Stoeigeveg
Vir ’n paar dae sweef Amelie in en uit die werklikheid. Sy sien die kinders se bekommerde gesigte en selfs al is haar gedagtes toegewikkel in ’n wasige wolk, voel sy skuldig oor die dom ding wat sy aangevang het om alleen by die krans te gaan rondloop.
Sy hoor hoe dokters aan Renier verduidelik dat sy baie gelukkig is en dat die erge harsingskudding ’n rukkie sal neem om te stabiliseer.
Vanoggend voeg was Renier by haar en het hy losgetrek met een van sy tirades oor die gevolge van haar “onverantwoordelike” en “impulsiewe” trek na Sederfontein.
Genadiglik het ’n verpleegster haar ’n inspuiting gegee en kon sy wegsink in ’n wêreld waar sy Renier nie kan hoor nie.
Salige rus.
As sy haar oë oopmaak, sien sy daar sit ’n figuur voor haar bed. Tog net nie weer Renier nie! Maar iets aan die figuur maak haar nuuskierig.
Sy knip haar oë ’n paar keer om te probeer fokus.
En daar sit hy in sy volle glorie! Adrien Marceaux!
“O, ek sien jy is uiteindelik weer met ons? Hallo? Weet jy wie is ek?”
Hy buk oor haar en sy kan die speserye van sy naskeermiddel ruik.
“Hallo? Hoor jy my?”
Sy stem skril deur die kloppende hoofpyn wat maar net nie wil weggaan nie.
“Hallo? Hallo?” Sy voel sy asemhaling op haar gesig.
“Ek hoor jou, my kop is seer. Ek is nie doof nie.”
“O, ek sien jou sprankelende geaardheid het die stamp teen die kop oorleef.”
Sy oë vonkel en hy soen haar op beide wange.
“Jy lyk maar vrotsig.”
“Dankie, Adrian. So galant soos altyd. Wat maak jy hier?”
Sy wens hy wil nie so ontstellend aantreklik lyk nie. Hy is waarskynlik reg. Sy lyk seker woes. Haar arm is gespalk en sy voel met die ander een na haar hare. Daar is ’n verband om haar kop en sy kan voel die hare wat bo uitsteek, is die ene koeke.
“Los eers jou hare. Dit lyk darem nie so sleg nie.” Hy neem haar enigste bruikbare hand gevange.
“Hoe lyk dit?”
“Ek sê mos, nie sleg nie. Mens moet darem in ag neem dat jy van ’n krans afgestort het en dramaties deur ’n helikopter gered is. Regtig, Amelie, eers die enkel in Frankryk en nou hierdie? Ek stel voor jy soek ’n ander manier om aandag te trek. Of was jou doel om ’n drama te veroorsaak sodat ek op ’n vliegtuig moet spring om jou te kom bystaan?”
Sy probeer haar hand lostrek uit sy greep, maar hy klou.
“Wat maak jy hier? Jy het seker nie gekom oor ek geval het nie?”
Sy skaterlag priem deur haar kloppende hoofpyn.
“So graag soos ek jou wil vlei, my liewe Amelie, nee, ek het nie gekom omdat jy ’n onbesonne ding aangevang het nie. Ek is hier op amptelike besigheid.”
“O, kom koop jy ordentlike wyne in Suid-Afrika?”
Hy soen weer beide haar wange.
“Ek het wel al ’n paar bottels wyn geproe sedert ek hier aangekom het, maar die kwaliteit is nie iets waarvoor ek halfpad oor die aardbol sal vlieg nie. Mamma het my gestuur.”
Arianne! Sy is seker bekommerd oor die dreigemente oor die erfporsie.
“Is jou ma bang ek maak jou armer?”
“Ja, en sy wil hê ek moet kom soek na ’n waardevolle skildery wat Amalia saam met haar van Frankryk af gebring het. Jy weet nie dalk van so ’n skildery nie? Jy is mos ’n ingeligte vrou. Ek glo jy sou dadelik geweet het ’n skildery is waardevol as jy dit tussen my tante se goed uitgesnuffel het?”
Amelie kan nie glo wat sy hoor nie. Dink Adrian en sy ma sy het een van hulle familie se waardevolle skilderye in haar besit? En as sy dit sou gekry het, wie op aarde dink hulle is hulle dat hulle sommer nou kan kom sê hulle het die reg daarop?
“Watter skildery nogal? Hoekom onthou jou ma nou na al die jare eers daarvan?”
“Mamma het tussen ou dokumente ’n brief van ’n kunsgalery gekry wat haar ouers ’n aanbod gemaak het vir ’n Cézanne wat in die familie se besit is.”
“’n Cézanne nogal? En jou ma dink Amelia het dit saamgebring na Suid-Afrika?”
“Ja, Mamma is nou oortuig daarvan, want daar is ’n waarborg-sertifikaat van die skildery wat in Amelia se naam uitgemaak is. Soos jy weet, het sy al haar besittings buiten ’n paar goedjies saam met haar gebring toe my oupa haar op die skip gesit het.”
Die kombinasie van die Fransman se arrogansie en haar hoofpyn maak haar hoogs knorrig.
“Het julle geen menslikheid in julle nie! Ek kan nie glo jy kom sit langs my bed en wag vir die oomblik wat ek bykom om seker te maak ek het nie julle skildery gesteel nie!”
Sy ruk haar hand los en probeer die klokkie nader trek. Adrian keer haar.
“Bedaar nou. Moenie jou so ontstel nie. Netnou sak jy weer in ’n beswyming in.”
“Ja, jy en Mamma sal seker nie kan wag tot ek weer bykom nie? Luister nou vreeslik mooi na my. As ek ’n skildery tussen Amalia se goed gekry het, is dit myne. Ek het Mon Abri gekoop soos hy daar staan. Alles in en om die huis is myne. Jy kan jou ma maar inlig dat sy nie haar lippies moet aflek vir nog rykdom nie.”
“O, daar is dus ’n moontlikheid dat jy die skildery het?”
“As dit so is, sal ek jou nie sê nie. Loop nou!”
Sy sien nie die figuur by die deur inkom nie. Sy is blind van woede.
Skielik trek Adrian deur die lug. ’n Lang man in kakieklere is dadelik by hom om hom aan die kraag regop te trek en hy plant nog ’n hou op die Fransman se pragtige neus.
Waar het Phillip so skielik vandaan gekom? ’n Geveg tussen twee mans is die laaste ding waarvoor sy nou lus is.
’n Verpleegster kom aangehardloop en probeer die mans uitmekaar trek.
“Roep sekuriteit!” gil sy as die mans tussen die beddens rond rol.
Die stoeigeveg duur ’n rukkie voor die sekuriteit opdaag en die twee bebloede mans van mekaar af trek.
Adrian en Phillip staan soos twee skuldige skoolseuns aan die voetenent van haar bed.
“Is julle twee mal? Hier is siek mense!”
Phillip staan weer nader om die Fransman te pak. Die sekuriteitsmanne gryp in.
“Dis okei, Amelie, ek sal loop. Dit is die tweede keer wat ek jou van ’n bombastiese man moet red. Waar kry jy die mans?”
Amelie kyk van die een man na die ander. Watter vreemde toeloop van omstandighede. Hier staan twee mans wat met ’n lang familiegeskiedenis aan mekaar verbind is en hulle weet nie eens wie die ander een is nie.
“Phillip, laat ek jou voorstel aan Amelia se susterskind, Adrien Marceaux.”
Phillip stik behoorlik aan die naam.
“Nog ’n Marceaux? Waar broei hulle uit? Hy is seker hier om ons lewens nog verder te kom omkrap?”
Amelie maak oogkontak met die Fransman wat soos ’n woedende bul staan en blaas.
“Adrien, dit is Phil se seun, Phillip.”
Adrien gee ’n snork in die Vrystaatse boer se koers.
“O, seker net so ’n papperd soos sy pa.”
Phillip stoot die wagte met een hand voor hom uit en voor sy vuishou die Fransman kan tref, laat ’n hou hom oor die vloer skuif.
Teen die tyd staan daar ’n skare pasiënte en verpleegpersoneel om die vegtende mans. Die polisie daag op en sleep die twee by die deur uit.
Amelie maak haar oë toe en trek die kombers oor haar gesig. Sy wens sy kan weer in ’n diep slaap wegsak. Miskien is Renier reg, haar geit om uit die stad te vlug en Mon Abri te koop, het vir haar net moeilikheid gebring. Groot moeilikheid.