Glasklokke
Amelie staan die mure van die hoofslaapkamer ’n ruk en bekyk. Al het sy honderde voorbeelde van verftegnieke op ’n bord op Pinterest, kan sy nie besluit wat om met die mure te doen nie. Die afskuwelike muurpapier aan die een muur sal eerste moet waai, besluit sy. Sy skat aan die ontwerp van die papier dat dit nie antiek is nie en eers in die laaste paar jaar aangebring is. Dit pas glad nie by die beeld wat sy van Amelia opgebou het nie.
Die tegniek om die papier te verwyder is nie omslagtig nie en met die eerste stroke wat sy aftrek, verskyn ’n unieke turkooisblou beskilderde muur. Sy kan sien dat daar in sierskrif iets oor die res van die muur geskryf moet wees. Van die woorde wat sigbaar is nadat die eerste twee stroke verwyder is, toon dit is in Frans geskryf. “Mon bien-aimé” … wat “my geliefde” beteken, is van die eerste woorde sigbaar.
Uit verfpatrone en muurskilderye in ander dele van die huis en elemente soos die glasbottels wat aan die bome hang, is dit duidelik Amelia was ’n kunssinnige mens. Beslis ’n skrywer en skilder.
Amelie voel ’n opgewondenheid in haar opstoot soos sy die een strook muurpapier na die ander aftrek. Die muur bevat verskeie handgeskrewe dele wat soos gedigte en briewe lyk. Tussen die gedigte is blomme geskilder met swierige ranke wat lyk of dit die geheim van die geskrifte wil toegroei.
“Mia, Lolla! Kom kyk!”
Die muur hou vir Amelie ’n fassinerende bekoring in en sy het reeds besluit dat sy dit so gaan behou.
“Dis ’n unieke kunswerk! Sien julle?”
Mia staan sprakeloos na die beskilderde muur en kyk.
“Wat staan daar? Ma? Sê nou net dit is bose goed? Wie skryf ’n hele muur vol versies? Dis freaky, Loll, gaan haal jou tablet, ons sal die spul moet vertaal.”
Amelie streel oor die fyn handskrif. Dis dieselfde as die inskrywings voor in Amelia Marceaux se boeke en op haar dokumente.
“Hoekom sou sy die pragtige muur met sulke aaklige muurpapier wou toeplak?”
Amelie kan net dink hoe vinnig Renier die muur wit sou verf. Sy kon nooit hul huis se mure met interessante tegnieke verf nie. Renier sou die stuipe kry. Mia lees haar gedagtes.
“Dis ook net Ma wat sal dink dis mooi. Dit is vir my bietjie creepy. Kunstig, maar creepy. Lolla? Waar bly jy?”
Die meisies tik geesdriftig van die sinsnedes in. Nes Amelie geraai het, is dit almal liefdesaanhalings:
“La vie est une fleur dont l’amour est le miel,” beteken in Engels: “Life is a flower of which love is the honey.” En, “Vivre sans aimer n’est pas proprement vivre,” beteken: “To live without loving is to not really live.” Nog een lees: “Il n’y a qu’un bonheur dans la vie, c’est d’aimer et d’être aimé.” Wat beteken: “There is only one happiness in life, to love and be loved.”
Amelie en die meisies raak meegevoer. Die gedigte en aanhalings word noukeurig vertaal. Die langste gedig is een van Victor Hugo. Hulle spoor gou die Engelse vertaling op:
The dawn is born, and your door is shut!
My dear, why do you sleep?
At the hour when the rose wakes
Are you not going to get up?
O, my charming one,
Listen here,
The lover who sings
And weeps as well!
All things knock at your blessed door
The dawn says: I am the day!
The bird says: I am harmony!
And my heart says: I am love!
O, my charming one,
Listen here,
The lover who sings
And weeps as well!
I adore you, my angel, and love you, my woman.
Only for you has God has completed me
He has made my love for your soul,
And my glance for your beauty!
O, my charming one,
Listen here,
The lover who sings
And weeps as well!
Hul navorsing wys Hugo het die gedig vir ’n vrou geskryf, maar Amelia het dit aangepas en aan ’n man opgedra. In Frans staan bo-aan die gedig: “Jy is deel van my wese, my siel, al is ons geskei, sal ons altyd saam wees, tot in ewigheid.”
Lolla se romantiese tiener-hormone neem oor en sy raak skoon bewoë oor die opsigtelike liefde en passie waarmee die muur beskilder is.
“Dink Ma sy het dit aan Phil Groenewald opgedra? Die muur is so vol geskryf dat ek nêrens sy naam sien nie.”
Die geskrifte aan die muur hou Amelie en die meisies die hele middag besig. Amelie maak aantekeninge in die legger waarin sy die raamwerk van haar boek oor die geheime van Amelia begin vorm het.
Heel bo-aan die muur staan: “Ek het jou gevind in die woud … en hier verloor.” Hulle vind nêrens op die internet ’n soortgelyke aanhaling nie en Amelie neem aan dit is Amelia se eie woorde.
Onder dit staan: “Duisende myle het ons eens geskei, maar ek het toe nader aan jou gevoel as nou.”
Sou Amelia verwys het na die geliefde wat sy uit Frankryk na Suid-Afrika gevolg het? Sy wens Amelia het iewers op die muur haar geliefde se naam neergeskryf. Nêrens tussen die skilderye en geskrifte is daar enige leidraad dat die muur van liefde wel aan Phil opgedra is nie.
Een deel van die muur is effens deur klamheid verrinneweer. Hulle kan sien daar is dele van ’n boomtak waaraan ’n voorwerp of figuur hang. Onderaan kan hulle deel van ’n sin uitmaak: “
… jy is in die wind. Glasklokke dra my boodskappe aan jou …”
Lolla sien ’n verskuilde boosheid in die skets en lei af dit is ’n mens wat aan die boom hang. Mia weier dat Mia die romantiek van die muur bederf en bekyk die sigbare dele van die skildery uit alle hoeke.
“Ek het dit! Daai blou ding, dis ’n bottel! Soos die bottels aan die bome in die tuin!”
Amelie sien nou ook die moontlikheid dat dit ’n bottel kan wees.
“Die boodskappe wat die wind oordra, dit is die bottels wat in die wind klingel!”
Mia se logiese brein neem oor.
“Het Ma al die bottels van naby bekyk?”
“Jy is reg! Ek moes seker al die bottels bekyk het. Al wat ek tot dusver kon sien, is dat dit nie moderne bottels is nie. Dit is beslis antiek.”
“Waar dink Ma het sy so baie van die bottels gekry? Lyk my soos wynbottels? As dit is, het Amelia baie wyn gedrink! Lolla? Het jy al op die internet na soortgelyke bottels gesoek?”
Lolla laat nie op haar wag nie.
“Ek gaan eers een haal en kyk of dit ’n inskripsie onderaan het.” Amelie en Mia hardloop nuuskierig agterna.
Amelie voel effens skuldig om een van die bottels af te haal, maar sy wil graag die geheime ontrafel.
Die tou om die bottel se nek is al verweer. Die bottel self is vol stof en dof van die jare se hang in wind en weer. Dit het ’n kurkprop en dit is verseël met rooi skrywerswas.
Amelie skud dit.
“Dit het nie meer wyn in nie, maar daar is iets in. Hoor julle?”
Lolla hou die bottel onder die kraan.
“Dalk kan ons sien wat is binne-in as ons die stof af was.”
Amelie hou die bottel teen die lig.
“Dis ’n opgerolde stuk papier! Daar is ’n brief in!”
Die meisies gil byna gelyk: “Kom ons maak dit oop!”
Maar Amelie huiwer.
“Ons kan nie. Dis haar private goed!”
Mia se nuuskierigheid gaan nie so gou op ys geplaas word nie.
“Ma, die vrou is dood. Dit is nou ons huis. Ma is die een wat haar geheime wil oopkrap. Ons het al klaar in haar foto-albums rondgeblaai. En Ma is seker nog van plan om haar briewe te lees?”
“Ek het nog nie die moed gehad om dit te lees nie. Ek voel ongemaklik om dit te doen.”
“Ma! Nou freak Ma my uit! Die vrou is dood, hoor ma? Sy gaan nie weet Ma lees haar briewe nie. Of glo ma ook haar spook loop hier rond?”
Amelie voel hoe haar twee meisiekinders se oë op haar brand. Hoe moet sy aan hulle verduidelik sy voel ’n soort band aan met Amelia Marceaux? Dit is klaar ontstellend dat sy en Amelia so baie na mekaar lyk.
“Julle weet mos ek glo nie aan spoke nie? Natuurlik weet ek sy dwaal nie hier rond nie. Dis net … ek voel half vreemd om briewe en dokumente te lees wat iemand in haar privaatste oomblikke aan ’n geliefde geskryf het.”
Mia neem die bottel by haar.
“Ma, ek gaan die bottel oopmaak. Ek sal dit versigtig doen. Ons sal dit nie breek nie. Ons moet weet wat op die briefie staan.”
Lolla maak nog ’n bottel los.
“Ons sal dit mos weer ophang. Ek wil net kyk of die een ook ’n briefie in het.”
Die bottel word afgespoel en teen die lig gehou.
“Sien Ma! Nog ’n brief! Hulle het seker almal briefies in!”
Amelie voel ’n knop in haar keel ontwikkel. Die arme Amelia. Op die muurskildery in die kamer staan: “ … jy is in die wind. Glasklokke dra my boodskappe aan jou …”
Die briewe in die bottels is seker die manier waarop sy met haar geliefde gekommunikeer het. Dit is nie briewe wat gepos is en wat uiteindelik deur iemand gelees is nie. Dit is briewe wat al jare verseël in bottels aan bome hang.
“Dis so verskriklik hartseer. Ek dink die arme vrou se geliefde was nie deel van haar lewe nie. Al die boodskappe en briewe … Dis asof sy op ’n afstand na iemand verlang. Asof haar liefde onbeantwoord is.”
Die meisiekinders hang nou aan haar lippe. Lolla streel oor die bottels asof dit ’n kosbare kleinood is.
“Haai shame, al die bottels. As elkeen ’n briefie in het, moes sy baie verlang het.”
Amelie kan in haar geestesoog sien hoe Amelia in die tuin stap en luister na die geklingel van die wind deur die bottels wat haar geliefde se briewe bevat. In haar dagdroom sien sy Amelia van die een bottel na die ander beweeg. Sy raak aan elke bottel voor sy na die volgende een beweeg. Byna asof sy dans …
Dan ruk Amelie haarself terug na die hede. Sy wil graag die misterie oplos, maar sy kan nie toelaat dat haar verbeelding te ver met haar weghardloop nie.
“As die wind die boodskappe moes oordra, beteken dit haar geliefde was ver van haar af.”
“Maar Ma, hoekom het sy nie die briewe gepos nie?”
“Miskien, oor sy nie die briewe kon pos nie? Dalk was hy onbereikbaar?”
Lolla se oë rek groot.
“Dalk is dit oor hy dood was toe sy die briewe begin stuur het! O gonna, ek hoop nie hy spook ook hier nie!
Amelie neem die bottels by Lolla.
“Kom ons gaan maak dit in die kombuis oop. Ons moet elkeen weer verseël en onthou aan watter tak dit gehang het sodat ons dit weer op presies dieselfde plek kan ophang.”
In die kombuis was sy die bottels versigtig. Daar is geen inskripsie op die bodems nie. Aan die dikte en borrels in die glas kan sy aflei dat die bottels werklik baie oud is.
“Lolla, kyk op Google Images of jy antieke Franse wynbottels kan kry wat so blou is.”
Sy verwyder die skrywerswas versigtig met ’n messie en begin die kurk stadig met die kurktrekker uittrek. Sy wil nie die kurk beskadig nie. Sy het haar voorgeneem dat sy elke bottel soos ’n kosbare skat sal hanteer.
Na ’n gesukkel gly die opgerolde briefie op die tafelblad uit. Dit is vergeel en die papier het ’n paar klam vlekke. Die handskrif is dieselfde kursiewe sierskrif as waarmee Amelia op die muur in die kamer geskryf het.
“Lolla, maak Google Translate oop dan begin jy vir ons vertaal wat hier staan. ‘Mon bien-aimé …’”
Lolla tik die woorde stadig in. Soos die vertaalde woorde op die skerm verskyn, skryf Amelie dit in haar legger neer: “My geliefde, die tyd staan stil in my gebroke hart. Ek hoor nog jou afskeidsgroet as die wind die blare sag laat roer …”