Dorpsboelies
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }“O, bly julle nou in die Franse ou vrou se plek? Julle is dapper om Mon Abri aan te durf!”
Brenda Olson, die gastehuiseienaar, maak teatrale gebare terwyl sy praat.
Amelie besluit dit is beter om nie oor die aaklige kermgeluide te praat wat haar en die kinders die vorige aand uit die ou huis laat vlug het nie. Dis erg genoeg dat die kinders klaar ’n skrik in die plek gekry het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“Dis ’n pragtige ou huis. Ek gaan dit restoureer. Ek glo ons gaan baie gelukkig daar wees.”
Brenda kom sit ongenooid by haar gaste se tafel. Die kinders hang aan haar lippe.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Hier is mense op die dorp wat sal sorg dat julle nie lekker daar bly nie. Hulle het alle vorige belangstellendes die skrik op die lyf geja met spookstories. Die een man en vrou het ook hier by my gebly. Hulle het my vertel hulle het vreeslike krapgeluide op die dak gehoor elke keer as hulle na die huis gaan kyk.”
Amelie wens sy kan ’n broodrol in die vrou se mond stop om haar stil te maak. Sy wil nie hê iemand moet die kinders nog banger vir die huis maak nie.
“Ek het een dag by die koöperasie gehoor hoe Phillip Groenewald grappies maak oor hoe maklik stadsjapies vir ’n bietjie bangmaak skrik. Daar was lankal stories gewees oor Phillip se oupa en die Franse vrou. Die mense hier praat nie maklik oor die ding nie. Die Groenewalds het baie mag hier rond. Ou Myra Groenewald leef nog en die ou helleveeg sal enigiemand gelyk met die aarde vee as hulle stories oor ou Phil en die mal Franse vrou vertel.”
Brenda se groot hoepel-oorbelle swaai heen en weer so driftig praat sy.
Amelie sit nou self vasgenael. Sy stel eintlik belang in die deel wat klink of Phillip Groenewald iets met die geluide op die ou huis se dak te doen gehad het.
“Dink jy Phillip het die vorige belangstellendes skrikgemaak?”
“Ek weet dit nie vir ’n feit nie. Maar ek glo enigiets van Phillip. Hy is ’n aardsboelie. Wag maar, jy sal hom gou leer ken as jy Mon Abri wil koop. Daai Groenewalds het die arme ou Franse vrou beswadder, maar ek sê jou, ek glo daar was iewers in die verlede iets tussen oupa Phil en daai vrou. Vir wat sou sy op hierdie ou dorpie wou kom bly? Sy het glo van ’n skatryk familie gekom.”
“Wat was haar naam? Die Franse vrou?”
Amelie en die kinders vergeet skoon om te eet so fassineer Brenda se stories hulle.
“Noudat jy dit noem. Haar naam het baie soos joune geklink. Amelia Marceaux. Is jy ook van Franse afkoms?”
Amelie lag oor die ooreenkoms.
“Nee jong, my ma het my naam iewers in ’n boek gekry wat sy gelees het.”
Amelie se foon lui. Die trek-lorrie het op Sederfontein aangekom.
Tot haar verbasing is veral die seuns gretig om na die huis terug te gaan. Die speurders in hulle is nou aangehits deur Brenda se storie.
“Vandag trek ons ’n kamma spook vas, Jos. Niemand moet dink ons skrik so gou nie!” Ugo trippel van opgewondenheid rond, maar dit lyk nie of Mia el Lolla die geesdrif deel nie.
Amelie hoop haar kredietkaart en die kar se sleutels sal Mia opbeur.
“Kom meisies, julle gaan laai ons by die huis af en dan gaan doen julle vir ons inkopies. Ons het baie koeldrank nodig as ons die uitpak wil oorleef.”
Voor die huis staan ’n paar nuuskieriges om die trek-lorrie rond.
Amelie bid stilletjies dat die dorp se verkeerspolisie nie haar ongelisensieerde kind vastrek nie.
Daar is ’n klein skare nuuskieriges voor Mon Abri wat staan en kyk hoe die werkers meubels uit die trek-lorrie laai.
Ugo en Jos dink dit is super cool dat hulle trek soveel belangstelling op die dorp lok.
Amelie groet hoflik en pyl op die tuinhekkie af. Die mense Fluister onder mekaar. Party praat sommer hardop.
“Hier kom moeilikheid. Hierdie mense gaan ook nie lank hou nie,” sê een vrou vir ’n ander asof Amelie doof is. Sy vererg haar.
“Goeiedag, Ek is Amelie du Raan. Die nuwe eienaar van die huis.”
Die vrou gryp Amelie aan die arm.
“Ma dit spook hier! Julle is mal!”
“Ons glo nie aan spookstories nie. En as hier spoke is, sal hulle maar moet aanvaar ons is hier om te bly.”
Amelie sien Magdel, haar buurvrou, is ook deel van die nuuskieriges.
“Môre, Magdel, bly julle almal het ons kom verwelkom.”
Magdel beduie met die sigaret in die hand in die huis se koers.
“Toe? Het julle lekker geslaap gisteraand?”
“Ons het dankie. Gaaf van jou om te kom vra. Nou moet julle my verskoon, ons moet uitpak.”
’n Modderbesmeerde bakkie ry stadig verby. Amelie maak oogkontak met die bestuurder. Koue rillings gaan teen haar rug af. Sy ysblou oë spoeg haat uit.
Magdel lig haar in wie die man is.
“Daasy, Phillip het kom kyk of julle regtig intrek. Moenie verwag dat die Groenewalds vir julle ’n erwelkomingsruiker gaan stuur nie.”
Amelie probeer haar bes om Magdel se skerp tong te ignoreer. Sy glimlag so vriendelik sy kan en stap weg.
Sy sien deur die sitkamervenster hoe Phillip Groenewald by die tuinhekkie ingestap kom. Hy is ’n lang seningrige man en dis duidelik hy koop sy klere by die koöperasie. Sy hare is ’n kort borselkop geskeer. Sy ysblou oë lyk kil teen sy bruingebrande vel.
Hy stap ongenooid by die voordeur in.
“Klop jy nie?”
“Die deur staan oop.”
“Dis my huis. Jy kan nie sommer net instap nie.”
“Ek hoor die koop is nog nie deur nie. Dis nog nie jou huis nie.”
“O, stel jy ook belang in die huis? Ek dog niemand wil dit koop nie. Of laat ek dit so stel, ek hoor jy laat niemand toe om dit te koop nie. Laat ek jou sommer nou al inlig. Ek en my kinders gaan die huis ons nuwe tuiste maak. Jy kan ons nie skrikmaak met spookstories nie.”
Phillip gaan sit op een van die stoele wat pas ingedra is.
“Ek sien jy skrop nes, ja, maar dis nie ek wat julle hier gaan wegjaag nie. Dis ou Amelia self. Sy gaan nie toelaat dat julle hier bly nie. Sy gaan julle uitspook.”
Amelie voel sy kan stik van woede.
“Is daar nog iets waarmee ek kan help? Ek is baie besig. Jy weet mos waar die deur is?”
“O, het ons ’n vuurvretertjie hier? Dalk kom jy en ou Amelia se spook goed oor die weg. Sy was ook ’n kwaai een. En nou klink julle name ook dieselfde? Moet sê dit gee my koue rillings as ek na jou kyk. Ongelooflik …”
“Wat is ongelooflik? Dat ’n vrou jou vra om asseblief te gaan? Is jy altyd so arrogant?”
Phillip staan op en kom staan byna teenaan Amelie.
“Verstommende ooreenkoms. Werklik verstommend. Van waar sê jy is jy?”
“Ek het nie gesê nie. Sal jy asseblief nou gaan? Ek is besig.”
Phillip hou sy hande weerskant haar gesig. Dis grof teen haar vel. Sy kan sy asem teen haar wange voel. Hy ruik na tabak.
Sy vererg haar en stamp hom weg.
“Gaan nou asseblief!”
“Verstommend. Amelie … Amelia …”
Amelie kyk Phillip Groenewald woedend agterna. Sy is regtig nie lus om deur nog ’n man geboelie te word nie en hierdie boer moenie dink hy gaan haar uit die dorp kry nie.
Van die hekkie af skree hy in haar koers.
“Moenie verbaas wees as julle ou Amelia vannag raakloop nie. Sy gaan julle lewens vergal hier in haar huis!”
Die uitpakkery vorder fluks en Ugo en Jos installeer die elektroniese toerusting in die sitkamer eerste. Harde tienermusiek bulder deur die ou huis. Amelie kan nie help om te wonder of die seuns dalk enige ander geluide wil uitskakel nie.
Mia en Lolla kom opgewerk van woorde van die winkels af.
“Jissie, Mia het amper ’n boerseun gerol!”
“Lolla is reg Ma, ek het hom amper gepot. Arrogante vent. Kom staan voor my en waarsku my dat ons ons goed moet vat en waai want ons is nie welkom op die dorp nie.”
“Ja, en hy is ’n rassis! Hy vra vir my of ek dink die skool gaan my toelaat.”
“Toe sê ek vir hom die skool kan geëerd wees om so ’n slim kind soos Lolla te kry.”
“En toe sê hy hy en sy familie sal sorg dat ons nie in vrede hier bly nie. Sy naam is Flip Groenewald en hy is in matriek. Ek vra hom toe en wat gaan die Groenewalds nogal doen om ons te laat skrik, weer ’n bandjie met ’n skreeuende baba speel? En dis toe ek sien hy lyk skuldig. Ek sê Ma daardie geluide wat ons gehoor het was ’n bandopname!”
“Ja, ek het gesien hy word kwaad toe Mia hom sê ons skrik nie vir bandjies met huilende babas nie.”
Lolla lag lekker.
“Ons het vir hom gesê ons hou eintlik van scary goed. Ons is emo’s. Ons hou van vampiere en zombies. Dis hoekom ons spesiaal hierdie huis uitgesoek het.”
Amelie weet nie of sy bly moet wees dat die meisies die Groenewald seun oor hulle voorliefde vir bangmaakgoed moes inlig nie.
Jos en Ugo gil van die agterkant van die huis af.
“Ma! Kom kyk!” Jos beduie na die plekke waar die rankplant teen die huis se muur half afgetrek is. Daar is duidelike skoenmerke teen die muur.
“Iemand het hier opgeklim! Kyk dit moes gister gewees het want die knakplekke in die rankplant is nog vars.”
Mia ondersoek ook die “misdaadtoneel”.
“Daai spul kan gaan bars! Ons is hier om te bly. Hulle gaan ons nie bang maak nie.”
Amelie se hart juig halfhartig. Sy is bly haar kinders is nou opgewonde oor die huis, maar sy is nie lus vir die vyandigheid van die dorpenaars en veral die Groenewalds nie. Hannes het haar gewaarsku toe sy die huis wou koop, maar sy het nie gedink dit kan so erg wees nie.
Sy wonder wat het tussen die Groenewalds en die Franse vrou gebeur. Was daar dalk iets tussen Phil Groenewald en Amelia Marceaux?
Hulle eerste nag in die huis verloop sonder enige voorval. Amelie weet die kinders is nog nie gerus nie en dit is hoekom hulle kamma ter viering van die eerste aand in die huis ’n kermisbed in haar kamer opmaak. Tot Buks is deel van die pajamapartytjie.
Die kinders verorber al die versnaperings wat Mia en Lolla vir die week gekoop het in een sessie en probeer mekaar oortref met teorieë oor hoekom die dorpenaars dink dit spook by die huis.
Jos meen daar is ’n skat onder die huis begrawe en die Groenewalds wil almal bang maak sodat hulle die plek goedkoop kan koop.
Ugo glo weer die Franse vrou was ’n spioen en dat sy die dorpenaars net wou mislei deur soos ’n eksentrieke kluisenaar te leef.
Die meisies vind die moontlike romantiese verbinding tussen Phil en Amelia fassinerend.
Amelie lê lank en luister na die gedruis van die rivier en die paar verwarde duiwe wat in die nag na mekaar roep. Sy bid dat die trek na die platteland vir haar en die kinders ’n goeie skuif is.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…