Die erfgenaam
Amelie voel nie lus om uit die bed te klim nie. Dis ’n koue Europese dag buite en al knetter warm kaggelvure in die chateau, waai daar ’n ysige windjie oor haar gemoed. Sy wens sy kan heeldag onder die warm donskombers wegkruip. Sy is glad nie lus vir Adrian en sy bitsige Mamma nie. Dit voel buitendien of sy haar naam keer op keer met ’n plank slaan as sy in die simpel Fransman se geselskap is. Die vorige aand se ervaring in die restaurant brand nog soos ’n warm gloed op haar wange. Die noodlot is haar nie goedgesind nie. Kon sy nie maar by ’n ander tafel in L’Avenue in pyn ineengesak het nie? Die absolute vernedering om Adrian se spottende blik op haar te voel. En daardie Inge Rosell! Die kilheid van haar blik sal die son kan laat vries.
Sy ignoreer die vinnige kloppie aan die deur. Die kamermeisie kan maar die gordyne kom ooptrek as sy wil. Sy wat Amelie is bly in die bed tot sy haarself kan motiveer om die Marceaux aan te durf. Sy kruip dieper onder die snoesigheid in, maar skielik voel sy die duvet van haar af lig.
“Kom! Kom! In hierdie huis staan ons vroeg op. Ons lê nie heeldag in die bed soos julle skynbaar in Afrika doen nie!”
Adrian buk oor die bed en raap haar in sy arms op.
“Sit my neer! Hoe durf jy sommer net instorm en my komberse aftrek? Het jy geen respek vir privaatheid nie? Wat sou gebeur het as ek kaal geslaap het?”
“Dan was dit my geluk! Maar so ver ek kan sien, het jy genoeg privaatheid in hierdie aaklige nagklere wat jy aan het. Het jy dit by jou ouma geërf? Geen wonder jy het nie ’n man in jou lewe nie.”
Vermetele man! Hoe weet hy sy het nie ’n man in haar lewe nie? Daar is immers ’n paar wewenaars en geskeide manne op Sederfontein wat graag by haar sou kom opsit. Maar sy keer haar gedagtes as dit in die koers van die vernedering met Phillip dwaal.
Adrian dra haar die gang af en plak haar langs die eetkamertafel neer.
“Eet, jy het ’n lang dag voor jou.”
Sy begin al gewoond raak om haar vir die man te vererg. Hy kan mense skynbaar nie vra om iets te doen nie. Hy het die nare gewoonte om bevele uit te deel. Sy neem haar voor om voor haar vertrek nog aan hierdie man duidelik te maak dat sy nie sy lakei is. Sy is ’n volwasse, selfstandige vrou wat in ’n fase is waarin sy genoeg van baasspelerige mans gehad het.
Hy gaan sit oorkant haar en vou sy koerant rustig oop.
Maar hierdie Fransman is ’n unieke spesie. Hy het net die vernuf om haar humeur verby kookpunt te dryf. Nie eens Renier kon haar nog so kwaad maak nie. Adrian Marceaux is absoluut onuitstaanbaar!
Om sout in haar vernedering te vryf, kom skuif Arianne ook langs die ontbyttafel in. Sy betrag Amelie se nagklere met ’n geamuseerde blik.
“Interessante uitrusting. En hoe voel die voet vanoggend?”
Adrian laat sak sy koerant en Amelie voel sy spottende blik.
“Foeitog Mamma, sy het nog baie seer. Ek moes haar in die kamer gaan haal vir ontbyt.”
Amelie kou die binnekante van haar wange om te keer dat sy iets venynig sê. Sy wil hierdie laaste twee dae in Frankryk net agter die blad kry sonder om haar verlangse familie te vermoor!
Na die vorige aand kry sy dit nou reg om reg deur Arianne se vriendelike glimlag te kyk.
“Ag nee, jou arme mens. Ek sal Bertha na ete stuur om dit te kom verbind. Sy het altyd allerlei kruiemengsels waarmee sy almal dokter.”
Daar is geen teken van haar vyandige houding van die vorige aand nie. Sy vra uit na Amelie se kinders asof sy regtig belang stel.
Sonder om te vra, lig Adrian haar na ete uit die stoel en dra haar weer kamer toe.
“Ek kom haal jou oor ’n uur sodat ons in my studeerkamer aan die boek kan werk. Bertha kom jou voet nou verbind.”
Wat is dit met die man dat hy net aanneem sy sal inval by sy reëlings?
Bertha se salf verdoof die pyn effens en tot Amelie se verligting bring sy krukke saam en sy kan studeerkamer toe aansukkel voor Adrian weer ongenooid haar kamer kan binnestorm.
Hy kyk verras op toe sy effe onvas op die krukke oorkant sy lessenaar inskuif.
“O, jy is hier. Jy is ’n hardkoppige een!” Hy laat haar soos ’n ongehoorsame kind voel, maar trek galant ’n stoel nader waarop haar voet kan rus.
Die oggend verloop verbasend gemaklik. Adrian het heelwat dokumente en foto-albums byderhand. Van die foto’s is duplikate van die wat sy in Amelia se albums gesien het.
Adrian neem haar deur die Marxeaux geskiedenis vandat die eerste wingerde aangeplant is tot die tragiese gebeure toe Amelia sak en pak op ’n skip gesit is en die familiebande verkrummel het.
“My oupa kon nooit aanvaar dat sy groot hoop om die eerste vroue-wynmeester in Frankryk uit die Marceaux kelder op te lewer verydel is nie. Hy het Amelia blykbaar verafgood. Arme Mamma kon nooit haar suster se plek in sy hart heeltemal vul nie. Amelia was sy plaasvervanger vir die gebrek aan ’n manlike erfgenaam.”
“Maar jy was mos later daar? Die landgoed is mos nou in ’n Marceaux-seun se besit?”
Adrian se gesig raak merkbaar gespanne. Amelie verbeel haar sy sien ’n kwesbaarheid deurskemer.
Elke keer as sy die Fransman se gesig bestudeer, besef sy hoe vrek aantreklik hy is. Maar sy baasspelerige geaardheid vul haar met ’n diep dankbaarheid dat hierdie aaklige man verlangs familie is en sy haar hormone in toom moet hou.
Adrian se lang vingers speel met die blou Gauloise sigaretpakkie voor hom. Hy haal ’n sigaret uit en hou die pakkie na haar uit.
“Ek dog jy het jou speurwerk goed gedoen soos dit ’n goeie uitgewer soos jy betaam?”
Sy wil nie hê hy moet agterkom sy snedige aanmerking raak haar nie.
“So, daar is nog familie-intriges? Wat steek julle Marceaux nog weg in hierdie swierige chateau?”
Sy kan sien Adrian is effen ontsenu. Dit het sy nie verwag van ’n man wat altyd ’n situasie met sy selfvertroue wil oordonder nie.
“Ek is nie ’n Marceaux nie. Ek is nie Mamma se kind nie. Ek is aangeneem. ’n Trooskind, het ouma Agnes my genoem. Die doel van my aanneming was blykbaar om ’n pleister te plak op al die seer in die familie.”
Adrian is in dieselfde klooster gebore waarin Amelia gebly het. Sy ma was ’n jong non en sy pa was ’n invloedryke priester. Gerard Marceaux was baie betrokke by die kerk en het blykbaar die skandaal help toesmeer.
“Mamma was toe nog met Anouk getroud en hulle kon nie kinders hê nie. Die non se baba was vir my oupa blykbaar ’n oplossing vir die erfgenaam-probleem. Ironies, hy het sy dogter onterf en haar gedwing om haar kind te laat aanneem. En toe hy sien die Marceaux bloedlyn gaan doodloop, was dit goed genoeg om ’n vreemdeling se buite-egtelike baba in die familie op te neem.”
Hy vertel van Arianne se huweliksprobleme en hoe sy oupa gedurig ingemeng het. Anouk was uit ’n laer stand van die wyn-adel en Gerard het dit glo elke dag onder sy neus gevryf. Hy kon dit ook nie verdra dat sy skoonpa in sy huwelik inmeng nie.
“My aanneming was blykbaar die laaste strooi. Hy was nie ten gunste daarvan nie, maar Mamma se begeerte na ’n baba het die situasie oorheers. Met my aankoms op Le Crotoy het Mamma my van dag een verafgod en blykbaar nie raakgesien dat haar man ander weivelde soek nie.”
Arianne en Agnes het al hulle aandag op Adrian toegespits. Hy is van kleins af bederf en grootgemaak om die kelders na Gerard se dood oor te neem.
“Na Mamma en Anouk se egskeiding het sy my van na Marceaux laat verander en was oupa Gerard se wens vervul. ’n Volwaardige erfgenaam!”
Amelie verbaas haar as Adrian se oë vol trane skiet.
“En dit is die hartseer geskiedenis van die Marceaux familie. En nou is jy hier, die nasaat van die kind wat nooit die reg gegun is om ’n Marceaux te wees nie. Ek neem aan jy is hier om Alett se erfporsie op te eis? Jy het seker agtergekom Mamma gaan als in haar vermoë doen om jou te keer?”
Die kwesbaarheid maak Adrian onweerstaanbaar aantreklik. Amelie is geskok in haar behoefte om op te staan en hom ’n drukkie te gaan gee.
“En jy, Adrian? Gaan jy my ook keer?”
Hy kom sit aan haar kant van die lessenaar en neem haar hande in syne.
“Ek weet nie. Ek weet nie wat om met jou te maak nie. Voor jy Mon Abri gekoop het, kon ek die situasie ignoreer. Die ander erfgename was vir my gesiglose mense en ek het nie omgegee of Mamma en haar prokureurs al die Marceaux rykdomme vir my inpalm nie. Maar toe kom jy. Ek het nog altyd gewonder oor my tante. In hierdie huis was sy nie in vlees teenwoordig nie, maar sy was die oorsaak van so baie dinge wat in hierdie familie gebeur het.”
“Jy is self ’n kind wat buite die eg gebore is. Jy kan tog seker insien dat Amelia ’n menslike fout gemaak het en dat sy ’n baie duur prys daarvoor betaal het? Sy het alles verloor. As jy na haar geskiedenis in Suid-Afrika kyk, sal jy besef hoe eensaam sy was.”
Adrian buig oor die lessenaar en haal ’n foto uit ’n koevert. ’n Jong Amelia en Phil poseer glimlaggend vir die kamera. Die foto is blykbaar geneem toe hulle nog voor hulle pa’s se soekgeselskappe uitgevlug het.
“Dit was een van ouma Agnes se kosbaarste foto’s. Sy was ’n ewige romantikus en het probeer om haar dogter se groot liefde vir Phil te verstaan.”
Amelie herken Amelia se skrif aan die agterkant van die foto.
“Vir ewig saam,” staan daar.
“Hoe verskriklik hartseer. Jou tante se geliefde was ’n swakkeling wat nie mans genoeg was om sy liefde vir haar bo sy familie te kies nie.”
Adrian vou sy lang hande om haar gesig.
“En jy, Amelie? Is jou liefdesgeskiedenis gelukkiger as jou ewebeeld s’n?”