PYN
Dis donker as Amelie wakker word. Sy is verward want sy is nie in haar bed nie. Sy voel klippe en grond onder haar. Dan kom die pyn in vlae. Haar hele lyf pyn. Sy onthou waar sy is. Hoe sy gegly het en deur die lug getrek het. Dan probeer sy onthou hoe hoog die rotskrans was wat sy probeer uitklim het want sy is nie seker hoe ver sy geval het nie. Haar hele lyf pyn en sy kan nie vasstel waar die pyn die ergste is nie. Sy kan darem haar tone roer, maar sy wil nie probeer regop kom nie, ingeval haar rug beseer is.
Die kinders is seker rasend, besef sy. Hoe lank het sy daar gelê voor sy bygekom het? Sy beweeg haar hand pynlik rond om haar foon in haar broeksak te soek. Dan onthou sy dit is in haar rugsak. Sy kan voel die sak is nog aan haar rug vasgegespe want sy lê op die sak. Sy sal die sak moet afhaal en probeer bel en besef sy sal die kans moet vat en probeer regop sit.
Dit is ’n moeisame proses. Haar kop draai en sy voel ’n naarheid in haar opsteek tussen die pyn. Dit is waarskynlik harsingskudding. Haar regterarm is heel moontlik gebreek want sy sukkel om dit te beweeg. Haar linkerarm sukkel dom om die sak af te wikkel.
Die waterbottel is wonderbaarlik nog heel, maar die selfoon is flenters. Dit toon nie eens ’n teken van lewe nie.
Haar brein begin oortyd werk. Mia en Lolla is intelligente meisies. Hulle sal hulp vra as sy nie opdaag nie. Die kinders weet sy het op Google Search na die eskarpment en krans gekyk. Hulle sal haar sekerlik kan opspoor? Dit is net ’n kwessie van tyd.
Sy probeer tred hou met die tyd, maar besef dat sy soms in ’n beswyming gaan. Daar is dus nie ’n manier om te probeer bepaal hoe laat dit is en hoeveel tyd verbygaan nie.
Sy luister, maar hoor geen ander geluide in die kloof buiten naggeluide nie.
Dis yskoud en sy onthou sy het haar T-hemp opgeskeur en sy het net haar sport-bra aan. Van die stukke lap is nog om haar hande gedraai en sy probeer dit loswikkel om haar mee te bedek.
Na wat soos ure voel, hoor sy stemme en honde wat blaf, maar dit is baie ver van haar af. Sy weet as sy hulle kan hoor, sal hulle haar ook kan hoor. Sy roep om hulp. Dan bly sy ’n rukkie stil om te luister of daar reaksie is. Vir ’n ruk kan sy niks hoor nie, maar dan hoor sy weer die stemme en die honde.
Haar mond voel droog en sy vat ’n slukkie water. Hopelik kry hulle haar gou want haar water is byna op.
Sy probeer haar aandag aflei van die pyn en die koue. Sy dink aan warm goue strande en verbeel haar sy voel die son op haar vel. Maar dit duur nie lank nie voor die pyn en koue haar terugruk na die werklikheid. Genadig val sy na ’n ruk weer in ’n beswyming.
As sy uiteindelik wakker word, kan sy die daglig deur die blare sien breek. Haar lyf is yskoud en die pyn nou oorweldigend.
Sy probeer haar gedagtes bymekaar kry en is nou nie seker of sy die vorige nag gedroom het sy hoor stemme nie.
Die kinders! Hulle moet histeries wees. Sy probeer haarself nie weer kasty oor haar onverantwoordelikheid nie. Sy probeer fokus om wakker te bly sodat sy kan roep as sy weer stemme hoor. Voëlsang oordonder die geluide in die kloof en sy hoor geen stemme nie.
Haar mond voel droog en opgeswel en sy neem die laaste slukkie water.
Haar stem klink vir haar vreemd en hees en sy hoop iemand kan haar hoor. Die klowe en kranse rondom die eskarpment dek ’n hele paar kilometer en sy weet dit sal ’n groot soekgeselskap verg voor hulle haar sal opspoor.
Uiteindelik hoor sy veraf honde blaf. Sy roep weer om hulp, maar kan geen definitiewe reaksie van die honde se kant hoor nie.
Die son skyn nou in helder strale deur die blare en dit gee haar hoop. In die daglig sal hulle haar makliker kry.
Sy hoor ’n helikopter wat al nader kom. Die kloof waarin sy lê, is dig bebos en sy weet hulle sal haar nie maklik uit die lug raaksien nie, maar sy waai nogtans desperaat met die verflenterde stukke T-hemp. Sy roep tot sy hees is.
Pynnewels laat haar soms in ’n salige pynvrye beswyming wegsak, maar elke keer as sy wakker word, voel sy meer magteloos en desperaat. Sê nou hulle kry haar nie betyds nie? Haar water is al op en sy het net ’n lemoen en appel in die sak.
Sy skil die lemoen en breek dit in wiggies. Sy sal net ’n wiggie suig as sy iets hoor en sy moet roep.
Die helikopter sirkel heen en weer al langs die eskarpment. Sy hoor stemme en honde, maar hulle hoor haar skynbaar nie.
Sy begin bid want haar situasie voel desperaat en sy weet nie hoe lank sy nog die pyn sal kan uitstaan voor sy bewusteloos raak nie.
’n Warboel van gedagtes en beelde deur pyn aangejaag, rol deur haar kop. Sy kan nie meer tred hou met watter geluide sy hoor en watter geluide sy dink sy hoor nie.
Sy bid net dat die kinders veilig is en dat Renier hulle sal versorg as sy iets oorkom.
Sy hoor Renier se stem wat haar beskuldig oor die ellendige gevolge van haar obsessie met die boek en Mon Abri. Sy is nie seker of sy net droom nie, maar sy sien Renier en Phillip baklei. Is dit Adrian wat daar eenkant staan?
Sy moes weer in ’n beswyming gegaan het want sy word wakker met stemme naby aan haar.
Haar mond is te droog om te roep. In Paniek druk sy ’n uitgedroogde lemoenskyfie in haar mond. Sy stik aan die soet vog, maar kry ’n paar sagte roepe uit.
Dan is die honde skielik by haar. Hulle snuif en blaf opgewonde. ’n Groep mans kom staan om haar. Hulle praat van haar, maar nie met haar nie.
“Sy lyk sleg,” hoor sy een sê.
“Ek is dors,” prewel sy.
“Hier, vat net ’n slukkie.” Sy kyk op in Phillip se oë. Dit lyk nie spottend of vurig kwaad nie.
“Moenie regop probeer kom nie. Die helikopter sal nou ’n paramedikus en draagbaar lat sak.”
“My kinders. Laat weet hulle ek is ok.” Sy voel kwaad vir haarself as sy begin huil.
“Dis ok, ons het hulle per radio laat weet. Ons sal jou hier uitkry.”
“Ek wou net na die krans kom kyk.”
“Ek weet, jy wou kom kyk waar my pa gesterf het. Genade, maar jy is ’n obsessiewe vroumens! Kyk net wat het jy nou weer aangevang!”
Phillip trek sy hemp uit en gooi dit oor haar. Sy onthou se lê net in haar sport-bra, maar sy het soveel pyn dat sy nie aan vernedering kan dink nie.
Phillip vee haar gesig met ’n nat sakdoek af en gee haar nog ’n paar slukkies water.
Dit neem ’n rukkie voor die helikopter naby genoeg aan die krans kan vlieg om die paramedici neer te laat. Hulle moet ’n hele ent met die noodtoerusting klim voor hulle by haar uitkom. Hulle plaas haar nek in ’n stut en spalk haar arm. Sy word aan die draagbaar vas gegespe.
“Ons sal jou in die kloof moet af dra voor die helikopter jou kan oppik.” Die paramedikus se naam is Harry en hy praat sag en bemoedigend met haar. Sy is dankbaar hy het by Phillip oorgeneem.
Met elke tree wat die paramedici oor die rotse neem, gil Amelie van pyn. Sy gee in die stadium nie meer om wie haar sien of hoor in haar kwesbare toestand nie. Noudat sy weet sy is gered, is dit asof die pyn alles oorneem.
Sy het al heelwat reddingspogings op TV gesien waarin helikopters beseerdes met ’n draagbaar op hys, maar sy het nooit gedink dit sou met haar gebeur nie.
In die helikopter spuit die paramedikus haar met nog morfien en sy sak weg in saligheid.