Met die stilhou by Atlantic Studios in Milnerton bou die wolke aan ’n donker aflewering van die eerste hewige Kaapse storm van die jaar. By *Suidooster se ateljees is alles ná ’n kragonderbreking ook in duisternis gehul. Op soek na Desiré Gardner se kleedkamer kom ’n bibberende Abduraghmaan Adams (Ian October) gangaf geloop, ’n kombers om sy skouers. Selfs in ’n droomfabriek is mense op hierdie oggend gekaap.
Desiré kom oë geskreef teen die donker aangeloop. Ons beweeg na ’n plek waar daar meer lig is en dit verbaas my vir die soveelste keer om te sien hoeveel kleiner en fyner mense in die werklike lewe lyk as wat hulle op televisie vertoon.
Nog ’n bekende gesig loer glimlaggend oor haar skouer. Is dit dan nie suster Naomi van Binnelanders nie? Wat maak sy hier in die Kaap?
Die twee skaterlag, sedert hul dae saam by Binnelanders seker gewoond aan hierdie soort reaksie. Je-ani (Swiegelaar) het vir die naweek by hulle op Philadelphia kom kuier, verduidelik Desiré opgetoë. Hulle mis mekaar sedert Desiré en haar beligtingregisseur-man, Chris, 18 maande gelede die groot stap gedoen en Kaap toe geskuif het.
“By Binnelanders was Je-ani altyd my go to person,” vertel sy verder. “Ons is terselfdertyd uiteenlopend én op dieselfde golflengte. Dit neem my soms lank om werklik aansluiting te vind by iemand wat jy met van jou teleurstellings tot jou klein triomfies of blink ingewings kan vertrou. En Je-ani is vir my daardie soort vriendin. Sy was seker die eerste mens vir wie ek gaan sê het dat Chris die werk in die Kaap gekry het.”
Die ontworteling was vir Desiré aanvanklik swaar maar sy het ook glad nie kans gesien vir ’n pendelhuwelik nie. “Ek is ’n gewoontedier wat hou van die roetine van ’n bekende plek en geheg raak aan dinge en mense. Ons is al in my vroeë tienerjare Johannesburg toe. Ek was nog nooit een van daardie Gautengers wat daaroor droom om Kaap toe pad te gee nie.”
Vir iemand wat erken dat sy nie altyd gemaklik is met verandering nie, moes sy die afgelope tyd boonop heelwat aanpassings in haar lewe oorbrug. Daar was ’n nuwe blyplek, ’n nuwe werk
en toe ook, net om dinge nog interessanter te maak, ’n ietwat onverwagse nuwe baba.
“Maar hulle sê mos die enigste konstante van ons aardse bestaan is die feit dat alles gedurig verander, en ek begin dit nou op 31 so aanvaar. Dinge het boonop ’n manier om uit te werk, al is dit nie noodwendig soos wat jy verwag het dit sal wees nie,” sê sy. “Nou, heelwat later, glo ek dit was ons beste besluit tot nog toe.”
“Dinge het boonop ’n manier om uit te werk, al is dit nie noodwendig soos wat jy verwag het dit sal wees nie”
Toe dit by die keuse van ’n woonplek kom, was Chris, oorspronklik ’n Kapenaar, lus vir iets nader aan ’n plaas, ’n plek waar hy sy kop ná ’n dag se werk skoon kon kry. Sy wou weer darem ander mense oorkant die pad kon sien. Die klein dorpie Philadelphia het albei tevrede gestel, daar waar jy binne trefafstand van die stad steeds omring van die natuur se eenvoud en reëlmaat leef terwyl die seisoene hulle van grasgroen tot goudgeel aanmeld.
Die binnelander kon gelukkig ook nie ’n sagter Kaapse landing kry as haar werk by die vervaardiging van die kykNET-sepie Suidooster nie. “Hulle het my baie gou tuis laat voel. Dis of ek net van die een werkfamilie na ’n volgende een geskuif het.”
En tussendeur geniet sy haar moederskap, al krap dit soms daardie netjiese kuifie van haar om.
“Dit het waarlik my hele bestaan, my prioriteite en my siening van die lewe verander. Dis beslis die moegste maar ook die gelukkigste fase van my lewe tot dusver. Ek is dikwels nie heeltemal seker wat die regte ding is om te doen nie. Maar hulle bly vir my net die wonderlikste, pragtigste iets in my lewe. Partymaal as Robin (op 18 Julie een) my al kwart voor ses op ’n Saterdagoggend wakker lag, wil ek huil van die moegheid. Maar as ek haar eers sien, kan ek nie help om maar saam te lag nie.”
James (5) verras en vermaak haar ook daagliks met sy kommentaar uit die unieke hoekie waaruit hy die wêreld om hom betrag. “Saans as hulle albei slaap, kan ek ure lank net na hulle staan en kyk, dankbaar vir nog ’n dag saam met hulle. Ek is sooo gelukkig dat die Here hulle vir my leen.”
“Saans as hulle albei slaap, kan ek ure lank net na hulle staan en kyk, dankbaar vir nog ’n dag saam met hulle”
Desiré is van nature ’n bietjie van ’n perfeksionis wat daarvan hou dat haar beeste agtermekaar loop. Iemand wat verkieslik voorbereid en stiptelik opdaag, die een wat saans by die huis deur ’n doenlysie draf om te sien of elke kind se kosblikkie, sappies en pappies regstaan.
Lees ook: Is perfeksionisme ’n gawe of ’n pyn?
“Ja-nee, en jy sal haar ook nie sommer sonder haar eie botteltjie Valpré-water betrap nie,” terg Je-Ani. “Eenkeer op pad Namibië toe waar my ouers woon, moes ek later vir haar sê ons hét water én handdoeke in Namibië. Sy kan maar ontspan. Toemaar, ek sal nou-nou jou watertjies vir jou gaan haal, hoor,” paai sy skertsend.
Desiré gee net ’n snuif en kap terug met: “Bring dan sommer vir my ook iets om my neus mee te blaas, suster Naomi. Ek het jou mos spesiaal vir die oggend ingevlieg.”
Die somerlose dag raak lig daar tussen die geginnegaap. Hul gedeelde sin vir humor – nóg aangeleer, nóg aangeplak – het hulle vroeër die oggend toe hulle gaan muffins koop het, al dubbel gevou in die straat laat staan en lag. “Hier, vat vir jou een. Dit kos R9,99 elk … ”
Dink sy soms dat sy iets anders sou wou doen?
“Ek dink ek sou sukkel om in ’n ander beroep in te pas … dalk ’n veeartsenykundige assistent … ons het ’n hele boerdery van honde, hasies en eende en ek draf soggens vyfuur met ons Duitse herdershond. Maar ek weet darem ook nie; ek’s te bewerig as dit by inspuitings kom. Ek sou waarskynlik net my oë toegeknyp en gehol het.
“Dit is wel vir my lekker om ook met die geskrewe woord te werk. Ek doen al sedert matriek my eenvroustuk, Magda Louw, oor die middeljarige Afrikaanse vrou.
“Ek is dankbaar dat ek ’n beroep het wat my gelukkig maak. Dit laat my toe om nog te speel al is ek nou al ’n grootmens en ’n ma. En elke dag mooi gemaak en nog mooi aangetrek te word ook … En in elke liewe produksie waarin ek al gewerk het, was ek omring deur fantastiese mense. Daar is altyd iemand wat regstaan om te troos, of te sus as jy met ’n siek kind by die werk opdaag. Ons kinders is regte ateljee-brakke. Hulle weet van count downs, stand by, reshoots en te sit en wag vir mamma en pappa om ’n toneel klaar te skiet.”
“Ek is dankbaar dat ek ’n beroep het wat my gelukkig maak. Dit laat my toe om nog te speel al is ek nou al ’n grootmens en ’n ma”
Daar was en is steeds baie vormende invloede in haar lewe. “Drama, musiek en dans was vir my nog altyd ’n uitlaatklep en iets wat my verbeeldingswêreld help voed het. En natuurlik my ouers en my sibbe wat my van kleins af geleer het om oor baie dinge te lag, hoewel ons mekaar ook maar soms goed kon uittrap. Ek vermy normaalweg konfrontasie maar in my binnekring waar ek veilig voel, kan ek soms lekker oorkook. Chris wil altyd dinge eers oordink terwyl ek iets nóú wil uitpluis!”
Iets wat tot vandag toe ’n groot uitwerking op haar lewe het, is die feit dat sy op twaalf jaar ’n beroerte gehad het wat haar by die dood laat omdraai het. “My ouers het die nag van ’n geroggel wakker geword. My hart het driemaal in die ambulans op pad hospitaal toe gaan staan en die dokters het gewaarsku dat ek, indien ek uit die koma wakker word, nooit weer ’n normale lewe sou kon hê nie. Daar was ’n tumor op die brein wat te gevaarlik was om te opereer.
“My Dad en die Metodiste-predikant het vir my kom bid daar waar ek aan al die masjiene en pype gekoppel gelê het. Toe hulle hul hande op my sit, het my pa duidelik iets soos ’n elektriese skok deur sy hande voel vloei.”
Desiré het drie uur later wakker geword. Toe daar weer ’n breinskandering gedoen is, was die tumor weg. Die dokters kon geen mediese verklaring daarvoor vind nie.
“Ek kon van jongs af die Here in baie dinge raaksien. Dit help my as ek bang en onseker raak. Ek is nie ’n sterk mens in die sin dat ek net my eie ding kan doen en basta met die res nie. Ek tel mense se gevoelens op en wat hulle dink van wat ek doen of sê. En dis vir my sleg dat so baie mense soveel seer het. Daarom probeer ek dankbaar leef – ek kon immers in ’n rystoel in ’n inrigting gewees het.”
*Die vervaardigers van Suidooster het onlangs aangekondig dat dié gewilde kykNET-sepie vanaf volgende jaar ’n vyfde episode per week bykry. Die sepie sal vanaf 6 April 2018 van Maandae tot Vrydae om 18:30 op kykNET en kykNET & kie uitgesaai word. Moet dit nie misloop nie!