Mej. SA vir 2017, Demi-Leigh Nel-Peters, het twee kostuums onthul wat sy na die Mej. Heelal-kompetisie toe sal dra einde November.
Die eerste kostuum is gebaseer op die protea, Suid-Afrika se nasionale blom. Hierdie kostuum is ontwerp deur Malikah Hajee en Lloyd Kandlin van The Costume Department en hul span. Die blom se kroonblare word voorgestel deur die arm- en kopstukke. Die lyf van die kostuum het drie proteas en die broekie stel ’n protea voor. Dieselfde materiaal word gebruik aan die bokant van die goue dylengte-stewels. Om haar heupe is ’n romp wat die protea se blare voorstel met ’n sluier in dieselfde pienk as die res van die proteamotiewe.
Demi-Leigh se aandrok is ontwerp deur Anel Botha en Botha noem dat sy inspirasie getrek het uit die Mej. Heelal-kompetisie: weelde en verfyndheid.
Demi-Leigh het ook onlangs ’n voorsmakie gedeel van die amptelike foto’s wat gebruik sal word tydens die Mej. Heelal-kompetisie.
Lees ook ons onderhoud met Demi-Leigh Nel-Peters.