Is diabetes dalk jou voorland? deur Salomé Delport. Hooffoto: pexels
Jy ís ’n bietjie oorgewig. Maar darem nie te veel nie. En toe jy by die dokter kom oor heel iets anders, wil hy jou middel meet. Jou middel? Ja, sê hy. Hy maak so en die omtrek is meer as 80 cm. Jy weet, sou jy vir hom vooraf kon gesê het. Jy pas lankal nie meer in ’n nommer tien (of ’n twaalf of ’n veertien) nie. Waarom pla dit hóm? Hy frons asof hy dink almal behalwe jy weet waaroor dit gaan. Hy verduidelik met passie: “Diabetes, mevrou, diabetes. Vroue
met ’n middel van meer as 80 cm – dis ’n outydse 28 duim – en mans met ’n middel van meer as 94 cm gáán vroeër of later diabetes ontwikkel.”
Lees hier: Die verskil tussen tipe 1- en tipe 2-diabetes
“Maar mense dink mos diabetes is eintlik oukei en diabete kan redelik normaal voortgaan. Maar diabetes maak mense dood. Hul niere gee in. Dialise kos ’n fortuin, dialisemasjiene is skaars en die Staat help nie. Hul oë gee in, en hulle kan nie meer lees of werk nie. Hul harte gee in, en hulle gaan dood. Hul are verstop en hulle kry beroerte. Hulle kry sere op hul voete en bene wat nie genees nie en hul bene word geamputeer. As hul diabetes buite beheer raak, kan hulle in ’n koma gaan en mag hulle nie meer motor bestuur nie. Jy, mevrou, moet snags wakker lê en jou behoorlik bekommer oor diabetes tot jy daardie ekstra kilogramme afgeskud het. En moenie dink diabetes is ’n ‘oumenskwaal’ wat jou eers op jou oudag gaan tref nie. Die diabete wat by my praktyk instap, is in hul dertiger en
veertigerjare.”
Toe skrik jy. Jy hoor die WGO sien diabetes as ’n wêreldwye ramp-aan-die-gebeur, en waarsku dat baie van vandag se bejaardes hul oorgewig volwasse kinders gaan begrawe. Die jongste sterftestatistieke vir Suid-Afrika wys dis presies wat by ons gebeur. In vergelyking met 1990 het daar in 2004 agttien persent meer vroue aan diabetes gesterf, met die grootste toename onder jong vroue (tussen 20 en 32) en vroue in hul middeljare (45 – 64). By mans het die diabetessterftes met 35% gestyg. Ons het reeds meer as 1,5 miljoen diabete, benewens ’n geskatte verdere vier
miljoen prediabete wat in die vroeë, simptoomlose fase van diabetes is. Elkeen van ons wat oorgewig en onfiks is kán een van die statistieke raak.
Waarom is oorgewig die skakel?
Die liggaam gebruik suiker (ons noem dit suiker, maar dit is eintlik koolhidrate, en spesifiek glukose wat na glikogeen omgeskakel word) as sy basiese brandstof. Insulien, die hormoon wat in die pankreas gemaak word, neem die suiker na jou selle.
Dis hier waar vet veral om die middel inkom: vetweefsel is nie maar net onaktief nie. Dit skei ’n hele aantal hormone af, wat onder meer die werking van insulien onderdruk. Dus, al is daar oorgenoeg suiker in jou bloed, kan die insulien dit nie na jou liggaamselle vervoer nie. Daarom kry hulle nie die nodige brandstof nie en “verhonger” jou selle te midde van ’n oorvloed suiker (energie) in jou bloed. Jou liggaam spring in en brand jou vetstore om energie in die hande te kry. Daarom verloor jy baie gewig. Jou liggaam moet ook van die oormaat suiker ontslae raak om skade te voorkom, en doen dit met oormatige urinering.
Dis waar dat diabete met die regte sorg lank betreklik gesond bly, maar enige diabeet sal jou vertel dis nie ’n piekniek nie. Dit kos geld, met minder oor vir al die lekker dinge van die lewe juis in die stadium dat jy tyd daarvoor begin kry.
En dit perk jou vryheid in, want skielik raak koek en tee saam met ’n vriendin, feestelike etes, werkgesellighede, ’n wynproe en selfs heerlike somervrugte, soos druiwe en waatlemoen kwessies. Jy kan ook nie maar net gaan gim of stap of reis sonder om vir jou insulienvlakke te beplan nie.
Die tragedie is dat diabetes ’n leefstylsiekte is, met ander woorde een wat vir die meeste van ons voorkombaar is. ’n Groot Finse studie het bewys dat meer as die helfte van prediabete “genees” as hulle hul leefstyl aanpas – in die praktyk gewig verloor, verstandig eet en 150 minute per week aktief oefen.
Ons het kenners gevra om ons te help om ’n vraelys op te stel om ons kennis van dié siekte te verbreed. Kyk hoe jy vaar. As jy vol punte kry, weet jy genoeg om jouself te vrywaar – jy moet net begin dóén.
Toets jouself: Hoeveel weet jy van diabetes?
- Daar is twee soorte diabetes. Waar/Vals
- Ek’s net ’n bietjie oorgewig. Dus is my risiko klein. Waar/Vals
- ’n Mens kom gou agter as jy diabetes het. Waar/Vals
- Mense wat suiker uitsny, kry nie diabetes nie Waar/Vals
- Vir diabete is blindheid byna onvermydelik Waar/Vals
- Diabete kan nie wyn drink of soetgoed eet nie Waar/Vals
- Stap is oorgenoeg oefening. Waar/Vals
- ’n Glas melk kan ’n diabeet se lewe red Waar/Vals
- Diabete mag nie motor bestuur nie Waar/Vals
- Eers op medisyne, altyd op medisyne. Waar/Vals
Antwoorde:
1 Daar is twee soorte diabetes: Vals.
Daar is eintlik is vier soorte. Die een waaroor jy jou moet bekommer, is tipe 2-diabetes, want nege uit elke tien diabete ly hieraan. Die ander soorte is tipe 1-diabetes, wat meestal by jonger mense ontwikkel; swangerskapdiabetes; en die seldsame diabetes insipidus. By tipe 1-diabete gaan die pankreasselle wat insulien moet vervaardig tot niet – niemand weet waarom nie. (’n Interessantheid: die asem van lyers in hierdie fase ruik na naellakverwyderaar; dis ook ’n waarskuwingsteken dat iets skort.) Net een uit elke tien diabete ly aan hierdie vorm en die meeste ontwikkel dit as kinders of jongmense. Hulle het permanent insulien nodig om hul probleem te herstel.
Tipe 2-diabete skei oorgenoeg insulien af maar die liggaam raak onsensitief en “lees” nie meer dat insulien afgeskei is nie. By baie kan die regte dieet en oefening die liggaam se insuliensensitiwiteit herstel, terwyl ander wel insulien benodig. Die skaarsste een, diabetes insipidus, het niks met bloedsuiker of jou dieet te doen nie en ontwikkel as die liggaam te min antidiuretiese hormoon, die hormoon wat urienafskeiding reguleer, vorm. Jou liggaam het as ’t ware nie “remme” nie en dus urineer jy onophoudelik, die rede waarom lyers tot tien liter water per dag drink. Lyers kry nie insulien nie, maar medisyne wat die hormoonvlak herstel.
2 Ek’s net ’n bietjie oorgewig. Dus is my risiko klein: Vals.
Oorgewig, veral om jou middel, is die grootste enkel risiko vir tipe 2- diabetes. Jou risiko is nog groter as jy ook verhoogde cholesterol- en bloedlipiedvlakke
het.
Die ander groot risikofaktor is ’n familiegeskiedenis. As jy ’n broer, suster of ouer met diabetes het, is jou kans baie goed om ook diabetes te ontwikkel.
Skisofrene, vroue wat aan polisistiese ovariale sindroom ly, vroue wie se babas by geboorte meer as vier kilo’s weeg, en mense met verhoogde cholesterol- en lipiedvlakke ontwikkel ook makliker diabetes.
Jy kan die gevaarlikste risikofaktor – jou gewig – beheer en werklik “besluit” of jy diabetes gaan systap. Daarom is dit sinvol om veral dierevette te verminder, wit stysel vir bruin stysel te verruil, suiker uit te sny en gereeld te oefen.
3 ’n Mens kom gou agter as jy diabetes het: Vals.
Bitter min mense besef dat hulle reeds diabete is. Hulle voel miskien moeg, kla van duiseligheid, ’n dooie gevoel,
of die gevoel dat jou hande of voete slaap, seerplekkies wat nie genees nie en dowwe sig. Baie let dalk op (maar nie altyd nie) dat hulle gereelder urineer en ooreenstemmend meer dors is. Dorstigheid kan wel normaal wees, veral by aktiewe mense in die somer.
’n Goeie riglyn is om na te dink oor wat snags gebeur. As jy dan ook baie dors is en ’n hele paar keer ’n draaitjie moet loop, is dit tyd dat jy vir diabetes getoets word. Dit word meestal in die spreekkamer opgespoor wanneer die dokter in ’n urientoets hoë suikervlakke opspoor, wat dan met ’n bevestigende vastende plasmaglukosetoets opgevolg word. Jou bloedsuiker kan normaal wees, of jy kan prediabeties wees, met aangetaste glukosetoleransie (met ander woorde jy kan net ’n beperkte hoeveelheid suiker hanteer) of jy kan reeds volle diabetes hê.
4 Mense wat suiker uitsny, kry nie diabetes nie: Dis feitlik altyd waar.
As jy die resep soek om die voorkombare tipe 2-diabetes te ontwikkel, moet jy van die môre tot die aand weglê aan verfynde stysel soos suiker, soetgoed, sjokolade, gaskoeldranke, vrugtesap, versoete melkdrankies, soet jogurt, koek, wit beskuit, witbrood, vrugtesap, soet kitspappe en kitskos soos pasteitjies, samoesas, hamburgers, aartappelskyfies,
pizza en pastas.
Dis nie nodig om al die lekkernye uit te sny nie. Maar hou hulle vir bederfgoedjies waarvan jy nie meer as een per dag eet nie. As jy diabetes wil vryspring, sal jy liewer bly by tuisbereide kos met min vet en suiker en baie vesel. So is “outydse” hawermout vir ontbyt met onversoete jogurt, ’n vars vrug en ’n eier ’n baie beter keuse as versuikerde kitspap (al is dit vitamienverryk), vrugtesap, spek en ’n broodrolletjie.
5 Vir diabete is blindheid byna onvermydelik:
Dis waar dat diabete ’n groot risiko loop om swaksiende of heeltemal blind te word en/of gloukoom en katarakte te
ontwikkel. Maar met die jongste laserchirurgiese tegnieke is sigprobleme nie ’n gegewe nie. Mits diabete jaarliks vir ’n oogondersoek gaan, kan hulle lank goed genoeg sien om te kan lees.
6 Diabete kan nie wyn drink of soetgoed eet nie: Meestal vals.
Deesdae is min dinge heeltemal verbode vir diabete. Drankies word beperk maar nie uitgesny nie. Diabete kan een drankie per dag drink, saam met ’n onbeperkte hoeveelheid water of vonkelwater en kunsmatig versoete water/koeldrank.
Hulle kán ook heerlik saameet. Die klem val eerder op kosse met ’n lae GI-waarde as op die uitsny van alle soetgoed
en wit stysel. Dis ook belangrik dat diabete ses klein maaltye eerder as twee of drie grotes eet.
’n Dieetkundige se advies wat jou al die fyner kunsies wys om die aanpassing na ’n diabetiese leefstyl te vergemaklik, is elke sent werd. Diabete behoort ook in te skakel by ’n diabeteskliniek (wat baie goedkoop by talle apteke aangebied word) waar ’n opgeleide verpleegsuster hulle maandeliks monitor.
Lees ook: Slim raad vir drankies vir diabete
7 Stap is oorgenoeg oefening: Dis waar – voorwaardelik.
Jy hoef nie te oefen asof jy vir die Ystervrou-kompetisie wil inskryf nie, maar ’n statige wandelinkie om die blok is ook nie genoeg nie. Elkeen van ons – diabeet, prediabeet of doodgewoon gesond – moet mik vir ’n oefensessie van dertig minute per dag. Als wat jou asem laat jaag, jou hartklop versnel en jou soepel hou, tel – van ’n flinke stap tot
die stoep fluks vee, touspring of dans.
8 ’n Glas melk kan ’n diabeet se lewe red: Dis waar, maar …
… daar is beter maniere om dit te hanteer as ’n diabeet skielik begin sweet, bewe, hoofpyn het en verward is of deurmekaar praat. Suiker in een of ander vorm kan die bloedsuikervlakke gou herstel. As die diabeet nog kan kou en
sluk, sal ’n teelepel suiker, ’n suiglekker, ’n koppie soet tee of vrugtesap sy bloedsuikervlak blitsig herstel. As hy nie meer kan nie, werk dit om ’n bietjie heuning, gouestroop, konfyt of kondensmelk met ’n teelepel in sy mond te sit.
Diabete wat aan sport deelneem, moet ook tussendeur ’n sportdrankie of suiglekkers kou om hul bloedsuiker stabiel te hou.
9 Diabete mag nie motor bestuur nie: Vals.
Diabete kan alles bly doen, mits hulle hul bloedsuikervlakke stabiel hou. Maar as ’n diabeet sukkel om sy bloedsuiker
te beheer, loop hy ’n werklike risiko om in ’n koma te gaan. Sy dokter sal hom gevolglik verbied om motor te bestuur.
10 Eers op medisyne, altyd op medisyne: Vals.
Net mense met tipe 1-diabetes moet altyd op insulien bly. Meer as die helfte van tipe 2-diabete kan hul medisyne staak deur net reg te eet en elke dag te oefen. Maar hul dokter kan ander medisyne nodig ag, soos middels wat
cholesterol verlaag of beroerte voorkom.