Op my vroegoggendstappies in die ou, karaktervolle voorstad van Johannesburg waar ek woon, loop ek verby ‘n hele rits deure. Daar is deurleefde voordeure wat uitloop op stoepe met gerusstellend stewige pilare; goedversorgde deure met loodglaspanele, gewoonlik neffens knus kuierbanke en lowergroen potplante; deure wat smeek om ‘n stewige skoot TLC; en die vaartbelynde deure van huise wat in die smaak van enige huiseienaar met minimalistiese neigings sal val.
Omdat my woonbuurt hoofsaaklik uit klein erfies bestaan, is die meeste huise teenaan die sypaadjie gebou. Baie van hulle kruip egter weg agter hoë mure, met hout- of smeeysterdeure wat jou toegang tot die heiligdom verleen. Dis nou teoreties gesproke. Gewoonlik is die deure toe. En dis hier waar my verbeelding saam met my stapskoene aan die gang kom.
Ek wonder watter lief en leed daagliks agter elkeen van hierdie deure afspeel. Waar huise is, is daar mense; en waar mense is, word daar gelag, geswets, bemin, baklei, geskep, gebreek – die moontlikhede is so wyd soos my verbeelding. In die verbystap kry ek die geur van uie wat braai, hoor ek ‘n kind roep, of swaai die garagedeur oop sodat ek ‘n oomblik lank die huisbewoners deur die vensters van ‘n motor kan sien. Maar dit wat daarbinne gebeur, bly verborge.
Soms wens ek ek ken die towerwoorde wat die fasade van ‘n fassinerende huis kan laat verdwyn en my ‘n kykie kan gee op wat die inwoners méns maak. Ja, ek weet – mense het ‘n reg op privaatheid. Maar nes ek my op straat kan verwonder aan die manier waarop ‘n vreemdeling ‘n kleintjie op die heup tel of oor iets skaterlag, sou ‘n glimpsie van gewone, alledaagse menswees my verbintenis met ander soos ek bevestig.
Nou ken ek egter nie die password nie. Al wat oorbly, is om Kersvader eerskomende Kersfees voor te keer en die kuns af te vra; hy weet immers hoe om ongesiens oor mure en in huise te kom. Waar daar ‘n skoorsteen is, natuurlik.
Óf ek moet ‘n uitsonderlike talent ontwikkel om deur sleutelgate te loer …