Die Boomkind
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Hansie kon boomklim voor hy behoorlik kon stap. Niemand het sy vreemde fassinasie met bome verstaan nie. Die pragtige seuntjie het van sy geboorte byna aanhoudend geskree. Madrie, moeg ná die moeilike geboorte, was radeloos met die skreeuende bondeltjie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Dit was eers toe Martin een nag met die skreeuende baba onder die groot vyeboom gaan staan het dat hy stil geword het. Sy ogies het op die welige blare gefokus, die dom handjies het onder die blou katoenkombersie uitgewoel, byna asof hy in die maanskyn na die takke wou gryp. Madrie het yskoud geword. ’n Gil het in haar keel gestol. Wat swaai daar in die donker takke? Waarna het die handjies gegryp? Daar is niks nie, verseker sy haarself, en sit ’n CD met vioolmusiek op. Die klank van musiek sal ons almal rustig maak, dink sy.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Die baba in die arms van die groot boer onder die reuseboom was feitlik dadelik stil, maar Madrie was onrustig. Uitgeput en ontnugter met moederskap het sy op haar bed ingesluimer. Maar die stilte het haar slaap binnegedring. Sy het uitgestap op die groot stoep en toe haar oë gewoond raak aan die donker, het sy Martin sien sit, sy rug teen die vy se gladde stam. Hy was vas aan die slaap en Hansie se klein lyfie het reëlmatig beweeg. Martin het die grootste deel van die warm nag daar gesit met die slapende kind in sy arms. Sy het onrustig in die verrinneweerde rottangstoel op die stoep opgekrul en moeg geslaap. Die egoïstiese slaap van ’n skuldige, het sy haar die volgende oggend verwyt toe ’n moeë Martin op die trekker lande toe is.
Die boom was hul redding as Hansie begin skree het. Sy blou babawaentjie het mettertyd die grootste deel van die dag onder die koel blaarsambreel gestaan. As kleuter het hy daar gespeel, die kinderoppasser altyd naby.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Die skeel, opgeskote Katriena het een middag dringend na Madrie geroep. Hansie, skaars twee, was bo in die vyeboom. Sy gesiggie het gestraal en sy moes Martin van die lande af laat kom om hom af te kry. Sy en Katriena het intussen met uitgestrekte arms onder die boom rondgestap, al agter die vet beentjies en stewige armpies aan, gereed vir wanneer hy sy balans verloor.
Maar ’n makliker en gemakliker peuter kon jy skaars kry. Hy was maar altyd in die boom, salig gelukkig tussen blare en takke in sy eie wêreldjie. Madrie kon die onrus nie uit haar gemoed kry nie. Die donker skaduwees, die geslote donkergroen dak, die takke spookagtig in die maanlig het haar ontstel. Sy wou haar vet peutertjie om haar voete in die kombuis of op die koel houtvloer by haar klavier hê. Die probleem het in erns begin toe Hansie moes skool toe. Martin moes hom omkoop met die belofte van ’n dubbelverdieping-boomhuis. Op laerskool het dit nog goed gegaan. Die dorpskool het die kinders toegelaat om kaalvoet skool toe te gaan en niemand het gedink dis snaaks dat Hansie elke pouse in die bome op die skoolterrein was nie. Al die seuns het trouens boomgeklim en aan takke rondgeswaai. Smiddae ná skool was Hansie soos blits in ’n boom. Geen boom op die plaas was vir hom te hoog nie. Hy het van boom tot boom beweeg, so tuis soos ’n apie in die boomtoppe. Hansie kon glad nie die hoërskool op die naburige groot dorp hanteer nie. Hy het ná ’n paar dae verdwyn en was een oggend rustig aan die slaap in die boomhuis. Sy wêreld was die plaas se bome. Soms het hy ure na die wind in die dennebos geluister. Laatmiddag en vroegoggend het hy saam met die vinke en die pieterpolle in die populierbos langs die rivier deurgebring. Maar saans was hy altyd in die reusevyeboom vlak langs die stoep.
Sielkundiges, psigiaters, die skoolhoof en selfs die dominee kon geen fout met Hansie kry nie. Herhaalde kere is hy skool toe gedwing, herhaalde kere het hy weggeloop en is hy ie-wers in ’n boom gekry.
Vir Madrie en Martin was dit ’n verskriklike ding. Madrie het ’n tuisskolingskursus gekry en ure onder die boomhuis gesit by ’n tafel met haar boeke terwyl Hansie in die boom ywerig saamwerk. Hy het geen probleem gehad met wiskunde, Engels of enige ander vak nie. Martin het stiller en stiller geword. Hy het Hansie probeer besig hou om ’n mate van normaliteit te probeer kry. Hansie was snoeityd ’n doring in die vrugteboorde. Hy kon heeldag werk as dit in die omgewing van bome was. Saans het hy net saam het hulle geëet as Madrie op die stoep by die vyeboom gedek het waar hy tussen die takke en blare na die maan en sterre kon tuur. Madrie het haar aan die gemeenskap onttrek. Sy het uit die kunsvereniging se bestuur bedank. Sy het ná kerk nooit meer tee gedrink nie. Daar was altyd die verskoning van ’n boud in die oond of vriende van die stad wat kwansuis tuis wag. Later het sy nie eens meer kerk toe gegaan nie. Sy het die weeklikse inkopies op die naburige dorp gaan doen en later liewer in die stad. Vriende het nie meer oorgekom nie. Selfs die familie het nie meer gekom nie. Die hartlikheid in die mooi plaashuis met sy antieke meubels, goeie musiek en stimulerende gesprekke om die groot eettafel was nie meer nie. Sy het Martin se toenadering begin vermy.
Hansie was feitlik nooit in die huis nie, maar sy vreemde gedrag was altyd daar, in elke vertrek. ’n Ondertoon in elke gesprek, ’n huiwering in die toenemende stiltes. Madrie het ure lank by die venster uitgestaar na die vyeboom, die dennebos, die populierbos, die vrugteboorde. Hansie was daar, gelukkig in sy eie wêreld waar bome soveel werkliker as mense was.
Die versmorende stilte het Madrie laatmiddae uit die huis gedryf. Sy het in die rigting van die berg gestap, verby die wind in die dennebos, die voëlgekwetter in die populierbos en weg van die vrugteboorde. Martin het net boerbokke op die droë berggrond aangehou en gevolglik het daar selde iemand gekom. Madrie kon in vrede stap waar daar geen bome, geen takke wat gryp na die hemel, geen blaarsambrele was nie. Soms was sy verbaas dat sy nog trane oor het. Hoekom Hansie? Waarom die fassinasie met bome? Hy is tog intelligent. Hy kon lees voor hy skool toe is, het graag geteken en kleuterrympies gesing. “Waarom? Waarom? Waarom?” Sy skrik toe sy besef dat sy die vraag woedend teen die lae bossies en kranse van die berghange uitskree.
En toe val haar oë op die vrou wat kruie pluk. Die vrou groet en Madrie draai skaam op haar spore terug. Wat soek die vrou op hul grond? Sy sukkel aanvanklik om die skraal fi-guur te plaas, maar onthou toe. Die kruievrou het in een van die verlate spoorweghuisies in-getrek. Dit is die een op die punt, guitig geverf met geel vensterrame en ’n welige kruietuin voor en agter. Baie dorpenaars glo aan die vrou se rate en kry gereeld iets by haar vir die kwale van die ouderdom en die aanslae van die lewe. Iemand het genoem dat sy kruieplantjies vir kwekerye in die stad kweek. Iemand anders het gesê die bankbestuurder was verbaas dat iemand van die vrou se vermoë op hul dorpie kom bly het en dit in so ’n klein huisie. Die aand noem sy aan Martin dat sy die vrou op hul grond gesien het. Hy knik afgetrokke. “Ek het gesê sy kan kruie daar oes. Daar is soveel en sy weet presies hoe om te pluk sonder om dit uit te roei. Sy is ’n botanis; het vroeër klas gegee by jou ou universiteit.” Hy kyk stip na haar, asof sy die vrou moet ken.
“Ek het nie juis die personeel van die natuurwetenskappe geken nie, was maar altyd besig by die konservatorium,” sê sy sag en vermy sy oë. ’n Paar dae later dryf die stilte Madrie weer na die kranse. Die vrou sit in die skaduwee van ’n rots, ’n mandjie met kruie by haar voete. Madrie is ongemaklik. Sy het nog nooit laat blyk hoe diep Hansie se gedrag haar raak nie. Sy weet die dorpsmense het destyds, toe Martin met die musiekdosent van die universiteit getroud is, gesê sy is snobisties. Hoe min het hulle haar toe verstaan en hoe min verstaan hulle steeds. Sy dra haar verlede opgesluit in haar binneste. Die vrou het geen reg gehad om haar swakste oomblik, toe sy in die namiddagwind geskree het, te beleef nie. Die vrou groet asof hulle mekaar elke dag terloops teëkom en hou ’n sakkie met gedroogde blare na haar uit. “Dit is goed vir spanning,” sê sy. “Kattekruid hier van jul eie plaas. Daardie grysgroen plante met die pienk blomme. Die blare lyk soos dié van ’n malva. Die Khoi het die blare en takkies eeue terug al vir ’n verskeidenheid kwale gebruik. Jy is bekommerd oor jou seun?”
Madrie ken haar eie stem nie, sy weet skaars toe sy begin praat. Sy vertel van Hansie as vet baba, onnutsige peuter, ernstige seuntjie. Die geleidelike onttrekking aan mense, sy fassinasie met bome. Wanhoop, woede en verbittering stroom soos ’n gebreekte damwal ná ’n storm. Later, toe sy bloot nog bewus is van die diep seer, bly sy stil. Die geur van kruie en stof hang in die lug.
Die vrou luister sonder om te praat. Madrie is dankbaar dat sy nie met leë trooswoorde probeer help nie. Sy kyk na die etiket op die sakkie kattekruid en sê moeg: “Ek sien ek moet dit trek op kookwater en soos tee drink.” Die vrou knik net en ná ’n lang stilte staan Madrie op. “Dan loop ek nou maar.”
Die vrou roep haar terug. “Kattekruid sal bloot help vir die simptome. Jy moet eerder die sweer in jou binneste oopmaak, laat gesond word. Nie kattekruid of enigiets anders kan daar diep binne genees nie. Laat dit uit … ”Madrie is bitter toe sy omdraai: “Dink jy ek weet dit nie? Ek leef hiermee saam, sal altyd hiermee moet saamleef. Dink jy vir een oomblik ’n koppie kruietee kan soveel onreg regmaak? Kattekruid … ” Sy spoeg die woord uit en gooi die sakkie neer. Die kruievrou gaan onverstoord voort. “Miskien moet jy jouself vergewe. Hansie se pa … sy dood was nie jou skuld nie. Hou op om hom te sien swaai in die akkerboom in die konservatorium se tuin. Jy het dit nie aan hom gedoen nie. Hy het dit self gedoen. Ek het later jou briefie op sy klavier gekry. Jy het reg gekies. Hy sou gou verveeld geraak het met die sleur van ’n baba. Ek is Lotte Kusstner. Ek het my, soos jy, vir jare self verwyt. Selfs al kon ek hom kinders gee, dit sou nooit vir hom genoeg wees nie. Gedink dis oor ek so vaal, so onopwindend, so vervelig is, dat hy jou en al die ander verkies het. Jare ná sy dood het ek my pos by die universiteit opgegee, hier kom wegkruip. Dit was eers toe ek Martin genader het vir die kruie op jul berggrond dat ek besef het wie se kind Hansie is. Daar is meer in die lewe as skuld en lyding. Drink die kattekruid vir die bietjie hulp wat dit kan gee. Vergewe jouself, God het lankal.”
Madrie snak na haar asem en sak op die droë grond neer. Sy kyk met gesperde oë na die vrou. Haar skouers ruk en sy huil met aaklige roggelgeluide. Lotte gaan voort: “Ek het nie die gesprek beplan nie. Maar die lewe het ons paaie nie verniet laat kruis nie. Jy was nie die eerste nie, ook nie die laaste van sy verowerings nie. Vandag weet ek dit was nie my skuld nie. Dit was iets in sy diepste wese wat altyd bewonder moes word, avontuur moes beleef, verowering wou smaak. Weet jy, ek glo die nag toe hy hom aan die akkerboom opgehang het, was een van sy suiwerste omgee-oomblikke. Hy het min van homself vir ander gegee. Hy het altyd geglo sy musiek is sy geskenk aan die mensdom, sy talent was sy gawe aan ander. “Maar iewers in die aanloop tot daardie donker nag moes hy besef het hoe vernietigend sy gedrag was, moes hy geweet het hy sou nooit kon verander nie. Miskien was hy bloot bang vir ouer word, sy slag met vroue verloor. Miskien het hy regtig omgegee vir al die vroue op sy kerfstok, vaal ekke ingesluit. Ek glo sy dood was een van die min onselfsugtige dade in sy lewe. Eers toe ek myself en hom vergewe het, kon ek weer leef.”
Die aand dek Madrie die tafel op die stoep met ’n wit tafeldoek en wit geborduurde servette soos in die ou dae. Sy steek kerse op. Ná Martin gedank het, druk Hansie oudergewoonte met sy linkerhand op die stoepmuurtjie, gryp die oorhangende tak met die regter en verdwyn in die takke van die boom. Madrie en Martin kyk lank in stilte uit oor die boorde, die droëveld en die ongenaakbare berg op die agtergrond. Die pas gesnoeide vrugtebome is silwerwit in die verdwynende lig. Die kaal takke is skerp afgeteken teen die donker lug. Net voor die swart nag hulle omsluit, is die lug vir oomblikke intens indigoblou. Die kaal gesnoeide bome gryp met strak takke smekend na bo.
“Kyk,” sê Martin later: “Die dennebos daar by die grootpad, die populiere langs die rivier en die berg, die grense van die plaas, die grense van ons eie wêreldjie, is duidelik sigbaar ondanks die donker nag.” En toe antwoord Martin haar op haar dringende ontboeseming vroeër die middag in sy studeerkamer. “Ek het altyd geweet van Hansie. Daar was tye dat ek jou fisiek uit die bed wou skop, jou kop teen die gangmuur wou stamp.” Hy is lank stil voor hy skor fluister: “Maar ek het altyd geweet ek wil nie sonder jou nie … en ek het altyd gehoop … ” Die wind speel sag deur die vyeboom se taai blare en streel deur Madrie se hare. “Martin, dis net iemand met ’n groot gees wat sulke bedrog kan vergewe. Ek verstaan dit teoreties. Ons word trouens van kindsbeen daarin onderrig dat God ons ondanks alles liefhet, vergewe. Jy moet baie na aan Hom wees om so te kan vergewe. Maar ek moet nog jou vergifnis met my hart aanvaar. Die aanvaarding met my kop is een ding. Om dit met my hart te aanvaar is ’n langer pad. Help my, asseblief. Bowenal moet ek myself vergewe. Miskien, Martin, sal hoop uiteindelik die keersy van vergifnis wees.”
Baie, baie later kom Hansie se stem vakerig uit die boom: “Ma, ek het gedink, ons moet van môre af meetkunde by die tafel onder die boom doen. Ek sukkel met die driehoek en gradeboog hier in die takke.” Martin vat haar hand in die donker. “Hoop is die keersy van vergifnis.”
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.