Devi Sankaree Govender groet Carte Blanche saamgestel deur Catherine Schenck. Hooffoto: Nick Boulton / Gallo images
Devi Sankaree Govender groet Carte Blanche
Ons ken vir dinamiet-Devi Sankaree Govender as die vreeslose ondersoekende joernalis van Carte Blanche. Sy het sedert 2002 hierdie program aangebied. Maar nou groet sy dié program vir nuwe geleenthede. Haar laaste verskyning op Carte Blanche sal op 26 Januarie 2020 plaasvind. M-Net het genoem dat hulle binnekort haar plaasvervanger sal bekendstel.
Loer hier na Ilse Salzwedel se onderhoud met Devi Sankaree Govender vir ons Februarie 2017-uitgawe om meer oor dié veerkragtige, vreeslose vrou te leer.
Ek moes myself kies
* Hierdie artikel het oorspronklik in die Februarie 2017-uitgawe van rooi rose verskyn. Deur Ilse Salzwedel
Dit was ’n ver pad van haar kinderjare op ’n Natalse plaas tot by die glans en bekendheid wat haar werk as televisiejoernalis haar besorg het, maar Devi Sankaree Govender sien haarself net as ’n ma met ’n baie interessante werk.
“Ek kan nie vir jou sê hoeveel mense het vir my gesê ek gaan in hierdie bedryf nêrens kom nie. Nie net is ek ’n vrou nie, maar boonop ’n Indiërvrou én een met ’n kenmerkende Durbanse Indiër-aksent.”
Aan die woord is Devi Sankaree Govender, vreeslose (én gevreesde) ondersoekende joernalis by Carte Blanche.
Die fyn vroutjie is glad nie soos haar televisie-persona nie. Weg is die streng, ontoeganklike en intimiderende ysprinses. Oorkant my sit ’n warm, spontane en vrolike vrou wat oor haar gesin, haar onsekerhede en haar skuldgevoelens as werkende ma gesels. Ons gesprek wip tussen al die dilemmas van werkende ma’s, haar gelukkige kinderjare, haar loopbaan en (natuurlik) aktuele sake en landspolitiek. Dis duidelik dat sy bitter ernstig is oor haar gesin en loopbaan en alles wat daarmee saamgaan, maar dis heerlik verfrissend om te sien dat sy haarself glad nie te ernstig opneem nie.
Toe die ouerige vrou by die tafel langsaan haar oog probeer vang, maak sy spontaan verskoning: “Oe, jammer, praat ek al weer te hard? Mense sê altyd ek is te luidrugtig!”
En, bieg sy, haar ouers sê sy was van kleins af enetjie wat teruggepraat het, dinge bevraagteken het en nie sommer nee vir ’n antwoord aanvaar het nie. Sy is die oudste van twee dogters. Haar pa is ’n optometris en haar ma ’n tuisteskepper. Die gesin het op haar oupa se plaas aan die Natalse Suidkus gewoon.
“Ons ouers was hul tyd ver vooruit. Hulle het aangedring op ’n goeie opvoeding, maar het ons nie in tradisionele rigtings gedwing nie. My suster is ’n prokureur, en ek het ’n B.A.-graad in drama en ’n hoër onderwysdiploma. Ek het twee jaar lank skoolgehou, en het onder meer Afrikaans gegee. Kan jy glo?”
Sy verklap dat sy ’n bietjie van ’n tomboy was, maar dié prentjie wil net nie pas by die goedversorgde, keurig gegrimeerde vrou oorkant my nie.
“Onthou, ek moet nou te alle tye goed lyk. Jy kan nie net gou winkel toe gaan in jou sweetpak nie. Jy moet sorg dat jou hare skoon is, dat jy mooi lyk.”
Dít, glo sy, is deel van die respek wat ’n bekende aan sy aanhangers teruggee. Ja, sê sy laggend, inkopies neem nou wel deesdae langer, en haar tienerseun is al ’n ervare hanteerder van vreemde selfone, want baie mense wil ’n foto saam met haar neem. En as daardie foto op sosiale media beland, móét ’n mens goed lyk.
Maar sy kla allermins. “Die mense is dan almal so gááf met my! Hoe kan ek anders as om ook gaaf te wees?” Dis immers die aanhangers wat sorg dat Carte Blanche al 28 jaar lank een van die gewildste programme op M-Net is, en wat indirek sorg dat sy ’n werk het. “En as ’n bekende vir jou vertel die aandag en bewondering is nie lekker nie, praat hulle nonsens. Natuurlik is dit lekker!”
Tog bly sy nederig oor haar sukses. “Jy moet onthou, ek is net deel van die span.” Sy bewonder die navorsers, kameraspan, vervaardigers en ander mense wat agter die skerms sorg dat sy haar werk voor die kamera goed kan doen.
Behalwe haar televisiewerk is sy ook ’n gewilde motiveringspreker en seremoniemeester. Hoe hou sy al daardie balle in die lug sonder om haar gesin af te skeep?
Sy erken dat daar tye was wat sy wou weghardloop van alles en almal wat haar nodig het, nes miljoene ander vroue ook daagliks voel. ’n Jaar gelede was sy op die rand van uitbranding. “Dis mos maar wat ons vroue doen. Ons offer onsself op om ander te red. Maar toe besluit ek om myself te kies.”
Om dít te kan doen, moes sy haar lewe deeglik bekyk.
“Ek moes kyk na al die balle wat ek in die lug probeer hou, en besluit of almal werklik nodig is. Soms vergeet ’n mens hoekom jy daardie spesifieke verantwoordelikhede óók nog op jou geneem het. Dalk doen jy dit net omdat jy voel dis wat ma’s behoort te doen.”
Sy het ’n broertjie dood aan die “ek-is-so-vreeslik-besig” sindroom wat ’n mens oral om jou sien. “’n Mens is nie veronderstel om so besig te wees nie! Dan is iets nie reg in jou lewe nie, en behoort dit eintlik ’n waarskuwingsteken te wees!”
Háár ernstige waarskuwing was toe haar bloeddruk drie en ’n half jaar gelede onverklaarbaar gevaarlik hoog opgeskiet het. Dit was boonop ongewoon vir iemand wat haar lewe lank met lae bloeddruk gesukkel het.
“Ek het ’n hartspesialis gaan sien, en hy het opgemerk my hartspier het verdik, iets wat hy aan oormatige stres toegeskryf het. Ek het soos ’n mal mens gewerk en wou ook vir my gesin alles wees. Hy het gewaarsku dat ek dringende leefstylaanpassings moes maak as ek nie met ’n chroniese hoë bloeddrukprobleem wou sit nie.”
Dis toe dat sy besef het sy moet die toksiese goed uit haar lewe sny. “My werk het nie die druk veroorsaak nie, maar al die ander dinge daarrondom omdat ek bang was ek skeep my gesin af. Ek moes dinge eenvoudig beter bestuur en organiseer.”
Lees ook: Hou nou op om te probeer om alles te doen.
Van die aanpassings wat sy gemaak het, was om ’n au pair te huur om haar twee kinders elke dag twee uur lank met hul skoolwerk te help. “Oe, dit was vir my ’n moeilike besluit! Verbeel jou, ’n oudonderwyseres huur vir haar kinders ’n au pair!” sê sy laggend. “Maar ek kon sien ons verhouding gaan agteruit weens al die druk.”
Wanneer sy nou van die werk af kom, is daar nie meer spanning oor skoolwerk nie en kan sy net met haar kinders kuier.
Die besluit om hulp te kry, het haar laat besef sy hoef nie Superwoman te wees nie. “Geen vrou hoef nie! Dis ’n ondankbare werk! Vra hulp, en aanvaar hulp.”
Sy erken haar ma se voorbeeld het waarskynlik ’n rol in haar idee van vrouwees gespeel. “Sy het alles vir haar gesin gedoen. In my kop moes ek my ma én Devi wees. Maar ek moes myself herinner dat my ma nie gewerk het nie. Ek het ’n klomp druk op myself gesit, en daarmee saam het ’n klomp skuldgevoelens gekom. Nou weier ek om skuldig te voel.”
Devi moes ook leer dat sy nie oor alles in haar lewe beheer het nie. “Ek kan net dit beheer waaroor ek beheer het. My werk kan meebring dat dinge binne minute verander, sou daar skielik ’n storie opduik. Ek moet die dinge waaroor ek beheer het, deeglik organiseer.”
Een van haar geheime is ’n rooster in die kombuis waarop elke kind se skedule vir buitemuurse bedrywighede, skooltake en verpligtinge duidelik aangedui word.
“Aan die begin van die jaar vul ek alles daarop in wat ek kan, maar wanneer dinge bykom, moet hulle dit self bywerk. Ek is nie hul persoonlike assistent nie. Ek het dan nie eens ’n persoonlike assistent nie!” Sy glo ’n ouer doen ’n kind ’n onreg aan deur hom nie verantwoordelikheid te laat neem vir sekere dinge nie. “Anders ontmagtig ek hulle mos eerder as wat ek hulle bemagtig.”
Sy vertel met trots dat haar dogter ’n uitstekende gholfspeler is, en dit verg ekstra beplanning as dit by hul dagboek kom. “Sy speel met ’n voorgee van twee, en het ’n paar plaaslike en een internasionale titel op haar kerfstok.”
Devi het ook ander leefstylaanpassings gemaak. “Ek eet nou gesonder, en sorg dat ek middagete eet, iets waarvoor ek nooit tyd gemaak het nie.” Die afgelope paar maande gaan sy ook drie keer per week ’n uur lank gimnasium toe. “Ek het altyd na ander vroue gekyk en gedink dis so onregverdig dat hulle tyd het om te gym en ek nie.” Nou doen sy dit vir haarself. “En op my eie manier. Ek wil nie ’n persoonlike afrigter hê nie, en wil ook nie hê my man moet vir my vertel wat ek moet doen nie.
“Ek is nogal hardkoppig,” erken sy laggend. “Sodra jy vir my sê hoe ek iets moet doen, sal ek dit juis nie doen nie.”
Devi het ’n verrassende ander wenk wat help dat sy haar beste by die werk én die huis kan gee.
“Ek sorg dat ek saans agtuur in die bed is, en halfnege skakel ek my lig af. Ek gebruik daardie tyd om dalk vinnig iets op televisie te kyk, of om te lees. Maar agt uur slaap is ’n moet. Dit verseker dat my verstand helder bly.”
Lees ook: Hoe om uitbranding en angstigheid te hanteer
Sy probeer ook om smiddae vyfuur op te hou werk (sy het ’n kantoor by die huis). “Maar soms is daar natuurlik ’n dringende ding wat moet klaarkom.”
Soggens word sy vanself vyfuur wakker. “Ek gebruik die eerste driekwartier van my dag om op die hoogte van die dag se nuus te kom.” Daarna staan sy op en sorg dat die kinders by die skool kom.
“Ek pak steeds elke dag hul kosblikke. Ek glo gesonde pousekos is baie belangrik.”
Haar man, ’n ingenieur, duik telkens in die gesprek op, maar sy verkies om besonderhede oor haar gesin privaat te hou. Sy beskryf hom wel as ’n gemaklike mens. “Hy is glad nie veeleisend nie. Mnr. Easy Peasy. En hy kla nooit as mense hom Mnr. Govender noem nie. En eintlik is sy van Moodley!” (Govender is haar nooiensvan wat sy om professionele redes behou het. Sy was reeds voor hul troue ’n bekende radio-omroeper by Lotus FM, en het later ook ’n weeklikse rubriek in die Sunday Times gehad.)
Sy en mnr. Moodley klink na ’n gedugte kombinasie. Hulle het kort ná hul troue saam ingeskryf vir hul MBA-grade én dit voltooi, ondanks die uitdagings van hul onderskeie loopbane en ouerskap.
“Ons wou kinders hê, maar het nie gedink ek sal binne maande ná ons troue swanger raak nie.”
Dis duidelik dat haar kinders haar hart se punt is. Sy beskryf hul twaalfjarige seun as slim, gaaf en liefdevol. “Hy is my side-kick terwyl sy pa en suster gholf speel.”
En al is sy so gek daarna om skurke aan die pen te laat ry, is hierdie drie die gom wat haar lewe bymekaarhou. “My man sê graag ek is die gom wat húlle bymekaarhou, maar eintlik is dit andersom.”