Ou koerantstories
Die omstandighede van Phil se dood begin al meer by Amelie spook. Een van die inskrywings op die slaapkamermuur het die saadjie van nuuskierigheid by Amelie geplant. Amelia skryf:
“Jou laaste besoek bly by my. Ons dans vir ewig deur my tuin. Dan is jy weg. Vir altyd. Ek hoor die getjank van die honde op teen die rivier. Jy is weg. Vir altyd.”
Die kantoor van die Sederfontein Gazette het nie argiewe wat verder as twintig jaar terug strek nie. Hulle verwys Amelie na oom Boet Serfontein wat in die vyftigs en sestigs die Vrystaat Dagblad se korrespondent op Sederfontein was. Hy is al in sy negentigs, maar sy brein is glo nog helder.
Oom Boet sit penregop in die Aandrus-tehuis vir bejaardes se tuin. Die matrone vertel Amelie hy was baie opgewonde toe hy hoor sy kom.
“My magtag ja, jy is Amelia se ewebeeld!” Hy buig vooroor en streel oor Amelie se rooi krulhare.
Amelie gesels lekker met oom Boet oor die nuutste wêreldgebeure. Hy lees nog elke dag sy Vrystaat Dagblad van voor tot agter en mis nie ’n nuusuitsending oor die radio nie.
“Ek wou by Oom kom hoor oor Phil Groenewald se dood.”
Sy kan sien die ou man is nie juis geskok oor haar aankondiging nie.
“Ek het gedink jy gaan eendag hier aankom. Stella het my vertel jy krap in Amelia se storie rond.”
Hy neem haar na sy kamer. Hy het plakboeke van al sy ou nuusberigte. Hy het ’n boekmerk by die berig wat hy oor Phil se dood geskryf het.
“Ek onthou dit soos gister. Dit was ’n swaar storie om te skryf want Phil was ’n goeie man. Hy het nie verdien om so jonk te sterf nie.”
Hy blaai tot by die berig:
Boer se lyk gekry
Daan Serfontein
Sederfontein. – Die lyk van ’n vooraanstaande boer is gisteroggend in bosse gevind nadat hy die vorige dag sowat 100 m ver teen ’n krans afgestort het.
Mnr. Phil Groenewald, ’n boer van die distrik Sederfontein, is gisteroggend kort voor 07:00 gevind nadat plaaswerkers, die polisie en lede van die gemeenskap bykans regdeur die nag na hom gesoek het.
Die polisie ondersoek die moontlikheid dat Groenewald per ongeluk geval het nadat hy ’n verlore kalf gaan soek het. Sy vrou, Myra, het bekommerd geraak toe hy nie by die huis opdaag nie en het vriende en die polisie gekontak, het sr.supt. Hansie Verdoorn, polisiewoordvoerder, gesê.
Hy sê die polisie se reddingseenheid meen Groenewald het teen ’n krans op sy plaas afgestort voordat hy teen ’n steil helling afgerol en oor nog ’n klein kransie geval het voordat hy in bosse te lande gekom het.
Groenewald se lyk is met ’n polisiehond opgespoor. ’n Uitgebreide soektog is op sy plaas en langs die Palmiet-rivier gedoen. Groenewald het dikwels snags gaan vis vang en roei.
Groenewald se vrou, Myra, het hom eergistermiddag 16:00 laas gesien. Volgens Verdoorn het Groenewald nie aan sy vrou of werkers gesê hy gaan ’n verlore kalf soek nie. Een van die werkers het aan die polisie gesê Groenewald was die middag ontsteld oor ’n kalf wat weg is.
Groenewald het dikwels op sy eie in die veld gaan stap en was vertroud met die gevaarlike terrein rondom die krans. Die verlore kalf is gistermiddag in die omgewing van die krans gevind.
Geen misdaad word vermoed nie.
“Dis wat ek geskryf het: Geen misdaad word vermoed nie. Dis wat ou Hansie Verdoorn destyds vir my gesê het om te skryf.”
“Maar het Oom dan anders vermoed?”
“Kinta, daar was baie stories na Phil se dood. Party mense het gesê hy het gespring. Vet weet, ek sou hom nie kwalik geneem het nie. Om twee vrouens gelyk tevrede te hou, moes aan hom gevat het. En sy pa. Daardie ou man het van kleins af Phil se lewe hel gemaak. Jy weet van die ding met die oorlog?”
Hy sê dit asof hy weet sy sou reeds die geskiedenis nagevors het.
“Toe ek hoor jy ontrafel die dinge, het ek gehoop jy gaan die een wees wat die storie uiteindelik oop sal krap. Jy weet, so ’n ding is soos ’n sweer in ’n gemeenskap en in ’n familie. Dit moet oopgemaak word sodat die etter kan uitkom. Dis nodig sodat Phillip en sy seun ’n nuwe siklus in daardie familie kan begin. Vet weet, self sal hulle nie die sweer oopmaak nie. Ook nie so lank Myra leef nie en lyk my die ou mens klou nes ek aan die lewe. Ou kanniedoods.”
“Oom het nooit self probeer om die storie oop te krap nie?”
Oom Boet lag diep uit sy maag.
“Op dié dorp? Ek het ’n gesin gehad en my joppie nodig gehad. Vrystaat Dagblad sou niks negatiefs oor die Groenewalds gedruk het nie. Maar almal van ons het daai tyd ons eie idee gehad van wat regtig met Phil gebeur het.”
“Het hy geval of het hy gespring? Of …”
“Ja, of het iemand hom by daardie krans af gehelp? Hansie Verdoorn se kamma ondersoek na Phil se dood is baie vinnig afgehandel. Onthou, die Groenewalds het toe al op Sederfontein geheers.”
“Het almal dan net stilgebly?”
“Nie almal nie. Amelia was ’n klein vuurvreter. Sy het briewe geskryf tot by die regering, hoor ek. Glo van Bloem tot in die Kaap gebaklei.”
Dié interessante brokkie laat Amelie regop sit. Amelia se gedig … Sy het dus vermoed Phil het nie net geval nie.
“Niemand wou na haar luister nie. Oor sy die ander vou was. Mense was toe mos maar baie eng. Maar sy het geweet, daai rooikop. Ek dink sy het geweet.”
“Wat het Amelia geweet, Oom?”
“Sy het tot met haar dood geglo Phil is vermoor. Sy het self by die krans gaan rondkrap tot Myra se werkers haar met haelgewere verwilder het.”
“Maar wie het sy gedink het die moord gepleeg en hoekom?”
Oom Boet staan op en gaan kyk op en af in die ouetehuis se gang. Dis duidelik hy wil nie voor ’n gehoor praat nie.
“Amelia het geglo Myra se pa en broers het van Phil ontslae geraak omdat hy haar so ’n hartseer aangedoen het oor die gekuier by Mon Abri. Jy weet seker hy het in die nagte daar gaan kuier? Hansie Verdoorn hulle het langs die rivier na Phil gesoek want almal het geweet Phil gaan kuier in die nag. Amelia het my self vertel Phil was daardie aand by haar. Hy het nie na die kalf gaan soek nie.”
Amelie dink dadelik aan die inskrywing op die muur: “Ons dans deur my tuin. Dan is jy weg. Vir altyd.”
“Het daardie aand met Phil se besoek iets gebeur wat kon voorspel dat hy daardie nag sou sterf?”
“Amelia het my vertel Phil was onder baie druk van Myra en haar mense. Sy het geglo hulle het hom daardie nag voorgelê toe hy terug is by die plaas.”
“Maar Oom, uit die briewe wat Phil vir Amelia geskryf het, was dit duidelik hy het dit soms oorweeg om selfmoord te pleeg? Is dit nie ook moontlik nie?”
“Phil sou nie self gespring het nie. Hy was my vriend, maar Phil was sag. Jy weet? Hy was vrek bang toe sy pa hom oorlog toe gestuur het, en toe het hy al gedreig om ’n einde aan als te maak. Maar hy het nie. Phil het maar soms so gepraat as hy desperaat was. Hy het na sy pa se pype gedans. Ek wil nie sonder respek klink teenoor my vriend nie, maar die murg in sy pype was bietjie dun, jy weet?”
“’n Lafaard? Was hy te lafhartig om te spring?”
“Ek dink so, my kind. Phil sou nie gespring het nie. Eerder geval het, maar spring? Nee.”
Amelie kan haar net indink hoe bang die jong Phil tydens die slag van Delville Bos moes gewees het. Dit was ’n bloedige slag onder ellendige omstandighede. Dit laat haar nou wonder hoe Phil van die bos tot by die klooster in die dorp gekom het. Hy was nie dapper genoeg om op ’n missie te wees nie. Het hy dalk gevlug?
Dis asof Oom Boet haar gedagtes lees.
“Phil was nooit weer dieselfde mens na die oorlog nie. Hy het my net een keer daarvan vertel. Dit was vreeslik. Mense is om hom stukkend geskiet. Hy het sy pa nooit vergewe dat hy hom gedwing het om te gaan nie.”
“Wou sy pa hom ’n man maak? Is dit hoekom hy hom gestuur het?”
Oom Boet lag en vryf oor Amelie se rooi hare.
“Jy is ’n slim ene. Net Amelia. Phil was nie ’n boer nie. Hy wou nie boer nie. Hy was ’n sagte mens. Liewer vir boeke as vir boer. Maar vir Phil se pa was die Groenewald-plaas en nalatenskap belangriker. Dis snaaks dat die oorlog amper vir Phil ’n kans gegee het om weg te kom van die plaas. As hy en Amelia nie gevang is nie, het Phil in Europa gebly. Ek dink partykeer dit was in elk geval sy plan al het hy Amelia nie ontmoet nie. Hy wou daar bly om weg te kom van sy pa. Hartseer storie die een van die Groenewalds.”
Amelie is dankbaar sy het tyd gemaak om by oom Boet te gaan kuier. Sy inligting is baie meer feitelik as die van Stella.
Sy het ’n hartseer gevoel op die krop van haar maag oor van die berigte oor die Groenewalds in oom Boet se plakboeke. Op vergeelde koerantfoto’s poseer Phil en Myra by van hulle stoetvee op ’n landbouskou. Myra haak intiem by haar man in en kyk bewonderend op na hom. Dit laat Amelie besef Myra het haar man liefgehad en sy verraad moes pynigend gewees het.
Op foto’s van Phil se begrafnis lyk Myra ontroosbaar. Amelie kon die hartseer van die vrou en haar seuntjie duidelik sien. Die jong Phillip klou op die foto aan sy ma en familie troos hulle.
Wat sou die werklike feite agter Phil se dood gewees het? wonder Amelie. Die moontlikheid dat Myra en haar familie van Phil ontslae geraak het, strook net nie met die koerantfoto van die bedroefde weduwee en haar seuntjie nie.