In ‘n klipvensterraam van ‘n stokou kasteelhuisie met sy voordeur op ‘n smal stegie lê die brakkie in sy uitkyktoring op die wêreld. Die hande wat daardie klip tot vorm gebytel het, rus reeds ver terug in die eeue.
Presies soos ‘n prentjie uit ‘n boek. Wil die gesiggie mos nes onse Snuffels s’n van ouds lyk. Kompleet met daardie ver kyk in die oë. So steeg af kyk en dan weer steeg op kyk – al agter die mensdom aan soos hulle heeldag verbyskuifel. Koopmanne. Huisvrouens. Skoolkinders. Werksmense. Toeriste en talle meer.
Vroegdag, voor die menigtes soos miere begin wemel, hoor die brakkie al van veraf die kenmerkende stap van die ouman soos hy met sy kierie aankom. Hy kom sukkel, sukkel teen die skuinste op. Eers tik die kierie op die gladde blink klipplaveisel. Dan ‘n skuifelvoetstap van ‘n been wat nie eintlik meer wil nie en dan ‘n sterker trap van sy staatmakervoet. Hy dra ‘n groen plastieksak in die vry hand en ‘n vale in die kieriehand. Dis vis-aas uit die nag se vangs waarvoor sonop vissermanne aan die kaai reeds angstig wag.
Straks sal hy met die handvol Kunas wat hy verdien ‘n lekker vars brood by die bakkery om die volgende hoek gaan koop. Dis middag se kos wat hy doop in olyfolie gemeng met balsamiekasyn. Lekker so saam met ‘n braaivissie wat hy reeds reggemaak het vir die kole.
By die brakkie in die venster gaan staan hy soos elke dag ‘n oomblik stil om eers bietjie asem te skep. Hy en die brakkie kyk vir mekaar. ‘n Begrypende kyk. Dan leun die ouman sy kierie met die vaal plastieksak teen die muur en strek sy hand uit na die brakkie wat hy liefderyk oor die sagte kophare streel. So asof dit dalk ‘n enigste vriend is kielie hy hom dan welgevallig onder die ken. Die brakkie se oë glinster van plesier.
Die ouman se gedagtes slaan skielik ver terug. Toe hy en oorle moeder nog gelukkig skuins teen die berg by Motovun se kasteel gewoon het. Kan hy nog hulle rooi teeldak huisie, die olyfboord en wingerd vol druiwe so duidelik sien. En onthou hy nog die opgewonde blaf van hulle ‘brek’ as hulle teen hierdie tyd van die jaar in die laatsomer op truffeljag gegaan het. Ai, was daardie Toffo darem vir jou ‘n uithaler snuffelaar! Hy kon ‘n truffel al op ‘n distansie uitruik. Ja, dit was die dae. Dae voor die skote geklap en die vreeslike oorlog met sy dood en verwoesting gekom het. Net hy het met ‘n verwonde been lewend daaruit gekom. Moeder en Toffo was daar nie meer nie.
‘n Traan wel in die ouman se oë op. Hy neem sy kierie met stewige greep vas en vervat moedig sy skuifelloop. Die brakkie kyk hom vir ‘n oomblik met ‘n lang weemoedige gesiggie agterna. Dan, asof hy wil groet, gee hy so’n klein blaffie.
More sal die ouman seker weer verbykom.