Die droom
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Amelie skrik wakker. Die dag het pas begin breek en die skemerte in die kamer speel oor die liefdes-graffiti op die kamermuur. Sy kyk rond. Die vrou met die rooi rok is nie meer daar nie. Dit was ’n droom. Sy maak haar oë toe om die droom weer op te roep. Sy hoor nog die sagte wals oor die grammofoon. Die vrou dans. Die rooi rok kleef aan haar sensuele lyf. Rooi krulhare val in slierte uit die haarknip. Sy hoor die vrou lag. Dan kom die klank van glas wat in die wind klingel deur die oop venster. Die kyk uit. Dan draai sy om en kom staan langs die bed. Sy kyk na die bondeltjie verweerde briewe op die bedkassie. Sy tel die briewe op. Sy is so naby dat Amelie die blommegeur van haar parfuum kan ruik. Sy sien hoe die groen oë vol trane troebel. Die vrou tel die briewe op en hou dit uit na Amelie. Amelie steek haar hand uit. En dan is die droom verby. Net die geur van blomme uit die tuin en die geklingel van glas in die wind is nog daar.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Amelie voel die koue van die oggendwind teen haar arms. Dit slaan in hoendervleis uit. Sy voel die hartseer van die vorige dag knop weer in haar keel.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Dit moet die ontsteltenis van Renier se besoek en die pynpille wees wat haar so laat droom, besluit sy. Al het die droom ontstellend werklik gevoel.
Die hele oggend bly die droom in haar gedagtes. Sy kan nie die hartseer in die vrou se oë vergeet nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Was dit net ’n droom of wil Amelia vir haar iets sê? Die briewe? Wil sy hê Amelie moet dit lees?
Amelie wil nie die droom met die kinders bespreek nie. Netnou dink hulle sy raak te betrokke by die geheime van die huis en raak effe geklits in die kop.
Sy neem die briewe en pak dit weg in ’n laai. Sy moet eers die gemors van haar eie lewe probeer uitsorteer voor sy die raaisels van Amelia se lewe uitpluis.
Soos sy verwag het, bel Renier om verskoning te maak vir die stampery met die tafel. Dis hoe hy maak as hy sy humeur onbeheersd verloor. Altyd jammer na die tyd. Hy vra nie of sy seergekry het nie, maar wei in detail uit hoe gekneus sy gesig is en dat hy ’n klag teen die man gaan lê.
“Wie is daardie barbaar? Nog een van jou kêrels op die dorp?”
Vir ’n paar sekondes wonder Amelie wat om Renier op die nuutste beskuldiging te antwoord. Dan verbaas sy haarself en druk die foon dood. Renier kan die Plet-woonstel en alles wat hy nog vir homself wil inpalm, maar hou. Die liefde wat sy vir hom gehad het, is met die jare versmoor deur sy ambisie en “netwerk”-kontakte saam met wie hy so graag na werk kuier. Sy wil haar losmaak van die negatiewe uitwerking wat Renier op haar lewe het. Hy het nog nooit rede of die reg gehad om haar van ontrouheid te beskuldig nie en sy wil nooit weer daaraan blootgestel word nie. Dit was ook die laaste keer wat hy haar in sy woede “per ongeluk” rondgestamp het, besluit sy.
Die meisies het ekstra kussings op die dagbed op die stoep gepak sodat sy gerieflik na die tuin kan lê en kyk. Sy is nie seker of die kinders haar verskoning aanvaar dat sy op die hotel se stoep geval het nie. ’n Vorige keer wat Renier haar gestamp het, het sy ’n arm gebreek. Dan was daar die keer toe sy harsingskudding opgedoen het toe sy haar balans op die trap verloor het.
Die boek op haar skoot lê onaangeraak. Sy kan nie fokus nie en sluimer uiteindelik in danksy die pynpille.
Buks se blaf maak haar wakker. Hannes sit op die rusbank met die boek.
“Hoe lank sit jy al daar?”
“Lank genoeg om te weet jy snork. Hoe voel jy? Die dorp gons oor die drama op die hotel se stoep. Phillip Groenewald het glo jou eks katswink geslaan en jou soos ’n ridder opgetel en dokter toe geneem.”
“Ek dog jy luister nie na skinderstories nie? Jou feite is buitendien verkeerd. Hy het Renier net geklap.”
“Ek het jou gewaarsku dat Phillip sy hande nie van vroue kan afhou nie.”
“Hy het my net dokter toe geneem. Jy weet hoe ek oor hom voel.”
“Mmmm, ja, maar wees versigtig. Hy het al ’n string slagoffers op die dorp.”
Hannes is al tuis in haar huis en dra koeldrank aan.
“Dis nie nodig nie, ek het nie soveel pyn nie. Ek kan vir myself sorg.”
Sy sien dadelik sy het Hannes seergemaak.
“Kom ek wys jou ek is gesond dan maak ek vanaand vir ons lekker kos. Daar is nog ryp vye. Jy kan jou beloofde tert maak.”
Hannes is ’n goeie mens en sy het vriende op die dorp nodig. Haar instink waarsku haar darem dat sy nie te vriendelik met hom moet wees nie. Hy is eensaam en het al verskeie kere laat blyk hy soek na ’n lewensmaat saam met wie hy oud kan word. Dit sal ’n gelukkige vrou wees want Hannes is een van daardie mense wat regtig vir sy medemens omgee. Hoflik, goeie maniere. Troumateriaal, maar nie vir haar nie. Die vonk is net nie daar nie. Lank gelede het Renier daardie vonk in haar aangesteek en nadat dit verdoof het, het sy begin dink ’n man sal nooit weer haar hart laat vinnig klop nie.
Sy skrik toe sy besef sy het dadelik aan Phillip Groenewald se nabyheid in die dokter se spreekkamer gedink. Dit was skok. Dis al, besluit sy. Geen man gaan ooit weer haar hormone skommel nie. Ongelukkig nie Hannes nie en beslis ook nie Phillip Groenewald nie.
“Waaroor dagdroom jy so? Dog jy gaan vir my kos maak?”
“Dis net die pille. Ek raak soms bedwelm.”
“Dan waag ek nie vanaand om jou kos te eet nie! Dis dalk beter as ek ’n paar tjoppies gaan koop en ek en jou seuns braai. Die kinders kan slaai maak en jy kan met jou dowwe kop eenkant sit.”
Die kinders geniet Hannes se geselskap. Hulle lag en gesels later die aand om die vuur. Hy steek die seuns in die werk en kom sit by haar.
“Toe ek die vleis gaan koop het, het ek in die slaghuis gehoor jy en Phillip is glo nou amptelik ’n paartjie. Tannie Stella Nortier was ook in die slaghuis. Sy is ’n vrou van Myra Groenewald se portuur en die twee is blykbaar nie juis boesemvriende nie. Sy sê elke keer as sy jou in die dorp sien, glo sy sy sien ’n spook. Het jy geweet jy lyk glo nes die jong Amelia? Rooi krulhare en als.”
“Dis sommer ’n spul bogpraatjies, Hannes, jy ken mos jou dorp se mense.”
“Tant Stella sê sy kan verstaan dat Phillip agter jou aan is. Ou Phil Groenewald kon volgens haar ook nie van Amelia wegbly nie.”
“Dink jy ek sal met tant Stella oor Amelia kan gaan praat?”
“As daar iemand op die dorp is wat sal uitpraat oor die dinge, is dit sy, maar ek weet nie hoe betroubaar haar inligting is nie. Sy het ’n manier om die waarheid ’n kinkel te gee. Soos met die storie van jou en Phillip. Die tannie sweer hoog en laag sy het julle tweetjies al baie keer saam sien koer.”
Amelie hou haar seer ribbes vas soos sy lag.
“En waar koer ek en Phillip nogal? Ek dog hy wil my uit die dorp jaag?”
“Dis juis sy tegniek, seg die tante. Hy gaan jou inkatrol soos die ander vroue en jou hart breek. Dan gaan jy wegtrek.”
“Of soos Amelia vir ewig in my liefde verlaat hier in Mon Abri bly? Die tante het seker nie aan daardie moontlikheid gedink nie?”
“Sjoe, Amelie, nou gee jy my hoendervleis. Belowe my jy gaan nie toelaat dat die geskiedenis hom so herhaal nie?”
“Ek grap net Hannes, ons het nog geen bewyse dat Amelia en ou Phil regtig iets aangehad het nie. Ons het nie een aanduiding in haar foto-albums gekry dat sy hom wel geken het nie. Dis net haar briewe wat dalk ’n aanduiding kan gee.”
Sy vertel Hannes van die droom van die vorige nag en gaan wys hom die muur in haar kamer.
“Genade, ek kan verstaan dat die ding jou so fassineer. Dit klink soos ’n verhaal uit ’n boek.”
“Ek is van plan om ’n boek hieroor te skryf. Dis ’n heerlike storie. Ek moet net al die drade bymekaarkry.”
“Ek dink nie die Groenewalds gaan jou toelaat om so ’n boek te skryf nie. Jy sal nie verby Myra kom nie. Sy spoeg glo vuur as mens net na ou Phil verwys.”
“Miskien oor hulle iets wegsteek?”
“En Amelia se familie? Dink jy nie hulle sal omgee as jy ’n boek oor haar skryf nie?”
Hannes raak ’n punt aan wat Amelie ’n idée gee.
“Haar familie! Jy het mos kontak met die erfgenaam? Wie is dit?”
“Ek het nog nie self met hom gepraat nie. Nog net per e-pos gepraat. Hoekom?”
“Ek dink ek moet hom kontak en myself aan hom bekend stel. Dalk kan ek hom uitvra oor Amelia.”
“Is jy regtig ernstig oor die storie? Ek is bang die ding raak te kompleks en jy kry in die proses seer.”
“Dis my werk, Hannes. Stories. Dis waarop my loopbaan gebou is. Ek het nog nie self een geskryf nie, maar genoeg fassinerende stories van ander uitgegee om te weet ek sal hierdie storie nie kan los nie.”
Hulle gesels lank na ete nog oor die huis en die raaisels wat smeek om ontrafel te word.
Hannes bak sy vye-tert sommer in haar kombuis en dit is eers na middernag wat hy aanstaltes maak om huis toe te gaan.
Die pynpille het Amelie skaars in ’n slaap ingelok toe ’n aaklige skreeugeluid deur die huis trek.
“Ma! Wat gaan aan?” Mia is die eerste een langs haar bed. Die ander drie op haar hakke.
“Is dit nie maar net ’n paar katte wat partytjie hou nie?”
Amelie weet dit is haar plig as ouer om die kinders te kalmeer al bewe sy self. Die tweede kermgekuid wat deur die huis trek, bevestig aan haar dat dit nie ’n kat is nie.
Mia hou kop.
“Dis weer daai spul Groenewalds wat ons probeer bang maak.”
Dit maak Amelie woedend. Na die derde kermgeluid skakel sy Phillip Groenewald se nommer. Nes sy gedink het, is hy nog wakker. Sy kan laggende stemme in die agtergrond hoor. Hy en sy vriende drink seker ’n paar sopies by die hotel en lag lekker oor hoe hy haar en die kinders bang maak.
“Wat dink jy probeer jy doen! Hou dadelik op om my kinders bang te maak. As jy ’n probleem het, kom praat met my. Dis wreed en onmenslik om my kinders in die nag so te terroriseer.”
“Waarvan praat jy, vroumens?”
“Jy weet presies waarvan ek praat. Hierdie aaklige geluide by my huis. Waar is die bandopnemer dat ek die ding kan gaan afskakel. Die grappie is nou verby.”
“Ek dink die val gister laat jou kop raas. Ek sit hier en kuier saam met vriende. Ek het nie tyd om snags rondom jou huis te sluip en jou bang te maak nie. Dis nie my skuld dat jy ’n spookhuis gekoop het nie.”
“Phillip, die enigste spoke hier rond is Groenewald-spoke en jy weet dit. Kom sit hierdie bandopnemer nou af of ek bel die polisie.”
“Wat is dit met jou en jou eks oor die polisie? Hy het my vanmiddag gebel en gedreig. Lyk my ek moes jou gelos het dat hy jou verder rondstamp. Party van julle vroue hou mos daarvan. Die wat julle jare by vroueslaners bly.”
Amelie vererg haar en druk die foon dood. Hoe durf hy uitlatings maak oor ’n situasie waarvan hy niks weet nie?
Sy en die kinders sit op haar bed en wag vir die volgende kermgeluid. Na nog twee begin dit vir haar al meer werklik klink. Dalk is dit nie ’n bandopname nie?
Hulle hoor ’n voertuig voor die deur stilhou en die voorhekkie oopgaan. In die maanlig sien sy Phillip Groenewald in die tuinpaadjie aangestap kom. Hy hamer aan die deur.
“Wat maak jy hier?”
“Ek kom kyk wat hier by jou huis aangaan.”
“Jy kom seker die bandopnemer afskakel wat jy iewers geplant het?”
Phillip het ’n flits in die hand. Hy druk verby haar en stap ongenooid by die huis in. Hy marsjeer deur elke vertrek en klim op die solder.
“Hier is niks. Waar is jou hond? Het hy geblaf?”
“Buks? Jos, waar is Buks?”
Die kinders soek deur die huis na die hond. Hulle is skielik nie meer bang nie en soek deur die tuin tot by die rivier. Buks is weg.
“Hy was voor ons gaan slaap het nog hier. Dalk het hy by die hek uitgekom?”
Amelie kan sien Jos troos homself net. Buks sal nie sommer by die hek uitgaan nie.
Phillip Groenewald is of ’n goeie akteur of hy is opreg in sy bekommernis oor die kinders se hond.
“In my bakkie is nog ’n sterk flits, gaan haal dit dan soek ons weer deur die tuin.”
Vandat Phillip by die hek ingestap het, was daar nog nie weer een kermgeluid nie en dit laat Amelie wonder of Phillip nie dalk tog agter die geluide sit nie.
Die soektog na Buks lewer niks op nie en die kinders raak tranerig. Dit is een te veel vir Amelie.
“Phillip, sien jy wat hierdie ding aan my kinders doen? Sal julle ons asseblief nou uitlos? Hoekom dryf julle almal uit hierdie huis?”
“Vroumens, bly weg van stories en skinderpraatjies, ek waarsku jou. Hier het al genoeg mense seergekry.”
“Wie? Amelia en Phil Groenewald?”
Phillip kom staan teen haar met sy groot hande op haar skouers. Sy blou oë raak ysig.
“Los die stories, hoor jy my nie? Jy karring aan ou hartseer. Hoekom wil jy dit oopkrap?”
“Vertel my dan wat hier by Mon Abri gebeur het. As jy my alles vertel, los ek die boek.”
“Watter boek?”
Amelie besef sy het haar mond verbygepraat.
“Ek wil ’n boek oor Amelia skryf. Sy klink na ’n interessante mens.”
In die dowwe stoeplig kan sy sien hoe bleek Phillip word.
“Jy het geen idée waaraan jy nou krap nie. Geen idée nie.”
Hy draai om en stap weg. Iets aan sy houding laat haar sleg voel. Asof sy ’n baie persoonlike punt aangeraak het.
Die kinders raak almal uitgeput op haar bed aan die slaap. Hulle harte is seer oor Buks se verdwyning.
Nie eens nog ’n dosis van die pynpille laat Amelie slaap nie. Sy staan na haar slapende kinders en kyk en voel skuldig dat sy hulle in hierdie ding laat beland het. Sy was lus vir avontuur en wil nie hê iemand moet in die proses seerkry nie. Nie eens Phillip Groenewald nie.
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Lewer sowat 9 kranse Bestanddele 100 g (160 ml) koekmeel 175 ml water…
Genoeg vir 4. Bestanddele 6 aartappels, in wiggies gesny sout en gemaalde swartpeper…
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Hierdie webwerf gebruik koekies.