Amelie se kop draai
Amelie is tam na ’n onrustige nag. Sy het die veranderinge in haar gedrag probeer verklaar sedert sy uit haar huwelik gestap het.
Sy wonder of sy dan gek geraak het? Wat op aarde besiel haar dat haar hormone eers op hol raak oor ’n slymbol soos Phillip en nou oor ’n onbeskofte Fransman? Dit moet die jarelange romantiese droogte in haar lewe wees wat veroorsaak dat sy so na aandag smag. Sy neem haar voor om haarself reg te ruk. Die laaste dag in Frankryk gaan sy haar in toom hou, neem sy haar voor. Sy het immers hierheen gekom om die kwessie van die boek en Alett se erfporsie uit te sorteer.
Maar elke keer as sy haar waaksaamheid vergeet, dwaal haar gedagtes na Adrian se pikswart oë, sy lang swart wimpers, die lagplooitjies wat heeltemal te min verskyn, die lyne langs sy mooi mond, die lang neus. Hy lyk vir haar onweerstaanbaar in sy wit hemde wat sy blas vel kontrasteer. Sy kan haar verkyk aan sy lang bene. En daardie hande … Mans met mooi hande het haar nog altyd getrek.
Maar dan herinner sy haar aan Renier se mooi hande. Hoe meer bombasties hy met die jare geraak het, hoe minder het sy sy hande raakgesien.
Nog voor Adrian weer by haar kamer kan inbars, is sy aangetrek en gereed vir ontbyt. Haar voet pyn minder en sy is al behendig met die krukke.
Tot haar verbasing wag Adrian al aan die ontbyttafel.
“Ek het gedink jy sal vanoggend betyds wees. Jy leer gou.”
Die binnekante van haar wange is al deur gekou van al die kere wat sy haar tande moes kners vandat sy in Frankryk aan gekom het.
“En wat het jy vandag op my program? Jy hou mos daarvan om namens mense te besluit wat hulle moet doen?”
“En jy hou nie daarvan om bevele te gehoorsaam nie? Ek het agtergekom.”
Hy gee haar sy skitterende glimlag en sy wens hy wil dit nie doen nie. Verbrande Fransman.
“Ons gaan deur die kelders stap en die plase verken. As jy wil baklei vir Alett se erfporsie moet jy ten minste weet waarvoor jy jou inlaat.”
Hy spring galant op as Arianne by die eetkamer in sweef, omhul met ’n eksotiese parfuumwaas. Soms wonder Amelie of Amelia en Arianne van mekaar sou gehou het as hulle saam in Frankryk gewoon het. Hulle verskil so baie.
“Liefste Mamma! Hoe pragtig lyk jy vanoggend! Ek vertel nou net vir ons gas ek gaan haar vandag wys hoe ons Marceaux wyn maak. Onthou dat ons vir haar ’n paar kiste aanstuur. Hulle kan mos nie behoorlike wyn maak daar in Suid-Afrika nie.”
Arianne is haar skatlike self. Haar blik beweeg eers op en af oor Amelie se uitrusting en dan glimlag sy liefies.
“Dit sal ’n pragtige afskeidsgeskenk wees, my kind.”
Amelie voel moedswillig. Arianne kan blykbaar nie wag om van haar ontslae te raak nie en sy maak dit duidelik dat sy haar suster se nasaat nooit weer wil sien nie.
“Dit gaan darem nie ’n afskeid wees nie, Arianne. Ons is mos familie. Ek sal sommer gou weer ’n draai kom maak. Daar sal sekerlik heelwat dokumente wees om te teken met die erfporsie?”
Arianne stik behoorlik in haar koffie. Haar seun en die bediendes kloek om die proesende bejaarde vrou.
Adrian gluur Amelie aan terwyl hy sy ma saggies op die rug klop.
Arianne het skaars haar asem terug of sy spoeg vuur.
“Moenie met my swaarde kruis nie, ek waarsku jou. Ek sal reël dat die bediendes jou goedjies inpak sodat Adrian jou Parys toe kan neem as hy jou klaar die plase gewys het wat die Marceaux met harde werk opgebou het. Daarna moet hy jou Parys toe vlieg. Ons wil nie hê jy moet jou vlug môre mis nie. En as ek jou raad kan gee, kyk vandag mooi na hierdie landgoed want dit is die laaste wat jy daarvan gaan sien!”
Adrian is knorrig tydens die res van ontbyt en laat kom ’n gholfkarretjie vir haar toer deur die kelders.
“Ek het nie tyd om vir jou te staan en wag as jy aansukkel nie.”
Dit is ’n helder wintersdag en Amelie geniet die natuurskoon van die plaas ondanks haar gasheer se ysige reaksie op haar gedrag tydens ontbyt.
Hulle ry in stilte deur die eerste paar kelders. Danksy Renier het sy ’n effense wyn kennis en weet sy hoe om wyn behoorlik te proe. Sy kry dit selfs reg om ’n paar intelligente aanmerkings oor die wyne te maak. Sy kan sien Adrian is effens beïndruk, maar hy is te hardkoppig om dit te laat deurskemer.
Die oudste kelders is vir haar die mooiste. Sy geniet dit om die tradisionele wynmaakproses te ervaar en bewonder die Marceaux vir die toegewydheid waarmee hulle die tradisionele prosesse in stand hou. Die moderner kelders herinner haar te veel aan laboratoriums.
“Jy is reg, ’n kelder se atmosfeer word in die wyn vasgevang. Selfs die grond waarin die wingerde geplant word, speel ’n rol. Jy kan die liefde van die versorging van die grond en wingerde in die wyn proe.”
Adrian raak meegevoer as hy oor die wyne praat. Amelie kan sien dit is sy absolute passie. Al vloei die Marceaux bloed nie in sy are nie, is hy ’n volbloed wynmaker. Sy verkyk haar hoe sy lang vingers oor wynvate streel en hoe sy oë blink as hy ’n wynglas teen die lig hou.
Hulle ry deur hektare wingerde en hy wys haar sy gunstelingspeelplekke as kind.
“Jy was bevoorreg om so groot te word.”
“Ek was seker, maar ek was ’n baie eensame kind. Ek moes tussen grootmense grootword. Van kleins af het ek geweet die verantwoordelikheid rus op my skouers om die landgoed eendag oor te neem.”
“Gelukkig het jy ’n passie vir wyn maak?”
“Ja … passie. Party mense word daarmee gebore, maar ek weet dit is iets wat jy kan aanleer. Jy weet? As mens nie ’n keuse het nie?”
Amelie hou van die kwesbare deel van Adrian se geaardheid. As sy ma by is, is dit asof hy sy onbeskofte persona aanneem.
By een van die oudste kelders wag ’n knus gedekte tafel met kase en brode op hulle.
“Ek het gedink ons kan hier middagete eet voor ons na die volgende plaas ry.”
Hy hou haar wynglas vol en sy kan voel hoe haar kop en hormone in die rondte tol. Hierdie man is besig om haar hart te steel al probeer sy hoe hard om haar emosies in toom te hou. Sy geniet sy geselskap as hy nie by sy ma is nie. Hulle hou van dieselfde musiek en skrywers. Hy vra met opregte belangstelling uit na haar loopbaan en kinders.
Sy is nou al gewoond daaraan dat hy haar sommer net opraap en ronddra.
“Kom, ek gaan wys jou een van my geheime plekke. As dinge vir my te veel word, kom kruip en hier weg.”
Agter die antieke kelder is ’n ou plaaswerkershuisie wat Adrian blykbaar met liefde gerestoureer het. Dit het ’n groot kaggel en rye boekrakke met Adrian se kosbaarste boeke.
“Dit is my leesplek. Niemand mag hier inkom nie. Nie eens werkers nie.”
“Dankie vir die voorreg, meneer Marceaux, ek waardeer dit.”
Hy steek die kaggel aan en kom sit langs haar op die bank en vou ’n kombers oor haar bene.
“My van moes Du Pont gewees het. My biologiese pa was Alfonse du Pont. My ma was Elan Noire. Sy was maar negentien jaar oud toe ek gebore is. My pa was vyftig. Ek het al dikwels gewonder hoeveel broers en susters ek het. Ek was blykbaar nie die enigste kind wat hy by ’n non gehad het nie.”
“Kon jy haar ooit opspoor? Wat het van Elan geword?”
“Haar spore is deeglik uitgewis. Alfonse en Gerard het daarvan seker gemaak. Skynheilige spul. Vir hulle was dit waarskynlik meisies soos Elan se eie skuld as hulle swanger raak. Ek het hom ’n paar keer gesien, vir Alfonse. Maar dit was asof hy deur my gekyk het. Daar was nie ’n krieseltjie erkenning teenoor my nie. Vir hom en Gerard was ek net ’n oplossing vir ’n probleem.”
Amelie vou haar arm om sy skouers en gee hom ’n drukkie.
“Ek is jammer dat jy soveel seer in jou het. Die mensdom is wreed.”
Hulle sit lank en filosofeer. Hoe langer hulle gesels, hoe meer besef Amelie dat Adrian se bombastiese geaardheid net ’n rol is wat hy soms speel om homself te beskerm. Hy moes dit waarskynlik van kleins af aanleer om emosioneel te kon oorleef. Sy aanneem-ma en ouma het hom verafgod, maar die rol as erfgenaam het nie by ’n sensitiewe mens gepas nie. Hy moes mettertyd aanleer om harder te wees as hy oupa Gerard se plek wil volstaan.
Haar tasse staan reeds gereed as hulle by die chateau aankom. Arianne is nie eens daar om haar te groet nie.
“Jy kan in jou hotel vars klere aantrek, dan neem ek jou na een van die lekkerste eetplekke in Parys.”
Adrian vlieg nie reguit Parys toe nie. Uit die helikopter kry sy ’n blik van sy hartsplekke: ou villas waar hy as kind by maats gespeel het, damme waar hy vis gevang het, en woude waar hy graag gaan stap.
Sy ontdek sy sin vir humor en hy haal lang stukke aan uit haar gunstelingskrywers se werke. Hulle ontdek ’n gedeelde passie vir kosmaak.
Tot haar verbasing is sy ingeboek in dieselfde hotel suite wat Arianne vroeër die week in gebly het. Sy het regtig gedink Arianne sou gesorg het dat sy in ’n goedkoper hotel tuisgaan.
’n Taxi neem hulle na ’n kosmopolitaanse deel van die stad en hou voor ’n klein bistro stil. Etienne, die eienaar, omhels Adrian hartlik en neem hulle reguit kombuis toe. Adrian sit Amelie langs ’n groot kombuistafel neer en stel haar voor aan ’n mengelmoes mense wat om die tafel sit en kuier.
Adrian trek self ’n voorskoot aan en hy en Etienne skuif saam agter die stowe in.
“Vanaand, liewe Amelie, proe jy die ware Frankryk,” lig hy haar in en soen haar op die voorkop.
Sy verlustig haar aan die kakofoniese gesels en gelag in die kombuis. Al verstaan sy nie ’n woord van die gesprekke aan tafel nie, lag sy lustig saam met die aansteeklike atmosfeer. Adrian kom maak gereeld ’n draai by die tafel en plant ’n soen op haar voorkop of wang. ’n Klein stemmetjie herinner haar aan haar voornemens van die oggend om haarself in toom te hou, maar elke heer as sy na Adrian se rigting voor die stoof kyk, vlieg alle redelike gedagtes by die venster uit.
Haar kop draai behoorlik van plesier as hy haar een gereg na die ander laat proe. Sensasies van kruie, knoffel, room, olyfolies neem haar op gastronomies reise deur Frankryk.
Adrian is ’n ander mens as hy tussen sy bistro-vriende is. Sy raak al meer verlief op hierdie deel van sy persoonlikheid.
Sy is spyt as die aand in die hartlike bistro verby is.
Laataand bestel hy warm sjokolade na haar hotelkamer.
“Toe, drink als sodat jy kan warm word.”
Hy staan op en gaan tap ’n stomende bad vir haar. Haar kop hardloop in verskillende rigtings terwyl sy bad want sy weet nie of sy al gereed is om ’n nag saam met hom deur te bring nie.
Is dit die regte ding om te doen? So vinnig? En, wat maak sy met die aaklige deel van sy persoonlikheid? Wat van sy Mamma?
As sy uitklim, is haar bed reeds oopgevou.
“Kom, klim in. Hulle sê dit gaan ’n koue nag wees.”
Hy vou die komberse om haar en soen haar op die voorkop.
“Lekker slaap, Amelie. Dankie vir ’n wonderlike dag. Moenie jou vlug môre misloop nie.”
Lank nadat hy die deur agter hom toegetrek het, lê sy nog en wonder hoe sy moet reageer. Hierdie man maak ’n warboel gevoelens by haar wakker.