Die Briewe
Amelie maak die strik om die bondeltjie verweerde briewe versigtig los asof sy met ’nn heilige taak besig is. Die tyd voel uiteindelik reg om dit te lees. Sy wil so veel moontlik agtergrond hê voor sy Frankryk toe vertrek.
Daar is ’n opgewonde roering in haar oor die besoek. Sy kan nie wag om die huis te sien waar Amelia grootgeword het nie. Sy wil in die wingerde gaan stap waar sy as kind gespeel het en wyn uit die nou al bekende blou bottels proe. Dan wil sy beslis ook by Delville Bos gaan stap waar Phil en Amelia se storie begin het.
Sy staal haar nou al om met Adrien Marceaux oor die weg te kom. Iets aan sy gedrag laat haar net vermoed dat hulle koppe gaan stamp en dat hy arrogant is.
Hy is smeulend aantreklik op sy foto, beken sy aan haarself, maar dit is ’n bonus dat die man saam met wie sy moontlik aan die boek gaan werk, sag op die oog is.
Al roer die Fransman haar hormone so effe, is sy filmster-voorkoms op die oomblik die laaste ding waaraan sy haar gaan steur. Sy is van plan om haar besoek aan die Marceaux- wynlandgoed ’n sakebesoek te hou. Sy wil die situasie in Frankryk deeglik opsom voor sy instem om saam met Adrien te werk.
Na die vernederende ervaring met Phillip het sy haarself deeglik vermaan om nie weer so maklik te val vir enige aantreklike man wat aan haar aandag gee nie. Sy verstom haar dat sy so buite haar aard in ’nn man se arms geval het, maar haar opleeswerk op Google toon daar is ’n verduideliking wat haar optrede verskoon. Volgens sommige kenners beland so baie mense na ’n egskeiding halsoorkop in verkeerde verhoudings omdat hulle smag na ’n nuwe liefde of aanvaarding en ook omdat hulle hormone inmeng met hulle redelike denke. Phillip het glo al ’n string gebreekte harte agter hom en hy ken waarskynlik hierdie swak plek in nuutgeskeide vroue se harte goed. Dit is hoekom hy haar so maklik in sy strik kon vang.
Na die Phillip-fiasko kon sy nie glo toe sy haarself uitvang dat sy soos ’n tienermeisie na Adrien se foto staar nie. Hy is beslis die mooiste man wat sy in ’n lang tyd gesien het, maar sy is seker hy is deeglik van sy skoonheid bewus. Die siniese deel in haar brein lig haar in dat die foto van die mooie man waarskynlik met Photoshop gedokter is. Sy kan haar net indink hoe hy regtig lyk met neus- en oorhare en al.
Die effense gloed wat sy foto haar gegee het, skryf sy toe aan ’n oomblik van swakheid. Sekerlik die gevolge van die kort-na-die-egskeiding sindroom waarvan sy gelees het. Adrien is buitendien verlangse familie!
Sy neem haar voor om haar weerstand teen aantreklike mans op te bou en om haar gedagtes na iets meer neutraal te verplaas.
Haar skootrekenaar en ’n pot tee staan gereed vir die vertaling van die briewe.
Die tekstuur van die skryfpapier en die netjiese skrif van die briefskrywers herinner aan ’n era voor rekenaars toe mense nog moeite gedoen het om netjiese briewe te skryf. Elkeen lyk mooi genoeg om te raam. Nêrens is daar eens ’n inkvlekkie van ’n vulpen wat onhandig gehanteer is nie.
Amelie verdeel die briewe in verskillende hopies. Een vir elke handskrif.
Daar is een groep briewe wat vanaf Le Crotoy na die kloosterskool in Longueval gestuur is. Almal is gerig aan Pour mon bien-aimé Amelia en is afgesluit met avec tout mon amour, Maman.
Amelia se ma, Agnes, skryf in die meeste oor algemene goed wat op Le Crotoy gebeur en hoe die oorlog hulle raak. Amelie kan aflei dat Amelia se ouers tydens die oorlog gemeen het hulle dogter is veiliger in die klooster as by die huis. Hoewel baie katedrale en kerke onder bomme deurgeloop het, was daar tog soldate wat respek vir plekke van aanbidding gehad het.
In ’n hele paar briewe vermaan Agnes Amelia oor haar rebelsheid en vra haar om tog geduldiger met die nonne te wees. Sy verseker haar dogter dat haar pa, Gerard, haar na die klooster gestuur het met die beste bedoelings.
“Pappa se wense vir jou is die beste. Hy droom dat jy eendag die plaas gaan oorneem en bekend sal staan as die vrou wat die hoogste posisie in wynmakery in Frankryk bereik het. Mamma mis jou lag en ons lang wandelings in die wingerde. Ek stuur vir jou ’n nuwe rok van materiaal wat ek voor die oorlog in Parys gekoop het. Mamma hoop jy hou daarvan. Die plooitjies oor die korset is van die nuutste modes wat ek in Parys gesien het.”
Rondom die tyd van die slag van Delville Bos is daar minder briewe, wat te verstane is tydens ’n oorlog, maar die briewe is meer gelaai met emosie. Deel van die emosie spruit uit Agnes se kommer oor hulle almal se veiligheid tydens die oorlog. In ’n paar briewe is dit duidelik dat sy bewus is van die vriendskap en latere romanse tussen Amelia en die bloedjong Suid-Afrikaanse soldaat. Agnes vermaan haar om versigtig te wees en in een brief dreig sy om haar dogter te laat haal.
“Ons is almal nou baie emosioneel met die oorlog. Wees versigtig dat jy nie hierdie emosies met liefde verwar nie. Ek kan verstaan dat jy jammer voel vir die jong man wat gewond is en so ver weg is van sy huis. Wees net versigtig my kind. ’n Groot liefde soos wat jy beskryf, kom net een keer in ’n leeftyd. Maak seker hierdie een is daardie groot liefde.”
Die ontstellendste brief is die een waar die ma al weet haar dogter is swanger.
“Ek sal met Pappa hieroor moet praat voor die nonne dit uitvind en hom kontak. Is jy seker jy wil nie tog maar met een van die nonne praat nie? Hulle sal jou kan help. Verstaan jy wat Mamma bedoel? Hulle sal weet wat om te doen.”
In ’n volgende brief kan Amelie aflei dat Gerard van sy dogter se swangerskap weet en dat sy ast ware gevange gehou is deur die nonne tot haar pa haar kan kom haal.
“Onthou dat ek jou liefhet, my liefste Amelia. Ek weet jou pa sien geen ander uitweg nie, maar ek ken ’n God van liefde. Daar is vergifnis my kind. Ek huil nagte om oor jou. Jy is my kind en ek sal jou nooit verwerp nie.”
’n Lang tydperk verloop voor die ma briewe aan ’n ander adres in die Somme-gebied stuur. Dit is waarskynlik die adres waarheen Amelia en Phil weggeloop het. Die ma klink baie onsteld en smeek haar dogter om na te dink voor sy iets onverantwoordelik aanvang.
“Ek skryf in die geheim sodat Pappa nie uitvind waar jy is nie. Daar is ’n uitweg, my kind. Jy kan na ’n klooster gaan waar ongehude moeders bly. Ek smeek jou om nie jou toekoms weg te gooi nie. Jy kan nie so in sonde saam met ’n man leef nie. Mamma het jou oneindig lief en sal jou steun waar jy ook al is. Ek weet jy is nou bang Pappa sal jou teen jou wil kom haal, maar om saam met ’n vreemde jong man rond te vlug, is nie die uitweg nie.”
In nog ’n brief is dit duidelik Phil se pa het iemand gestuur om hom te soek en die klooster het hom na Le Crotoy gestuur. Gerard het skynbaar die man ’n ruim vergoeding aangebied as hy sy dogter vind.
“Ek het nie gedink ek sou hierdie woorde teen jou Pappa se wil skryf nie, my kind, maar nou is my raad aan jou en Phil om te vlug. Dinge hier op Le Crotoy het in waansin verander. Ek ken jou Pappa nie meer nie. Ek handel teen my man se wil, maar God weet ek het jou lief my kind. My trane droog nie op nie, my liefste klein Amelia. Wees veilig. Wees asseblief veilig.”
Daar is ’n lang tydperk waarin geen briewewisseling plaasvind nie, en dan is daar ’n baie hartseer brief wat Agnes aan Amelia geskryf het toe sy al in Kaapstad by die Du Preez’s was.
Amelie weet nou al haar ouma se aangenome ma sou die swanger Franse meisie met liefde ontvang het, maar sy kan haar indink hoe verstote Amelia moes gevoel het nadat haar pa haar onterf en verwerp het en haar op ’n skip Suid-Afrika toe gesit het.
“My liefste Amelia. Hoe treur my hart nie oor jou nie. Dit voel of die winter vanjaar ekstra koud is. My eerste winter sonder my Amelia. Die wind huil elke nag saam met my om die huis se hoeke. Pappa praat omtrent nooit meer met my nie. Woorde het tussen ons opgedroog. Dit voel my ons dien elkeen ’n verskillende God. Jy moet een ding onthou, Amelia, die God wat die ware een is, Hy is ’n God van liefde en vergifnis. As jy hierdie brief ontvang, is die baba seker al gebore. Jy sal elke oomblik in my gebede wees. Ek weet jy is in goeie sorg en ek dank God daarvoor. Ek weet ook jy sal die regte besluit oor die baba neem. Jou baba sal goed versorg word as die Du Preez’s hom aanneem. Hulle is Protestante, maar hulle glo aan dieselfde God as ek en jy. Ek weet hulle smag na ’n kind van hul eie. Hou moed my klein Amelia, hou vas aan die lewe.”
Daar is een brief van Agnes wat van die Kaapse adres na Sederfontein aangestuur is. Dit is twee maande na die vorige een gedateer en die verlange van die ma na haar dogter is ewe hartverskeurend.
“My kleine Amelia, jou seer skeur elke keer deur my as ek jou laaste brief lees. Ek weet dit moes vir jou verskriklik gewees het om jou kind oor te gee. Ek is ’n ma en ek weet dit sou vir my ondraaglik gewees het. Byna net so ondraaglik soos dit nou vir my is om jou nie te kan bystaan in jou smart nie. Ek sou verkies het dat jy by die Du Preez’s aanbly, maar ek begryp dat dit jou pynig om jou baba in ’n ander vrou se arms te sien. Ek hoop die nuwe dorp ontvang jou met ope arms. Ek stuur vir jou geld om ’n veilige huis te koop. Begin jou nuwe lewe daar, my Amelia. Ek weet nou jou liefde vir Phil is die groot liefde waarvan ek jou vertel het. Ek bid dat hy jou net so lief sal hê.”
In die volgende klompie briewe is dit duidelik dat die verhouding tussen Agnes en Gerard onherstelbaar geskeur het. Gerard het hom skynbaar in ’n stil bitter wêreld teruggetrek nadat hy sy dogter uit sy lewe gesny het. Hy kon blykbaar ook nie aanvaar dat sy vrou teen sy wil met Amelia kontak hou nie.
“Pappa beskou my verraad as ’n verraad teen God. Maar al het God ons as man en vrou saamgevoeg, glo ek nie dit is sy wil dat ’n ma van haar kind geskei moet word nie. Dit is hoekom ek elke dag ook saam met jou huil oor jou klein Alett. Ek weet hoe dit voel om jou kind te verloor. Maar jy is elke sekonde van die dag in my hart, my klein Amelia.”
Die rou emosie van die briewe dreineer Amelie emosioneel en fisiek. Sy voel sy kan nie al die emosie in een dag verwerk nie en pak die briewe vir eers weer weg.
Sy sit op haar bed en staar na Amelia sed beskilderde muur. Die hartverskeurende verse maak vir haar al meer sin. Soos die een van die koue noordewinde om die huis se hoeke. Sy weet nou Amelia het verwys na die winde van haar ma se hartseer.
Jou bries smelt die ysdruppels in soutige strome op my wange
Om my huis se hoeke waai jou treurlied die tema van my verdriet