In die nag word ek net een keer wakker. Ek moet badkamer toe gaan. ’n Ronde kontrêpsie hang aan ’n pypie wat onder my arm ingedruk is. Daar is bloed in die pypie en bloed in die kontrêpsie. Dit moet die dreineringstoestel wees, besef ek na ’n paar sekondes. ’n Kollega wat deur dieselfde ervaring gegaan het, het haar toestel Gawie gedoop. Dis ’n goeie naam. Die ding is immers gaaf genoeg om bloed en afvalstowwe te dreineer terwyl jou liggaam sukkel om te bepaal hoe om met heelwat minder limfkliere oor die weg te kom.
Met Gawie in die een hand en die dripstaander in die ander skuifel ek badkamer toe. Daar is ’n byna komiese geskuifel terwyl ek uitwerk hoe om die nodige te doen met ’n drip op ’n ongemaklike plek in die een arm en ’n Gawie in die ander hand. Triomf. Ek sukkel my blou teaterbroekie weer aan en gaan staan huiwerig voor die spieël. Ek weet nie wat ek gaan sien nie.
Madelein staan daar vir my en terugkyk. Dit is ’n Madelein met deurmekaar hare in ’n gekreukelde blou teaterjakkie. ’n Ietwat lopsided Madelein met die bult van ’n bors aan die een kant en niks aan die ander kant nie, maar nog steeds die vrou wat ek ken. Dit gaan alreeds makliker toe ek terugstap bed toe. Ek en Gawie gaan nog goeie vriende word.
Daar is ’n vlugtige besoek van die dokter die volgende oggend. Alles het goed gegaan en hulle het tien limfkliere verwyder. Dié word weggestuur sodat daar bepaal kan word watter soort kanker dit is. Die kanker het reeds na my limfkliere versprei. Die dokter wys my hoe om Gawie se maag leeg te maak. Van nou af sal ek dit self moet doen.
Nadat ’n dame van Reach for Recovery vir my kom kuier het, kan ek huis toe gaan, vertel hy my. Lekker. Ek hou nie van hospitale nie.
Reach for Recovery se dame is Ina, ’n lieflike vrou wat self borskanker gehad het; die mooiste blou oë en die wydste, witste glimlag. Sy gee vir my ’n geblomde pienk sakkie waarin ek vir Gawie kan wegsteek, ’n hele klomp leesstof oor post-operatiewe sorg en ’n lys van nuttige kontakte. Beste van alles – sy gee vir my ’n softie. Dit is ’n dingetjie van vleeskleur lap wat opgestop is met teddiebeervulsel. Mens druk dit in jou bra om die illusie van ’n bors te skep. Ek is lus en soen vir Ina en dan vir Softie. Terwyl ek vir Ina gelê en wag het, het ek prentjies in my kop gesien van ’n lopsided ek wat kar toe loop terwyl mense staar en my jammer kry. Ek gee nie om vir die staar nie; dis die jammerkry wat my pla.
Ek is al aangetrek toe Jaun my kom oplaai. Die bra maak my nie seer nie en Softie sit sy plek stewig vol. My man is onvoorbereid daarop dat ek so gou al huis toe gaan. Hy daag by die hospitaal op sonder my stewels. Dit is dus met my wollerige pienk pantoffels aan my voete en Gawie wat in sy pienk sakkie oor my arm hang dat ons stadig in die koue na die kar toe stap. Toe ek die vorige dag daar aangekom het, het ek heelwat anders gelyk, dink ek so in die verbygaan.
Die lewe gaan aan. Karre kom en gaan, mense stap by die hospitaal in en uit, die winterson skyn tog te mooi en selfs die minibustaxi’s verbreek nog net soveel padreëls soos die vorige dag. Alles om my is soos dit nog altyd was. Behalwe Jaun. Hy is nog steeds gespanne. Ek kan sy bekommernis aanvoel, maar daar is niks wat ek kan sê of doen om hom gerus te stel nie. Hy loop sý alleenpad en ek loop desnoods my eie. Ons sal nog moet uitwerk hoe om nie in eensaamheid te verval op ons individuele paaie nie. ’n Breë dubbelpad sal gebou moet word sodat ons sy aan sy kan hierdie reis kan onderneem.
Ek slaap soos ’n moeë kind vir die res van die dag en deur die nag. Gawie pla my nie. Hy doen sy ding ewe getrou sonder om in die pad te wees. Slaap is goed. My liggaam werk alreeds hard om die skade te herstel en daardie herstelproses verg baie energie. Ek en my lyf sal saam-saam die kanker kafdraf. Kanker het die verkeerde vrou gekies om mee te sukkel.