Phil se briewe
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Sy kom die nag weer in Amelie se droom kuier. Haar voorsaat met die rooi rok. Sy sien haar by die venster sit en uit tuur. Sy het ’n brief in haar hand en die trane loop oor haar wange. Dan staan sy op en Amelie volg haar die trappe af. Sy dans stadig tussen die bome terwyl die wind sagte klingelings maak.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Ligdag skrik Amelie wakker. Sy haal die pakkie briewe met die manlike spykerskrif uit.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Die eerste een is net ’n kort briefie. Bo-aan staan:
Paroisse “Saint Ferréol” 66, Rue de l’Eglise , Longueval.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Phil het dit skynbaar geskryf toe hy gewond in die klooster gelê het.
“Ek wag elke oggend vir die verskyning van ’n engel. Jy gee my hoop in ’n donker tyd. Ek weet God het jou vir my gestuur. Jy verstaan my vrees vir die oorlog en my verlange na my land.”
Daar is ’n paar briefies wat hy in die klooster aan Amelia geskryf het. Waarskynlik kon die twee verliefdes nie lang gesprekke hê met die nonne in die omtrek nie.
“Dankie vir jou sagte hand op my koorsige voorkop. Ek ruik jou sagtheid in die skoon linne. Ek sou dit nie oorleef het sonder jou nie. Ek verstaan nou hoekom ek teen my wil na hierdie vreeslike oorlog moes kom. Ek moes kom om jou te ontmoet. Jy maak my lewe heel.”
Daar is ’n briefie waarin hy sy vreugde en vrees oor Amelia se swangerskap uitspreek.
“My hart sing en huil gelyk. Uit ons gesteelde tye saam, is nuwe hoop gebore. Ek bid dat ons kind sonder oorlog sal grootword. Ek vra God om my ’n pa met ’n sagte stem en ’n ferm hand van liefde te maak. Ons kind sal in ’n huis van liefde en begrip grootgemaak word. Ons kind sal nooit gedwing word om teen sy grein op te tree nie. Ek respekteer my en jou vader vir dit wat hulle vir ons gedoen het, maar ek bid dat ek ’n ander soort ouer sal wees. Ek vrees elke nag dat jou pa jou van my gaan wegneem. Ons sal moet vlug, my liefste, vra jou vriendin watter roete ons na hulle plaas moet volg. Ek sal jou en ons kind beskerm met my lewe.”
Daar is ’n hartverskeurende brief van Phil aan Amelia in Kaapstad.
“Ek dink elke oomblik aan jou en aan die kind. Dit het my mal gemaak toe jy op die skip was en ek nie geweet het of my liefste veilig is nie. Ek smeek jou om nie ons baba weg te gee nie. Sodra ek kans kry, kom ek jou en ons kind haal. Ek vlug voor my pa se manskappe. Hulle sal my nie vang nie. Ek sien nie kans vir gevangenskap op ons plaas nie. Ek vra God se vergifnis, maar ek haat my pa vir hierdie jag op my. Hulle jaag my soos ’n dier deur die veld. Al wat my dryf, is jy en ons kind.”
Uit die lang onderbreking van briewe kan Amelia aflei dat dit waarskynlik die tyd is toe sy pa se mense hom gevang het en teruggebring het Suid-Afrika toe. Dan volg ’n brief uit Sederfontein na Kaapstad.
“My liefste Amelia, ek is dankbaar dat jou ma jou adres aan my gegee het tot my pa se manskappe my tot op Le Crotoy gebring het. Hulle en jou pa het my soos ’n misdadiger behandel, maar ek weet my liefde vir jou is nie ’n misdaad nie. Ek kon jou ma se pyn sien. Ek voel die pyn oor die skeiding wat ons liefde in jou familie gebring het. Maar niks kan ons liefde keer nie. Ek probeer verstaan dat jy ons kind moes oorgee en ek bid dat God ons eendag weer bymekaar sal bring.”
Die res van die briewe is oor die loop van ’n paar jaar geskryf en is nie gepos nie. Phil het dit waarskynlik met sy nagtelike besoeke aan Mon Abri aan Amelia self gegee of op ’n geheime plek vir haar gelaat.
In die eerste briewe smeek hy Amelia om te probeer verstaan dat sy pa ’n houvas op hom het en dat hy nie net die plaas kan agterlaat en na haar kom nie. Uit die briewe is dit duidelik dat Phil se ouers hom emosioneel gemanipuleer het en laat voel het dit sal sy skuld wees as die familie en die familieplaas skei. Hy probeer aan Amelia verduidelik dat sy ouers en Myra se ouers al jare beplan om die twee familieplase saam te smelt en hoe ’n obsessie dit by hulle is dat ? Groenewald op die grond sal boer.
“Myra is nog ’n kind en ek bid dat ons ouers tot ander insigte sal kom voor sy oud genoeg is om te trou. Dit skeur my om verby Mon Abri te ry en te weet jy is daar. Ek is jammer die mense behandel jou met soveel haat. Jy verdien dit nie. Ek wens ek kon jou teen hulle beskerm. Probeer verstaan hoekom ek nie weer saam jou kan vlug nie. My liefde vir jou en my ma skeur my. Ek kan my ma nie alleen by my pa los nie. Jy weet waarvan ek jou vertel het. Ek sal nooit met myself kan saamleef as my ma moet sterf nie. Ek bid elke aand dat ons kind by die Du Preez veilig sal wees. Mag ons kind nooit in ’n huis van vrees grootword nie.”
Uit verskeie briewe kan Amelie aflei dat daar naas die emosionele manipulasie in die Groenewald huis ook huishoudelike geweld was. Phil se pa het blykbaar die plaas en sy gesin met ’n karwats regeer en nie net die plaaswerkers is daarmee getugtig nie.
Die meeste briewe spreek van Phil se verlange en Amelie voel ’n woede in haar opwel oor sy ruggraatloosheid in die situasie. Hy het toegekyk hoe sy ouers en die gemeenskap Amelia se lewe hel maak, en buiten die liefdesbriewe vol troos skynbaar niks daaraan gedoen nie.
Amelia moes hom baie lief gehad het om al die vernedering en haat te verduur. Dit moes haar hart in stukke gebreek het toe Phil uiteindelik toegegee het en met Myra getrou het.
“Jy weet ek het nie ’n keuse nie, my liefling. Niemand sal ooit jou plek in my hart kan inneem nie. Jy is die enigste een wat my verstaan. Ek wil jou nie dwing om met ons verbode liefde voort te gaan nie, maar as jy my uit jou hart sny, sal die dood al uitweg wees.”
Amelie verloor al meer respek vir Phil want sy kan uit die briewe aflei dat hy sy manipulasievernuf by sy ouers geërf het. Hy wou Amelia nie vrylaat om voort te gaan met haar eie lewe sonder hom nie en het van haar verwag om alleen in Mon Abri voort te sukkel en het toegekyk hoe ’n hele gemeenskap haar afsonder en verwerp. Om ’n liefde so diep soos die van Amelia te verstaan, is moeilik. Min vroue sou op in dieselfde gemeenskap aanbly waar haar geliefde en sy vrou saam leef.
Elke versugting van pyn wat Amelia op haar kamermuur en in haar briewe in die bottels neergeskryf het, getuig van ’n vrou wat in hartseer leef en tevrede is met die krummels liefde tydens haar minnaar se geheime besoeke.
In ’n hele paar briewe spreek Phil sy opgewondenheid uit oor die voorreg om Alett uiteindelik te kon ontmoet en vashou.
“Ek sien in haar ons mooi liefde in Longueval se woude. Ek onthou ons maanlignagte op die plaas. Ek sien jou in ons kind se oë en ek bid dat sy al die hartseer gespaar word wat ons moet verduur.”
Die storm en drang van die verbode liefde in die genadelose gemeenskap speel oor jare se briewe af. Dit is duidelik dat Amelia nooit hoop verloor nie en dat haar pa dit vir haar onmoontlik maak om terug te keer na haar vaderland.
Deur die jare moes Amelia toekyk hoe Phil en Myra as vooraanstaandes in die gemeenskap vereer word en hoe Phil sy Groenewald nalatenskap as’t ware bo hulle liefde stel.
Ook Amelie se simpatie met Myra groei brief vir brief want dit moes vir haar hel gewees het om in die situasie haar huwelik aan die gang te hou. Ook sy moes Phil baie lief gehad het om die emosionele aanslae van ontrouheid te kon verduur.
Die konflik tussen Phil en sy ouers en skoonouers en met Myra raak ook duideliker in die briewe. Daar word al meer druk op hom geplaas om sy verhouding met Amelia te verbreek.
Die enigste bietjie staal wat hy toon, is dat hy deur die jare geweier het om dit te doen. Dit was immers sy skuld dat Amelia in eensaamheid in Mon Abri gebly het en nie na haar land kon terugkeer nie. In talle briewe smeek hy haar om nie haar band met hom te breek nie en dreig telkens dat die dood vir hom dan al uitweg sou wees.”
Die briewe hou op in die tyd van Phil se ongeluk by die krans. Die skielike leegheid tref selfs vir Amelie as sy besef sy het al sy briewe gelees. Die enigste kommunikasie tussen Phil en Amelia daarna is haar hartverskeurende briewe in die blou bottels aan die bome.
Amelie verstaan skielik die laaste droom oor Amelia. Sy het waarskynlik nagte alleen in haar tuin tussen die bottels deurgebring en gehoop die wind dra haar boodskappe van liefde aan Phil.
Amelie soek weer die brief waarin Phil na Amelia se rooi rok verwys.
“As ek my oë toemaak, sien ek jou in jou rooi rok, my liefste. Ek voel hoe jy in my arms deur die tuin dans met die krieke en paddas ons enigste musiek. Ek hou jou in my drome vas, my liefling want ek weet daar behoort jy net aan my. Daar kan niemand ons weg hou van mekaar nie. Dit is al wat my aan die gang hou, die wete dat ek jou soms in my arms kan neem. Ek sal jou vir ewig lief hê, selfs as die dood ons skei.”
Amelia raak al meer gefassineer oor die gebeure rondom Phil se dood. Sy neem haar voor om weer ’n draai by Stella te maak en om insae te kry in die amptelike dokumente rondom sy dood. Vir haar is dit net te toevallig dat ’n man wat in sy briewe so baie met selfdood dreig toevallig van ’n krans af kon val. Met soveel emosionele bagasie en onmin in sy lewe, was die ongeluk dalk nie ’n ongeluk nie.
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.