Ek wonder of ek my hormone die skuld kan gee. Vir die “Arbeitsanfall”, soos die Duitsers dit noem.
Dit het totaal uit die bloute gekom en niks te doen gehad met my daaglikse, broodverdienende arbeid nie, maar met my kaste. Deurmekaar kaste, om presies te wees.
In die jaar en nege maande wat ek in dié huis woon, en ek dit uitstekend reggekry om die illusie van netheid te skep. Onder die aanvaarbare uiterlike het my papierwerk, skoonmaakmiddels en sekere persoonlike items egter heelwat pret gehad: van posisie verander, aangeteel, of die kamoefleerkuns vervolmaak. Ek meen, voorwerpe kan tog nie net uit laaie en kaste verdwyn nie?
Dit het alles met die koffiemasjien begin. My lewens-aar, die verskaffer van geurige skote kaffeien, het verlede week verstop geraak. Verniet (amper sê ek verdomp) of die water deur die pypie na die beker wou loop. Asyn wou nie werk nie maar iewers, onthou ek toe, was daar ‘n pakkie ontkalkingspoeier. Toe begin ek soek. In die kombuiskaste, besemkas, badkamerkas, klerekas … en sover ek soek, gooi ek uit en pak ek reg. ‘n Donderdagaand, Vrydagaand en Saterdag lank.
Dis nou al Dinsdagaand en daar is nog geen spoor van die ontkalkingspoeier nie. Ja, natuurlik kon ek intussen nog ‘n pakkie gaan koop het, maar ‘n meisie het darem haar trots!
Ek fokus trots op my netjies kaste. Toegegee, ek soek steeds af en toe na iets wat aan die herrangskikkingsprogram onderworpe was, maar dit lyk goed. As my ma nog gelewe het, het ek haar summier oorgenooi.
Vandag het ek weer asyn in die koffiemasjien gegooi. Ek kon dit nie glo nie. Alles het skielik gewerk.
Nou moet ek net uitvind wat die arbeidsaanval veroorsaak het. Die jasmyn het begin blom – is dit spring fever (‘n toename in goedvoelhormone) waarvan spring cleaning tien teen een ‘n onderafdeling is?
Dalk is dit die nesting instinct. As ek nes skrop, kom daar ‘n baba. Ek sal hou van ‘n baba: ‘n boekbaba. Ek wonder wat die ekwivalent van asyn is om ‘n brein aan die gang te kry…