Moles op die hotelstoep
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Amelie het geweet Renier se nuuskierigheid sal hom dwing om te kom kyk hoe dit met haar nuwe lewe op Sederfontein gaan. Die feit dat hy op pad is, maak haar nie juis vanoggend opgewonde nie. Gelukkig weet hy niks van die spookstories oor haar huis of haar ongewildheid op die dorp nie. Dit sal hom net onnodig laat lekker-kry as hy weet haar plattelandse uittog is toe nie heeltemal nirvana nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Dit is die eerste jaar in baie wat hulle gesin nie tydens die Desember-vakansie by hul vakansiewoonstel op Plet is nie. Renier het ’n paar jaar gelede ’n aandeel in ’n luukse woonstelkompleks saam met sy kollegas gekoop. Desember was daar omtrent ’n uittog van die glaspaleise teen Northcliff-koppie na die woonstelgebou op Plet. Amelie het nooit in die brigade van die ander vroue gepas nie. Sy kon dit net nie regkry om met ’n ontwerperstrandpakkie onder tien lae sonblok onder ’n gazebo na die see te sit en kyk nie. Sy hou daarvan om na die vissies en anemone in rotspoele te kyk en om kilometers ver langs die see te loop en skulpies optel.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }As sy haar sin kon kry, sou hulle eerder ’n huis gekoop het met ’n grasperk waar die kinders krieket kan speel. Nietemin het sy en die kinders die luukse woonstel nog altyd geniet. Dit is teenaan die strand en die kinders is almal kranige branderplankryers.
Renier het selde iets saam haar en die kinders gedoen. As hy saam met hulle strand toe gegaan het, was sy selfoon immer aan sy oor vasgekluister. Maar meestal het hy verkies om in die woonstel te bly om te werk. Amelie het hom laat begaan anders het hy soos ’n knorpot onder die gazebo gesit. Sy het dit dus later ook verkies dat hy in die woonstel bly want dan kon hy onverstoord met sy “kontakte” gesels. Sy voel effens bitter as sy daaraan dink dat Renier seker nou met sy nuwe vryheid elke aand by die uithangplekke in Sandton skemerkelkies drink saam met ambisieuse jong vroue. Onverstoord.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Vandat sy en die kinders op Sederfontein ingetrek het, het nie een van hulle gekla dat hulle vanjaar die see mis nie. Daar is genoeg opwinding om hulle besig te hou.
Ugo en Jos baljaar met Buks by die rivier en hulle geniet die plaasdam skynbaar meer as hulle skitterblou swembad in Northcliff. Die meisies versier hul kamers en die restourasie-gogga het hulle behoorlik gebyt. Hulle het al ’n paar van Amelia Marceaux se verweerde meubelstukke uit die stoorkamer gered.
Die restourasie het gesorg dat hulle naas Hannes darem een ander vriend op die dorp het. Wouter Masyn van die hardewarewinkel is ook redelik nuut op die dorp en steur hom ook nie aan die mense se geskinder nie. Hy is ’n geskeide man en Lolla en Mia is daarvan oortuig hy het ’n ogie op Amelie. Hulle giggel elke keer as hy ander kliënte ignoreer en ’n verskoning soek om Amelie eerste te help. Amelie gee darem nie te veel om nie want Wouter is ’n mooie man. Lank, fors, blond en bruingebrand. As hy nie in sy winkel is nie, boer hy met sy kano op die rivier. Hy het al ’n paar keer Mon Abri se rivierfront ’n vasmeerplek vir sy kano gemaak sodat hy kan kom loer hoe sy “beste kliënt” vorder met die opknapwerk aan haar huis. Amelie vind sy raad waardevol en aangesien hy sag op die oog is, gee sy nie om as hy hom op haar stoep kom tuismaak nie.
Die oggend van Renier se aankoms op Sederfontein is Wouter juis aan die koffiedrink op die stoep. Sy roei-klere klou aan sy gespierde lyf. Iets moedswillig in Amelie is bly die aantreklike Camel-man sit op haar stoep as haar eksman se nuwe Mercedes by die voorhek intrek.
Die kinders is bly om Renier te sien en selfs Buks swaai sy stert effens.
Wouter spring op en skud vervaard blad. Amelie kan sien dit is effe heftiger as waaraan Renier gewoond is.
“Nou ja, dan roei ek verder rivier af. Dankie vir die koffie, Amelie. Ek stuur later die dag die nuwe verf wat jy bestel het. En Renier, geniet jou kuier op ons dorp.”
Wouter is skaars om die hoek van die huis of Renier spoeg sy eerste snedige aanmerking uit.
“Sien jy het gou aan beweeg?”
Amelie ignoreer sy aanmerking.
“Pragtige ou huis nê?”
“Die plek val uitmekaar! En hierdie boskaas van ’n tuin. Jy gaan dit mos nooit leefbaar kan maak nie?”
“Ons hou van die tuin soos dit is. Kom, ek gaan wys jou hoe dit binne lyk en hoe pragtig die agtertuin is.”
Soos sy verwag, het Renier nie een positiewe aanmerking oor die huis en tuin nie. Soms wonder sy hoe twee mense met sulke uiteenlopende smake soveel jaar getroud kon wees. Sy weet as sy nie al die jare aan Renier se voorkeure toegegee het nie, sou hulle huwelik vinniger gesneuwel het. Dit pla haar dus nie as hy niks van haar ou huis hou nie. Sy het al die jare ook nie van een van die moderne huise gehou wat hy vir hulle gekoop het nie.
Renier stel voor hulle gaan drink iewers op die dorp koffie om oor die laaste formaliteite van die verdeling van hulle eiendom te praat. Die kinders laat spaander rivier toe want hulle weet wat gaan volg as hulle ouers oor sake moet praat: konflik.
Die Palmiethotel langs die koöperasie het lekker wye stoepe waar mens teen die hitte kan skuiling soek. Tot Amelie se ontsteltenis loer ’n paar boere nuuskierig na haar en Renier.
Phillip Groenewald kom maak hom moedswillig tuis by ’n tafel langs hulle.
Renier knip sy bruin leer aktetas oop en haal die pakke dokumente uit. Hy is duidelik nie lus vir praatjies oor haar en die kinders se aanpassing op die platteland nie.
“Die huis is steeds in die mark. Ek gaan nie met die prys afkom nie. Ek het dit op ’n webtuiste vir potensiële oorsese beleggers geadverteer en ek glo ons sal ons prys kry.”
Hy stoot’n? dokument oor die tafel.
“Teken asseblief. Dit is die dokumente van die Plet-woonstel. Ek sal dit graag voortaan net vir besigheidsdoeleindes wil gebruik. Om kliënte te onthaal.”
“En die kinders? Mag hulle nie daar by jou kom kuier nie? Jy weet hoe lief is hulle vir die strand.”
“Jy en die kinders kan mos vir julle ’n plek by ’n ander strand koop met die geld wat ek vir jou gaan uitkeer. Ek dink nie dis ’n goeie idee as ons by dieselfde plekke vakansie hou nie.”
“Ek praat nie van my nie, ek praat van die kinders. Jou kinders. Gaan jy hulle nie soms saam met jou na die woonstel nooi nie? En terwyl ons van die kinders praat. Watter naweek kan hulle na jou toe kom?”
Renier steek vererg ’n sigaret op. Hy blaas moedswillig die rook in Amelie se gesig.
“Ek is baie besig. Ons het ’n klomp nuwe kontrakte. En die Plet-woonstel is vir kliënte, soos ek gesê het. Die kinders … ek sal Mia en Jos soms afvlieg vir ’n naweek.”
“’n Naweek? Dink jy dit is genoeg vakansietyd saam met jou kinders? En Lolla en Ugo? Ek kan nie glo dat jy hulle nou net so gaan afskryf nie. Jy is die enigste pa wat hulle ken.”
“Die aanneming was jou keuse.”
“En jy het dit geniet as mense jou vir jou ruimhartigheid prys. Onthou jy die artikel in Finansies & Sukses? Die pragtige foto’s van jou en jou gemengde gesin?”
“Amelie, dis jou keuse om te skei. Ugo en Lolla is deel van die prys wat jy betaal vir jou keuse. Hulle is jou verantwoordelikheid.”
“Jy het hulle wettig aangeneem. Kom ons sien wat sê die hof. Ek glo die pers sal die nuusbrokkie geniet.”
“Dreig jy my?”
’n Rits beledigings spoel uit sy mond.
Elke keer as Renier vasgekeer raak, beskuldig hy haar in onvleiende taal van affairs met van die skrywers wie se tekste sy al moes versorg.
Amelie gee nie meer om of Phillip Groenewald of die hele Sederfontein haar hoor nie. Sy is moeg vir Renier se verbale geboelie. Sy trek die dokument nader en teken dit.
“Toe, daar is jou liefdesnessie nou net jou eie.”
Die vlaag beledigings uit Renier se mond raak intenser. Amelie is bly hulle sit op ’n openbare plek want as Renier so kwaad word, stamp hy haar maklik rond.
“Jy kan maar hof toe gaan oor Ugo en Lolla, ek sal sorg dat die hof hoor watter slet jy is. Skaars op die dorp en klaar ’n man op sleeptou.”
Renier stoot die tafel woedend in Amelie se rigting. Dit stamp haar wind uit.
By die tafel langsaan skuif ’n stoel hard agteruit. Phillip Groenewald troon bo Renier uit. Hy neem Renier met die een hand aan die kraag en met die ander klap hy hom met die plat hand deur die gesig.
‘’’n Man wat so met ’n vrou praat verdien nie ’n vuishou nie.”
Dan volg nog ’n klap.
Renier steier al vloekend van die stoep af. Die klippe skiet oor die stoep soos sy Mercedes wegtrek.
Amelie hoes en proes nog om haar asem terug te kry. Sy voel hoe Phillip sy hande onder haar arms indruk en haar regop trek.
“Kom, haal diep asem.”
’n Steekpyn laat haar dubbeld vou.
“Ek dink van jou ribbes is dalk gebreek. Dries, bring my bakkie nader. Bel Dok Nel en sê hom ek kry hom by sy spreekkamer.”
Amelie voel hoe die groot man haar oplig en in die bakkie tel. Sy is te kortasem om teë te stribbel. Diep onder die pyn wil sy nie hê Phillip Groenewald moet haar help nie.
Dok Nel bevestig dat twee van haar ribbes waarskynlik gebreek is. Hy draai haar ribbekas styf toe met verbande en gee haar ’n inspuiting teen pyn. Die inspuiting laat haar kop draai. Skielik maak niks meer saak nie en sy sak in saligheid weg.
Die laaste ding wat Amelie sekerlik na ’n floute wil sien, is die ysblou oë van Phillip naby haar gesig. Sy ruik pyptabak en speserye aan sy klere. Hy ruk van haar af weg.
“Ek sien jy gaan dit maak, vroumens. Ek sal sorg dat een van my werkers jou netnou huis toe neem. Dok sê jy beter ’n rukkie lê.”
Dan is hy skielik weg.
Amelie voel haar hele lyf bewe. Seker die nagevolge van die skok, dink sy.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.