Afrika Kersboom
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Van die oomblik wat Amelie by die aankomssaal se deure uitstap tot in Sederfontein gesels die kinders onophoudelik. Hulle onderbreek mekaar, klik, skinder, lag en probeer uitvis wat sy vir hulle van Frankryk gebring het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Renier lyk selfs ook bly om haar te sien. Hy en die kinders het die paar dae alleen by Mon Abri oorleef. Dit was vir Amelie ’n klein oorwinning toe die kinders geweier het om by hulle pa in Johannesburg te gaan bly terwyl sy weg is. Renier het gemurmureer, maar het ingegee en sy rol as pa in Sederfontein vervul. Tot Amelie se verligting lyk dit of Pa en kinders geen blywende emosionele skade opgedoen het nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“Pappa het ons gehelp om ’n Kersboom op te sit. Wag net tot Mamma dit sien. Dis ’n cool Afrika-boom wat Mia op Instagram gesien het!” Lolla en Mia deel blykbaar die entoesiasme oor die boom, maar die seuns mor oor die “simpel tak” wat hulle moes versier.
“Is dit reg as Pappa vir Kersfees bly?” Jos se woorde beweeg soos ’n elektriese skok tussen Amelie en Renier.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Amelie wag dat Renier moet protesteer sodat sy dadelik met hom kan saamstem dat dit nie ’n goeie idee is nie. Maar Renier glimlag sowaar ingenome! Die laaste ding waarvoor sy nou lus is, is haar eks in haar persoonlike ruimte. Dit terwyl haar gedagtes in alle rigtings rondhardloop oor Adrian Marceaux!
Op die vlug na Suid-Afrika het sy haarself probeer oortuig dat haar verliefdheid net vakansie-emosies was. Die pragtige chateau, die rye wingerde, antieke kelders … en die smeulende aantreklikheid van ’n lang donker Fransman is net die verkeerde mengsel vir ’n vrou wie se emosies wipplank ry sedert sy uit haar huwelik gestap het.
“En? Mamma? Hoe lyk die Fransman?”
Dis asof Mia haar gedagtes kon lees. Amelie bloos soos ’n verliefde skooldogter.
“Hy is die ongeskikste mens wat ek nog ontmoet het. Ek het besluit om die boek op my eie te skryf. Ek het nie veel meer oor Amelia uitgevind as wat ek reeds geweet het nie.”
Renier ken haar goed, dit weet sy. Hy glimlag meewaardig.
“Is Frankryk baie romanties hierdie tyd van die jaar?”
Sy vererg haar. Nes hy haar soos ’n boek kan lees, weet sy wat in sy kop aangaan. Hy is sowaar jaloers!
“Dit was ’n sakebesoek, Renier. Anders as jy …” Sy besef sy kan nie voor die kinders vir haar eks benaderuk dat sy nie soos hy op sakebesoeke saam met ander mense in die bed spring nie. Sy verander die onderwerp dadelik.
“Sjoe, daar breek ek toe byna my enkel by Delville Bos! Ek is deur dae van pyn. Gelukkig het die Marceaux ’n gholfkarretjie waarmee ek op die plaas kon rondry.”
Sy wei uit oor die mooi omgewing en oor die winkels wat sy op haar blitsbesoek aan Frankryk gesien het. Tog voel dit nie vir haar of sy net ’n paar dae in Frankryk was nie. Dit voel of sy Adrian ’n leeftyd ken. Hy is die gekompliseerdste wese wat sy nog ontmoet het, en sit sluit Renier in.
Anders as wat sy verwag het, is Mon Abri pynlik netjies. Die dogters se Afrika-boom is ’n droë tak wat Renier wit geverf het. Hulle het plastiek diertjies soos olifante, bokke en leeus silwer geverf en aan die boom gehang. Die vreemde boom pas nogal in Amelia se boheemse huis.
Amelie besef die paar dae wat die kinders en hulle pa saam deurgebring het, was die beste ding vir almal. Hy het blykbaar saam met die seuns gaan roei en saam met die dogters gaan stap. Gelukkig klink dit of Renier die dorp vermy het en nie weer in ’n vuisgeveg met Phillip betrokke geraak het nie.
Die paar dae sonder ’n neulende ma het die kinders goed gedoen. Hulle het selfs die Oukersaand en Kersmaaltye beplan en voorberei. Die tafel is selfs gedek en versier vir Oukersaand.
Renier is in ’n gesellige bui.
“Sal ek vir ons wyn oopmaak? Jy het darem seker vir ons van die Franse se wyn saamgebring?”
Sy is bly sy het ’n bietjie kennis van die Marceaux wynmakery opgedoen want dit help haar om die ongemake stiltes tussen haar en Renier te vul.
Die opgewondenheid van die geskenke op Kersoggend en die luilekker piekniekete op Kersdag laat Amelie byna vergeet hulle is nou ’n gebroke gesin. Sy waardeer dit dat Renier regtig moeite doen om met die kinders te gesels. Selfs met Lolla en Ugo.
Kon dit nie maar altyd so gewees het nie? Wonder Amelie by haarself. Hulle gesin het in jare nie so lekker saam gekuier nie.
Renier is nie ’n man van veel woorde nie, maar teen tweede Kersdag kan Amelie sien iets pla hom.
“Dis tyd om terug te gaan stad toe. Dankie dat ek by die kinders kon kuier. Ek weet ek het hulle die afgelope ruk afgeskeep, maar die paar dae het my laat besef hoe vinnig hulle groot word.”
Amelie voel hoe haar rug stokstyf word van spanning as Renier langs haar kom sit. Sy kan nie onthou wanneer laas hulle so naby aan mekaar gesit en gesels het nie.
“Ek het baie tyd gekry om te dink terwyl jy weg was. Jy weet dit is nie maklik vir my om te erken ek het foute gemaak nie, maar ek besef nou ek het jou komplekse persoonlikheid nooit probeer verstaan nie. Ek besef ek moet verby jou eksentriekheid en foute probeer kyk.”
Amelie vererg haar omdat Renier haar “eksentriekheid en dinge” vir al hulle probleme
blameer.
“En jy? Dink jy nie jy het ’n aandeel gehad in die verbrokkeling van die huwelik nie?”
“Ek werk twaalf uur per dag. Wat meer wil jy van my hê?”
’n Lamheid kom lê op Amelie se maag. Sy ken hierdie moedeloosheid as Renier nie sy foute kan insien nie.
“Liefde en aandag, Renier? Besef jy nie dit is wat ek en die kinders van jou nodig het nie? En jou woedebuie.”
“Jy frustreer my soms tot radeloosheid, Amelie. As ek moeg en gefrustreerd is, is dit moeilik as jy so baie eise stel.”
Amelie ken al die deuntjie wat Renier nou sing. Hy blameer alles op haar en die kinders. Hy voel hy gee hulle genoeg materiële dinge en dat hulle moet besef hulle is bevoorreg dat hy so hard werk. Hy dink blykbaar nie dit is verkeerd dat hy haar soms as sy fisieke en emosionele slaansak gebruik nie.
“Ek wil jou en die kinders nie regtig verloor nie. Ek besef nou ek het julle nodig. En ek weet julle het my nodig.”
“Beteken dit jy wil meer betrokke raak by die kinders? Lolla en Ugo ook? Sal die kinders naweke en vakansies by jou kan gaan kuier?”
Amelie verstyf as Renier sy arm om haar skouers sit.
“Wat ek probeer sê, is dat ek wil hê julle moet terugkom Johannesburg toe. Verkoop die ou murasie en bring die kinders terug stad toe. Dan begin ons almal van voor af. Hierdie was net ’n lekker avontuur vir julle almal. Dis nou tyd om tot jou sinne te kom en terug te kom.”
Sy laaste woorde laat weer die ou Renier deurskemer. Die Renier wat haar wil voorskryf.
“Jy kan nie verwag ek en die kinders moet als oppak en sommer net terugkom nie. Daar is so baie dinge wat deur die jare verkeerd geloop het. Ons moet dit eers regstel.”
“Ek sê mos ek vergewe jou dat jy sommer net uitgestap het? Ek is bereid om julle terug te neem en om van voor af te begin. Los nou hierdie lawwe gier wat jy gekry het. Kyk net hoeveel probleme het jy vir jouself geskep deur die ou huis te koop. Ek sal Gielie bel, hy sal jou werk vir jou teruggee. Dan kan ons lewens weer na normaal terugkeer.”
Amelie kan nie glo wat sy hoor nie.
“Normaal? Jy bedoel ons moet maar net weer aangaan waar ons opgehou het? Jy sien, dit is die probleem. Ek kan nie weer daardie soort lewe lei nie. Ek kan nie meer nie. Dit gaan nie oor die lang onbaatsugtige ure wat jy werk nie, dit gaan oor jou sosialisering met ander vroue na werk. Dit gaan oor jou woedebuie en die rondstampery. Dit is nie hoe ek meer wil leef nie. Ek wil in vrede leef. Ek wil nie fisiek en emosioneel geboelie word nie.”
Sy kan sien die spier langs Renier se mond begin spring. Hy is besig om hom vir haar te vererg.
“Jy dink nie jy soek soms daarna nie? Weet jy hoe kan jy aanhou kerm? Maar ek sal probeer om saam met dit te leef.”
Amelie wikkel haar los uit Renier se greep. Sy wil nie naby hom wees as hy hom vererg nie.
“Voor ons weer ’n verhouding of huwelik kan hervat, sal ons baie terapie moet kry. Ek veronskuldig myself nie, maar jy besef blykbaar nie dat jy moeilik is om mee saam te leef nie. Dit is nie normaal om jou vrou te boelie nie. Al irriteer ek jou, al maak ek jou kwaad. Geen mens verdien om deur ’n ander aangerand te word nie.”
Renier raak rooi in die gesig van woede.
“Hou op om dinge erger te maak as wat dit is. ’n Paar klappe en stampe en nou maak jy of ek jou mishandel het! En dit na alles wat ek deur die jare vir jou gedoen het! Weet jy wat? Die vroue wat ek na werk ontmoet en die vroue by kongresse, hulle waardeer my vir wat ek is. Hulle verstaan my. Hulle teem nie heeldag soos jy nie.”
Amelie ken al die gevaartekens. Sy weet Renier gaan enige oomblik ontplof.
“Ek dink nie jy gaan ooit verander nie, Renier. Dankie dat jy die kinders opgepas het. Ek hoop hulle sal voortaan meer by jou kan kom kuier, maar tussen my en jou is dinge finaal verby.”
Renier gooi sy wynglas teen die muur stukkend. In die haas wat hy by die deur uitstorm, stamp hy die Kersboom om. Amelie staan versteen in die portaal en kyk hoe hy by die trappe op storm en binne minute met sy tas weer af storm. Hy stamp haar uit die pad en klap die deur agter hom toe.
Sy gaan staan op die stoep en kyk hoe die Mercedes die straat af verdwyn. Trane loop oor haar wange en sy neem haar voor dit is die laaste keer is wat sy oor Renier huil.
In die sitkamer is Mia en Lolla besig om die Kersboom en glasstukke op te tel.
Amelie huil oor die verslae skok op die kinders se gesigte. Sy huil tot haar trane opdroog. Sy sit lank na die Afrika Kersboom en staar. Dan kom daar ’n vrede oor haar. Sy weet sy het die regte ding gedoen om Renier te verlaat. Sy is nie seker wat die toekoms vir haar en die kinders in Mon Abri inhou nie, maar sy weet die ou huis gee hulle ’n kans op ‘n beter toekoms.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.