kategorieë: Lees

Dans met die rooirok: Hoofstuk 37

As

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die rook verkleur die horison in skakerings van blou. Amelie ry stadiger om die omvang van die groteske skouspel in te neem. Die huis se geuwels word swart teen die vlamme afgeëts.
Mon Abri brand.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Voor die huis drom nuuskieriges saam. Hulle raak stil as Amelie en die kinders stilhou. ’n Paar fluister agter die hand. Hoorbaar genoeg. Maar Amelie wil nie hoor wat hulle sê nie. Sy weet reeds. Hulle voel waarskynlik die tragedie is haar verdiende loon. Sy is immers van dag een gewaarsku om nie in Amelia Marceaux se verlede rond te krap nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die ondersteuners van die Groenewalds staan eenkant. Sy hoor sissende aanmerkings uit hulle rigting.

“Laat hy brand. Die plek het nog net hartseer op die dorp gebring!” Die vrou se skril stem sny deur die lug. Skynbaar gee niemand om dat al haar en haar kinders se besittings in vlamme opgaan nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sederfontein se brandweer daag op. Hulle lyk nie haastig om die brand te blus nie. Die straal water uit die brandslang is flou.

“Los die plek, laat hy brand. Was nog altyd net ’n euwel. Iemand moes lankal ’n vuurhoutjie aangesteek het.”

Die vrou staan nader om seker te maak Amelie hoor haar.

Die vlamme lek aan die naaste bome. Skerp plofgeluide kan gehoor word soos die blou bottels in skerwe spat weens die hitte. Amelie sien in stadige aksie hoe iets uit die bokant van een van die bome die naaste aan die huis val. Dit plof naby haar neer in ’n smeltende massa. Dit lyk na ’n bandopnemer.

Die brandslang maak geen verskil aan die vlamme nie. ’n Boer daag op met sy eie brandblusser. Die klein skare maak halfhartig plek vir die trekker met sleepwa.

“Dis klaar te laat. Jy mors jou tyd.”

Amelie wonder watter genot die vrou kry uit haar venynige uitlatings. ’n Koor omstanders stem saam met haar. As een sien sy kyk na hulle, kom die woorde soos meswonde in haar brose gemoed.

“Ek weet nie wat het jy op die dorp kom maak nie. Als het vir ’n slag goed gegaan. Tot jy gekom het. Jy het ou rowe kom oopkrap.”

’n Deel van die huis se geuwel sak in. Amelie weet die brandweer gaan niks kan red nie. Sy staan magteloos en kyk hoe Amelia se geskiedenis en haar eie drome van vrede op Sederfontein saam met die rook in die Vrystaatse lug inborrel. Die kinders staan verwese eenkant. Die skuldgevoelens dat dié nuwe trauma hulle ook nog tref, brand saam met die trane agter haar oë.

Sy voel ’n bemoedigende arm vou om haar skouers. Dis Hannes. Goeie liewe Hannes.

“Ek is jammer.” Hy fluister sag teen haar oor en soen haar op die slaap. Die trane loop warm oor haar wange.

“Die stoorkamer brand ook.” Sy het dit vermoed. Die brand is beslis nie ’n ongeluk nie. Die persoon wat Mon Abri aan die brand gesteek het, sou geweet het die stoorkamer is ook vir haar belangrik.

Hannes beaam haar vermoede.

“Die polisie vermoed dit is Phillip se werk. Hulle het sy bakkie hier naby teen die rivier gekry.”

Hoe ver kan ’n mens se haat strek? Eintlik kry sy hom jammer. Sy kinderjare en familiegeskiedenis het hom ’n bitter mens gemaak. Net soos sy ma. Hy het kookpunt bereik en daar is geen keer aan die haat wat uit hom borrel nie. Dis asof hy al sy griewe teen die lewe nou op haar uithaal.

’n Brandweerman kom staan voor haar en Hannes. Hy trippel eers ongemaklik rond. Dis asof sy stem veraf en hol klink, maar ’n paar dring tot Amelie deur.

“Daar is iemand in die huis. Van die eerste mense hier het hom gesien. Hy het op daardie balkon gestaan en weer teruggegaan in die huis. Die mense het rondom die huis gehardloop om hom te probeer uitlok, maar hy het nie uitgekom nie. Dit was Phillip Groenewald.”

’n Lamheid kom lê op Amelie se maag. Die balkon waarna hy wys, was haar kamer. Die kamer waarin Phillip haar daardie eerste keer verneder het. Dit was ook die kamer waarin Phillip se pa snags by sy beminde gaan kuier het. Dit maak sin dat Phillip die brand daar sou begin.

Die nuus versprei vinnig en die mense staar met nuwe skok na die brandende huis. Almal weet dat dit nie meer moontlik is dat iemand lewend uit die huis gehaal sal kan word nie.
Groot dele van die boonste verdieping het al ineengestort.

“Ons het probeer inkom, maar die vlamme was te intens. Dis als verby.”

Die brandweerman se woorde bring ’n finaliteit. Die tragedie is vir Phillip Groenewald verby.

’n Polisiekar gevolg deur ’n bakkie kom nader gejaag. Dis Myra en klein Phil. ’n Polisieman help die ou vrou uit die bakkie. Hy keer haar as sy nader wil gaan. Haar rou gille laat Amelie naar voel. Hoe verskriklik moet dit wees om te weet jou kind is in die brandende huis? Klein Phil ruk homself los uit omstanders se greep en hardloop na die boom waaruit die bandspeler geval het. Hy klim rats deur die takke tot by die tak die naaste aan die balkon waar sy pa die laaste keer gesien is. Die mense raak stil as hy wanhopig na sy pa roep. Na ’n ruk raak sy stem stil. Hy bly in ’n bondeltjie in ’n mik sit tot die brandweer hom afhelp. Die vlamme lek aan die boonste takke van die boom.

Myra sak inmekaar. Amelie staan versteen en kyk hoe iemand noodbehandeling op haar toepas en hoe iemand haar na ’n bakkie dra.

Dit voel vir Amelie of sy ’n buitestaander in die situasie is. Dis asof sy bokant die brandende huis dryf en na die mense onder haar kyk. Sy voel die mense se oë op haar. Dis asof almal haar kwalik neem vir die kookpot van hartseer wat vandag op Sederfontein oorgekook het.

Sy dink terug aan daardie dag toe sy die eerste keer saam met Hannes deur Sederfontein gery het. Hoekom het die noodlot haar na Mon Abri gelei?

Dit was asof iets haar daardie dag na die huis getrek het. Die saadjie wat haar ouma Alet as klein dogtertjie al in haar hart geplant het oor die plek langs die rivier waar sy as kind so lekker gespeel het, het daardie dag ontkiem toe sy deur Mon Abri se hek gestap het. Dis asof sy haar rol hier by Mon Abri moes kom speel om Amelia se tragiese verhaal tot ’n eindpunt te kon bring.

Amelie staan lank nadat die laaste nuuskieriges en brandweermanne die smeulende huis verlaat het steeds onder die geskroeide bome. Daar is niks van die ou huis oor nie. Sy luister na die sagte geklingel van die oorblywende blou bottels in die wind.

“Kom nou tot rus, Amelia. Kom nou tot rus.” Sy hoop die wind dra haar boodskap oor.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

5 hours Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

5 hours Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

5 hours Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

5 hours Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

6 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

7 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.