Hy kan presies onthou wanneer en waar hy besluit het dat hy ook eendag stories wil skryf. Deon Meyer was tien, dalk elf jaar oud, toe hy met sy stapeltjie boeke op die muurtjie voor die Klerksdorpse biblioteek vir sy ma sit en wag het en besef het hy wil ook eendag mense met sy stories vermaak.
“My ma was versot op boeke – sy het veral graag Engels gelees. Ek en my twee broers is aangemoedig om te lees en sy het ons elke week biblioteek toe geneem vir nuwe boeke. Ek het reeds van jongs af Engels ook gelees.”
Op 14 het hy sy eerste “boek” geskryf. Sy broers, wat dit teen hul sin moes lees, was nie te beïndruk nie en hy het eers in sy dertigerjare weer sy hand aan fiksie gewaag met kortverhale vir tydskrifte.
Vandag spog hy met 13 boeke agter sy naam: elf romans en twee kortverhaal-bundels. En die naam Deon Meyer is ’n handelsmerk wat tot in Europa, Skandinawië en Amerika bekend is. Hy deel gereeld internasionale boekefeesverhoë met internasionale topverkoperskrywers soos John Connolly, Michael Connelly en Ian Rankin. Sy boeke was van die eerste Afrikaanse misdaadfiksietitels wat vir ’n internasionale gehoor in Engels vertaal is. Deesdae word sy boeke in 28 tale vertaal, onder meer Sweeds, Japannees, Mandaryns en Russies. Geen ander Afrikaanse (of Suid-Afrikaanse) skrywer kan met hierdie prestasie, of met drukoplae van 50 000 of meer kopieë op ’n slag spog nie.
Hy hou daarvan om misdaadfiksie te skryf en te lees, maar dink nie die toenemende gewildheid van die genre in Afrikaans het enigiets met die hoë voorkoms van misdaad in Suid-Afrika te make nie.
“Die land met die meeste misdaadskrywers per capita is Swede, die land met die minste misdaad ter wêreld. Misdaadfiksie is in essensie vermaak. Ek dink jy skryf wat jy die meeste geniet om te lees – jy absorbeer wat jy lees, veral wat die struktuur betref.”
Hy dink wel die gewildheid van whodunnits en die toenemende besikbaarheid daarvan in Afrikaans het iets te make met die veranderende tye waarin ons leef, en selfs met ons demokrasie.
“In die ou apartheidsdae sou hulle nie sommer my boeke gepubliseer het nie,” en vertel van die briefie wat hy van ’n voormalige lid van die destydse sensuurraad gekry het.
“Hy skryf toe dat hy destyds beslis sou gesorg het dat 13 uur verbied word”
Die lang man met die kenmerkende diep stem hou van die kreatiewe opsies wat misdaadverhale en forensiese en sielkundige navorsing hom gee. Hy vertel dat karakters, oplossings vir probleme en selfs tonele hulle in die skryfproses as ’t ware by hom kom aanmeld.
“Ek beplan nooit ’n boek van voor tot agter nie, hoewel ek altyd ’n vae idee van die einde het.”
Hy beplan ook nie sy karakters vooruit nie – sy karakters verras hom dik- wels terwyl hy met die boek besig is. Hy glo alle skrywers skryf in die eerste plek vir die leser in hulself. “Ek hoop dat as die storie my boei, dit vir die leser ook interessant sal wees.”
Skryf het nog nooit vir hom soos werk gevoel nie.
“As ek dink aan die reis waarop skryf my geneem het, voel dit nog so half onwerklik. Dit klink dalk soos ’n cliché, maar daar is vir my geen groter vreugde as om ’n gehoor te hê wat my boeke geniet nie. Dit gaan nie vir my oor die roem nie.”
Roem is daar wel, volop erkenning ook. Hy spog met verskeie plaaslike toekennings, onder meer drie ATKV-prosa-pryse en nog vier ATKV Woordveertjies vir die beste spanningsroman. Sy boeke is ook al met verskeie internasio-nale toekennings bekroon.
Hy is steeds, nes kleintyd, ’n passievolle leser.
“Jy kan nie ’n skrywer wees sonder om ’n leser te wees nie”
“Die leser in my bly die finale besluitnemer wanneer ek skryf. Ek het my die afgelope 58 jaar opgevoed deur die duisende boeke wat ek gelees het. Ek dink ’n mens het ’n plig om kennis te neem van die werk van soveel van die beste skrywers moontlik.”
Deon skryf daagliks wanneer hy nie op boekbekendstellingstoere is nie. Hy verkies steeds om vroegoggende agter die rekenaar in te skuif – ’n oorblyfsel van die dae toe hy nog net deeltyds voor werk geskryf het – en skryf gewoonlik tot middagete.
“Ek is maar ’n roetinedier, en skryf die heel lekkerste by my eie huis. Maar as die kalf in die put is, skryf ek op vliegtuie, lughawens, treine … ”
Dis ’n verrassing om te hoor dat hy effens aandagafleibaar is en daarom maak hy seker dat daar so min moontlik is wat hom kan pla.
“Ek trek my kantoordeur toe en skakel selfs die Internet af om nie deur iets soos ’n e-pos onderbreek te word nie.”
Daar moet niks, nie eens agtergrondmusiek, wees wat sy konsentrasie kan verbreek nie. Wanneer die storie nie lekker wil vlot nie, gaan speel hy ’n potjie tafeltennis teen Marianne, die vrou in sy lewe.
“Dan is my kop weer skoon en kan ek aangaan.”
Laatmiddag ry hulle bergfiets vir ontspanning. “Maar die boek maal maar voortdurend in my kop, selfs wanneer ek ontspan.”
Het hy interessante rituele as skrywer?
“Ek probeer om altyd op 1 Januarie met ’n nuwe boek te begin. ’n Skoon lei, soort van.”
’n Ander nuwe begin
Die idee van ’n nuwe begin was ook die inspirasie agter Koors, sy splinternuwe roman. Dis ’n interessante afwisseling van sy normale misdaadfiksie, maar Deon beklemtoon dat dit nie as ’n post-
apokaliptiese roman gesien moet word nie.
“Dis steeds ’n spanningsroman, net met ander soort karakters en ’n ander soort storielyn. Dit gaan steeds oor die oplos van ’n moord waarvan die leser al in die inleiding lees.”
Wat wel opvallend anders is, is dat die verhaal hom afspeel kort nadat ’n dodelike virus die wêreldbevolking feitlik uitgewis het. Die mense wat oorbly, moet van vooraf aan ’n nuwe wêreld begin bou.
Die verhaal word uit die oogpunt van Nico Storm vertel. Ons ontmoet hom as 13-jarige wanneer hy saam met sy pa, Willem, ’n verlate Suid-Afrika deurkruis op soek na die perfekte plek om van vooraf aan ’n nuwe beskawing te begin skep. Uiteindelik besluit Willem, ’n regsgeleerde met ’n voorliefde vir geografie, om strategiese redes op Vander-kloof, ’n dorpie langs die Vanderkloofdam.
’n Interes-sante karakter wat hulle op hul omswerwinge ontmoet, Hennie Flaai, strooi pamflette wat mense na hul dorpie nooi wanneer hy met sy vliegtuigie oor dorpe vlieg op soek na kos en ander voorraad. Saam met die groepies mense wat na Vanderkloof trek agter die belofte van kos, veiligheid en beskawing aan, kom daar ook al die normale menslike storm en drang, soos gierigheid en magsbeheptheid.
Willem Storm, ’n sagmoedige, pragmatiese man, word teen sy sin die leier van die nuwe wêreld, en sterf later gewelddadig. Nico besluit sy pa se moordenaars moet aan die pen ry, en dit neem hom op ’n interessante reis deur die land. Die slot van die verhaal is ’n skokkende verrassing.
“Marianne was woedend toe sy dit lees!” skerts Deon.
Hy het vier jaar gelede die eerste hoofstuk van die verhaal geskryf, maar het dit op aanbeveling van sy oorsese agent eers teruggehou om nog twee romans met die speurder Bennie Griessel as hoofkarakter te skryf. “Sy het gesê ek moet Bennie eers oorsee vestig voordat ek ’n nuwe soort roman aanpak. Bennie is eintlik baie beroemder as ek,” lag hy. “Dis ook reg so, want ek glo ’n skrywer moenie in die kollig wees nie, sy karakters wel.”
Hy het tien, vyftien jaar gelede die eerste keer lus gekry om iets soos Koors aan te pak nadat hy onder meer The World without Us gelees het.
“Daarin word die vraag gevra hoe vinnig die aarde sal herstel as die mens van die aardbol af verdwyn”
Maar vir Deon het ’n boek nooit net een ontstaansbron nie. “Dis in baie opsigte ’n toevallige proses en navorsing het elke keer ’n nuwe deel van die verhaal vir my ontbloot.”
Toe Hennie Flaai byvoorbeeld agterkom dat petrol ná 18 maande “sleg” word en tot enjinprobleme lei, onthou hy van ’n dieselvliegtuig op Hoedspruit en hy en Nico vlieg daarheen om dit te gaan haal. Daar kom hulle af op Okkie, ’n vuil kleuter, die enigste oorlewende.
Hy lag toe hy vertel die boek het uiteindelik byna 75 000 ekstra woorde bygekry.
“Nes ek dink ek is nou klaar, gebeur iets nuuts. ’n Boek laat hom nooit dikteer nie.”