Ek en Jaun sit ’n uur voor die bestemde tyd by Wilgeheuwelhospitaal se hoofontvangs. Dit voel soos daardie laerskooldag baie lank gelede toe die vorm van die pakkie onder die krismisboom vir my vertel het ek kry die elektriese orreltjie waarvoor ek so geskimp en gevra het. Dáárdie opgewondenheid maal honderdduisend.
Ek wil die woord ‘borsrekonstruksie’ rondsmyt voor ’n ieder en ’n elk, maar Jaun het my op sy diplomatiese manier aangeraai om op te hou om dit vir almal aan te kondig. Sommige mense wil nie rêrig weet nie, het hy my geduldig reggehelp. Dit mag sommiges dalk selfs ongemaklik maak. Ons gaan wag in die koffiewinkel totdat my bed reg is. Ek grinnik toe ek vir die kelner sê ek mag nie ontbyt bestel nie, want ek ondergaan netnou ’n operasie. Borsrekonstruksie. Jaun sê eerder niks nie. Hy ken daai grinnik.
My bed is reg voordat Jaun se ontbyt opgeët is. Hy sien die kyk in my oog en speel met die eiers klaar teen ’n spoed wat selfs vir my verbyster. Ek begelei my arme man daarna op ’n amperse galop die gang af na waar die seksie blou teaterdrag en ligblou lingerie op die bed vir my lê en wag. Dinge gebeur nou nog vinniger. Die vorms is nog nie behoorlik geteken nie, toe staan die teatertrollie reeds reg.
En die lekkerte hou net nie op nie. Die briljante man wat vir my ’n nuwe boobie gaan bou, dokter James van der Merwe, kom die teater ingewarrel en dring aan op bonuspunte omdat hy vir my ’n aantreklike narkotiseur georganiseer het. En wraggies, die man verdien daai ekstra vyf punte. Dis nou behoorlik underpromise en overdeliver.
James (mens mag hom nie Dokter noem nie) teken vorms op my lyf en trek strepe waar hy gaan sny. In my kop sien ek hoe lawwe prentjies van Donald Duck en Mickey Mouse reg oor my vetrolletjies vorm aanneem. Maar voor ek my oë nog twee keer kan knip, lê ek op die naat van my rug met ’n naald in my arm en ’n masker vol slaapgoeters wat ’n entjie van my neus af gehou word.
Daar is mos altyd daardie eienaardige stilte wat neerdaal in ’n teater terwyl die personeel wag dat die pasiënt aan die slaap raak. Vir my was dit hierdie keer amper ’n gewyde stilte. My laaste gedagte is dat ek wil dankie sê. Sommer vir elkeen wat daar staan. Ek kry nie kans nie – die slaap kom te vinnig.
Toe ek wakker word, maak ek eers vrede met die pyn. Meet dit en voel die ritme daarvan. Dis laf om teen pyn te baklei. Mens voel hoe die golwe maak en dan ry jy saam. Eers toe ek my ry gekry het, soek ek na daardie gesig. Die gesig van die streng teatersuster wat ’n jaar en sewe maande gelede vir my gesê het ek het net een bors. Ek herken haar dadelik, maar uit die aard van die saak is ek vir haar ’n vreemdeling. Vir al wat ek weet het ek vir haar geglimlag, want sy glimlag vir my.
As jy borsrekonstruksie gehad het, bring jy ’n aand in Hoësorg deur. Jy lê gekoppel aan allerhande drade en pype en katoeters, en daar, tussen bitterlike siek mense en ernstig beseerdes, verlustig jy jou met ’n amperse gevoel van skuldigheid in die bult waar daar ’n paar uur gelede nog niks was nie. Jy lê heelgemaak tussen lyding, blydskap en skuldgevoelens wat oorlog maak en blydskap wat wen.
Jy het ’n Stella met ’n spierwit glimlag en dimpels wat elke kort-kort kom pyngoed gee en met sagte vingers kom seker maak daar is nog goeie bloedtoevoer na die nuwe bors, ’n vrou met energie so suiwer dat mens wonder of hulle by daardie hospitaal engele in diens neem.
Jy het ’n James wat inwarrel om te kom kyk na sy handewerk en verklaar dat hy baie tevrede is, voordat hy uitwarrel om iemand anders se liggaam te gaan heelmaak, nóg ’n wonderwerk te gaan bewerkstellig.
En jy? Jy het ’n nuutgemaakte liggaam, nuwe drome.
Hoe kan een mens soveel seën verdien?
Nee, man.
Dit loop oor, man.
Dit loop oor.