Diane Lane is vroulik. Fyntjies. En ’n uitstekende aktrise. Jy sien letterlik elke emosie wat haar karakter ervaar op haar gesig, selfs al sê haar woorde iets heel anders. In die werklikheid is dit nie anders nie. Sy wil nie veel oor haar persoonlike lewe uitlap nie, maar as jy mooi oplet, sal jy ’n glinstering in haar bruin oë bespeur, of dalk ’n wenkbrou wat effens ironies gelig word, en dit spreek boekdele. Dis fassinerend om haar dop te hou.
Ons ontmoet mekaar op ’n snikwarm dag by die Santa Anita-resiesbaan om oor die fliek Secretariat te gesels. Ondanks die vreeslike hitte lyk sy koel en vars in haar Michael Kors-uitrusting. Secretariat is die ware verhaal van ’n resiesperd wat die Triple Crown teen alle verwagtinge in in ’n rekordtyd gewen het. Diane was met die akteur Josh Brolin getroud (en sy pa en Barbra Streisand is getroud). Diane se pa, Burt, het dramaklasse gegee en haar ma, Colleen Farrington, was ’n nagklubsangeres. Diane het op 13 haar debuut teenoor sir Laurence Olivier in die rolprent A Little Romance (1979) gemaak. Maar daarna het sukses haar bly ontwyk.
Sy is in 1988 met die hartebreker-akteur Christopher Lambert getroud en hul dogter, Eleanor, is in 1993 – ’n jaar voor hul egskeiding – gebore. Sy het deurentyd gewerk, maar het eers in 1999 met A Walk on the Moon weer aandag getrek. Fliekgangers en resensente was dit eens dat die beeldskone aktrise werklik talentvol is. Maar met Unfaithful (2002) teenoor Richard Gere het Diane uiteindelik die lof gekry wat sy verdien. Deesdae word sy onmiddellik nader getrek vir rolle wat ’n ouer, sexy karakter verg wat stille krag en vasberadenheid moet uitstraal.
In Secretariat ondergaan jy ’n algehele gedaantewisseling van ’n huisvrou tot ’n sakevrou. Is jy al deur so ’n onverwagse transformasie?
Dit gebeur deurentyd met mense wat op ’n verhoog optree. Die akteurs kry hul energie van die gehoor. Dis lewendig, en daar is nie tyd vir ’n tweede probeerslag nie. Dis ’n wonderwerk om sonder groot probleme deur elke dag te kom. Dit versterk jou geloof in jouself en jou vermoëns.
Daar is ’n sleuteltoneel in die fliek waar jy in die perd se oë kyk. Vertel ons daarvan.
Perde doen wat hulle wil. Wat jy ook al in ’n toneel van ’n perd wil hê, moet sy idee wees. Dit hou jou nederig om aan ’n perd se genade en nukke uitgelewer te wees. As hy nie van jou hou nie, of nie lus is om iets te doen nie, sal dit nie daardie dag gebeur nie. Perde is baie sensitief, hulle voel jou vrees en emosies aan. Die eerste probeerslag van daardie spesifieke toneel het nie so goed afgeloop nie (lag). Die tweede keer was aan die einde van ’n lang dag. Die son was besig om te sak en almal was onder druk om die toneel geskiet te kry. Ek het besef ek moet my vrees, angs en onsekerheid los en eerder op die perd se energie fokus. Toe werk dit. Ek het in hom geglo toe niemand anders het nie. Ons almal het dit soms nodig – dat iemand in jou glo wanneer jy twyfel.
Jou karakter, Penny, was baie dapper en het verwagtinge wat mense van haar gehad het, oortref. Hoeveel van Penny sien jy in jouself?
Sy was vasgevang in daardie tyd toe daar ’n reuse- generasiegaping en vooroordele was. Ek kan my lewe geniet danksy sterk vroue soos sy wat baanbrekers was. Maar sy was glad nie verwaand daaroor nie en het haar gesin eerste gestel. Die media het etikette soos “huisvrou” om haar nek gehang asof dit ’n vloekwoord was. Sy het nie ’n agenda gehad nie. Dit het haar gepas dat mense haar op haar baadjie getakseer het en nie onthou het dat sy uit ’n familie van perdetelers kom nie.
Hoe voel jy oor vroueregte?
Ek is ’n voorstander daarvan, maar ek is nou nie juis ’n kenner nie. Ander mense maak daardie aannames. Ek dink dis belangrik om te wees wie jy is – en hopelik word dit makliker.
Was daar nog ’n rede waarom jy jou met die karakter kon vereenselwig?
Een van die redes waarom Penny die perd se afrigting oorgeneem het, was om haar pa se droom te bewaarheid. Dis vir my bittersoet dat haar pa nie haar sukses kon beleef nie. My pa het geweet dat ek moontlik ’n Oscar-benoeming vir Unfaithful sou kry, en hy het dit vreeslik persoonlik opgeneem. Dit was vir hom ’n groter oorwinning as vir my, en ’n bewys van ’n pa se liefde vir sy dogter, en hoe suiwer dit is. Hy het my sy saak gemaak, en ek wou hom nie teleurstel nie. En dit was hartseer toe hy nie daar was om die oomblik met my te deel nie.
Toe jy jonger was, het jy as deel van ’n eksperimentele teatergroep deur Europa gereis. Wat het dit vir jou beteken?
(lag) Ek dink dikwels daaraan. Ek terg altyd, of mense dink ek terg, as ek sê dat ek my toppunt as aktrise op tien bereik het. Dit was ’n wonderlike ondervinding om op so ’n jong ouderdom saam met ’n teatergeselskap te toer. Dit het vir my gevoel asof ek saam met die sirkus weggeloop het na eksotiese lande toe, maar ek het altyd veilig gevoel. Ek was deel van ’n familie wat ek bewonder het en wat ek gerespekteer het omdat hulle bereid was om te waag. Dit het lojaliteit by my gekweek en ek het geleer dis ’n spanpoging om in ’n toneelstuk te speel.
Hoekom dink jy is dit so moeilik om ware liefde te kry en hoe het jy dit reggekry?
Hierdie vraag het baie fasette, maar ek glo dat ons almal heeltyd energie uitstuur. Ons word aangetrek na goed en mense toe wat op dieselfde vlak as ons vibreer. Dis waarna ons almal soek en een van daardie dinge wat jy herken as jy dit gekry het. Niemand kan dit verduidelik nie, maar as jy dit gekry het, is dit soos ’n groot, gesonde bord kos (lag). Jy weet dit is goed vir jou. Dit maak die lewe die moeite werd en maak dit makliker om die beste mens te wees wat jy kan wees. Ek sê nie dit gebeur gelyktydig nie, maar die momentum neem toe as jy op die regte pad is. Dis ’n lewenslange begeerte, en solank as wat ons leef, wil ons daardie gevoel behou.
Jy is nou in jou veertigs, en lyk fantasties, maar is daar dalk iets wat jy gemis het, ’n droom wat jy wil bewaarheid?
Ek onthou ek het in my twintigerjare gedink ek moes my tienerjare meer geniet het. Toe ek dertig was, het ek weer so oor my twintigerjare gedink. Nou kyk ek na my dertigerjare en dink ek is regtig bly ek het hierdie tyd aan my dogter toegewy – ek het probeer om die wêreld aan haar bekend te stel op ’n manier wat sy sou verstaan. Ek was haar toergids. Nou weet ek skielik nie waarmee om my besig te hou nie. Ek het ’n verfkursus gedoen, ek was nog altyd mal daaroor. Ek het my motorhuis in ’n ateljee omskep, en dis iets waarmee ek sal aanhou. My dogter gaan binnekort die nes verlaat en ek wil nie hê dit moet my onkant betrap nie. Jy het ’n plan nodig. Voorheen het ek gesê ek is ’n ma of ’n akteur, maar later kan jy meer tyd bestee aan die selfsugtige aktiwiteite wat jou gelukkig maak. Mense noem dié dinge “stokperdjies”, maar ek dink dit klink effens banaal vir iets wat jou so gelukkig maak en vervuld laat voel.
Hoe hanteer jy alleenheid?
Ek het dit nodiger as die meeste mense. As ek nie genoeg tyd alleen deurbring nie, kan ek nogal knorrig raak. Ek het dit eers later in my lewe agtergekom. Ek het altyd gedink daar is iets fout met my. Nou aanvaar ek dit net. As ek vir myself sorg en myself genoeg alleentyd gee, maak dit al die ander dinge in die lewe makliker.
Wat sou jy gedoen het as jy enigiets in die wêreld kon vermag?
Sjoe, ek sal aan ’n hele paar selfsugtige goed kan dink wat ek net vir myself sou wou doen, maar die standaardantwoord vir ander sal wees om genoeg water, behuising, kos en veiligheid vir vroue en kinders wêreldwyd te verseker.
Vertaal deur Hannelie Diedericks