Die enigste taal wat ek en die monnik in gemeen gehad het, was die breë glimlag op sy gesig. Toe hy ons deur die groot skuifdeure die klein vertrekkie binnenooi het ek geweet ek is welkom. Soos die gebruik hier is, het ons plat op die grond langs die lae tafeltjie gaan sit nadat ons ons skoene eers voor die houtstoepie buite die deur gelos het.
’n Versameling interessante teepotjies staan agter hom op ’n rakkie. Ek en Mrs. Jeong sit oorkant hom. Hy tap kookwater uit ’n elektriese urn op teeblare en wag ’n klein rukkie voor hy dit in klein oorlose koppietjies skink. Geen melk of suiker word in hierdie tee gegooi nie. Ek tel die koppietjie met een hand op terwyl die ander hand liggies onder stut soos hulle maak. Ek proe dadelik dis nie groentee nie en vra via Mrs. Jeong watse tee dit is. Swart tee. Nie onaardig nie maar ek mis my melk.
Ek kan sien dat die oomblik vir Mrs. Jeong ook baie spesiaal is en dat sy selfs meer beskeie as gewoonlik is. Ek voel weer as ek so ’n geleentheid het moet ek dit gebruik deur soveel moontlik daaruit te leer en te ervaar. Elke keer as die monnik ’n teugie aan sy tee gee, sug hy ook behaaglik. Dit voel kompleet nes ’n meditasie-sessie. Omdat die koppietjies seker skaars meer as 50ml tee kan vat, draf ons vinnig deur so ’n koppietjie maar jy dink nog jy sit hom neer dan is hy weer vol en as die teepotjie leeg is, gooi hy die laaste druppels in ’n beker op die vloer langs sy knie en tap vars kookwater op die blare. Voel soos die weduwee se kruik. Die tee gaan beslis nie opraak hier vanaand nie.
Omdat ander mense se lewens vir my altyd so ongelooflik interessant is, vra ek graag vrae en deur Mrs. Jeong begin ek dus ook my vrae vra. Hoe lank is hy al by Eunjeok tempel? Hoe lank is hy al ’n monnik? Sien hy heelwat mense by die tempel? Lees hy graag – met die dat daar ’n klompie boeke op ’n rak langs ons pryk. Skryf hy?
Hy is al 20 jaar ’n monnik en hy lees bietjie maar skryf niks. Ek vra hoekom hy nie skryf nie want om so in afsondering na aan die natuur te leef moet mens tog ongelooflike insigte kry veral wanneer jy mediteer wat hy tog graag seker met ander sal wil deel? Nee, hy wil nie dink nie. Ek sê maar alle leermeesters soos Boeddha en Jesus en Einstein het tog seker gemaak dat hulle gedagtes opgeteken word sodat ons daaruit kan leer. Hy voel nie daar is nog gedagtes wat neergepen hoef te word nie, en, nee, hy wil nie met gedagtes gevul wees nie.
Ek sê ek kan dit verstaan en ek vertel via Mrs. Jeong van my hele ontsnapping aan die dronk apies in my kop. Dat ek ’n lewe gekies het waar die dronk apies vir ’n slag nugter en rustig kan word en dat dit juis nou is dat hulle stiller is dat ek voel asof my gedagtes die moeite werd raak om op te teken. Ek sien hy luister na my. Ek sê ook vir hom dat ek elke dag by grootmense en kinders leer en dat my eie kind al vir my van die belangrikste lesse in die lewe geleer het. Tussen sy behaaglike uitasem deur weet ek hy hoor my. Ek vertel hom van my “journaling” en hoe dit my help om die dronk apies onder beheer te hou en om net perspektief op die lewe te kry en ek sien dat hy my hoor.
Toe ek vir hom vertel dat ek wens om eendag vir ’n tydjie in ’n ashram te bly sodat ek die hele ding van stilword in my lewenstyl kan ingrein, sê hy: Maar jy lewe reeds die lewe van ’n monnik. En toe is ek diep dankbaar dat ek besluit het om uit die hamster-wiel te klim, my tasse te pak en die wêreld in te vaar op soek na stilte.
Toe ek en Mrs. Jeong weer in die donker vol tee bergaf loop na hy ons gevra het om asseblief weer te kom, wonder ek of hy nou bietjie meer gaan skryf.
Naksansa by YangYang, Gangwando