Simfonie
Adrien het die kinders se harte verower met sy sjarme en Franse kookkuns. Voor Amelie kon keer, het hy Mon Abri se kombuis vir die aand oorgeneem. Sy het haar vergaap hoe die kinders gewillig saam groente skil en lag vir al sy grappe.
Toe sy sien sy gaan nie vir die aand van hom ontslae kan raak nie, het sy moedswillig die kampbedjie in die solderkamer vir hom reggemaak. Dit moenie te gerieflik vir hom raak nie want hy moet so gou as moontlik na die gastehuis vertrek. Sy is nie lus vir hom onder haar dak nie. Hy skommel haar hormone te veel.
Tot haar verbasing was hy heel ingenome met sy nederige kamertjie. Hy het die kampbed met oorgawe uitgetoets en sy kon sien sy voete hang onder oor die rant van die bed. Laat hom maar bietjie swaarkry, die bederfde brokkie, het sy gedink.
Maar sy het weer nie rekening gehou met sy skitter-glimlag nie. Sy kon sommer sien hoe hy Mia en Lolla se harte wen en toe hy na aandete saam die seuns in die plaasdam gaan swem, was ook hulle sy ewige lojale bewonderaars.
Amelie sit vroegoggend met ’n beker koffie op die stoep en wonder hoe gerieflik die lang Fransman se nag op die kort ongemaklike kampbed was. Sy het hom vroeg al hoor sing. Sy nag kon dus nie te rof gewees het nie.
Sy vererg haar vir haarself as sy dagdroom oor die man in die solderkamer. Dit moet die gevolge van haar harsingskudding wees, verdedig sy haar muisneste. Sy bloos soos ’n verliefde skooldogter as hy haar van agter bekruip en in die nek soen. Een deel van haar tintel, maar ’n ander deel van haar wil keer vir ‘n vale. Hierdie man is gevaarlik. Sy aanraking slaan haar asem weg.
Sy hou hom dop terwyl hy van boom na boom stap en elke blou bottel met bewondering bestudeer wat sy tante opgehang het.
“Sy was ’n romantiese siel. Dink jy dit is moontlik om iemand so lief te hê, Amelie?”
Sy oë is gitswart hier naby haar gesig. Dit voel of haar hart in ’n poel donker Lindt-sjokolade induik. Soet saligheid. Sy stoot hom weg.
“Ek is nie die regte mens om te vra nie. Ek is pas geskei. Onthou? Maar jy? Was jy al so lief vir iemand? Daardie godin waaraan jy so in die restaurant in Parys gehang het?”
Daardie skitter-glimlag is skielik te na aan haar.
“O, is jy jaloers? Sy is nogal ’n perfekte spesie is sy nie? Nie so wild en lomp soos iemand anders wat ek ken nie. Maar nee, ongelukkig was daardie soort liefde waaraan my tante gely het my nog nooit beskore nie. Maar ek voel Eros se pyle is nou op my gemik. My tyd vir die liefde het aangebreek.”
“Dit het niks met Eros se liefdespyle te doen nie. Dit is net jou ouderdom wat jou inhaal.”
Haar hart hoop sy kry die regte boodskap want dit klop in versnelrat.
Hy trek haar aan haar hand regop.
“Kom, ons moet vroeg begin krap in tant Amelia se stoorkamer. Ons het ’n skildery om op te spoor.”
Die rooi ligte flikker weer vir Amelie. Die man is net hier om die skildery te soek en hy sal enigiets sê om toegang tot die stoorkamer te kry.
“O ek kan sien wat jy dink. Jy dink ek wil die skildery opraap en die volgende vliegtuig haal sodat ek dit vir my ma kan gaan gee? Maar jy is verkeerd. As ons dit kry, het ek ’n eksotiese eiland in gedagte. Een waarheen ek en jy kan wegloop. Met die prys wat ’n Cezanne vandag gaan haal, kan ons sommer die eiland koop! Wat dink jy?”
“Ek dink jy het breinskade opgedoen toe Phillip jou so hard geslaan het in die hospitaal.”
Hy trek haar laggend nader en soen haar weer in die nek.
“So van daardie Vrystaatse barbaar gepraat. Wat is aan die gang tussen julle? Ek weet julle is ook eintlik soort van familie, maar ek kan die vonke tussen julle sien. Daardie man is verlief op jou. Ek sien die kyk in sy oë.”
Amelie wens haar wange wil nie so gloei nie. Die laaste ding wat sy wil hê die Fransman moet uitvind, is hoe Phillip haar verneder het.
“Lyk my jou brein het inderdaad geskommel geraak. Jy vergeet Phillip probeer sy bes om van my ontslae te raak? En sy ma sal my van die aarde af vee as sy kan.”
“Dit lyk my jy sukkel maar met ons manne se ma’s? Myne is mos ook nie te lief vir jou nie.”
Amelie wil nie herinner word aan Adrian se ma se bitsigheid nie. Sy wonder wat sal Arianne sê as sy weet hoe haar seun haar grootste vyand nou so teen hom vasdruk?
Sy woel los.
“Ek weet nie hoekom jou ma so teen my gekant is nie. Ek staan net op my regte.”
“Buiten dat jy op ’n druppel lyk na haar suster wat haar kinderjare so ’n bietjie rondgeskommel het? My Mamma glo ook jy het gretige vingertjies wat ons rykdom wil inpalm.”
Amelie stoei, maar kan nie loskom uit sy greep nie. Sy wil nie vasgehou word deur ’n man wat dink sy is ’n fortuinsoeker nie.
“Herinner jou ma dat Marceaux-bloed deur my ouma Alet se are gevloei het. Julle kan dit nie wegredeneer nie. Julle het haar lank genoeg misken. Ek het die reg om haar deel op te eis.”
Sy gaan staan aan die ander kant van die tafel sodat hy haar nie weer kan vasdruk in ’n omhelsing nie.
“Maar jou ouma is mos dood? Sy het nie meer die geld nodig nie? O ja! Jy is seker die enigste erfgenaam! Vertel my, wat gaan jy met jou ouma se geld doen?”
“Dit het niks met jou te doen nie. En jy en jou ma kan ook maar van die Cezanne vergeet. Ek het Mon Abri gekoop met die inhoud soos hy hier staan. Alles in hierdie huis is myne. Ek het dit wettig by jou gekoop.”
Adrian beweeg rats tot by haar. Sy lang arms vang haar vas en sy asem is warm in haar nek.
“My Liewe Moeder het ’n sertifikaat wat sê die Cezanne behoort aan die Marceaux. Jy het seker gesien my ma is nie iemand met wie jy ’n geveg moet aanknoop nie?”
Die seuns se aankoms red har uit sy omhelsing. Jos pak gereedskap op die koffietafel uit.
“Hier is als wat Oom nodig het om die kratte oop te maak. Ons al Oom wys hoe ons die ander oopgemaak het. My ma wil nie hê mens met die kratte beskadig nie en as ek oom raad kan gee, sal oom na my ma luister. Sy is kwaai. Nê Mamma? Kom, laat ons die skat gaan soek!”
Amelie gluur in Adrian se rigting. Hy het sowaar agter haar rug met die seuns gekonkel om die skildery in die stoorkamer te gaan soek! Sy probeer sy skitter-glimlag ignoreer want sy weet hy weet maar te goed sy sal nie ’n rusie met hom voor die seuns begin nie. Hulle is dan nou sy ewige lojale bewonderaars!
Hy neem haar hand in sy gewone ferm greep en trek haar agter hom aan in die rigting van die stoorkamer. Sy stap gedwee saam hom en die opgewonde seuns.
Na twee kratte se deursoek raak die seuns verveeld en tot haar vreugde en verriet los hulle haar alleen in die skemer stoor met die onmoontlik aantreklike man wat nie sy hande van haar kan afhou nie.
Hy staan flink nader en trek die deur op knip.
“Mmm romantiese beligting hier in die stoor. Kyk net hoe sag val die lig op jou spierwit vel. Jy is een van die mooiste vroue wat ek in my lewe gesien het. Ek is so bly ons is nie bloedfamilie nie. Jy is onweerstaanbaar.”
Amelie se benewelde brein probeer onthou wanneer laas het ’n man haar as onweerstaanbaar beskryf. Miskien Renier toe hulle baie jonk en verlief was? Maar sy kan dit nie onthou nie. Sy wil op hierdie oomblik aan niks anders dink as sy lang vingers wat ’n pad om haar mond volg en oor haar wang tot in haar nek streel nie.
Sy kan nie glo hoe haar eie lyf haar in die steek laat nie. Sy weet sy moenie toegee aan hierdie man nie, maar sy is verslaaf aan sy aanraking. Sy vergeet van die Cezanne en sy ma. Dit maak nie meer saak dat sy dink hy is ’n arrogante man en dat hy dink sy is ’n fortuinsoeker nie.
Sy gee haar toe aan die tsoenami van opwinding. Sy ruik die speserye en klam wingerdgrond aan sy lyf. Sy lippe proe soos korente en bloubessies. Sy proe hoe groot swart druiwekorrels in haar mond ontplof.
Iewers in haar brein is ’n stem wat haar waarsku dat sy met vuur speel, maar sy ou haar doof. Die simfonie wat haar lyf saam met syne speel is al klank wat sy op die oomblik wil hoor.