*Hierdie artikel het oorspronklik in die April 2011-uitgawe van rooi rose verskyn.
Die lewe deur ’n lens
Die bekroonde fotograaf David Goldblatt het onlangs sy tagtigste verjaardag gevier maar hy het nog lank nie sy kamera opgehang nie. Daarvoor is hy nog te besig met sy fotografiese kruistog.
Deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Francois Guillot/AFP/Getty Images
David Goldblatt, internasionaal bekende Johannesburgse fotograaf, het so ampertjies winkelier geword. Al het hy toe al ’n paar jaar lank met kameras gepeuter.
“Op hoërskool het ek seëls versamel en modelskippies gebou en begin om foto’s daarvan te neem,” vertel hy in sy huis in ’n boomryke Johannesburgse voorstad. Dis moeilik om te glo die man voor my is tagtig jaar oud, want van aftree en afskaal, is daar geen sprake nie. Hy is juis weer aan die regmaak vir ’n oorsese foto-uitstalling.
Die foto’s van sy stokperdjies het gaandeweg plek gemaak vir ’n nuwe stokperdjie: fotografie, en hy het tydskrifte soos Life!, Look en die Picture Post uit Londen verslind om te sien wat ander fotograwe wêreldwyd deur hul lense waarneem.
“Foto’s in tydskrifte was destyds die gewone mens se vensters op die wêreld. Onthou, dit was in die tyd voordat daar TV in Europa of selfs die VSA was. Daardie dae se foto’s was meer as net illustrasies by artikels. Foto’s was die heel belangrikste: die woorde het eintlik net die prentjie ingekleur wat die foto vertel het.”
David het sy fotografiese styl op hierdie foto’s gegrond en begin eksperimenteer. Aanvanklik met ou kameras, maar “op 16 of 17” het hy genoeg gespaar om sy eerste, nuwe 35 mm-kamera te kon koop. Hy was vuur en vlam om ná skool fotograaf te word en in 1948 het hy aan ’n fotograaf in Londen geskryf en gevra hoe om een te word. “Sy antwoord was dat ek in Londen moes kom werk – al doen ek wat ook al, want ek sou so kon leer. Ek was eenvoudig nie dapper genoeg om dit te doen nie,” vertel hy.
“Die tydskriffoto’s wat ek probeer neem het, was regtig vrot. Toe gaan werk ek maar in my pa se klerewinkel, wat hy weer by sy pa geërf het, en uitgebrei het tot ’n mans-klerewinkel vir almal: van boere tot dokters, prokureurs en spoorwegwerkers tot swart mynwerkers.”
As kind van ’n Joodse winkelier het David diskriminasie alte goed geken. Nie net onder die mense van sy tuisdorp, Randfontein, nie maar ook toe sy ma hom in Pretoria Boys High gesit het. “Sy het my na die Rooms-Katolieke kloosterskool op Randfontein gestuur toe ons klein was, want dit was die enigste skool wat ’n skoolbus gehad het. My een broer het rumatiekkoors gehad en my ma wou nie hê ons moes so ver skool toe loop nie.”
Hy spot dat hy die Nuwe Testament beter as enige van die ander kinders in die skool geken het. Om na ’n groot skool soos Pretoria Boys High te gaan, het die Goldblatts nie afgeskrik nie. “Maar daar was in daardie tyd geweldige anti-Semitiese sentimente onder Afrikanerseuns. Onthou, hul pa’s was dikwels in die Ossewabrandwag.”
Uiteindelik is die jong David terug na die hoërskool op Krugersdorp.
David was in die vorige bedeling bekend vir sy kritiek op die apartheidsregering en het nie geskroom om sy kamera vir politieke kommentaar in te span nie. Waar het sy lewensuitkyk vandaan gekom?
“Ek het my waardes by my ouers en broers geleer. My ouer broers het in die Tweede Wêreldoorlog teen Fascisme help veg – hulle het as vrywilligers gehelp om sleutelpunte in Suid-Afrika op te pas – en was liberaal. My ma het in die oorlog weefwerk vir die Rooi Kruis gedoen en ook as vrywilliger gewerk. My ouers was baie geëmansipeerd vir daardie era en het wyd en krities gelees en ons ook so opgevoed.
“Ons het grootgeword met ’n baie anderster houding teenoor swart mense. As ek terugdink, was ek eintlik nader aan my oppasser se kinders as aan ander wit kinders. Ek was regtig lief vir daardie kinders.”
Op Randfontein, vertel hy, was die minderheid mense in daardie tyd wit. “Ons was seker so vier duisend wit mense, van wie sowat sestig persent Afrikaans was. Die res van die byna dertig duisend inwoners was swart mense. Ek onthou hoe rye en rye swart gevangenes aan mekaar vasgeboei van die tronk na die hof moes loop, en dat ek gedink het die owerheid sal dit nooit waag om so iets met wit mense te doen nie.”
“Ek het destyds so ’n groot gevoel van onreg ervaar as ek na die wêreld om my gekyk het. Anti-Semitisme, byvoorbeeld, was uiters onregverdig. Hoekom is ek eeue later vir Jesus Christus se dood verkwalik bloot omdat ek ’n Jood is?”
Hy onthou die skok in die Joodse en liberale gemeenskap toe die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het. “Die party was bekend vir hul teenkanting teen Jode; B.J. Vorster was selfs in die oorlog geïnterneer en by Koffiefontein aangehou, en sy broer Koot, later moderator van die NG Kerk, was drie jaar in die tronk omdat hy militêre inligting vir die Nazi’s deurgegee het.”
David is eerlik oor die afkeer wat hy as jong seun van Afrikaners of Afrikaans gehad het. “Ek het Afrikaans op skool gehaat – ek moes nog leer dat alle Afrikaners nie noodwendig Afrikaner Nasionaliste was nie.”
In sy latere lewe het hy groot vriende met Afrikaanssprekendes geword, onder andere met die fotograaf, wyle Paul Alberts.
Saam met sy werk in sy pa se winkel, moes David leer om Afrikaanssprekendes, ’n groot deel van die wit klante, te verstaan. Nie net hul taal nie, maar ook hul kultuur. Hoe meer hy met hulle te doen gekry het, hoe nuuskieriger het hy oor sy medelandgenote geword.
Mettertyd het hy foto’s van Afrikaanse mense by hul huise begin neem, hoofsaaklik op die kleinhoewes buite Randfontein. Dit sou later lei tot die boek Some Afrikaners Photographed, wat in 1975 verskyn het.
David was vir almal ’n vreemdeling, maar hulle was tog gewillig om in hul natuurlike omgewing vir sy lens te poseer.
“Dit was ’n besliste vormende ervaring. Nie net oor hoe om my kamera te gebruik nie maar ook om my vrees vir hierdie vreemdelinge in die oë te kyk. Gaandeweg het ek ’n sagte plek vir die Afrikaner ontwikkel.
“Ek het besef sommige van hulle is rassisties gebore. Dit was in hul gene, hulle kon nie daarvan wegkom nie. Die negatiwiteit teenoor swart mense was diepgewortel, amper in hul bloed. Maar, en dis belangrik, ek het ook die teenstrydighede binne hierdie mense gesien. Hoe na aan swart mense hulle gewerk en geleef het, hoeveel hulle bereid was om vir ’n werker te doen. Daar was ’n nabyheid wat ek nie eens in my eie liberale kringe gesien het nie; ’n gemaklikheid wat ek hulle beny het.”
Hy sê dit was meer as ’n klaarkom. “Daar was in hul gees ’n vrygewigheid teenoor swart mense wat in skrille kontras was met die rassisme wat jy kon sien. Ek onthou hoe ek een Saterdag op ’n kleinhoewe aangekom het om foto’s te neem en daar was die mense besig om ’n doodskis vir hul bure se bediende te maak.” So, onthou hy, het die gewone mense vreedsaam saamgeleef.
Met sy foto’s wou hy probeer vasstel wat tot die oordrewe, passievolle nasionalisme gelei het.
“Jy moet onthou, die meeste mense wat op daardie hoewes gebly het, was mense wat weens die depressie in die jare twintig en dertig hul grond verloor het. Hulle was toe eintlik maar bywoners daar op die kleinhoewes. Hulle het alles verloor maar weer opgestaan en ook gehelp waar hulle kon. Ek het destyds belowe ek sou nog eendag ’n boek oor Afrikaners doen.”
Toe sy pa in 1962 oorlede is, het hy die winkel verkoop en voltyds fotograaf geword.
Deur die jare was David se foto’s belangrike protes teen die onregte van die apartheidsregering. Nou, op tagtig, is hy steeds nie stil nie en skroom hy nie om deur sy fotografie die afskeepkant van die nuwe bedeling te belig nie.
Wou hy nog nooit emigreer nie? “Ek is veels te diep by hierdie land betrokke. Ek het nie eens gegaan toe dit gelyk het of die Nasionaliste vir ewig sou regeer nie. Ek ken hierdie land; ek is onlosmaaklik aan dié land verbind.”
Deur die jare het hy twee soorte fotografie gedoen. Brood-en-botter werk, waar die kliënt koning was, en persoonlike werk. Maar hy het nooit vir ’n kliënt iets gedoen wat met sy politieke gewete gebots het nie, al het dit hom ook duur te staan gekom. “Ek het ’n grens gestel by iets wat op enige manier politieke propaganda kon wees – hetsy vir die regering of vir die kliënt. En ja, ook vir die opposisie van die regering sou ek nie propoganda doen nie.” Hy het byvoorbeeld ’n versoek vir ’n portret van Gatsha Buthelezi van die hand gewys omdat die kliënt die destydse Bantoe Ontwikkelingskorporasie was wat tuislande bevorder het.
In sy persoonlike, fotografiese kruistog was die motiverings sy eie. Hy het foto’s geneem van mense waarin hy belang stel, altyd maar om meer te leer. Hy is juis tans besig met ’n reeks foto’s waarmee hy probeer wys wat mense na misdaad dryf. Dié foto’s, waarin hy mense wat misdade gepleeg het – hetsy moord, diefstal of aanranding – terugneem na die plek waar die oortreding begaan is, is bedoel vir ’n oorsese uitstalling. Die geselsie ná die fotosessie gee hom verstommende insigte in die redes vir misdaad. Elke mens se foto is vergesel van ’n verkorte weergawe van sy lewensverhaal.
Het die verlede hom enige lesse geleer? “Ons sien nou onder swart mense wat ons destyds onder Afrikaners gesien het. Die bywoners, die mense wat ek afgeneem het, se kinders het topposte gekry, en status en geld. Nou gebeur dit onder swart mense. Almal het dit ook nie altyd reg hanteer nie.”
Sy boek oor die Afrikaners het baie Afrikaanse mense woedend gemaak. “Selfs verligte mense was baie vyandig.” Hoekom, wonder ek?
“Ek dink omdat van hierdie mense wat ek oor die jare afgeneem het, eintlik mense was van wie die grênd, stedelike Afrikaner wou vergeet. Hulle het verkies om nie herinner te word aan waar hul wortels lê nie. Dit het onder die Jode ook maar gebeur – baie wou nie erken hul ouers het nog in ghettos gewoon nie. Hulle wou nie herinner word aan arm, ongekultiveerde voorsate en familie nie, want dit het nie ingepas by die beeld wat hulle graag wou voorhou nie. Afrikaners het gevoel my boek laat nie reg geskied aan Afrikaners se meteoriese opgang in die ekonomie nie, want ek het nie foto’s geneem van suksesvolle Afrikaners nie, maar van werkersklas-mense.”
Sy tweede boek oor Afrikaners, Some Afrikaners Revisited, in 2006, is heeltemal anders deur lesers ontvang. “Nou kon mense met nostalgie na die verlede terugkyk, nes die Jode.”
“Ek wou allermins met die eerste boek die Afrikaner afkraak. Maar laat ek eerlik wees: ek wou hul waardes en persoonlike geskiedenis vasvang. Dikwels was dit wel maar hartseerstories.”
Dit pla hom dat ons in ’n samelewing woon waar misdaad en korrupsie hoogty vier. Ja, hy sien ooreenkomste tussen die Afrikaner se opgang en die huidige gety van African nationalism maar hy kan nie help om ook die verskil in waardes raak te sien nie. “Ek sien magsmisbruik en selfverryking by mense wat teen die agtergrond van hul swaarkry in die verlede, van beter behoort te weet.”
Tog het hy nie hoop vir SA verloor nie. Hy sien die huidige situasie as ’n oorgangsfase. “Natuurlik is dinge moeilik, maar dis nie die einde van die pad vir ons land nie. Onthou, Europa en die VSA het honderde jare geneem om by vrede en integrasie uit te kom. En daar is steeds dinge in daardie lande om voor skaam te wees, ook grootskaalse korrupsie en ekonomiese probleme.
“My generasie, en moontlik nog een, sal moet uitsterf voor ons die onlangse verlede sal kan vergeet en daar die moontlikheid van ’n regering is wat redelik goed regeer. Maatskaplike en opvoedkundige probleme soos ongeletterdheid en werkloosheid moet ook in beheer gebring word. Daar is tans ’n hele verlore geslag en miljoene mense wat nie kan aanpas by die eise van ’n moderne samelewing nie. Dis ’n reuse-tragedie.”
Hy sien steeds die media as ’n kragtige vorm van protes teen onreg. As hy praat oor sy eie loopbaan, som hy fotografie op as ’n manier om dinge te ondersoek. Net so belangrik is die media.
“Hulle moet die doring in die regering se vlees bly en nie ophou om onreg bloot te lê en uit te wys nie.”
En, dink ek later, mag dié wat deur hul woorde en prente kan protesteer, net soos David Goldblatt nooit aftree nie.