Kil ontvangs
Na ’n onrustige nag op die vlug eet Amelie elke krummel van die vliegtuig-ontbyt op om haar krag te gee vir die groot ontmoeting met Adrien Marceaux. Sy wens sy het liefs ’n slaappil die vorige aand gesluk want dan was sy nou uitgerus pleks van om te voel asof haar kop vol wol gestop is. In die spieël van die vliegtuig-toilet kan sy sien die onrustige nag het haar hare ook nie goed gedoen nie. Die rooi krulle staan in alle windrigtings. Sy probeer dit tem en smeer haar lippe rooi. Sy wil professioneel lyk en haar opponent in die erfporsie laat besef sy is nie hier om geboelie te word nie. Sy gaan hom gou lat verstaan sy is hier om haar ouma Alett se deel van die rykdom op te eis. Sy gaan hom ook inlig dat sy die boek oor Amelia uit haar perspektief skryf en nie uit syne nie.
Die landing op Charles de Gaulle lughawe is sag en sy voel die opwinding in haar maag draai.
Daar sal nie tyd wees om in Parys rond te loop nie en sy neem haar voor om so veel moontlik van die stad visueel in te neem op pad na haar bestemming.
Haar bene begin bewe as sy haar bagasie op die trollie laai en na die aankomssaal se deure stap. Binne minute gaan sy Adrien ontmoet. Hopelik is hy net so sjarmant soos in sy epos, al vermoed sy nou sy sjarme het bybedoelinge. Sy is dankbaar sy weet van die erfporsie en dat sy meer voorbereid is op die Fransman en sy ma.
Haar oë fynkam die klein skare in die aankomssaal vir die lang donker man, maar hy is nêrens in sig nie. Dalk het hy haar vergeet?
“Madame Amelie?”
Die klein dikkerige mannetjie kom reguit na haar aangestap asof hy haar herken.
Sy naam is Ruard en hy is haar chauffeur vir die dag, lig hy haar in gebroke Engels in. Hy is nie oorvriendelik nie en praat die minimum terwyl hulle deur die verkeer vleg. Dis seker nie deel van sy opdrag om haar as toeris op landmerke te wys nie, dink sy suur.
Sy is eintlik vies dat Adrien of sy ma nie die moeite gedoen het om haar self te kom haal nie. Sy is immers familie! Dit toon hulle het nie goeie maniere nie en wys vir haar hulle beskou haar nie as belangrik genoeg nie. Wat ’n vermetele spul!
Ruard het skynbaar ’n kort humeur en ly aan erge padwoede. Hy toet en skel sy pad deur die verkeer oop en dit voel haar of hy haar teenwoordig agter in die motor heeltemal ignoreer.
Gelukkig het sy vooraf so veel moontlik opgelees oor die ligging van Le Crotoy en sy weet sy en die humeurige mannetjie gaan nog sowat 150 km in mekaar se geselskap deurbring voor hulle by die kusdorp Le Crotoy aankom. Die dorpies en Europese winterlandskap vlieg verby terwyl die Citroën na hulle bestemming jaag. Langs die pad ontvang Ruard verskeie oproepe en hy babbel in Frans voort en uit die manier wat hy na haar beduie, kan sy aflei hy praat oor haar. Hy doen nie eens die moeite om iets vir haar te vertaal nie. Vrek ongeskik, nes sy baas. Sy besluit om vir die res van die rit nie oogkontak te maak nie.
Le Crotoy is rondom ‘n perdehoef-vormige baai geleë. Ruard hou by ’n hawegebied stil en beduie vir haar in die rigting van die rye restaurants.
Met haar karige Frans verstaan sy hy gee haar opdrag om te eet en inkopies te doen want hy gaan haar drie-uur die middag weer oplaai.
Vliegvoos maak sy haarself tuis by die eerste restaurant wat oor die mistige winter-toneel van die see uitkyk. Die atmosfeer in La Cote d’Opale is knus en sy kan ruik dat seekos van die kombuis se spesialiteite is. Sy bestel ’n reuse bord varsgebakte vis en sluk twee koppies sterk koffie af voor sy eers voel sy het krag vir die res van die dag.
Die kelner praat goeie Engels en sy vertel Amelie dat deel van die dorp se aanspraak op roem is dat Johanna van Arkel in ’n chateau aangehou is voor sy tot haar tragiese einde gekom het. Amelie is in haar skik om dit te hoor want die verhaal van die 15de eeuse Franse volksheldin wat op 19 jaar tereggestel is nadat sy van kettery aangekla was, het haar nog altyd gefassineer. Daarom wil sy beslis voor sy Frankryk verlaat eer aan Johanna betoon deur haar standbeeld in die dorp te besoek.
Amelie vergeet ’n rukkie van die spannende afwagting van haar ontmoeting met die Marceaux en tuur oor die baai en die wit strande verder op teen die kus. Ondanks die winterkoue lyk dit soos ’n prentjie uit ’n advertensie en sy is spyt sy kan net ’n paar dae vertoef. Die kelnerin beveel haar ook aan om die klein vallei St Valery-sur-Somme net om die draai van die baai te besoek voor sy na die wynlandgoed vertrek.
Amelie se kamera kliek talle foto’s van die natuurlike perdeskoenvormige baai en die klein visserskuite. Sy probeer haar indink dat Amelia as kind en jong meisie voor die oorlog baie tyd hier deurgebring het.
Die winkeltjies om die baai het allerlei heerlike eetgoed en snuisterye. Oral is Kersversierings in die vensters. Langs die kusweg is daar verskeie stalletjies waar oudhede en boeke verkoop word en Amelie moet haarself inhou om nie op die eerste dag al haar geld uit te gee nie. Sy gun haarself darem ’n metaal teepot wat volgens die stalletjie se eienaar uit 1950 dateer. Die tyd vlieg verby tot Ruard haar kom oplaai.
Hy groet met ’n knorrige kopknik en hou die motordeur vir haar oop. Sy hoop nie sy houding is ’n voorspelling van hoe die res van haar paar dae in Frankryk gaan verloop nie
Sy lei wel uit sy gemompel vanaf die voorste sitplek af dat hy haar nou na die Picardi gebied gaan neem waar die Le Crotoy wynlandgoed is. Dit is ’n hele ent van Le Crotoy self.
Sy is dankbaar oor die paar brosjures oor die landgoed wat hy in haar hand gestop het. Dit is darem in Engels en gee haar agtergrond voor sy die Marceaux-landgoed betree.
Die familie het daarvolgens ’n ryk geskiedenis in die gebied en hulle produseer van die top wyne. Die meeste wynlandgoedere is eers na die tweede wêreldoorlog in die gebied aangelê, maar die Marceaux het reeds aan die begin van die vorige eeu wingerde in die gebied aangeplant en tradisionele sjampanje gemaak.
Amelie vind dit ironies dat die brosjures verduidelik dat die Marceaux geslagte lank sjampanje maak waarmee mense ‘’die vreugde van die lewe vier’’. Noudat sy die geskiedenis van die familie beter ken, weet sy dat daar in die chateau van die landgoed self min dinge was om te vier.
Die Picardi gebied strek vanaf die noordelike voorstede van Parys tot by die wynlandgoedere van Champagne en die strande rondom die baaie van Somme aan die Engelse kanaal.
Volgens die brosjures beslaan die Le Crotoy-wynlandgoed byna 20 000 vierkante kilometer en lewer die kelders onder meer Cabernet Sauvignon, Merlot en Petit Verdot. Die druiwe word per hand geoes en gesorteer en die wynmakers volg die tradisionele Bordeaux styl van wynmaak voor die wyn in Franse eikehoutvate verouder.
Amelie is nou dankbaar dat Renier so ’n wynsnob is en dat hy haar na al sy wynklub-funksies saamgesleep het. Dit gee haar nou beter insig in die smaakprosesse wat die brosjures beskryf.
Die suiwerheid van die druiwe van die landgoed word besing. Amelie kan al die sagtheid en struktuur van die verouderde wyne proe. Sy raak lus vir ’n Cabernet Sauvignon voor ’n kaggel om die koudheid van Europa voor Kersfees te verdryf.
Dit voel vir haar of eindelose winterlandskappe voor haar verbyvlieg voor die imposante hekke van Le Crotoy voor hulle opdoem. Hulle kronkel deur wingerde tot die wit chateau in die mistigheid sigbaar word.
Ruard bulder ’n paar opdragte oor sy foon en as hulle voor die chateau stilhou, staan twee bediendes gereed om haar en haar bagasie in ontvangs te neem. Weer is daar geen teken van Adrien en sy ma nie. Amelie voel hulle kon seker darem die moeite gedoen het om haar in hulle huis te verwelkom. Dié afsydigheid voorpel vir haar niks goed nie.
’n Bediende neem haar na ’n kamer op die tweede verdieping met ’n en suite badkamer en sy begin dadelik stomende badwater intap asof Amelie nie ’n keuse het nie. Daar is reeds ’n vuur in die kaggel en binne minute daag nog ’n bediende met ’n skinkbord tee en toebroodjies op.
Aandete is om agtuur die aand, lig sy Amelie in. Adrien en sy ma gaan haar nie voor dan ontmoet nie, lei sy af. Die Franse kan beslis baie oor gasvryheid by die Suid-Afrikaners gaan leer, brom sy by haarself. Watse soort gasheer nooi iemand uit en laat haar halfpad oor die aardbol vlieg sonder ’n warm verwelkoming?
Die stomende bad en tee verdryf die koue wat voel of dit tot in haar gebeente inkruip. Sy vou die sagte japon om haar toe en raak salig op die bed aan die slaap.
Dis al sewe-uur as sy wakker skrik. Sy probeer haar hare vervaard tem want die klam winterkoue laat dit nog meer krul. Sy trek ’n sagte grys kasmier trui en swart langbroek aan en smeer ’n purper lipstif aan om die bleekheid van haar vel te verbloem.
Net voor agt klop die bediende sag aan die deur en lei haar in stilte oor dik tapyte deur die gange van die chateau tot by die eetkamer.
Tot Amelie se verbasing is daar niemand om haar te verwelkom nie en daar is net een plek aan die ellelange tafel gedek. Die vure in die kaggels is die enigste warmte wat haar ontvang.
Sy het skaars aangesit of ’n kelner bring ’n ligte sop. Nog een laat haar tussen twee wyne kies.
Terwyl sy aan die sagte eend smul, wel die woede by Amelie op. Adrien en sy ma maak dit duidelik dat hulle nie van plan is om haar met gulhartigheid te verwelkom nie. Sy het nog nooit in haar lewe so onwelkom gevoel nie. Nie eens die twee glase cabernet sauvignon laat haar beter voel nie.
Na ete sit sy en haar gedagtes alleen voor die kaggel in haar kamer. Sy neem haar voor om die Marceaux met dieselfde kilheid te behandel as waarmee hulle haar ontvang het.
Teen elfuur is daar weer ’n sagte klop aan die deur. Die kamermeisie bring ’n skinkbord met warm sjokolade en sy gooi nog stompe op die vuur. Haar vriendelike glimlag is die eerste teken wat Amelie sedert haar aankoms in Frankryk gesien het.
Laatnag skrik sy wakker van ’n lawaai. Sy sien deur die venster hoe ’n helikopter voor die chateau land.
In die helder lig van die verligte tuin herken sy die man wat uitklim dadelik. Adrien Marceaux.