In die middel van my tuiskantoor staan ’n outydse lessenaar. Die hout donker, die laaie swaar. As jy die tweede laai van bo aan die linkerkant ooptrek loer hulle vir jou: ’n bontspul boekies. Elkeen met sy eie lysies. Nie een van hierdie boekies is vol geskryf nie, dié dat my gewete my noop om hulle te hou.
Maar eintlik getuig die boekies van ’n gewoonte. Want sien, as die wêreld begin druk en die stemme in my kop te hard en deurmekaar met mekaar begin praat, dan slaan ek letterlik ’n nuwe boek se blaadjie om, prop die “ou” boek in die swaar, bont laai en vee gewetenloos die ou lysies uit my kop.
Ek begin oor. Ek skep asem. Ek is vry.
’n Skoon boek en blaadjie gee my kans om die wêreld weer in die oë te kyk, my prioriteite te heroorweeg en met nuwe krag die dag te pak.
Dis die gawe van gewoonte, glo ek.
Daar’s ander gewoontetjies ook. Soos om op ’n Sondagmiddag, klokslag half vyf, die kinders se skooltasse in hul kamers te gaan soek, te pak en soos soldate op die eetkamertafel uit te stal. Reg vir die week. Daarna my handsak op die einste tuiskantoor se vloer om te keer, als netjies georden vir die uitdagings van ’n nuwe week. Of soos om elke aand, voor ek gaan slaap (en net na ek geroom is en die wekker gestel het), die bottel Chanel No 5 vir ’n vinnige spuit nader te trek.
Die gawe van die gewoonte. Of is dit?
Hoe ouer ek word, hoe meer vreugde put ek daaruit om my eie gewoontes uit te daag, kompleet stout kind. Sien, ek begin dink (en glo) dat die sleutel tot baie dinge daarin lê om jou eie (én ander) se gewoontes in die oë te kyk en te vra: rêrig? Is jy ernstig?
As maatskappye gereeld hulle gewoontes bekyk, bepraat en soms ook befoeter, hoekom nie ook ek en jy nie? Wonder ek. Dalk, net dalk, maak dit ons meer uitsonderlik, of rustiger en wie weet, meer produktief?
Ek trek die laai versigtig oop. Bang die lywige vrag halwe lysies val op my toon. Bly julle nou lekker daar. Ek gaan bietjie iets anders probeer en koop terstond ’n lysie-“app” vir die iPad. Ek slaan ’n nuwe, elektroniese blaadjie om. So ja. Dalk werk dit.
Sondagmiddag los ek die kinders se tasse net daar in die naweek-chaos van hul kamers. Die oudste kyk my later grootoog aan. “Mamma, ek het solank my tas op die eetkamertafel reggesit. Alles is daarin.” Mooi, dink ek, die gewoonte het mag.
Die handsak en sy weeklange warboel bly net so staan. Jou pak ek later.
Laataand is dit die Chanel wat my pootjie. Ek sal nie kan slaap sonder dat die reuk van die skone Coco se eerste parfuum my op ’n wolk wegvoer nie, dink ek sentimenteel. Troos dan: dis destyds gemaak vir vroue soos ek. Vroue wat nie omgee om hul gewoontes vierkant in die oog te kyk en ’n ander koers in te slaan nie. Vroue wat ook wéét: daar’s ’n gawe in gewoonte.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za