Tuimel
Die dae na Kersfees en Nuwe Jaar vlieg verby. Amelie en die kinders is nou behoorlik ingeburger in Mon Abri en die inwoners van Sederfontein raak al meer gewoond om Amelia se kloon in die dorp raak te loop. Dit lyk selfs of die Groenewalds se invloed teen haar bietjie begin afskaaf. Al meer mense begin haar voorkeer en gesprekke aanknoop. Hoewel sy weet baie is net nuuskierig.
Sy het tydens die Feestyd al Amelia se dokumente en albums in volgorde geplaas en die raamwerk van haar boek beplan. As die skool begin en sy is bedags alleen, wil sy volstoom begin skryf.
Terwyl sy besig is met die beplanning van die hoofstuk oor Phil se dood, kry sy die behoefte om na die krans te gaan kyk waar hy afgestort het. Sy weet dit is verbode terrein en dat Myra en Phillip nie daarvan sal hou as sy op hulle grond rond dwaal nie.
Amelie bekyk die terrein op Google Earth en besluit dit sal maklik wees om ongesiens by die krans uit te kom sonder dat enigeen van Phillip se plaaswerkers haar sien.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Sy wil in die kloof af klim en gaan soek na die klipstapeltjie waarna Amelia in een van haar bottel-briewe verwys. Daar is ook ‘n skets van die klipstapeltjie teen die kamermuur. Vroegoggend is sy gereed vir haar ekskursie. Sy pak vrugte, water, haar kamera en verkyker in.
Mia en Lolla gaan laai haar teësinnig naby die eskarpment af wat deur die Groenewalds se grond loop. Die kinders meen dit is te gevaarlik vir haar om alleen op ‘n onbekende terrein te gaan stap, maar sy verseker hulle dit is nie so onbegaanbaar nie en sy sal hulle binne ‘n paar uur SMS sodat hulle haar by die aflaaipunt kan kom haal. Sy voel dit sal minder opsigtelik wees as sy alleen op die Groenewalds se grond rond stap. Sy wil ook nie haar kar langs die pad los nie want dit mag die aandag op haar onwettige besoek vestig.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Dit is ‘n heerlike warm Januarie-dag en die stilte van die veld om haar is ‘n lafenis na die besige Feestyd. Sy volg die kaart tot by die krans maklik.
Die terrein rondom die eskarpment is plat en die skielike krans verras mens. As mens nie die terrein ken nie, kan mens jou in die donker misgis en by die krans afstort, maar Phil het sy plaas sekerlik goed geken. As hy na die vermiste dier gaan soek het, sou hy geweet het die terrein is gevaarlik na donker.
Die kranse is byna loodreg en onder in die kloof kan Amelie ‘n dun stroompie water sien. Dit is ‘n droë jaar en in die reënseisoen is die rivierloop waarskynlik breër.
Amelie het beplan om in een van die klowe na onder te klim. Sy is ‘n taamlike bedrewe stapper, maar sy kan voel haar enkel is nog nie gesond na die besering in Frankryk nie. Sy klim stadig en moeisaam en verwens haar nuuskierigheid telkens as sy ‘n steekpyn in haar enkel voel.
Die terrein onder die krans is nie so toeganklik soos dit op Google Earth gelyk het nie. Dit help ook nie dat haar enkel al seerder word nie. Na al die moeite om na onder te klim, is sy egter vasberade om die klipstapeltjie te soek. Die terrein is klipperig en dit is ‘n moeisame proses, besef sy na ‘n uur se stap.
Die son begin warm bak en sy besef sy sal meer spaarsamig met die water moet werk.
Sy hoor ‘n ritseling en sien die beweging van ‘n bok in die ruigtes. Uit nuuskierigheid wil sy sien watter soort bok dit is. Dis asof die dier haar al dieper die ruigtes in lok. Soms staan hy stil en kan sy sy bruin pels deur die blare sien. Elke keer as sy nader beweeg, beweeg hy nog ‘n entjie weg.
Amelie besef eers sy is te diep die ruigtes in as sy nie meer die blou lug bokant haar kan sien nie. Skielik weet sy nie meer watter kant toe sy moet beweeg nie. Sy kan die sagte kabbeling van die dun sytak van die rivier verlangs hoor, maar raak paniekerig en weet nie watter kant van haar die water is nie.
Sy probeer haarself kalmeer en oriënteer. Sy luister fyn en besef die water moet links van haar wees. As sy by die water kan kom, sal sy kan sien in watter rigting dit beweeg en so haar rigting probeer bepaal.
Dit voel of sy ure deur die ruigtes strompel voor sy uiteindelik die stroompie voor haar sien. Ver links van haar maak die stroom ‘n kinkel wat omring is met regop rotse. Sy verbeel haar sy het dit op Google Earth gesien en dat dit naby aan die krans verby loop.
Met elke pynlike tree verwens sy haar besluit om na die krans te kom. Sy moes geweet het haar enkel is nog nie sterk genoeg vir ‘n avontuur in die bosse nie.
Skielik is dit voor haar. Die klippe is in ‘n netjiese piramide op mekaar gestapel op ‘n rotsbank. Die blou bottel wat aan die naaste boom hang, verseker haar dat dit inderdaad die klein monument is wat Amelia vir haar geliefde Phil opgerig het. Soos met die bottels by Mon Abri, is daar ‘n briefie in die bottel.
Amelie sit ‘n ruk lank onder die boom en rus en probeer haar voorstel hoe Amelia moes voel toe sy die klippe opgestapel het.
Aan die vloei van die rivier en die ou vloedlyne op die rotsbanke kan sy sien dat die rivier tydens die reënseisoen sterk loop. Op Google Earth het sy gesien dat die spesifieke sytak nie ver is van die vurk van die rivier nie en dat ‘n vaardige roeier moontlik van Mon Abri tot hier sal kan roei.
‘n Ou vuurmaakplek het die rotse swart geskroei, maar daar is geen as of kole meer nie. Dis waarskynlik jare laas gebruik. Amelie wonder of Amelia die vuur gemaak het en of sy dikwels die klipstapel besoek het.
Sy voel ongemaklik om die briefie uit die bottel te haal, maar haar nuuskierigheid kry die oorhand. Sy is immers hier om geheime op te los.
Die papier is meer modern as van die ander briefies en die handskrif nie meer so vasberade nie. Die inhoud van die brief verraai dat dit etlike jare na Phil se dood geskryf is.
My liefste
Hier voel ek die naaste aan jou. Dis asof ek jou hartklop in die wind hoor. Hier onder ons boom voel ek weer jou warmte.
Ek is so jammer ek was lanklaas hier, maar dis asof ek nie meer kan kom nie. Ek wil die herinneringe van daardie nag nie weer beleef nie. Dit spook by my. Ek sien steeds die verwarring in jou oë … maar ek glo jy besef dat ek nie ‘n keuse gehad het nie. Ek moes dit doen. Dis al hoe ek jou net vir myself kom behou. Jy is nou waar sy nooit weer eise aan jou kan stel nie. Ek moes jou teen haar beskerm.
Sal jy my vergewe? Jy het my beter as enigiemand anders geken. Jy weet ek kon jou nie meer deel nie.
Ek weet nie of ek weer hierheen sal kan kom nie. Ek het kom groet. Dit raak te moeilik. Maar ek weet jy kry my boodskappe deur die geklingel van die wind.
Ek groet ons plek, my geliefde. Hier waar geen ander mens se voetspore nog geval het nie, was ons een.
Ek weet dit is nie meer lank voor ek jou weer sien nie. My tyd hier raak minder. Ek kan nie wag nie.
Joune vir ewig
Amelia
Sy rol die briefie versigtig op en druk dit terug in die bottel. Om haar is dit doodstil en net die waterkabbeling is hoorbaar.
Hierdie was Phil en Amelia se spesiale plek. Blykbaar kom niemand anders ooit hier nie. Die feit dat die bottel nog aan die boom hang, beteken nie Phillip of sy werkers weet blykbaar van die plek nie.
Amelie weet sy het nie tyd om aan die inhoud van die brief te sit en dink nie. Sy sal uit die kloof moet kom en sy het eintlik geen idee hoe sy dit gaan regkry nie. Haar enkel is boonop besig om op te swel en dit klop van die pyn. Haar selfoon het lankal nie meer ‘n sein nie.
Sy stap ‘n ruk al langs die rivier in die rigting waar sy haar verbeel sy op Google Earth ‘n kloof gesien het. Maar sy loop haar in ‘n regaf krans vas. Sy besef haar tyd raak min voor die son agter die eskarpment begin sak en dit is reeds skemer in die kloof. Na ‘n stewige staptog in die ander rigting bereik sy ‘n taamlike steil kloof. Sy weet sy sal dadelik moet begin klim. Die grond is klam en die rotse vol mos. Gelukkig het haar stewels ‘n goeie greep op die gladde terrein.
Plek-plek is die rotse steil en besef sy, sy is op ‘n terrein wat ver bokant haar vermoë is. Sy weet dit was onverantwoordelik om die onbekende terrein alleen aan te durf.
Die pyn in haar enkel en haar paniek kom nou in ewe groot golwe na haar aangerol. Sy weet sy kan nie bekostig om te stop nie. Dit is al drie-uur die middag en die kinders is seker al bekommerd.
‘n Loodreg klipkrans doem skielik voor haar op en sy voel hoe haar moed soos lood op die krop van haar maag kom lê. Dit lyk onmoontlik om teen die wand uit te klim. Al opsie is om haar aan die boomwortels te probeer optrek wat oor die rotse groei. Die wortels is glad. Sy trek haar T-hemp uit en skeur dit in twee sodat sy die stukke om haar hande kan draai. Dit sal haar ‘n beter greep gee. Dis koel in die kloof, maar sy voel in haar paniek nie eens die koue lug teen haar kaal bolyf nie. Net die dun sportbra beskerm haar waardigheid.
Halfpad op teen die rots skep sy moed. Dit voel of sy dit gaan maak. Die wortels is stewig en kan haar gewig dra. Iewers ver bokant haar hoor sy ‘n helikopter en dit verraai dat sy op pad is na die beskawing.
Sy skrik as een van die stewige wortels meegee en in twee breek. Sy klou verbete aan die oorblywende wortel. Dit voel soos stadige aksie as sy voel hoe haar greep op die wortel in ‘n glibberige paniek verander.
Sy voel hoe sy deur die lug tuimel.
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.