouderdomstoepaslike keuses te maak én die gevolge van hul dade te dra sodat hulle uit hul foute kan leer.
• Help hulle en leer hulle om selfgeldend en getrou aan hulself en hul waardes te wees.
• Wees in alle opsigte ’n voorbeeld: hoe jy vriende kies, die invloed wat jou vriende, kollegas en die media op jou het, en hoe jy wyse finansiële en lewenskeuses maak.
Anys Rossouw is ’n opvoedkundige sielkundige in Menlopark.
Lees ook: Tieners op tiermelk: Wat ouers moet weet