Gerard, of Gerry soos hy homself voorstel, het ’n onwettige hoeveelheid sjarme, ’n stoute streep en ’n verrassend kwetsbare kant wat vroue week maak sodat hulle hom wil “red”. Maar hy hoef nie gered te word nie. Hy is slim en weet presies wat hy doen. Ná sy rol in Machine Gun Preacher, wat in Suid-Afrika verfilm is, wys Gerard weer dat daar meer in hom steek as wat op die oppervlak sigbaar is. Op 42 het hy die punt in sy loopbaan bereik waar hy op ernstiger flieks fokus en het hy hom as ’n uitstekende akteur bewys. Tussendeur hou hy sy aanhangers gelukkig met aksieflieks en romantiese komedies (Playing the Field saam met Jessica Biel). En selfs dramas, soos Coriolanus waarin hy teenoor Ralph Fiennes speel. Sy talent as ernstige akteur word dikwels onderskat. Hy word die karakters wat hy speel en leef selfs soos hulle voor hy aan die fliek begin werk. Die skinderkoerante het uitbasein: Scottish hunk looking porky! toe hy gewig moes aansit vir Machine Gun Preacher, of Has Gerard taken the weight loss too far? toe hy hom voorberei het vir sy komende rol as ’n branderplankryer in Mavericks. Hy gaan onversteurd voort om sy lewe te lei en steur hom nie aan wat die media sê nie, tensy dit gaan oor iets gaan wat vir hom werklik belangrik is.
Gerard droom van ‘n gesin. Hy is net te besig met sy loopbaan om daarby uit te kom. Intussen word hy gereeld saam met van Hollywood se mooiste vroue gesien. En hoewel hy dikwels deurloop oor sy klaarblyklike onverskillige liefdeslewe, vergewe ’n mens hom maklik. ’n Man wat soos hy lyk, kan maar uitgaan met soveel vroue as wat hy wil, met die hoop dat een van hulle die “regte een” sal wees. Hy kom uit ’n gebroke gesin en ’n mens kan verstaan hoekom dié Manchester United-entoesias dalk huiwerig is om hom aan een vrou te verbind. (Sy ouers is geskei toe hy twee was, hulle het op verskillende vastelande gebly en sy pa was vir 14 jaar nie deel van sy lewe nie.) Maar dis duidelik dat hy hom sal toewy aan ’n verhouding wanneer hy gereed is, en sy losloper-dae sal geskiedenis wees.
Wanneer Gerard nie flieks maak nie, reis hy graag en hy hou van aksiebelaaide stokperdjies soos staptoere na afgeleë plekke in Indië, om gletsers in Ysland uit te klim of om ’n helikopter so na aan ’n waterval te vlieg dat die lemme nat word. Hy en sy bestuurder het ook ’n suksesvolle produksiemaatskappy begin. Dié oud-prokureur gebruik sy analitiese vaardighede in die pre-ontwikkelingsfase van ’n fliek wanneer hy ten nouste saam met die regisseurs en skrywers werk. Wanneer die titel “uitvoerende vervaardiger” agter sy naam staan, is dit meer as ’n leë titel. In Machine Gun Preacher, wat op ware gebeure gegrond is, speel Gerard die rol van Sam Childers, ’n oud-tronkvoël en -dwelmverslaafde wat nou ’n prediker is en ’n kinderhuis in Soedan gebou het. Hy neem die wapen op teen rebellemagte om die kinderhuis te beskerm. Hy red ook kindersol-date en samel geld in om vir hulle ’n dak oor hul koppe, klere en kos te gee. Sam het baie foute en dis nie maklik om van hom te hou nie, maar tog is jy aan sy kant, veral danksy Gerard se toneelspel. Die Soedan-tonele is in Suid-Afrika verfilm. Toe ons mekaar in Toronto ontmoet vir die onderhoud, lyk die Skot ontspanne, maar ernstig. Dis duidelik dat die fliek hom na donker plekke in sy psige geneem het waarvan hy dalk nog nie heeltemal ontslae kon raak nie.
Machine Gun Preacher was ’n baie intense fliek. Watter uitwerking het dit op jou gehad?
Sam se karakter het my laat besef hoeveel krag elke mens in hom het en wat ons alles kan bereik as ons daarop fokus. Dit inspireer ’n mens om meer met jou lewe te doen. Die donkerder kant van die rol het my op ’n minder positiewe manier beïnvloed. Dit het my gevang dat so iets kan gebeur. Hoe kan mense dit aan ander mense doen? Dis ’n storie van ’n man wat hoop verloor. Hy veg teen die wêreld, sy omgewing en kragte wat baie groter as hy is. Die wreedhede wat hy sien, die tekort aan geld, sy huislike omstandighede en die druk van sy familie takel hom bietjie vir bietjie af totdat hy net nie meer kon nie en alle hoop verloor. Terwyl ons die fliek gemaak het, het ek na baie ontstellende en wrede beeldmateriaal gekyk sodat ek in daardie psigologiese ruimte kon bly. Ek dink ek is ’n ander man ná hierdie fliek, in sekere opsigte beter, maar ook effens depressiewer omdat ek gesien het waartoe mense in staat is. Ek het dae lank gekyk na foto’s van massagrafte, mense wie se ledemate afgekap was. Maar ons het dit nie in die fliek gewys nie, ons het die man se reis gevolg. Maar dit het my na donker plekke geneem.
Wat dink jy nou van geloof en veroordeling?
Toe ek die toespraak in die kerk moes maak, het ek effens geïmproviseer wat die toneel lewe gegee het. Die skrywer en ander mense op stel het gesê hulle kon God se teenwoordigheid voel. Dit was ’n vreemde, baie kragtige oomblik. Daar het iets in daardie vertrek gebeur en dit het my onkant betrap. Tot in daardie stadium was ek net ’n akteur wat ’n rol vertolk het, maar hier en in ander tonele het dinge vanself vlerke gekry en meer as toneelspel geword. Ek verstaan nou hoekom mense tot meer in staat is wanneer hulle glo dat hulle God aan hul kant het.
Toe jou pa ná 14 jaar weer in jou lewe verskyn, moes dit jou seker beïnvloed het?
My pa was altyd die helfte van my. Ek het altyd gewonder waar hy was, en ek kon dit nie glo toe hy voor my staan nie. Toe ek 18 was, het ek op ’n dag verby ’n huis gestap en toe kom ’n seuntjie van so vier na my toe en vra: “Is jy my pappa?” Dit het my aan die hart gegryp omdat ek presies geweet het hoe hy voel. Ek het my pa al teen daardie tyd ontmoet, maar ek het geweet hoe dit voel om nie te weet nie.
Het sukses jou verander?
Ja, sonder twyfel. Aanvanklik het dit my nie geraak nie, maar mense tree later heeltemal anders teenoor jou op. Ek het probeer om so normaal moontlik te leef, om alles te doen wat ek voorheen gedoen het, maar wanneer jy uit ’n winkelsentrum stap en vyf fotograwe sak op jou toe, besef jy jy kan nie meer jou gewone lewe leef nie. Jy leer om privaat en versigtiger te wees. Jy voel soms of jy in ’n gemeen-skap vol spioene leef, want voer jy ’n doodgewone gesprek met iemand, is dit vyf minute later op die Internet. Die stories wat oor ’n mens versin word, maak jou op jou hoede. Maar aan die ander kant is dit ’n droom wat bewaarheid is.
Wat is die grootste wanopvatting wat mense van jou het?
Ek weet nie. Ek probeer om my nie te steur aan wat mense van my sê nie. Ek voel tog ek is nie die playboy wat mense dink ek is nie. Ek was die afgelope maand nog nie eens op ’n date nie. Wanneer jy eers ’n sekere beeld het, skud jy dit baie moeilik af.
Wat van jouself sou jy wou verander?
My denkpatrone. Ek sou graag meer positiewe gedagtes oor myself en die wêreld wou hê, want dis soms makliker om negatief te wees. Ek beny mense wat ligvoets deur die lewe loop.
Wat is jou grootste vrees?
Waarskynlik ekself.
Hoekom?
Ek is baie onvoorspelbaar. Ek het hard gewerk om te kom waar ek is, maar ek het myself ook al na ’n paar donker plekke geneem. Dan wonder ek wat is volgende? Wie weet wat volgende gaan gebeur? Op ’n sekere vlak het ek ’n sterk verbinding met my siel en wie ek is, maar op ’n ander vlak nie. Dis vreemd.
Hoe leef jy jou lewe?
Ek streef daarna om die lewe ten volle te leef; om ’n sukses daarvan te maak. Ek dink ek ontbloot myself soms te veel in onderhoude, maar ek is nie bang om te sê wat my vrese is nie. Ja, ek is bang vir baie dinge, maar net soveel goed inspireer my. Daar is tye wanneer ek voel dat ek goed werk en goed leef; dat ek ’n soort spirituele basis het wat sorg dat ek reg en goed leef.
Met watter soort mense omring jy jou graag?
Noudat ek ouer is, hou ek daarvan om my met goeie, warm mense te omring. Ek het nie tyd of lus om met moeilikheidmakers, mense wat jou veroordeel of iets van jou wil hê, rond te hang nie. Dit is so lekker om saam met iemand te wees wat jou ken en vir jou lief is, of selfs wanneer jy iemand ontmoet wat jy weet die lewe waardeer. Ek wil mense om my hê wat my verstaan.
Jou karakter Sam se van is Childers en hy was besorg oor kinders. Wat sou jou naam gewees het as dit jou moes weergee?
Ek hou van die naam Leonidas (sy karakter se naam in die fliek 300). Ek dink ek het ’n leeu binne my wat my in my jonger dae op die verkeerde pad geneem het, maar my nou op die regte pad gesit het. Ek het alles wat ek kon met passie gedoen, ongeag die uitkoms. So as ek ’n naam kon kies, sou dit Gerry Leonidas wees.
Hoe het jy Sam se donkerte uit jou stelsel gekry?
Ná die fliek het ek ’n paar vriende Suid-Afrika toe genooi om saam met my op ’n safari te gaan. Toe hulle arriveer, het ek besef dit was ’n fout, want ek was nie op ’n goeie plek nie. Ek ken myself en het geweet dit gaan eers erger word voor dit sal beter gaan. Ek het verantwoordelik vir hulle gevoel, want hulle het halfpad om die wêreld gevlieg om vir my in Suid-Afrika te kom kuier, maar eintlik wou ek nie eens uit my kamer kom nie. Ons het in ’n stadium op ’n wildsrit gegaan ek skielik was ek vyf voet van olifante af en het gesien hoe ’n luiperd met haar welpies speel. Dit het iets groots in my losgemaak. Dit was ’n suiwer, groter oomblik as die storie wat ek pas vertel het, of die fliek wat ons gemaak het. Dit het alles in perspektief gesit. Dit was net hierdie konneksie met die natuur wat ek nodig gehad het. Ek moes dit geweet het, want dit het my voorheen gehelp om uit ’n donker plek te kom.
Wat was jou indruk van Suid-Afrikaners?
Ek het ’n paar baie slim en interessante mense in Suid-Afrika ontmoet. Ek kan nie wag om terug te gaan nie.
Vertaal deur Hannelie Diedericks