’n Halwe engel: Laurinda Hofmeyr
Sarah Brightman, Robbie Williams, Jimi Hendrix, Madonna en Dido is maar enkele kunstenaars wat reeds jare lank oor engele sing.
Byna al hierdie liedjies het die internasionale treffersparade gehaal … Romantiese ballades wat sag op die oor is en die emosies so ’n bietjie kielie.
Maar nou het die 42-jarige Laurinda Hofmeyr ’n lied oor ’n engel getoonset wat geen van die rosige kenmerke van die oorsese musikante se beter pogings het nie. Die gedig wat sy getoonset het – “’n halwe engel” – is deur Breyten Breytenbach geskryf.
Hy het sy reputasie gestand gedoen en die gedig is ’n komplekse stuk werk.
Breyten het liries geraak oor haar vertolking daarvan. Hy het die musiek wat Laurinda na ’n vers bring, as ’n diepgang-tweegesprek beskryf: “Sy bevraagteken die teks, en uit daardie benadering kom ’n tweesang. Sy sorg vir die teks soos ’n Boeddhis na ’n gewonde soldaat of ’n blinde ou vrou sou omsien.”
“Sy bevraagteken die teks, en uit daardie benadering kom ’n tweesang. Sy sorg vir die teks soos ’n Boeddhis na ’n gewonde soldaat of ’n blinde ou vrou sou omsien”
– Breyten Breytenbach
Naas haar goeie oor, het Laurinda ook ’n groot liefde vir die woord. Sy onthou haar eerste gewaarwording van die roerende krag van die woord toe sy as kind geluister het na gedigte wat die spesiale mense in haar lewe voorgedra het.
Musiek was een van haar skoolvakke en in die komposisieklas moes sy dikwels ’n paar versreëls uit gedigte toonset. In standerd agt het sy op ’n dag Die Groot Verseboek oopgeslaan, op soek na iets om te toonset. Sy het op die bekende gedig van H.A. Fagan, “Ek het ’n huisie by die see” besluit. “Dit was die enigste gedig wat ek verstaan het,” sê sy laggend. ’n Paar jaar later, in Laurinda se tweede universiteitsjaar, het Laurika Rauch die liedjie opgeneem.
Dit was gou ’n treffer.
Laurinda het probeer om haar eie lirieke te skryf, maar sy het algaande besef dis eintlik die delf in reeds bestaande gedigte wat haar die meeste plesier verskaf. Sy het haar liefde vir die Afrikaanse woord herontdek en opnuut haar visier op goeie gedigte gestel en dit getoonset.
Laurinda besef dat Breyten se gedigte nie altyd maklik verstaanbaar is nie. Juis daarom geniet sy ’n produksie soos Verse in my Vingers waarby sy tans saam met vier ander akteurs betrokke is. Dis ’n program wat Juanita Swanepoel saamgestel het oor Breyten se lewe en werk.
“Hoewel ek glo my Breytenbach-toonsettings kan op eie bene staan – ek sluit heelwat van hulle in my programme in – kom die woorde soveel meer tot hul reg as dit in konteks gehoor word. Op hul eie kan sommige gedigte soms ’n bietjie weird klink as hulle gesing word.” Sy glimlag ondeund.
Oor “’n halwe engel” gesels Laurinda graag. “Breyten se gedigte is baie visueel en sensueel. Agter die skoonheid en soms kruheid van sy woorde lê daar altyd ’n groot rykdom van betekenis om te ontgin.”
Laurinda is ’n realis met die gees van ’n kunstenaar. Sy het haar eie verstaan van Breyten se gedig. ’n Gedig oor die liefde, eindelose horisonne, die bloed van versoening en drome van ’n huis vol sterre.
Of engele waarlik bestaan, is nie iets waaroor sy wonder nie.
“Ek weet wel dat onvolmaakte mense soms wonderlike goed laat gebeur. Soos my pa altyd gesê het, “Die Here kan ’n reguit hou met ’n krom stok slaan.””
“Tog is ek baie bewus van ’n teenwoordigheid van iets wat die oog nie kan sien nie. Maar of engele bestaan of nie, hier waar ons nou is, gaan die essensie oor mense. Ons gemeenskap met mekaar, ons gee van onsself aan mekaar, ons nagmaal met mekaar. As ons aan onsself sterf en mekaar kan vergewe soos daar vir ons gesterf en vergewe is, word verhoudings heel en ons word verlos en vry…”
“En as dít ’n mite is, is dit die waarste mite wat ek nog gehoor het.”
Die aartsengel: Colleen Naidoo
Van kleintyd af het ouerlose en verwaarloosde kinders die 48-jarige Colleen Naidoo van Mitchells Plain na aan die hart gelê. Vandag het dié engel van ’n vrou dertig kinders in haar huis vir wie sy uit eie sak sorg én met liefde oorlaai.
Sy het die volk se harte geraak toe haar verhaal onlangs op die radiostasie Kfm 94.5 gehoor is. Soveel liefde en empatie vir hulle wat nie ’n stem het nie, het selfs die siniesste siel oorweldig.
Colleen is ’n groot gees in die lyfie van ’n Dresden-pop. Sy is ’n toonbeeld van nederigheid en praat met ’n mengsel van Afrikaans en Engels soos wat jy net op die Kaapse Vlakte hoor – ryk en vol kleur. Wat aan die politieke front of in Hollywood gebeur, raak haar nie. Al haar passie en energie word daagliks saam met tonne liefde op die dertig kinders in haar huis uitgestort.
As kind het Colleen nie ’n sagte plek gehad om te val nie. Sy moes vinnig grootword om haar teen die aanslae binne haar gesin te beskerm. Instinktief het sy begin om die kleiner kindertjies in die gesin en in die omtrek so ver moontlik buite gevaar te hou.
“Ek wou graag ’n maatskaplike werker word,” vertel sy. “Ek glo ek is vandag een – sonder die nodige papierwerk.” Toe sy sowat 18 jaar gelede swanger was met haar derde kind, het Colleen haar man daarop voorberei dat dit haar laaste baba sou wees. Sy wou liewer haar gesin aanvul met die talle ouerlose en verwaarloosde kinders wat haar hulp nodig het.
Colleen het by Protocall, Mitchells Plain se welsynafdeling, aangesluit. Eers was sy slegs as naweek- en tydelike ma betrokke terwyl sy nog na die hele straat se kinders omgesien het as die ouers hul brood verdien – iets wat sy 28 jaar lank gedoen het.
Maar 19 jaar gelede het sy haar huis in Colleen’s Place of Hope omgeskep. Dertig kinders tussen twee maande en 23 jaar is nou by haar. “Die kinders verlaat nooit regtig die huis nie,” lag sy.
Hulp is net beskikbaar as Colleen se beursie dit kan bybring.
“Korrektiewe dienste stuur elke twee weke iemand om met die strykwerk te help. Daar is ook twee dames wat inwoon. Maar dis nie genoeg om voor te bly nie. Die wasgoed en strykwerk het geen einde nie.”
Almal in die huis is gewoond daaraan om mekaar by te staan. Sy vertel hoe die groter kinders die kleintjies help grootmaak. Ook haar man dra baie by tot die sukses van die ongewone gesin.
Die kinders van Colleen’s Place of Hope kom uit uiteenlopende omstandighede. ’n Paar van hulle is MIV-positief. Ander kom uit huise waar drank- en dwelmmisbruik die oorhand gekry het.
Colleen het ’n spesiale, sagte plekkie vir die vierjarige *Thula. “Sy is as pasgebore baba in ’n plastieksak onder ’n klerereling in ’n kettingwinkel in Kaapstad gekry. Ek probeer al vier jaar lank om haar wettig aan te neem. Dit is onmoontlik om te glo hoe moeilik dit is om selfs ’n verwerpte kind soos *Thula jou eie te maak.”
“Sy is as pasgebore baba in ’n plastieksak onder ’n klerereling in ’n kettingwinkel in Kaapstad gekry”
Sy was tot dusver suksesvol met die wettige aanneming van een meisietjie, *Kate. Colleen vertel trots: “Sy is vandag ’n Naidoo.”
Sy kan nie uitgepraat raak oor die tweeling in haar sorg nie: “Hulle was pap babas toe hulle aan my sorg toevertrou is. Albei MIV-positief. Die dokters het geen hoop vir die tweetjies gehad nie.
Vandag is hulle nege jaar oud en word in die huis as “Princess” en “Queen” aangespreek. “Ja, ons het selfs royalty in Colleen’s Place of Hope,” skater Colleen. “Net die red carpet is invisible.”
Colleen vertel hoe ’n tipiese dag in haar huis verloop: “Ek staan vyfuur op om die pap op te sit en die wasmasjien te laai. Tussendeur word die babas gevoed. Die groter kinders sorg dat die kleuters gevoer en vir skool aangetrek kom. Intussen word daar toebroodjies vir die nimmereindigende aantal kosblikkies gemaak.”
Sommige van die kinders het erg getraumatiseer by die huis van hoop aangekom en Colleen se grasperk lê dikwels vol nat matrassies wat in die son droog word.
“Ek wens soms dat ek ’n paar rolskaatse kon hê om als vinniger te kan doen. Ek slaap gewoonlik voor ek die kussing tref.”
Colleen spog soos enige trotse mamma met foto’s van haar kroos. “Dit is *Jenna,” sê sy glimlaggend. “Ek het haar gekry toe sy sewe maande oud was. Sy was ook MIV-positief met erge tering.
Ook vir haar was daar weinig hoop. Vandag is sy al vyftien maande en ’n regte pokkel met ’n reuse-persoonlikheid.”
Colleen kry ’n staatstoelaag vir vyf van die kinders. Hoewel sy aansoek kan doen vir geldelike bystand vir die ander 25, verkies sy om dit nie te doen nie. “Om hierdie geld te kry moet ek by welsynsdienste registreer. Hulle besluit dan watter kinders aan my toegeken sal word en watter nie. Ek kan dit nie aanvaar nie omdat ek nooit ’n kind voor my deur sal wegwys nie.”
Colleen het lank en hard gespook voor die laerskool haar tegemoet gekom en die kinders se skoolgeld verminder het. “God voorsien altyd. Selfs met skoolklere en mediese uitgawes. Ek kan eerlik sê dat ek my nooit bekommer oor waar die volgende maal vandaan gaan kom nie. God het ons nog nooit in die steek gelaat nie.
“Om al die kinders saam te sien is ’n gesig! Hulle is die spreekwoordelike orrelpypies. Maar ek sal my lewe saam met hulle vir niks verruil nie. Ek is waarlik geseën.”
*Skuilname
’n Ongewone engel: Sanna Swart
Die 42-jarige Sanna Swart is gestroop van enige fieterjasies. Haar eerlikheid betrap jou onkant. Sy gesels rustig oor haarself, haar lewe en haar beelde.
Sy verloor nooit oogkontak nie en weeg nie haar woorde nie. As sy lag, skater sy sonder pretensie diep uit haar maag.
“Ek is beslis ’n voortreflike voorbeeld van AT/HS. Ek kon nog nooit lank op een ding konsentreer nie, en werk so in die bolling,” gesels sy, haar natuurlike sin vir humor altyd voorop.
Oor haar liefde vir kuns het sy lang stories. “My ouers was albei lief vir die kunste. My pa was vir seker ’n gefrustreerde prokureur met sy kop by argitektuur. My ma is ’n koekstruif van kreatiwiteit – van binnenshuise versiering tot skryf.”
“Ek was skaars skool toe toe ek vir die eerste keer besef het dat ek ’n beeldhouer wou word. Ek het die geleentheid gehad om ’n beeldhouwerk van Anton van Wouw van naby te sien. Ek het voor die beeld tot stilstand gekom. Dit was vir my beeldskoon. Net daar het ek op die brose ouderdom van ses amptelik aangekondig dat ek ook eendag sulke beelde wou maak.”
Van daardie dag af het sy ernstiger met klei omgegaan. “Ek het my eerste portretstudie gedoen toe ek nege was. Ek was maar van altyd af ’n anderster soort kind. Ek het nooit fyn gespeel nie. Dit was survival of the fittest met drie boeties in die huis. Nog ’n groot invloed op my lewe was my oupa wat ’n plaatmetaalwerker was. Op negejarige ouderdom het ek my eerste sweisles by hom gekry. Vandaar my liefde vir metaal.”
Nadat Sanna haar graad in skone kunste aan Tukkies verwerf het, is sy met behulp van ’n beurs Amerika toe vir verdere studie aan die Johnson Atelier Technical Insitute of Sculpture in New Jersey. Hier het sy geleer om in brons, vlekvrye staal, silwer en gietyster te giet.
Sanna se passie vir die gevleuelde vorms van engele het reeds op universiteit vlam gevat. “Ek is gefassineer deur die simboliek eerder as die vorm. Kryger, beskermer en gids. Hemelse skild vir ons gebrokenheid as mense. So het ons ook ’n skild om ons teen die wêreld en sy oordeel te beskerm. Die beskutting is ’n gevoel van veiligheid op ’n psigiese vlak omdat ons idee rondom die voorkoms van ’n engel geromantiseer is. Ons weet nie hoe hy of sy lyk nie, maar tog het dit universeel as ’n gevleuelde vorm ontaard. Dit is nie toeval nie.
“Dit is maklik om die mens te roer met die engelfiguur. Mense se visuele alfabet is nie almal ewe groot nie. My engele is nie die popgesig, geromantiseerde en kommersiële engel nie, maar eerder suggesties van ’n vorm wat aan almal bekend is. My engele het name soos Droomengel, Aartsengel of Krygerengel.”
“Dit is maklik om die mens te roer met die engelfiguur. Mense se visuele alfabet is nie almal ewe groot nie.”
Sanna het ’n baie kosbare oomblik beleef in die teenwoordigheid van ’n wese wat sy as ’n engel identifiseer. “Ek het een aand in België laat gewerk toe die krag skielik afgaan. Ek het na die hoofskakelaar gestap en dit aangeskakel. Ek weet nie hoeveel volt deur my liggaam is nie, maar my kollega het my op my bors begin slaan om my hart weer aan die klop te kry. Ek onthou hoe ek letterlik opgetel is en afgekyk het na my liggaam op die vloer. Ek glo dat dit my beskermengel was.”
Sanna, Lizz Meiring en Willie Straus het vanjaar kragte saamgesnoer om ’n produksie oor engele op die planke te bring. Die verhoogstuk se naam is Daai een met die vlerke. Die produksie is ’n kombinasie van pragtige lirieke en stories. Lizz, wat die regie behartig, het voorgestel dat hulle ’n visuele element byvoeg en Sanna het ’n deursigtige staalengel gebou. Die engel is uitmekaar gehaal en aanvanklik is net die los stukke op die verhoog sigbaar.
Namate Willie se vertoning vorder, bou hy aan die engel en met die afsluiting van die verhaal is die engel ook voltooi. Volledig.
Moenie Sanna se engele op hul vlerke takseer nie. Talle is opgeneem in private versamelings in Amerika, Indië, Frankryk, België, Bolivia, Hongarye, Doebai, Kanada en Australië.
*Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in die Desember 2009-uitgawe van rooi rose.