Data-enkodering (Encryption) het ’n baie aktuele onderwerp geword wat skielik die voorblaaie van koerante en webtuistes regoor die wêreld haal – al is dit nie ’n nuwe konsep nie.
Data-enkodering is deur Julius Ceaser tydens sy heerskappy van die Romeinse ryk gebruik, waar hy die eerste drie letters van die alfabet na die laaste drie letters verander het en sodoende die boodskap wat hy aan sy generale gestuur het, enkripteer het. Net so het die Duitsers die Enigma-masjien ontwerp om geënkripteerde boodskappe gedurende die Tweede Wêreldoorlog te stuur wat beteken het dat die bondgenote eers nie die onderskepte inhoud kon lees en verstaan nie.
Interessant genoeg het die eerste prototipe van die rekenaar na vore gekom ná ’n ondersoek om uit te vind hoe om die Enigma-taal na ’n gewone taal te omskep.
Die voordele van enkodering
Data-enkodering hou sensitiewe en persoonlike inligting veilig en privaat. Dit sluit alle aanlyn-data soos bankbesonderhede, e-posse en sosiale netwerke in asook ongekoppelde data soos inligting wat op ’n hardeskyf gestoor word waartoe net jy toegang het.
Met dié sekuriteit-tegniek kan jy bo en behalwe die voorkoming van identiteit-diefstal ook daarvan verseker wees dat kuberkriminele nie by jou persoonlike data kan uitkom nie (al word iets soos jou selfoon, tablet of rekenaar gesteel).
Wat beteken dit om ’n boodskap te enkripteer en hoe werk dit?
Alhoewel daar duisende sisteme vir enkodering is, is die algemeenste een die gebruik van private en openbare sleutels. In die sisteem het alle internetverbruikers (soos ek en jy) twee sleutels – ’n openbare een wat almal kan sien en ’n privaat een wat net jy kan sien. ’n Verandering wat deur ’n wiskundige algoritme gemaak word, transformeer die boodskap, of leesbare data, na ’n onleesbare een. Sodra dit na ’n ontvanger gestuur word, is dit geënkripteer wat beteken dat ’n sleutel nodig is om dit te dekripteer.
Al die groot bedryfstelsels en gewilde sagteware gee vir jou die opsie om die lêers en dokumente op jou toestel te enkripteer. Sodra jy van die opsie gebruik maak, moet jy ’n wagwoord kies wat jou, en almal anders met wie jy die wagwoord deel, toelaat om die lêers oop te sluit en die boodskappe te dekripteer. As ’n kuberkrimineel een van die boodskappe wel suksesvol onderskep, sal hy of sy steeds nie in staat wees om die boodskap te lees sonder jou privaat-sleutel nie. Dus bly jou inligting veilig.
Enkodering is perfek vir wanneer data gestoor of gestuur word, maar daar is een ander situasie wat tot bespreking lei: Wanneer jou geënkripteerde dokument in gebruik is. Dit tel sodra jy die beskermde dokument oopmaak, dit deurlees of daaraan redigeer – dit sluit alle tye in wat die dokument oop is, selfs al is dit geminimaliseer of visueel op een of ander manier bedek. Deur die dokument oop te maak, beteken dit dat dit deur jou toestel se geheue gedekripteer is. As iemand byvoorbeeld ’n agterdeur na jou masjien oopgemaak het, kan hulle jou data bykom sodra dit oopgesluit is. Dit beteken egter nié dat data-enkodering oneffektief is nie. Om die waarheid te sê, die gebruik van enkodering kan die hoeveelheid skade beperk en kan ook die venster van tyd krimp waartydens ’n aanvaller toegang tot jou dekripteerde data het en skade kan aanrig.
Inligting verskaf deur Carey van Vlaanderen, direkteur van ESET South Africa