Die toer
As jy ook lus kry
Die begin
Dis koud en nat
Voel soos ’n kind
Wonderskone landskap
Ervare en onervare ry saam
Hanli die vryduiker
Die toer
-Cycle Lab se eerste fietstoer net vir vroue vanaf Vrydag 22 Junie tot Sondag 24 Junie 2012.
-Spring weg by Welvanpas buite Wellington tot by Vindoux buite Tulbach en weer terug.
-Totale afstand wissel tussen 100 km tot 190 km vir die drie dae. Jy besluit hoe ver jy wil ry en wanneer jy jou fiets op die bystandsleepwa wil laai.
As jy ook lus kry
-Skakel Eulogy du Plessis (021 702 7892) of Maritza Terblanche (021 702 8573) van Cycle Lab om meer uit te vind oor fietstoere deur Cycle Lab, of stuur ‘n epos na [email protected]
-Hanli Prinsloo se Joga for Cyclists bestaan uit ‘n 10 minute opwarming voor jy ry, tien minute strekoefening na jy gery het en ’n 60 min volle joga-sessie wat op soepelheid en krag gemik is. Dit kos R140 by alle Cycle Lab-winkels en kan ook op hul werbwerf www.cyclelab.com bestel word.
Die begin
Sondag 24 Junie: Dis die perfekte dag vir ‘n luilekker Sondag voor die kaggel met ‘n goeie boek en rooi wyn. Die wolke hang laag oor die koper blare van die wingerd by die Vindoux-gastehuis; die lug is so versadig dat reën elke nou en dan uit die dragtige wolke neersif. Boonop is ek in die pragtige Tulbaghvallei met ‘n lieflike uitsig op die Saronsberge en omring deur van die bekendste wynplase in die land.
Maar ek het ‘n ander agenda. Vergeet die Merlot en Shiraz; dis net na nege in die oggend, met die kwik op ‘n skrale ses grade en ek en 18 vroue staan gestewel en gespoor langs ons bergfietse, reg vir die laaste been van ‘n bergfietstoer van drie dae tussen Wellington en Tulbagh. Ons almal het een oog op die swaar wolke en wonder heimlik hoe lank dit gaan duur voor die reën in alle erns begin lostrek.
Dis koud en nat
Die weervoorspelling vir die hele naweek was bitter koud met byna aanhoudende reën. Voorwaar geen verrassing in die hartjie van die Kaapse winter nie. En die instruksies op die toerplan het gesê dat ons voortgaan, al reën dit. Maar die Kapenaars laat hulle nie afskrik deur ‘n bietjie koue en nattigheid nie en saal hul ysterperde op asof dit die lekkerste sonskyndag in die somer is.
Tien minute later stuif die reën soos suiker op ons neer, maar met die regte klere (geleende vere van vriende) bly ek droog en warm. Die duur beenverwarmers wat ek die Donderdagmiddag as nagedagte by Cycle Lab in Tygervallei gekoop het, is nou elke sent werd. Dit is wel ontwerp om jou bo-been presies op die mees onvleiende plek in te druk, en selfs vir Kate Moss met ‘n onaantreklike binnebeen-vetrolletjie sal laat. Maar as jy alreeds ‘n buff oor jou gesig getrek het sodat jy soos ‘n bankrower lyk, is voorkoms bysaak.
Voel soos ‘n kind
Tog word ons vinnig warm sodra ons aan die ry kom en ek verwonder my aan die ongerepte natuur en wonderskone berge. Dis kindwees-lekker om deur die modder te jaag en die koue wind op jou gesig te voel. Dit herinner my aan my laerskooldae toe ons aan die buitewyke van Windhoek gebly het en ek en my ouer broer en die buurkinders smiddae met ons fietse in die veld verdwyn het en nie weer huiswaarts gekeer het voor dit sterk skemer geword het nie. Of een sy nerwe afgeval het nie.
Wonderskone landskap
Die pienk fynbos blom in plate en in die klammigheid is jy nog meer bewus van die reuke van die veld en grond. Dit is voorwaar spesiaal om op plaaspaaie te ry saam met ‘n groep vroue en ek voel ‘n behaaglikheid wat moeilik is om te beskryf.
Dis tot my ketting in dik klei afspring en ek nie betyds my (nou baie modderige) aanknipskoene kan loswoel nie en ek en my fiets sonder seremonie of grasie in die lang sagte gras omdop. Iets om te onthou; modder werk omtrent soos super glue om die meganisme van aanknipskoene en pedale onherroepelik in mekaar te wig en dan kry jy dit nie sommer in ‘n oomblik van nood vinnig los nie.
Dalk moet mens dit losser instel. Ek het gaan idee nie, want hoewel ek al ‘n paar padfietswedrenne gedoen het, is dit my nooiensvaart op ‘n bergfiets in die veld.
Ervare en onervare ry saam
Gelukkig het Eulogy du Plessis en Maritza Terblanche van Cycle Lab my voor die tyd verseker dat heelwat mense in die groep redelik onervare is en dat die fietstoer net op pret gemik is. Dit was voorwaar die geval en almal het na afloop saaamgestem dat elkeen binne sy raamwerk van vaardigheid kon ry en steeds baie kon leer. En vet pret gehad het.!
Ek adem die koue, vogtige lug van die Kaapse winter in en dink terug aan die eerste oggend toe almal in die stikdonker soos verkluimde dassies in groepies beleefde geselsies aangeknoop het om die koue en vreemdheid te verjaag,
Baie van die vroue het twee-twee ingeskryf; beste maters wat wegbreek vir ‘n naweek sonder mans, kinders en beroepe. Tog is daar ook heelwat wat op hul eie opgedaag het om nuwe mense te leer ken en lieflike plaaspaaie te verken. Teen die einde van die toer was dit onmoontlik om te onderskei wie alleen opgedaag het, so lekker is daar gekuier.
Dis al ons derde dag in die saal na ons die Vrydagoggend douvoordag by Welvanpas (vyf km buite Wellington) weggespring het. Gelukkig is daar die bystandbussie met sleepwa byderhand om enigeen wat moeg raak op te pik. Dit maak dit moontlik om ‘n uiteenlopende spannetjie saam te groepeer.
En dan was daar die baie geduldige Brendon vir meganiese probleme. Dis byna soos om ‘n manlief saam te vat wat nooit sy sin vir humor verloor nie. Al kry jy drie pap wiele….
Die bussie is ook gelaai met allerhande happies en sappies wat elke nou en dan uitgehaal word om ons te lawe.
Ons trek weg op ‘n stofpad by Welvanpas wat ons na ‘n paar kilometers deur Wellington se teerstrate neem. Hierna draai ons af op netjiese grondpaaie. Nou verstaan ek hoekom bergfiets so gewild raak. Hier met die reuk van grond in jou neus voel jy weer geaard.
Ten spyte van die verdoemende nat en bitter koue weervoorspelling vir die naweek was dit oopgetrek en was die blouselblou lug in skerp kontras teen die spatsels geel van die kanola-velde.
Ons ry ongeveer 35km tot by Du Vlei Farm vir koffie en versterkings. Hier besluit ‘n paar dat hul genoeg gery het vir die dag en spring in die bussie. Daarna is dit nog so 44 km tot in Vindoux (5 km buite Tulbagh) waar ‘n heerlike ete en spa-behandelings op ons wag.
Na ‘n dag se sweet en swets teen die bulte uit voel almal soos ou bekendes en word daar groot jolyt gehou totdat die lang dag sy tol eis.
Saterdag kry ons eindelik die geleentheid om regte, egte bergfietsterrein aan te durf waar ons deur sagte sand, klein riviertjies en teen steil, klipperige bulte ry. Na 45 km se harde werk verdien ons die middagete in Tulbagh by Things I Love en kry ook kans om deur hierdie geskiedkundige dorpie te stap. Die aand is ons weer terug vir ‘n ete in die baie bekende Paddagang-restaurant.
Hanli die vryduiker
Voor aandete gesels ons met Hanli Prinsloo wat ‘n genooide gas op die toer is. Sy is wêreldbekend vir haar vryduikrekords (sy kan haar asem vir tot ses minute ophou om sonder toerusting 65 m in die diep blou seewater af te sak) en het ook ‘n joga DVD saamgestel vir fietsryers om jou soepel en sterk te hou. (beskikbaar by Cycle Lab-winkels landswyd teen R140). Hanli se entoesiasme is aansteeklik en sy inspireer ons met haar passie vir avontuur en bewaring van die oseane. Besoek haar webwerf by www.iamwater.co.za
I am water, haar oseane bewaringstrust is ook hierdie jaar gekies as een van die begunstigdes van die Twee Oseane Marathon Inisiafief (TOMI) vir 2012.
Haar daagliks jogalesse het die stywe spiere gestrek en ontspan. Dan het sy ons ook versterk met super smoothies wat gelaai is met allerhande heilsame sade, vrugte en neute.
Sondag se eerste been van 35 km bring ons tot by die Calabasch Padstal aan die voet van Bain’s Kloof. Hier ontdooi ons voor die groot kaggel en drink sjokolademelk. Dan saal ‘n paar nimmereinders weer hul modderige fietse op en durf gietende reën en mis aan om die laaste 30 km deur Bain’s Kloof tot by Welvanpas te ry.
Wat ‘n onvergeetlike drie dae saam met wonderlike vroue wat almal eindelose pret gehad het.
*Baie dankie aan Cycle Lab vir die uitnodiging om hulle op hierdie uitsonderlike toer te vergesel.