Ek word op Sondagoggend, 5 Julie wakker van my wekker wat op die gewone tyd sy verspotte deuntjie sing: 04h30. Dit is my skryftyd. Wanneer alles kalm en stil is en dit voel asof ek die enigste lewende wese op aarde is, skryf ek die spanningsverhale waaruit ek soveel genot put.
My bors pyn. Terwyl ek koffie maak, laat gly ek my vingerpunte oor die buitelyne van die groeisel. Ek lig my pajamabaadjie op en bestudeer die bors krities. Is die tepel meer skeef as gister? Dit wil so voorkom.
In my knus studeerkamer probeer ek aan my boek werk. Gewoonlik voer die woorde my weg na ’n ander wêreld, maar op hierdie dag verloop dinge anders. My kop dwaal. Ek besoek nog ’n paar webblaaie, verkry bevestiging van alles wat ek die vorige dag gelees het. Opgekrul op die groot stoel voor die lessenaar sit ek my gevoelens en ontleed.
Gister was daar vrees. Vandag is daar vrede. Deur die loop van die nag het die een of ander wonderbaarlike ding gebeur wat die bangwees weggeneem het en in die plek daarvan ’n groot kalmte kom neersit het. Gister nog was daar by my die gedagte dat behandeling ’n keuse is. Mens kan kies of jy jou wil onderwerp aan die mes en die chemo en of jy die natuur sy gang wil laat gaan. Vandag is daar by my geen twyfel nie. Daar sal aan my gesny word. My liggaam sal vol gif gepomp word. Ek en die mes en die chemo sal hande vat om seker te maak my man verloor nie sy vrou nie en my kinders verloor nie hulle ma nie.
Ek voel veglustig.
Ek skakel my algemene praktisyn se kamers net na 08h00 op Maandagoggend die 6de Julie. Gee vir my die laatste afspraak wat daar is, versoek ek. Daar is werk wat gedoen moet word; die lewe staan nie stil nie en dit wentel ook nie om ’n groeisel op die bors nie.
’n Kollega kom staan vir ’n rukkie by my tafel en ons gesprek draai op die een of ander onverklaarbare manier na ons pa’s se lyding voordat hulle oorlede is, jare gelede. Ek vertel haar hoe ek gebid het dat die Here my pa moet kom haal; sy lyding was te erg. Ek vertel haar ook hoe ek skuldig gevoel het na sy dood. Ek wat aan God voorskryf? Elke sekonde van sy lyding was ’n suiweringsproses, iets wat van sy gees soveel meer gemaak het terwyl sy liggaam soveel minder geword het. Daardie gedagte sou by my bly in die maande wat kom.
Dit is laatmiddag toe ek by die dokter se kamers instap. Ons sit vir ’n rukkie en skerts en toe ek hom vertel van my ‘boobie probleem’, is hy onbekommerd. Hy weet van al die sists wat so kom en gaan. Gaan trek uit, en moenie worry nie, ek sal nie koekeloer nie, terg hy. Ek het daardie oggend met sorg my uitrusting gekies. Ek wil met die minimum moeite bolangs kan ontklee sodat die dokter deur die formaliteite kan gaan. Hy weet nog nie, maar ek weet.
Sy gesig verander toe hy my bolyf sien. Daar is skok. Hy vra ’n paar vrae. Hoe lank al, wat van pyn … Net ’n paar minute later sit ek weer voor sy lessenaar. Hy praat met ’n dame by die radiografiste. Dit is uiters dringend, sê hy. Asseblief, druk haar iewers in. Nee, dit móét môre wees.
Die kalmte is nog daar. Ek wil die dokter troos. Moet jou nie bekommer nie, wil ek vir hom sê. Alles gebeur met ’n doel. Alles.