kategorieë: Lees

Dans met die rooirok: Hoofstuk 2

Aardige geluide

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die kinders staan geskok na die ou huis in die vergroeide tuin en kyk. Selfs die hiperaktiewe Labrador, Buks, sit doodstil na die onthulling en kyk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Ma! Ma verwag seker nie ons moet hier bly nie? Dis ’n murasie!” Mia lyk of sy enige oomblik in trane kan uitbars.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Lyk my soos ’n spookhuis,” voeg Jos by.

“O vrek, Jos, ek dink jy is reg!” Ugo mik terug na die kar. “Hier slaap ek nie vanaand nie.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek ook nie,” beaam Jos.

“Julle is sissies! Dit ’n fascinating plek. Soos iets uit ’n movie.” Lolla kom staan langs Amelie om haar steun te vertoon.

“’n Horror movie, ja. Ma? Dis nou die tyd om te sê Ma maak ’n grap. Nè Ma?” Mia se smekende blik ontsenu Amelie effens.

“Wag net tot julle sien hoe groot is julle kamers! Ek het gewag met die verwery sodat julle jul eie kleure kan kies.” Sy swaai die dubbele houtdeur met die flenter loodglaswerk dramaties oop. “Ta daa! Welkom in Mon Abri. Ons nuwe huis!”

Die vierstuks stadskinders stap versigtig by die voorportaal in. Die enkele oorblywende bosduif wat net nie die wyk wou neem na Amelie se skoonmaakveldtog nie, fladder onheilspellend oor hulle koppe. Mia en Lolla gil soos soprane. Ugo en Jos hardloop by die deur uit.

“Dis freeking scary, Ma! Ek bly nie hier nie!” Mia retireer in die koers van die deur.

Selfs Lolla lyk nie meer so dapper nie.

Dit verg mooipraat om die kinders gekalmeer te kry vir die toer deur die huis. Die meisies is in hulle skik dat hul kamers balkonne het. Jos en Ugo het elkeen ’n dakkamer in die ou solder.
Die groot ou Aga-stoof in die kombuis is vir die kinders minder imponerend.

“Weet Ma hoe werk die ding? Lyk my ons gaan sterf van die honger hier. Is daar ’n Mr Delivery op die dorp?” Amelie weet Mia maak nie ’n grap nie. Maar sy is vol vertroue dat sy die ou Aga maklik sal baasraak. Daar was een in haar ouma se huis en sy onthou dat dit nie te moeilik gelyk het om aan te steek nie.

“Wag tot julle sien hoe lyk dit buite!” Amelie probeer haar bes om geesdrif by haar stadskinders te wek. Gelukkig is dit vrugteseisoen en die vrugtebome se takke hang swaar tot op die grond. Dit dra darem Mia se goedkeuring weg. Sy is immers op dieet en haar nuutste eetplan sluit omtrent net vrugte in.

“Dis nou freeking cool! Vye! Lolla, kyk die moewiese pruime!”

Die meisies vaar die bome in, maar Ugo het net oë vir die windpomp en dam. Hy is versot op water en swem van kleins af soos ’n vis.

“Kom, ek gaan wys julle die lekkerste deel van die plek,” nooi Amelie en stap vooruit rivier toe.

Sy het vir hulle niks van die rivierfront van hulle erf gesê nie, want sy wou hulle verras. Haar kinders mag stadsjapies wees, maar hulle geniet uitstappies in die natuur.

Die rivier wat oor verskeie rotse kabbel en die reuse wilgebome met takke wat laag oor die water swiep, het die kinders ’n paar sekondes sprakeloos. Dan storm Jos en Ugo jillend nader met Buks agterna.

“Dis nou super cool, nè Buks? Ons eie rivier! Jy kan nou elke dag swem sonder dat Pa kla oor jou hare die swembad vuil maak.” Amelie weet die Labrador se vreugde oor die rivier sal Jos se hart vir die huis week maak.

“Nie sleg nie, nè Mia?” Lolla is die een in die gesin wat almal gelukkig probeer hou. Amelie weet die kind gaan die aanpassing in die huis vir almal makliker maak.

“Ons slaap vanaand in ’n gastehuis verder op teen die rivier. Die treklorrie sal môre vroeg kom. In die blou sak agterin die kar is handdoeke en julle swemklere. Geniet eers die rivier. Môre moet ons hard begin werk om die huis te tem.”

Vir ’n oomblik dink Amelie sy het die kinders se harte verower, maar dan roep moeilikheid in die gewaad van ’n gesette vrou oor die heining.

“Koeieee! Ek het gehoor iemand was mal genoeg om die plek te koop! Ek sê vanoggend vir Bertie, ek gee julle ’n week dan trek julle terug stad toe.”

Die vrou het pof-wange en twee gitswart ogies kyk die kinders een vir een op en af.

“Ons mense op die dorp hou nog by ons waardes …”

Amelie sien waarheen die gesprek op pad is.

“Ek is Amelie du Raan en hierdie is my vier kinders. En u is?”

“Magdel Els. Ek wil net vir jou sê jy gaan moeilikheid hier op ons dorp kry. Gaan julle almal in die huis slaap? Jy weet?”

Amelie sluk die woede af. Sy wil nie die eerste dag al met die buurvrou haaks wees nie.

“Jy sal ons moet verskoon, ons wil nog die huis en tuin verken. Lekker dag.”

Magdel laat haar nie afsit nie.

“Julle weet dit spook in die plek?”

Amelie wens sy kan die vrou met ’n klip gooi. Dit is presies wat sy nie wou hê die kinders moet op hul eerste dag hoor nie.

“Daai mal ou Franse vrou gaan julle nie rus gee nie. Sy gaan julle vinnig uit haar huis ja!”

Amelie kry nie meer die woede afgesluk nie.

“Ons glo nie aan spoke nie ek gaan die ou huis tot haar vorige glorie herstel. Die vrou met die rooi rok sal heeltemal in haar skik wees, glo ek. Nou moet jy ons eers verskoon.”

Die kinders drentel stom van skok agter Amelie aan. Sy stap by die agterdeur in en gaan sit op die onderste trappie van die wenteltrap in die portaal. Die kinders soek elkeen ’n trap uit.

“Wat bedoel daai vrou? Spook dit regtig hier?” Mia skuif haar reg vir die kruisverhoor.

“Julle weet mos hoe eng kan mense wees. Die agent het my al gewaarsku daar is mense wat die belaglike storie glo.”

Sy voel skuldig oor sy die waarheid effens verdraai.

“Wie is die vrou met die rooi rok?” Mia gaan nie maklik laat los nie. Die ander drie sit soos die jurie links en regs van haar.

“Dis die Franse vrou wat eens hier gewoon het. Kan julle glo hoe laf is die mense? Hulle sien haar glo partykeer in die tuin dans met haar rooi rok! Lekker laf nè? Die arme mens is lankal dood.”

Die kinders glimlag nie eens oor die “lafheid” nie. Hulle sit elkeen met sy eie gedagtes.

Ugo skuif tot byna onder Mia se blad. “Moet ons regtig in hierdie huis bly? Is daardie vrou in hierdie huis vermoor?”

Amelie weet sy moet nou haar plattelandse droom red.

“Nee man, Ugo, ons skrik mos nie vir simpel ou stories nie? Die vrou is van ouderdom dood. In die hospitaal.”

Haar tweede wit leuen. Sy het eintlik geen idée waar die vrou dood is nie.

“Daai tannie van langsaan kyk mens vreemd uit. Hennie het my gewaarsku die mense op die platteland is rassiste.”

Amelie druk Ugo se maer lyfie teen haar vas.

“Ai nee, dit is darem nie waar nie. Nie almal op die platteland dink dieselfde nie. Wag net tot hulle jou sien krieket speel. En wie wil nie so ’n vinnige atleet in hulle skool hê nie? Jy sal sien, ons gaan almal lekker bly. Kom ons maak ’n ooreenkoms. Julle groet die tannie langsaan hoflik, maar bly uit haar pad. Moenie na mense se simpel stories luister nie.”

Soos te wagte, steun Lolla haar.

“Hey manne, kom ons pak hierdie ding soos ’n avontuur? Dis die koelste huis. Ons gaan vet pret hê, julle sal sien!”

Mia kyk Lolla aan asof sy haar varkies verloor het.

“Kyk hoe dik is die mure! Het jy al sulke dik mure gesien? Sê nou maar die vrou was ’n reeksmoordenaar en sy het al haar slagoffers se liggame in die mure versteek?”

Jos sien skynbaar die kans om sy verbeelding uit te leef.

“Die plek lyk soos iets uit ’n horror fliek! Dis seker honderde jare oud. Ek is seker hier het vreeslike tragedies afgespeel.”

Amelie weet nie meer hoe om die kinders se verbeeldingsvlugte en vrese te beheer nie.

“Kan jy jou indink hoe koel sal dit vir julle stadsmaats wees as hulle sien julle bly in ’n plek wat lyk of dit uit ’n Harry Potter-fliek kom? Miskien kan ons die plek inwy met ’n lekker scary partytjie?”

Sy moet net keer of haar verbeelding hardloop ook met haar weg. Sy kan al die kinders se kostuums sien en die grillerige spinnerakke van die dekor teen haar gesig voel.

Mia deel nie die geesdrif vir die atmosfeer van die huis nie.

“Ek voel heeltyd koue rillings teen my rug af. Waar kom ma aan die plek? Was dit op ’n special op ’n webblad vir vampiere?”

Lolla gryp in. “Ag, kom ons probeer net. Gee die plek ’n kans. Dalk bly ons baie lekker. Dink net hoe jou boyfriends onder jou balkon kan staan en minnedigte vir jou voorlees. Soos Romeo en Juliet.”

Haar woorde tokkel die regte snare en Amelie kan sien hoe dromerig Mia se oë raak. Sy bid stilletjies dat die Romeo en Juliet-toneel nie regtig waar sal word nie, want sy sien nie kans vir ’n Romeo in haar dogter se kamer nie.

Jos borduur voort op die moontlikheid van ’n sprokie.

“Mia, jy kan in die maanlig op jou ridder wag. Dink net hoe sal hy sy pad deur die tuin moet oopveg om by jou te kom!”

Dis net die leidraad waarop Ugo se verbeelding gewag het.

“Daar skuil dalk drake in die tuin. Miskien wou die ou vrou hulle weghou met al die bottels wat sy aan die bome gehang het.”

Mia laat nie op haar wag nie.

“Ons moet al die bottels afhaal, Ma, dis creepy. Hoor net hoe klingel dit as die wind waai.”

Ugo keer dadelik. “Is jy nou mal? Dan kom vreet die drake ons op!”

Die gesprek op die trap raak al waaghalsiger. Tot Amelie se verligting kan sy sien die kinders begin hul eie stories geniet.

Jos hou van die idée om ’n spookpartytjie vir hulle stadsmaats te hou en gou het elkeen ’n grilleriger idée om by te voeg.

Die lig wat deur die venster aan die westekant van die portaal val, raak yler en die skadu’s in die huis maak groter donker kolle.

Terwyl die kinders die een na die ander toneel uit ’n grilfliek oproep, wonder Amelie hoe die trek-lorrie vorder. Sy kan nie wag om die volgende dag uit te pak nie.

Mia is nou baie dapper en vertel van ’n fliek wat sy gesien het waarin ’n gesin ook in so ’n ou huis ingetrek het.

“Die spoke het die een na die ander gesin uit die huis laat trek, maar die pa van hierdie gesin wou nie trek nie.”

Die kinders hang aan Mia se lippe en Amelie wonder of die storie bevorderlik is vir hulle verblyf in die huis. Maar Mia vertel die storie so met oorgawe dat sy self skrikkerig na die donker kolle in die portaal begin loer. Verbeel sy haar of voel sy ’n koel bries teen haar nek?

Skielik hoor hulle ’n aardige gegil soos ’n baba wat skree. Amelie en die kinders val oor mekaar soos hulle gelyk by die voordeur probeer uitbondel. Buks, die dapper waghond, agterna.

Die skreeuende baba gee nou skril gille en aardige gromme.

Buks begin blaf en al die hare op sy rug staan regop.

Amelie en die kinders staan versteen in die voortuin en kyk na die ou huis in die laaste strale van die son. Iewers vanuit die dieptes van haar kamers eggo die skril gille van die baba.

Amelie voel hierdie keer ’n definitiewe koue wind teen haar rug waai, maar sy staan doodstil om nie die kinders verder op hol te jag nie.

In die oranje skakerings van die son wat sak, lyk dit skielik of haar droomhuis vir haar grynslag.

Lees hoofstuk 1 hier

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

MSI Vakansieverkope: Maak die Perfekte Geskenk Oop Hierdie Seisoen!

MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…

2 days Gelede

Maak vanjaar jou beste jaar

Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…

3 days Gelede

Skoonheidsprodukte: foute wat almal maak

Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…

3 days Gelede

Maklike gemmerbier – sonder gis

Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.

3 days Gelede

Ken jou vonkelwyn

Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…

3 days Gelede

5 maniere om jou dag reg te begin

Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.