Arrogansie
Adrien land naby die Suid-Afrikaanse Delville Bos-gedenkterrein. Hy help Amelie galant uit die helikopter en in die breukdeel van ’n sekonde wat sy naby aan sy lyf verby skuur, ruik sy die aroma van cabernet sauvignon met donker vrugtegeure en ’n tikkie swartpeper. Sy wil eers smalende gedagtes dink oor hy so vroeg in die dag gedrink het, maar dan onthou sy hy is ’n wynmaker van beroep.
So, dis waar hy was pleks van om saam met haar ontbyt te eet? Sy hou van ’n toegewyde man, maar dit verskoon steeds nie sy gebrek aan maniere nie.
Sonder om haar te vra, neem hy weer haar hand en neem haar op ’n flinke sleep-stappie deur die hekke. Die wit monument nestel tussen reuse bome en ondanks die hartseer geskiedenis, slaan die mooi toneel Amelie se asem weg.
Adrien beduie links en regs asof hy ’n opgeleide gids is. Dit is duidelik hy is nie van plan om stadig deur te stap sodat sy die geskiedkundige plek behoorlik kan inneem nie.
“Suid-Afrika het hierdie monument in 1926 onthul. Dit is deur sir Herbert Baker ontwerp. Ek het gelees hy het pragtige geboue in jou land ontwerp?”
“Haai, wag, kan ons asseblief stadiger loop?”
Sy probeer haar hand uit sy greep trek, maar die Fransman laat nier gaan nie.
“Vir wat trek jy sulke onpraktiese skoene aan? Jy het mos geweet jy kom plaas toe?”
“Hoe moes ek geweet het jy gaan my hierheen sleep sonder om my te waarsku? Genade! Het jy dan hoegenaamd geen sosiale vaardighede nie?”
“Liewe meisie, jy het vergeet ons Franse is kenners van sosiale vaardighede.”
Amelie voel hoe haar wange van woede begin gloei. Sy trek haar asem op en dan spoel ’n klein tirade oor haar lippe waarin sy hom uitvreet oor sy onhoflike afwesigheid die vorige dag op ie lughawe, die aand by aandete en die oggend met ontbyt. Sy vertel hom presies wat sy van sy maniere dink, maar weerhou haar darem daarvan om sy ma by sy gebrek aan ordentlikheid te betrek.
Hy gee haar kans om haar saak te stel en gee dan sy skitterglimlag. Sy vermoed dadelik dit is sy geheime wapen om vroue te ontsenu en probeer opnuut losruk uit sy greep.
“Amelie … Jy is presies soos my ma my tante beskryf het. Vurig en kwaai. Maar weet jy, ek is bestand teen kwaai vroue. Heeltemal immuun. Jy kan dus baklei soos jy wil, dit maak geen verskil aan my nie.”
“O, jy bedoel jy is van plan om jou sin te probeer kry? Wel, ek het vreeslike slegte nuus vir jou. Ek het jare lank saam met ’n boelie gewerk en ek was lank genoeg met een getroud. Ek is dus ook immuun teen wat jy ook al probeer!”
Adrien skater dat sy stem oor die verlate terrein bulder.
“Lyk my ek gaan jou besoek terdeë geniet! Ek sou baie teleurgesteld gewees het as jy ’n maklike mensie was. Ek kan nie wag dat my ma haar suster se ewebeeld ontmoet nie.”
“Ek dog jou ma wil my nie ontmoet nie? Sy het dan gaan inkopies doen?”
Weer bulder die Fransman se gelag.
“Bertha? Jy moet versigtig wees vir Bertha en haar groot mond. Sy en my ma het ’n liefde-haat-verhouding. My ma hou Bertha net aan uit lojaliteit teenoor my ouma. Maar laat ek jou gerusstel, jy gaan my ma ontmoet, sommer vanaand al! Ek en jy vlieg van hier af Parys toe om saam met haar aandete te gaan eet en dan kom ons almal terug sodat ons môre my boek kan bespreek.”
Amelie sluk ’n paar keer aan die woede teenoor die arrogante man.
“In Parys eet? Ek dog jy het pas geïnsinueer julle Franse weet van sosiale aanvaarbaarheid? Ek kan mos nie in hierdie klere gaan uiteet nie? Het dit nooit by jou opgekom dat jy my dalk moes waarsku voor ons uitstappie vandag en ons ete vanaand nie? Wie weet. Dalk wou ek skoon klere saambring?”
Sy voel sy kan hom klap as hy haar weer uitlag.
“Miskien, my liewe Amelie, het ek gedink jy sou nie gepaste klere ingepak het vir ’n ete by L’Avenue nie? Mamma het voorgestel ons neem jou eers na die grand Plaza Athenee hotel waar sy oorbly. Sy het reeds ’n paar rokkies vir jou laat kom om uit te kies.”
Amelie stik nou behoorlik. Sy ruk harder aan sy hand en as hy steeds weier om haar te laat gaan, skop sy hom so hard as wat sy kan teen die maermerrie. Dit het die gewenste uitwerking en hy los haar hand vinnig om sy pynlike skeen te vryf.
“Jissie! Jy is ’n klein merrie! Dalk moet ek jou waarsku dat dit die soort gedrag is wat my hormone op hol sit. Dis so jammer ons is familie anders het ek jou nou vasgevat en gewys hoekom ons Franse mans bekend is vir ons warmbloedigheid.”
Sy stap vinnig voor hom uit om te keer dat hy haar trane sien. Dit is ’n kruis wat sy van kleins af dra, as sy woedend is, huil sy. Renier het ure se sadistiese genot daaruit geput om haar te laat huil van woede en sy gaan nie toelaat dat hierdie bombastiese Fransman genot uit haar trane put nie.
Dit verbaas haar dat hy haar los om alleen deur die rye wit kruise te stap. Dit gee haar kans om te kalmeer. Sy probeer haar indink hoe die terrein tydens die verskriklike slag van Delville bos gelyk het. Sy het foto’s gesien van hoe die bome almal afgebrand was en hoe afgryslik die slagveld was. Sy gaan sit op ’n bankie en drink die stilte vir ’n rukkie in.
“Toe? Het jy afgekoel? Kan ek jou nou gaan wys waar die klooster in Longueval was?”
Hy hurk voor haar en gee weer sy skitter-glimlag.
“Toe nou, dit sal makliker vir ons albei wees as jy van my hou. Onthou, ons gaan nog lang ure saam werk aan my boek.”
“Jou boek? Hoekom verwys jy die heeltyd na jou boek? Ek dog ek het dit reeds duidelik gemaak dat ek op my eie besluit het om die boek te skryf. Jy weet seker ek is ’n ervare uitgewer en weet wat ek doen? Ek glo jy kan ’n goeie wyn maak, maar boeke is my terrein. Glo my, ek weet wat ek doen. Ek gaan die boek skryf al is dit sonder jou. En moenie jou sjarmante glimlaggie op my mors nie. Ek dink nie ek gaan van jou hou nie. Ek het genoeg gehad van arrogante boelierige mans, dankie.”
Voor sy kan keer, vat hy haar hand weer in ’n greep en sleep haar oor klipperige paadjies tot by die hoofpad na Longueval.
“Is jy gek? Ek kan nie so ver stap met hierdie skoene nie!”
Sy mik om langs die pad te gaan sit.
“Jy het seker nie gedink ons gaan hierdie kort entjie met die helikopter vlieg nie? Ek kan nie help dat jy ’n gemaksugtige stadsmeisie is nie. En, wie op aarde dra sulke hoë hakke?”
Amelie is teen die tyd seker daarvan sy gaan aan ’n beroerte beswyk voor die dag verby is. Sy was lanklaas in haar lewe so onbeskryflik woedend.
Sy probeer haar bes om by te hou op die hoë hakke. Hy gee moedswillig lang treë om haar te tart, weet sy.
Sy verwens hom elke trippelende treetjie wat sy gee. Maar net as haar verwensinge ’n hoogtepunt bereik, voel sy hoe haar voet swik en sy ongalant op haar knieë te lande kom. ’n Pyn skiet van haar enkel af op en dit voel of dit haar brein deurboor.
“Hemel maar jy is ’n onhandige vroumens! Kyk wat het jy nou gedoen! Hoe dink jy moet ek jou nou in die dorp kry en weer terugkry by die helikopter?”
Hy hurk voor haar en beduie sy moet op sy rug klim sodat hy haar kan abba.
“Jy is seker laf! Ek klim nie op jou rug nie. Gaan kry iemand om my met ’n motor te kom haal!”
Dis duidelik dat Adrien nie gewoond is om bevele van vroue te gehoorsaam nie. Hy tel haar op en gooi haar oor sy skouer asof sy ’n sak mielies is.
“Gelukkig is jy nie swaar nie. Ek het gehoor van julle Suid-Afrikaanse vroue kan maar groot in die lyf wees. Dis seker jou Franse herkoms waaraan jy die fyn beenstruktuur te danke het.”
Amelie se enkel pyn so dat sy nie die krag het om Adrien in te lig hoe uiters afstootlik sy hom vind nie. Hy kry blykbaar die boodskap en stap ’n ruk in stilte tot in die dorp. Dan haal hy haar van sy skouer af en plak haar voor die klooster se deur neer.
Die oomblik is skielik vir Amelie groot. Dit is die klooster waar Amelia voor die oorlog gebly het. Adrien klop aan die deur en ’n bejaarde non kom maak die deur oop. Dit is duidelik dat sy hulle verwag het. Adrien dra haar af in die nou gange tot in ’n klein kamertjie.
“Dit was Amelia se kamer toer sy hier gebly het.”
Amelie verstom haar aan die eenvoud vergeleke met die luuksheid waaraan Amelia in Le Crotoy gewoond was. Sy voel ’n vreemde hartseer aan. Amelia moes baie hartseer aande hier deurgebring het.
Tot Amelie se verligting bied die non aan om hulle in ’n stokou Renault terug te neem na die helikopter.
Moegheid, pyn en frustrasie oorweldig haar toe Adrien haar in die helikopter tel. Sy bars in trane uit. En net daar, ontdek sy ’n geheime wapen wat sy teen Adrien Marceux kan gebruik: Trane. Voor haar oë verander die arrogante man in ’n mak lam. Hy vee haar trane af en al verstaan sy nie al die trooswoordjies wat hy fluister nie, drup dit soos heuning op haar siel.